OU-TESTAMENTIESE LITERATUUR

‘n Genreklassifikasie in die Ou-Testamentiese literatuur is problematies: a) “genres berus op onderbewuste konvensies wat mettertyd verander; b) die Ou-Testamentiese literatuur het twee tot drie millennia gelede gedurende die verloop van duisend jaar ontstaan, dus c) onder uiteenlopende omstandighede; en d) tussen ‘n verskeidenheid ander literature (Egipties, Kanaänities, Assiries, Babilonies, Persies en Grieks-Hellenisties); e) die Ou-Testamentiese literatuur het grotendeels uit mondelinge oorlewering ontstaan en is as skriftelike vorme dikwels aangepas; f) die bestaande genreklassifikasies steun sterk op ouer literatuurteorieë. Met dié voorbehoude in gedagte kan die volgende beskrywing gegee word:

Uitgesonderd spontane volkskunstenaars, is die Ou-Testamentiese literatuur hoofsaaklik geskep deur professionele kunstenaars wat onder die boonste 20% van die destydse bevolking getel het en aan twee groot literêre strominge behoort het, t.w. ‘n noordelike (Israelitiese) en ‘n suidelike (Judese) stroming. Daar was die storievertellers by feeste, skrywers aan die koninklike hof, priesters en kultiese profete, profeteskole, professionele klaagsangers, wysgere, onderwysers, ens. en hulle het, gegee die geïntegreerde kerk-staat-opset, meestal “staatsbetrokke” kuns gelewer.

Hoewel hierdie literatuur soms duidelike blyke van sterk stilering vertoon en soms werklik ook as kunsvorme beskou kan word, word die volgende soorte tekste as nie-literêr beskou: preke (Jer. 7:1—8:3; Deut. 8:2—20), gebede (Rigt. 16:28; 1 Kon. 8:23—53; 2 Sam. 7:19—29), kontrakte (vgl. Gen. 31:44—54), briewe (2 Kon. 10:2—3; 19:9—14), lyste (Gen. 10; 25:12—16; 1 Kron. 1—9; Num. 31:32—40), wette in *kasuïstiese (Ex. 21—23) en apodiktiese (Ex. 20:3—17) styl en kultiese voorskrifte (Lev. 6:2—30).

Met verontagsaming van die historiese groeiproses waardeur die Ou-Testamentiese literatuur gegaan het kan die volgende indeling gemaak word:

Die liriese literatuur se belangrikste kenmerke is: parallelismes tussen versreëls, waarvan daar drie tipes is: sinonieme (Ps. 13:2), antonieme (Spr. 17:22) en sintetiese of disintegratiewe (Ex. 15:5) parallelismes — soos dit voorkom in die Egiptiese, Sumero-Akkadiese, Kanaänities-Feniciese en Aramese poësie.

Die skanderingsbeginsels is nog onduidelik; lettergreeptellings (soos Siries en Laat-Hebreeus) en kwantitatiewe analise (soos in klassieke Grieks) pas nie. Sievers (1901) se teorie van ‘n aksentuerende sisteem word meestal aanvaar: die basiese eenheid is die versvoet met ‘n maksimum van drie onbeklemtoonde sillabes per voet. Twee, drie of vier versvoete maak ‘n versreël of stichos onderskeidelik; ‘n doeblet, triplet of kwadruplet. Twee of drie stichoi vorm ‘n periode wat uit een van die volgende ritmiese patrone kan bestaan: simmetries (2+2, 3+3, 4+4 aksente) of asimmetries (4+3, 3+4, 3+2, 2+3, 2+2+2) met 3+3 (hajjám rā’h wajjānốs // hajjardến jissốb 1e’ahốr – Ps. 114:3) en 3+2 (nāpelấh lō’ tôīsíp qūm // betûlát jisra’ếl – Amos 5:2) as die algemeenste.

Strofes is moeilik identifiseerbaar, behalwe waar die METRUM ná ‘n gelyke aantal versreëls afgewissel word, waar ‘n keervers reëlmatig voorkom (Ps. 42/43) of waar ‘n alfabetiese akrostigon gebruik word (Ps. 119).

