REDERYKERS

Die Rederykers was na die MIDDELEEUE bedrywig, maar die rederykertyd het veral betrekking op die jare 1450 tot 1570, hoewel hulle tot in die 17e eeu gewild was.

Die Rederykers en hulle kuns word gewoonlik met die Nederlandse literatuur geassosieer, maar die oorsprong daarvan was eintlik Frans. Gedurende die 12e eeu het daar in Frankryk verenigings van rhétoriqueurs bestaan. Hulle teoretikus, Jean Molinet, se werk L’art de rhétorique, het in ‘n mate ‘n invloed op die Rederykers in die Nederlande gehad.

Die oudste Rederykersverenigings het vroeg in die 15e eeu ontstaan. Hulle was in kamers of gildekens georganiseer. Hierdie kamers het bestaan uit burgers wat hulle besig gehou het met voordragte, poësie en drama. Die rederykerskuns hoort tot die burgerlike kuns, hoewel dit kerklik in oorsprong is: “Het oorspronkelijk religieus uitgangspunt blijkt ook uit een uiterlijk aspect van deze kamers, die, naar het voorbeeld van de ridderschap, zich een blazoen met devies kozen; terwijl echter de ridderlijke wapenborden leeuwen, beren, arenden, e.d. vertonen, zijn de symbolen der Rederijkers vooral van godsdienstige aard; ook bloemen komen veel voor, maar deze hebben vaak weer een symbolischgodsdienstige betekenis” (Knuvelder, 1948: 231).

Die gildes het ‘n leier of factor gehad wat verantwoordelik was vir die hele artistieke versorging van ‘n bepaalde stuk — dit sluit die skryf daarvan in. ‘n Prins of ander vooraanstaande persoon het as beskermheer opgetree. Die laaste strofe van elke stuk is gewoonlik aan hom opgedra. Die “nar” of “sot” het gesorg vir die humoristiese element.

Daar het verskeie rederykerskamers bestaan. Trouens, elke dorp het sy eie gilde gehad. ‘n Bekende kamer was De Eglantier in Amsterdam met “in liefde bloeyende” as MOTTO (devies). Een van die bekendste kamers in die suide was De Violieren in Antwerpen.

Gedurende die 16e eeu was dit die rederykerskamers se taak om tydens openbare geleenthede op te tree. Op hierdie wyse het mense uit verskillende dele van die land met mekaar in aanraking gekom sodat kontak tussen die verskillende provinsies bevorder is.

Die onderskeie kamers het gereeld onderling amptelike kompetisies georganiseer. Die wenner het ‘n prys, genaamd ‘n landjuweel, ontvang — dié prys was gewoonlik in die vorm van een of ander silwerornament. Verder is nie-amptelike kompetisies gehou wat haagspelen genoem is.

Die Rederykers het ‘n baie belangrike plek in die Nederlandse literatuur gedurende die genoemde jare ingeneem: “It is no exaggeration to say that the literature of that period was entirely dominated by the Chambers” (Meijer, 1978: 50).

Daar het selfs ‘n poëtika van rederykerskuns verskyn, genaamd Const van rhetoriken deur H. Matthijs de Castelein. Dit is in 1555 gepubliseer en het verskeie herdrukke beleef; dit was tot in die eerste helfte van die 17e eeu die Rederykers se handleiding. Castelein se poëtika het bestaan uit gedigte waarmee hy ‘n groot naam verwerf het en wat die ander Rederykers tot voorbeeld gedien het. Hierin het hy die retorika bo alle ander kunsvorme gestel:
” ‘Maer Rhetorike als ment wel ouersiet,
Spreect eloquentelick ende is een leuende ceunste'” (Schotel, 1871: 123).

Die Rederykers het trouens soveel respek vir die retoriek gehad dat dit vir hulle iets goddeliks was.

In hierdie poëtika het Castelein voorskrifte gegee oor die digvorme wat gebruik moes word (die RONDEEL, refrein, BALLADELIED en spel). Hy gee ook voorskrifte oor toon: “amoreus, wijs, zot, van alle daden” (Schotel, 1871: 124), en dit moes bestaan uit een, twee, drie tot 20 reëls. Verder moes die Rederykers geen oorbodige woorde ter wille van die rym gebruik nie; hulle moes nie te veel eenlettergrepige woorde gebruik nie omdat dit ‘n stroewe karakter aan die vers gee; hulle moes korrek spel en hulle moes let op aksent.

