KLUG (MODERNE)

Die klug (farce in Eng., Fr. en Dts.) is ʼn elementêre vorm van die KOMEDIE, low comedy, wat dikwels moeilik van die meer ontwikkelde komedie onderskei kan word. Die primêre doel daarvan is om vermaak te verskaf en die toeskouers te laat lag – nie ʼn stille glimlag nie, maar ʼn dawerende lag. Die klug probeer nie die gehoor se simpatie of meelewing met die KARAKTERS wek nie en doen ook nie ʼn besondere beroep op die intellek nie. Daar is selde ʼn poging om sosiale kommentaar te lewer, hoewel die klug dikwels tot SATIRE neig.

Baie lank is daar op die klug neergesien as iets wat geen genot aan die ontwikkelde persoon kan verskaf nie. L.J. Potts (1949: 37) bestempel dit as “comedy with the meaning left out which is as much as to say, with the comedy left out”. In die jongste tyd het kritici soos Chesterton, Bentley en Hurrell egter meer waardering vir die klug getoon, veral omdat dit die wesenlikste en lewenskragtigste elemente van die komedie bevat, dié elemente waarheen die komedie altyd weer moet terugkeer as dit te gesofistikeerd begin raak. Daar word ook al hoe meer besef dat dit groot tegniese vaardigheid vereis om ʼn goeie klug te skryf.

Die klug konsentreer veral op fisieke handeling, hansworstery en baldadige grapmakery. Sekere karakters word hardhandig behandel of beland in situasies wat hulle in ʼn belaglike lig stel en van hul waardigheid beroof. Die gly-op-die-piesangskil is tipies van hierdie soort situasie. Daar word steeds beklemtoon dat die mens die slaaf van sy liggaamlike node en drifte is; seksuele drange speel ʼn belangrike rol. Oordrewe situasies wat dikwels die gevolg is van ʼn onwaarskynlike sameloop van omstandighede is kenmerkend van die klug, en talle onverwagte ontmoetings kom voor. Karaktertekening en dialoog is aan die intrige ondergeskik, en insidente volg mekaar met verbysterende snelheid op. Daar is geen poging om ʼn realistiese uitbeelding van die werklikheid te gee nie.

In haar monografie oor die klug het Jessica Davis verskillende soorte intriges in die klug probeer onderskei. In die eenvoudigste vorm word iemand ʼn streep getrek; daarvoor is slegs ʼn slagoffer, ʼn grapmaker en ʼn goeie idee vir ʼn poets nodig. Dit verskaf ʼn sekere primitiewe genot aan die toeskouer as hy sien hoe ʼn ander verneder word en bied hom ook ʼn onskuldige bevrediging van sy aggressiewe gevoelens. Op ʼn bedekte manier is dit ook ʼn opstand teen aanvaarde sosiale norme. Alles gebeur egter met ʼn uitbundige vrolikheid wat die ergste steek wegneem en verseker dat dit nie in ʼn te ernstige lig beskou word nie. Daar kan ook onderskei word tussen die klug waarin die slagoffer openlik verneder word en die waarin hy bedrieg word, soms op so ʼn vernuftige wyse dat hy dit self nie eens agterkom nie.

In ʼn meer ontwikkelde intrige bly dit nie by een poets nie, maar kry die slagoffer geleentheid om wraak te neem, sodat daar ʼn komiese ommekeer plaasvind. Dit word dus ʼn magstryd waarin die twee partye goed teen mekaar opweeg en beurtelings die oorhand kry. Hierdie patroon kom dikwels voor by die klug wat rusies uitbeeld, veral dié tussen man en vrou.

Die mees verwikkelde intrige is dié waarin die gebeurtenisse ʼn momentum van hul eie kry en op byna meganiese wyse voortgaan sonder dat iemand skynbaar iets daaraan kan doen; soos Jessica Davis (1978: 64) dit stel: “…the machine which drives its plot rapidly assumes an impersonal power over all its charac­ters.” Die herhaling van insidente lei tot ʼn soort sirkelbeweging in die intrige. Die Franse dramaturge van die 19e eeu, soos Labiche en Feydeau, het veral groot vaardigheid in die skryf van hierdie soort klug getoon.

Die karakters in ʼn klug is tipes wie se optrede volkome voorspelbaar is. Hul byna meganiese reaksies dra baie tot die komiese effek by. Hulle is meestal volkome onbewus van die rampspoedige gevolge wat hulle dade kan hê. Komiese oordrywing van sekere karaktertrekke speel ook ʼn belangrike rol. J.R. Taylor (1967: 55) stel dit so: “Once these characters exist they are made to act en­tirely according to the dictates of their own natures, the only im­probability permitted being that they do it with greater abandon and lack of self-consciousness than most people in real life do most of the time.”