Die belangrikste vorme is LIEDERE en wysheidsgedigte. Liedere kan moeilik onderskei word in sekulêre en kultiese liedere/poësie. Die sekulêre liedere sluit in arbeidsliedere (Num. 21:17—18 — vgl. Rigt. 9:27; Jes. 16:9—10), werkstaakliedere (Neh. 4:4 — vgl. Jak. 5:4); drinkliedere (Jes. 56:12; Pred. 10:19; Hoogl. 5:1; Jes. 22:13 — vgl. Amos 6:4—6); liefdes- en bruilofsliedere dikwels geskryf vir antifoniese sang (Hoogl. 2:8—5:1) met soms duistere *metafore (Hoogl. 1:7—8, 9—17; 3:6—11; 7:1—6; Ps. 45 — vgl. Jer. 16:9; 25:10); brandwagliedere (Jes. 21:11—12 — vgl. 2 Kon. 9:17—20); spotliedere (Jes. 23:15—16; 47; Num. 21:27—30; Rigt. 5:15—17, 28—30), wat soms verstrengel is met die oorlogsliedere; lyk- of klaagsange (Klaagl. l:l—22; 2 Sam. 1:17—27), wat soms verrassend aangewend is as deel van ‘n spotlied (Jes. 28:12—19; Nan. 3:18—21) met die kenmerkende Ag!-aanvang van die lyklied; koningsliedere, waarin die profane en kultiese elemente moeilik te onderskei is en wat ooreenkoms vertoon met die Afrika-*prysliedere (Ps. 2:18; 21; 28; 61; 63; 110); oorlogs- of oorwinningsliedere (Ex. 15:1—19, 21; Jos. 10:12—13; Rigt. 5; 1 Sam. 17:8—10, 43—44 — lg. gemeng met ‘n vloeklied op die vyand).

Kultiese liedere en poësie sluit in seënbedes (Gen. 49; Deut. 33; 28:1—14); vloektekste (Deut. 28:15—68); intronisasieliedere (Ps. 20, 72 — vgl. koningsliedere hierbo); lofsange (Jes. 6:3; Ps. 98; 100; 150); oordeelsliedere — wat afgodediens veroordeel (Ps. 82; Jes. 41:21—28); klaagliedere van die volk by offerrites (Ps. 44; 60; 83; 89) of van enkelinge wat asiel soek (Ps. 3; 22; 38; Jes. 59:12—14); vertrouensliedere (Ps. 4; 11; 23; 62); dankliedere van die volk (Ps. 129; 136) of die enkeling (Ps. 66:13—20; 40:2—12); Sionsliedere verwant aan die vertrouensliedere van die volk (Ps. 46; 48; 76; 84; 87) en met ‘n sterk nasionalistiese inslag; bedevaartsliedere (Ps. 120—134).

Die wysheidsgedigte (Spr. 9:1—18; Job 38:5—21; Ps. 1; 37; 49; 73; 105; 112; 119) het ‘n sterk liriese inslag maar hoort eerder tuis by die didaktiese literatuur.

Die EPIESE literatuur vertoon die volgende belangrike kenmerke: dit bestaan uit groter eenhede (bv. die Deuteronomistiese geskiedwerk, d.i. vanaf Josua tot Konings (Rut uitgesonder), die Kronistiese geskiedwerk, d.i. Kronieke en Esra-Nehemia, of die vroeëre (teoreties te rekonstrueerde) geskiedwerke, bv. die Jahwistiese geskiedwerk of die Priestergeskrif), wat ‘n opvallende parallelistiese vertelstyl vertoon, nl. die ontstaan en beskrywing van ‘n INTRIGE, ‘n oplossing van die intrige, en ‘n afloop van die verhaal met ‘n terugkeer na ewewig. Soms vertoon dié literatuur EPOSTREKKE (‘n figuur gaan op reis na ‘n ver plek en die verhaal word onderbreek met epiese stasies, bv. die Jakobvertelling in Genesis met stasies by Gen. 25; 32; 38 en 40); hulle is egter nie eposse nie maar eerder pre-kritiese geskiedwerke. Hierdie werke is met verloop van eeue dikwels oorgewerk sodat dit nou moeilik is om oud van jonk te onderskei. Die finale beslag is ná 586 v.C. aan die meeste groter werke gegee.

Die belangrikste vorme van epiese literatuur in die Ou Testament is, naas of ten grondslag van die geskiedwerke, MITES (gebeure in die ander wêreld verklaar gebeure in hierdie wêreld — Job 2:1—6); *sages, wat die verhaal vertel van ‘n belangrike persoon of plek; familie- en pleksages — Gen. 12—25; 32:22—32; die verklaar van die huidige met verwysing na die verre verlede, Gen. 11:1—9; of die verklaar van die naam van ‘n plek of die ontstaan van ‘n volk, Gen. 19:30—38; die heiligheid (Gen. 28) of geologiese eienaardigheid (Gen. 19:24—29) van ‘n plek of streek, dikwels met ‘n anekdotiese historiese kern; LEGENDES, wat die buitengewoonheid van ‘n persoon verklaar of hom legitimeer as navolgenswaardig of as ‘n openbaringsorgaan deur veral wonders te berig (Ex. 14:21—29; 1 Sam. 7:2—17; 1 Kon. 17:1—24; 2 Kon. 4); “Sprokies en FABELS, wat ‘n bepaalde opvatting of orde kritiseer (Gen. 6:1—4; Rigt. 9:8—15; 11:30—40; Num. 22:21—35; Eseg. 17:3—8); GELYKENISSE, wat didaktiese trekke vertoon, ‘n opvatting of ‘n oordeel op beeldsprakige of ALLEGORIESE wyse illustreer (2 Sam. 12:1—4; 2 Sam. 14:6—7); toesprake, wat òf polities-militêr van aard is (2 Kon. 18:19—25, 28—35; Rigt. 9:7—20; 2 Kron. 13:4—12) òf dien as afskeids- en wydingsredes (Jos. 23; 1 Sam. 12; 1 Kron. 2:1—9; 2 Kron. 6:4—11), en meestal literêre konstruksies is; OUTOBIOGRAFIEë (Neh.; Jer. 36; Sag. 1—8; Dan. 7—12), wat soms pseudo-epigrafies van aard is; annale, hoewel nou in sterk verwerkte vorm (2 Sam. 9—20 en 1 Kon. 1—2); KORTVERHALE/NOVELLES, soos die boeke Ester, Rut en Gen. 37—50, en, hoewel meer didakties van aard, voorbeeldvertellings, soos die boek Jona.

