MIRAKELSPEL

Die mirakelspel (Lat.: miraculum: wonder) is ‘n vorm van die laat MIDDELEEUSE DRAMA. In Frans heet dit miracles. Die mirakelspel handel oor die wonderwerke in die lewens van heiliges en martelare of is gebaseer op die LEGENDE van ‘n heilige. Maria figureer dikwels daarin. In die Moderne encyclopedie der wereldliteratuur noem Van Eslander (1968: 501) dit die “typische uitlopers van de Maria-verering”.

Die mirakelspel het in Frankryk sedert die 9e eeu voorgekom, bv. Jean Bodel se Jeu de Saint Nicolas. Die mirakelspel het tot in die 16e eeu dikwels voorgekom. Die beroemde Franse Miracles de Notre Dame is ‘n siklus van 42 mirakelspele: dit dateer uit die tweede helfte van die 14e eeu. ‘n 15e-eeuse mirakelspel is bv. Van den heilighen sacramente van der nyeuwervaert. Dit handel oor ‘n nagmaalwonderwerk. Mariken van Nieumeghen (omstreeks 1500) is seker die bekendste mirakelspel en word vandag nog opgevoer. Vondel se Maeghden kan ook as ‘n mirakelspel beskou word. In die Duitse en Engelse literatuur kom dit nie so dikwels voor nie. Die Engelse miracle plays stem eintlik ooreen met die Middelnederlandse *misteriespel. Die mirakelspel het ook in Spanje en Skotland voorgekom, maar nêrens so volop soos in Frankryk nie.

In Nederland is die mirakelspel veral in Diets geskryf, i.p.v. in Latyn. Volgens Preminger in die Princeton Encyclopaedia of Poetry and Poetics (1979: 537) het slegs vier mirakelspele in Latyn bewaar gebly. Almal sentreer om Sint Nikolaas.

Die mirakelspel het dikwels ‘n didaktiese inslag.

Raadpleeg ook:

Peeters, L. 1984. Mariken van Nieumeghen. In: Tersteeg, J.J.T.M. & Verkuyl, P.E.L. Ic ga doer ic hebbe te doene. Groningen: Wolters-Noordhoff.

Wasson, J. 1982. The Morality Play: Ancestor of Elizabethan Drama? In: Davidson, C, Gianakaris, C.J. & Stroupe, J.H. (eds). The Drama in the Middle Ages: Comparative and Critical Essays. New York: AMS.

 
Anna-Maria Bisschoff