Omdat die Rederykers gestreef het na die skep van ‘n kuns van welsprekendheid, het dit nie vir hulle om die inhoud van die kuns as sodanig gegaan nie. Hulle het daarom dikwels van ALLEGORIESE kunsvorme gebruik gemaak want hierdeur het die betekenis agter die gegewens duidelik geword.

Voorbeelde van hierdie kunsvorme is die MISTERIESPEL, MORALITEIT, esbattement, tafelspel, refrein en ballade (vlg. ook onder).

Uit die feit dat die Rederykers net “mooi” kuns wou skep, volg dat die literatuur vir hulle nie ‘n verbruikersartikel was nie.

Omdat die Rederykers se hoofdoel die skep van skoonheid in hulle tekste was, het hulle ‘n voorliefde gehad vir komplekse kunsvorme. Tiperende eienskappe van hulle kuns is o.a. vaardige rym, die gebruik van woorde wat nie eie aan die Nederlandse taal was nie (“basterwoorde” soos Van Gorp (1986: 342) in die Lexicon van literaire termen daarna verwys).

Soos reeds gesê het die Rederykers subgenres beoefen soos die refrein wat eintlik uit die 14e-eeuse Franse ballades ontwikkel het. ‘n Rederykersrefrein het uit ‘n ongelyke aantal strofes van tussen agt en 24 verse bestaan. Die laaste strofe is gewoonlik aan die beskermheer opgedra.

Hulle was ook lief om gedigte te skryf waarin ‘n datum verskuil was; kreefdigte (of retrogades), d.w.s. gedigte waarvan die verse van voor na agter en van agter na voor gelees kon word; aldigte (gedigte waarvan telkens twee versreëls opgebou is uit woorde wat met mekaar rym) en die skaakbord. Laasgenoemde is ‘n gedig wat uit agt verse bestaan. In elke “skaakbordblokkie” is ‘n versreël geskryf wat diagonaal, van links na regs, van regs na links, van bo na onder en van onder na bo gelees kon word.

Verder het die Rederykers ook sinnespele opgevoer. Dit was, soos genoem, stukke wat allegories van aard was met ‘n ernstige toon. Die moraliteit het ‘n godsdienstige boodskap oorgedra. Die esbattemente was komiese stukke.

Dit is waarskynlik vanweë die Rederykers se preokkupasie met die strukturele dat hulle kuns algaande as “inferieur maakwerk” (Van Gorp, 1986: 342) genoem is. As gevolg hiervan het die term “rederykerskuns” ‘n negatiewe konnotasie gekry. Die afgelope klompie jare het daar egter ‘n hernude belangstelling in en waardering vir hulle werk gekom.

 

Bibliografie

Coigneau, D. 1984. Rederijkersliteratuur. In: Spies, M. (red.). Historische letterkunde. Groningen: Wolters-Noordhoff.

De Bock, E. 1958a. Nu hoort ik zal een nieuwe zang beginnen: bekende en minder bekende verzen uit de rederijkertijd. Brussel: Manteau.

De Bock, E. 1958b. Opstellen over Colijn van Rijssele en ander rederykers. Antwerpen: De Sikkel.

Degroote, G. 1969. Oude klanken, nieuwe accenten. Leiden: Sijthoff.

Kalff, G. 1889. Geschiedenis der Nederlandsche letterkunde in de 16de eeuw. Deel 1. s.l.: Boekhandel en Drukkerij.

Knuttel, J.A.N. 1958. Onze letteren in de Middeleeuwen. Amsterdam: Wereld-Bibliotheek.

Knuvelder, G. 1948. Handboek tot de geschiedenis der Nederlandse letterkunde van aanvang tot heden. Deel 1. ‘s-Hertogenbosch: Malmberg.

Knuvelder, G. 1961/1968. Beknopt handboek tot de geschiedenis der Nederlandse letterkunde. ‘s-Hertogenbosch: Malmberg.

Meijer, R.P. 1978. Literature of the Low Countries: A Short History of Dutch Literature in the Netherlands and Belgium. Cheltenham: Thornes.

Ohlhoff, C.H.F. 1988. Rederykers. In: Van der Elst, J., Ohlhoff, C.H.F. & Schutte, H.J. (reds.). Momente in die Nederlandse letterkunde. Pretoria: Academica.

Pleij, H. 1984. Het literaire leven in de middeleeuwen. Culemborg: Educaboek.

Schotel, G.D.J. 1871. Geschiedenis der Rederijkers in Nederland. Deel 1. Rotterdam: Dunk.

Van der Elst, J., Ohlhoff, C.H.F. & Schutte, H.J. (reds.). 1988. Momente in die Nederlandse letterkunde. Pretoria: Academica.

 
Anna-Marie Bisschoff