Die dramatiese literatuur kom in die vorm van die drama nie voor nie, maar wel as sterk dialoog wat dramaties aangewend word (Gen. 3:1—19 en die boek Job).

Die didaktiese literatuur is hoofsaaklik die produk van amptenare aan die koninklike hof (bv. wysgere, militêre, diplomatieke en kultiese amptenare) en van enkele geleerdes van die maatskappy. Dit is bedoel as godsdienstige, staatkundige en maatskaplike instruksie en vir die inoefening van geestelike skerpsinnigheid. Die taalgebruik is sterk poëties en maak gebruik van ‘n beeldryke styl, parallelismes, vergelykings en ander poëtiese tegnieke soos alliterasie en assonansie. Aangesien dit meestal mondelinge instruksies was, word dié literatuur gekenmerk deur allerlei mnemotegniese tegnieke, bv. ‘n reeks uitsprake met identiese beginwoorde of -frases (Spr. 11:9—12), akrostika (Spr. 31), numeriese gesegdes of trappespreuke (Spr. 30:21—23). Hier is die internasionale invloed op die Ou-Testamentiese literatuur waarskynlik die duidelikste te bespeur.

Die belangrikste vorme van dié genre is populêre (prosa) spreuke (1 Sam. 10:12; 24:14; Gen. 10:9; 2 Sam. 5:8; Job 2:4); “akademiese” (poëtiese) SPREUKE (Spr. 6—7; 11—31; Jer. 31:29; Eseg. 18:2; Jes. 10:15); RAAISELS, vir die inoefening van geestelike skerpsinnigheid (Rigt. 14:13—18; vgl. 1 Kon. 10:23—24; Dan. 5:12; Spr. 30:15-31, wat waarskynlik op raaisels berus); wysheidsgesegdes, meestal bedoel vir die staatsamptenary (Spr. 22:17—24: 22); onderwysende verhale (Jos. 4:6—7; Ex. 12:26—19); argument (Prediker); voorbeeldvertellings en gelykenisse (vgl. die epiese vorme); allegorieë (Eseg. 17:1—24; 23; Jes. 5:1—7); ORAKELS (interpretasie) (Gen. 25:23; Rigt. 13:3—5; Ps. 40:1—7 — vgl. 2 Sam. 5:22—24; Rigt. 9:37); liturgiese onderwysings (Ps. 15; 24; Jes. 1:10—17; 33:14—16); profetiese orakels (Jer. 4:19—29; Jes. 63:1—6; Eseg. 21:14—22); dreigredes (Jes. 9:7—20; Am. 4:1—13); doemprofesieë (Jes. 3:12—15); kalenders (Ex. 23:14—17; 34; Lev. 23:39—43); katalogusse (Lev. 18:6—18; 11:1—23).

(Vgl. BYBELLITERATUUR (AARD VAN VERHALENDE)EINFACHE FORMEN en NUWE-TESTAMENTIESE LITERATUUR.)

 

Bibliografie

Bosnian, H. & Loader, J.A. 1987. Vertellers van die Ou Testament. Kaapstad: Tafelberg.

Burden, JJ. & Prinsloo, W.S. 1987. Tweegesprek met God. Kaapstad: Tafelberg.

Deist, F.E. & Vorster, W.S. 1986. Woorde wat ver kom. Kaapstad: Tafelberg.

Hays, J.H. 1974. Old Testament Form Criticism. San Antonio: Trinity University Press.

MacDonald, D.B. 1968. The Hebrew Literary Genius. New York: Russell & Russell.

Sands, P.C. 1974. Literary Genius of the Old Testament. Oxford: Clarendon Press.

Sievers, E. 1901/1917. Metrische Studien. 7 Bände. Leipzig: Teubner.

 
F.E. Deist