GELYKENIS EN PARABEL

‘n Gelykenis (Gr.: parabole: om dinge naas mekaar te plaas) is in die eng sin van die woord ‘n uitgewerkte beeld wat uit die alledaagse lewe geneem word en waarvan die persone mense is. Die gelykenis verskil van die ALLEGORIE in dié opsig dat die gebeure in die gelykenis uit die alledaagse werklikheid geneem word en dus werklik sou kon plaasvind. Die gebeure het ook nie noodwendig ‘n dieper betekenis nie, terwyl die gebeure in die allegorie wel ‘n dieper betekenis dra. Die gelykenis verskil verder van die EXEMPLUM omdat ‘n argument in die exemplum op ‘n direkte en konkrete wyse geïllustreer word.

‘n Parabel is ‘n besondere vorm van die gelykenis. Die parabel dra altyd een of ander algemeen geldende morele boodskap oor en maak daarom deel uit van die didaktiese literatuur. Die gebeure in die parabel is gewoonlik besonders van aard en nie so geheel uit die alledaagse werklikheid geneem nie. Dit sou dus nie heeltemal so letterlik kon plaasvind nie, hoewel dit nie geheel en al onmoontlike gebeure is nie. Anders as by die gelykenis in die eng sin van die woord moet die gebeure agter die gebeure in die parabel gesoek word, en in dié sin is die parabel allegories van aard. Die bekendste voorbeelde van die parabel is Christus se gelykenisse uit die Nuwe Testament, bv. die gelykenis van die saaier, die verlore seun of die barmhartige Samaritaan. Die parabel kom ook dikwels in die Boeddhistiese literatuur voor.

Die parabel kom ook voor in die nie-Christelike literatuur, bv. in Boccaccio se verhaal van die drie ringe, in Multatuli se Minnebrieven en Ideen. Die parabel kom ook voor by Kafka, Brecht, Beckett en Ionesco.

Baie kritici en ander skrywers maak geen onderskeid tussen die gelykenis en die parabel nie. In Afrikaans kan “Waar die ewigheid met ‘n meterstok gemeet word” van M.C. Botha as parabel beskou word.

 

Bibliografie

Brettschneider, W. 1980. Die moderne deutsche Parabel: Entwicklung und Bedeutung. Überarb. Aufl. Berlin: Schmidt.

Brouwer, A.M. 1964. De gelijkenissen. Leiden: Sijthoff.

MacNeice, L. 1965. Varieties of Parable. Cambridge: Cambridge University Press.

 

Anna-Marie Bisschoff