Dit is moeilik om ʼn oorsig oor die geskiedenis van die klug te gee, omdat dit dikwels nie-literêre vorme aangeneem het en ver­al op mimiek en improvisasie gesteun het; in ander tye is klugtige elemente veral aangetref in tonele wat deel van meer ont­wikkelde komedies uitgemaak het, bv. by Molière. Die klug het alreeds in die Klassieke Oudheid voorgekom, veral by die Doriërs, en die Fabula Atellana was in Italië baie gewild. In die MIDDELEEUE het die klug ʼn besondere bloeityd beleef. Oorspronklik was dit ʼn aanvulling by ernstiger stukke, as tussenspel of as naspel. (Die woord farce beteken oorspronklik “vulsel”.) Hierdie stukke het die foute van gewone mense gehekel, veral egtelike rusies en kullery van winkeliers. In Frankryk het die farce tot ʼn eie vorm ontwikkel as ʼn klug in een bedryf; een van die bekendstes is Maître Pierre Pathelin (ca. 1480). In Duitsland het die Fastnachtspiele in die 15e eeu ontstaan, met Hans Sachs as een van die bekendste skrywers daarvan, bv. Der Rossdieb zu Fünsing. In Engeland het John Heywood onder Franse invloed komiese interludes geskryf, en in Nederland is klugte tot in die 17e eeu geskryf, o.a. deur Bredero met sy De klucht van de koe.

In die 18e eeu het die klug op die agtergrond geraak omdat die burgery daarop neergesien het en dit as te grof beskou het. In die 19e eeu het die klug egter weer groot hoogtes bereik toe daar gebruik gemaak is van die patroon van die well-made play. In Frankryk het dramaturge soos Sardou, Labiche en Feydeau groot sukses met hul vernuftig saamgestelde klugte behaal en in Enge­land het Pinero hierdie tradisie voortgesit. In die 20e eeu is en word klugte van hierdie aard nog steeds geskryf, bv. deur Alan Ayckbourne. Klugtige elemente speel ook ʼn groot rol in die *absurde drama; Ionesco het sy stuk Les chaises (Die stoele) ʼn farce tragique genoem. Die sombere toon van hierdie soort dramas verskil egter baie van die lughartigheid van die egte klug.

In Afrikaans is klugte al vroeg deur Melt Brink geskryf; sekere dramas van Gerhard Beukes, Uys Krige, P.G. du Plessis, Bartho Smit, M.M. Walters en Henriette Grové kan ook as klugte be­skou word. Uys Krige noem Die loodswaaiers ʼn “komedieklug” en Henriette Grové bestempel Die onwillige weduwee as ʼn “kunsmatige klug”.

Oor die klug bied Jessica Davis (1978) die beste inleiding. Die betrokke hoofstuk in Bentley (1965) en die artikels van Chesterton (1914) en Hurrell (1981) bied ʼn positiewe siening van die klug. Die artikel van Lanson (1981) bespreek Molière se bydrae en Taylor (1967) bespreek die klug van die 19e eeu.

 

Bibliografie

Bentley, E.C. 1965. The Life of the Drama. London: Methuen.

Chesterton, G.K. 1914. A defence of farce. In: Chesterton, G.K. The Defendant. London: Dent.

Davis, J M. 1978. Farce. London: Methuen.

Delbrück, H. 1984. Farce. In: Schweikle, G. & Schweikle, I. Metzler Literatur Lexikon. Stuttgart: Metzler.

Hobbes, T. 1966. Human nature. In: Hobbes, T. The English Works of Thomas Hobbes. Vol. IV. Aalen: Scientia.

Hurrell, J.D. 1981. A note on farce. In: Corrigan, R.W. (ed.). Comedy: Meaning and Form. New York: Harper & Row.

Knuvelder, G.P.M. 1970. Handboek tot de geschiedenis der Nederlandse letterkunde. Deel I. ‘s-Hertogenbsoch: Malmberg.

Kühnel, J. 1984. Klucht. In: Schweikle, G. & I. Metzler Lite­ratur Lexikon. Stuttgart: Metzler.

Lange, E. 1987. Farce. Lexikon des Mittelalters. München: Artemis.

Lanson, G. 1981. Molière and farce. In: Corrigan, R.W. (ed.). Comedy: Meaning and Form. New York: Harper & Row.

Potts, L.J. 1949. Comedy. New York: Hutchinson.

Taylor, J.R. 1967. The Rise and Fall of the Well-made Play. Lon­don: Methuen.

 
P.J. Conradie