HIMNE

Die himne (Gr.: humnos: lofsang) is ‘n lied met musiekbegeleiding waarin die eer van God (of ‘n god) op plegtige wyse tydens godsdienstige byeenkomste besing word. Die himne het dus ‘n sekere verwantskap met die ODE.

Dit is te begrype dat ons hierdie godsdienstige liedere in baie beskawings sal teëkom en dat daar voorbeelde sal wees wat baie oud is, soos die mantras van die Veda-literatuur. Wat die Weste betref, moet die wortels van die himne veral gesoek word in die Griekse literatuur en vir die inhoud en aard daarvan, soos ons dit vandag ken, in die Ou Testament, in lofliedere soos dié van Debora en in die psalms, wat ‘n ereplek in die Christelike erediens inneem.

By die Grieke is die himniese verering tot die een of ander godheid (Dionusos, Demeter, Hermes) of held gerig en is die himne tydens ‘n religieuse byeenkoms of feesgeleentheid gesing. Hier kan die 33 sg. Homeriese himnes genoem word en dié van Callimachos (+305 – ±240 v.C), gedigte wat in heksameters geskrywe is.

In Latyn moet veral die naam genoem word van Horatius (65–8 v.C.) wat tallose lofgedigte o.a. aan gode, hooggeplaastes en vriende gerig het. Van sy gedigte het later in verwerkte gedaante toegang tot die Christelike erediens gekry, bv. die heel besondere “Carmen Saeculare” wat vir ‘n feesgeleentheid in opdrag van Augustus geskryf is – byna ʼn gebed vir ‘n geseënde toekoms.

Vroeg in die Christelike era is Bybels-godsdienstige liedere in Grieks en veral in Latyn vir kerklike gebruik geskep, gedigte ook uit die Nuwe Testament, geskryf in verskillende versmate. Voor­beelde is: die sang van Sagaria (Luk. 1:67 e.v.), “Benedictus”; die engelesang by die geboorte van Christus (Luk. 2:13 e.v.), “Gloria in excelsis”; en die lied van Simeon (Luk. 2:29 e.v.), “Nunc dimittis”.

Later sou talle skrywers van Latynse godsdienstige liedere in ver­skillende lande na vore kom: Ambrosius (4e eeu) met bv. “Deus creator omnium” en “Jam surgit hora tenia”, Theodolf van Orleans (8e en 9e eeu) en ander digters uit die bloeiperiode van die sg. Karolingiese Renaissance, Peter Abelard (1079–1142) met sy beroemde lied aan die Sabbat “O quanta, qualia sunt illa Sabata”, Thomas Aquinas (13e eeu), Jacopone da Todi (13e eeu) met sy “Cur mundus militat” en sy alombekende “Stabat mater” wat in baie tale, ook in Middelnederlands, vertaal is, Thomas van Celano met sy “Dies irae”, ‘n lied van dood en oordeel wat telkens bevrugtend in die literatuur sou terugkeer (Faust!).

Met die koms van die Hervorming en die Renaissance is Latyn, wat die lied betref, in hoë mate deur die volkstaal verdring, in Duitsland onder die invloed van Luther, in Frankryk onder dié van Calvyn. Latynse liedere is nou vertaal en oorspronklikes is geskryf op mate wat die kerksang sou vergemaklik. Baie beroemd is bv. Luther se “Ein feste Burg”. Nou het die Hervormers ook liedereversamelings byeengebring. So kry ons van Luther en Walther die Encheiridion (1524), deurlopend hersien en aangevul tot met die dood van Paul Gerhardt in 1776. Van Calvyn se kant kom die straatsburgse psalmboek van 1539. Van dié liedere het hulle weg na adellike kringe gevind en is meermale op wêreldlike wysies gesing. Maar die berymde psalms het ook groot komponiste gelewer, soos Bourgeois, en as psalmberymer het Clément Marot (1496-1544) in breë kringe bekend geraak.

In Nederland is psalms op groot skaal vry verwerk, o.a. deur Dathenus, Van der Noot, Marnix van St. Aldegonde, Vondel, Camphuysen en Revius. Al hierdie skeppinge was seker nie himnes in die volste sin van die woord nie, maar baie het ‘n sterk himniese inslag gehad.

In Engeland moet veral twee name, naas ander, vermeld word: Isaac Watts in die 17e en Charles Wesley in die 18e eeu. ‘n Gangbare vorm was hier bv. by Watts, die sg. himniese stansa: ’n vier-reëlige strofe in jambiese maat met die rympatroon abcb of abab.

Buite die kerklike lewe om was die skryf van die himne vir menige erkende kunstenaar ‘n behoefte en/of uitdaging. In Engels is daar onder die baie voorbeelde Ben Jonson (met sy “Hymn to Cyn­thia”), Cowper, Shelley (“Hymn to intellectual beauty”), terwyl in Duitsland op himniese liedere van Goethe, Hölderlin (“Hymnen”) en Novalis (“Hymnen an die Nacht”) gewys kan word, in Frankryk op dié van Ronsard (“Hymne de la mort”, “Hymne de l’or”).

In Nederland is een van die beroemdste himnes dié wat Vondel aan die einde van die eerste bedryf van Lucifer die rei van engele in die mond lê: “Wie is het, die zoo hoog gezeten …”

Uit die voorbeelde wat hier genoem is, moet dit duidelik wees dat baie himnes lank nie altyd ‘n godsdienstige strekking het nie. Heinsius het bv. ‘n “Hymnus oft lofsanck van Bacchus” (1614) geskryf en Vondel een “Over de wijd-beroemde scheepsvaart”, terwyl die “Wilhelmus” as ‘n nasionale himne kan geld. Van Ben Jonson kan selfs ‘n *geestige himne genoem word: “Room! room! make room for the bouncing belly”. Of ons hier nog werklik van himnes kan praat, is ‘n ope vraag.

In Afrikaans kan miskien as himne-voorbeeld Toon van den Heever se “Die lof van Christoferus” vermeld word, maar nêrens het die himne in Afrikaans groter hoogtes bereik as in Totius se psalmberymings nie, by name ‘n beryming soos dié van Psalm 8.

(Vgl. OU-TESTAMENTIESE LITERATUURNUWE-TESTAMENTIESE LITERATUUR en KLASSIEKE LITERATUURSTUDIE.)

 

Bibliografie

Allen, T.W. 1963. Homeric Hymns. Amsterdam: Hakkert.

Dekker, G. 1938. Die Afrikaanse psalmberyming. Pretoria: Van Schaik.

Manning, B.L. 1942. The Hymns of Wesley and Watts. London: Epworth Press.

Raby, F.J.E. 1927. A History of Christian Latin Poetry from the Beginning to the Close of the Middle Ages. Oxford: Clarendon Press.

 

A.P. Grové