RAPSODE

‘n Rapsode (Gr.: rhapsodoi: rhaptein: aaneengeryg + ode: lied) was ‘n rondreisende digter of hofdigter in die Griekse Oudheid. Hy het meestal by feeste opgetree waartydens hy ‘n voordrag gelewer het uit een of ander epiese werk soos die Ilias en die Odusseia. Dit is deels uit die geheue voorgedra en deels geïmproviseer, maar teen 500 v.C. was ‘n rapsode ‘n professionele epiese voordragkunstenaar. Hy het hoofsaaklik uit die Ilias en die Odusseia voorgedra. Die gedigte is in die korrekte volgorde voorgedra; daar is ook nie bloot uittreksels gemaak nie. Soms het die voordragte die vorm van ‘n kompetisie aangeneem. In die Homeriese tyd is die rapsode ‘n aeode genoem. ‘n Ander term wat gebruik word, is Homeride.

Dit was ‘n rapsodeskool op Chios waar Homeros se werke bewaar is. Die benaming Homeride verwys ook soms na enige kunstenaar wat Homeros se werk voorgedra het.

Die rapsodes het soms gildes gevorm. Die lede was dikwels familie van mekaar.

Rapsodes het nie altyd net voorgedra nie. Soms het hulle die werke self verkort, uitgebrei of veranderings aangebring.

Rapsodes het tot in die 1e eeu v.C. voorgekom.

Raadpleeg ook:

Der kleine Pauly Lexikon der Antike (1972). München: Alfred Druckenmüller Verlag. So ook die Oxford Classical Dictionary (1973). Oxford: Clarendon Press.

Een van die mees omvattende artikels oor Rapsode verskyn in 1952, Hermes, Vol. 80 pp. 314—315 onder die titel “Rhapsoides” en is geskryf deur H. Patzer.

 
Anna-Marie Bisschoff