MORALITEIT

Die moraliteit (Fr.: moralité; Eng.: morality) was ‘n REDERYKERSDRAMA uit die 15e en 16e eeu. Dit het ‘n didakties-allegoriese inslag gehad; abstrakte eienskappe is dus gepersonifieer. Dit is in die Nederlande in die MIDDELEEUE ‘n sinnespel genoem en in Engeland ‘n moral play of moral interlude. Die moraliteit wentel om een of ander religieuse of morele vraagstuk, vandaar die benaming moraliteit. Dit gaan gewoonlik in die moraliteit om ‘n stryd tussen goed en kwaad om besit te neem van die mens se siel. Die bekendste voorbeeld van ‘n moraliteit is Elckerlijc (Everyman, Jedermann). Ander voorbeelde is Tspel van Maria Hoedeken, The Castell of Perseverance en Der Henselyn. Die GENRE het ‘n groot invloed op die 16e-eeuse skooldrama gehad.

Die kostuums, die kleure en die attribute van die persone in die moraliteit was besonder belangrik. Daar is selfs tydens landjuwelen (toneelkompetisies) pryse toegeken vir die mooiste kostuums. In sommige moraliteite is die gebeure verder toegelig deur skilderye of tableaux vivants.

Die moraliteite wat bewaar gebly het, is feitlik almal in agtsillabige, paarsgewys rymende verse geskryf; die strofe-indeling is kompleks. Die karakterisering is “crude and the psychology naive” soos Cuddon (1979: 403) in A Dictionary of Literary Terms dit beskryf. Later kry ‘n mens ‘n minder onbeholpe persone-uitbeelding.

Die moraliteit was veral in Frankryk in die Middeleeue gewild. Dit was ook volop in die Middelnederlandse literatuur, maar het baie min in Duitsland voorgekom. Die moraliteit het ontwikkel uit ALLEGORIEëLEERDIGTE en debatte uit die 13e en 14e eeu, asook uit die MIRAKELSPEL en MISTERIESPEL.

Verskeie invloede het op die moraliteit ingewerk sodat ‘n mens historiese of geromanseerde moraliteite kry; dit vind inhoudelik aansluiting by die mirakelspel. As gevolg van die invloed van die KLUG en die SOTTERNIE het ‘n mens soms komiese tonele of tonele van vulgariteit in die moraliteit gekry.

 

Bibliografie

Borcherdt, H.H. 1935. Das europäische Theater im Mittelalter und in der Renaissance. Leipzig: Weber.

Schutte, H.J. & Ohlhoff, C.H.F. (reds.). 1987. Den Spieghel der Salicheit van Elckerlijc. Pretoria: HAUM-Literêr.

 
Anna-Marie Bisschoff