PRÉCIOSITÉ

Die préciosité (Fr.: précieux: kosbaar, versier) was ‘n kultureelliterêre tendens wat gedurende die eerste helfte van die 17e eeu in Frankryk voorgekom het. Die term préciosité verwys na die verfynde taalgebruik en maniere — soms tot op die rand van die belaglike — van die Franse dames en here. Die paragon van die préciosité was die markiesin De Rambouillet wat vanaf 1608 vir vyftig jaar lank ‘n salonlewe by haar huis gevestig het. Mense wat verfynde maniere en taalgebruik wou aanleer, het daarheen gegaan. Baie van hulle gedragskodes is gemodelleer op D’Urfé se pastorale ROMAN L’astrée (1607). Daar bestaan verder ‘n paar handleidings vir die préciosité, nl. A.B. de Somaize se Dictionnaire des précieuses (1660), Madeleine de Scudéry se Le grand cyrus (1649—1653) en Clélie (1654—1660), en Tellement des Réaux se Historiettes. Sommige lede van die markiesin se salon was ook betrokke by die stigting van die Acedémie Francaise.

Die maniere van die navolgers van die préciosité is deur Molière gesatiriseer in sy Les précieuses ridicules.

Die préciosité-tendens het egter nie net betrekking gehad op die verfyning van taalgebruik en maniere nie. Ook die wat hulle literêre styl wou verbeter en verfyn kon na die markiesin De RambouiUet se salon gaan. Die préciosité-kenmerke (bv. GEESTIGHEID, woordespel en kunsmatigheid) kom veral voor in die poësie van Vincent Voiture: “His elegant and casual sonnets and rondeaux made him one of the first and best composers of vers société”, sê Preminger in die Princeton Encyclopedia of Poetry and Poetics (1979: 661). ‘n Groep digters wie se werk betekenisvoller is, is Theophile de Viau (bv. sy ode “Le matin”), Saint-Amant en Tristan l’Hermite (vgl. BAROKLITERATUUR IN ANDER LANDE).

Die préciosité-kenmerke was nie net beperk tot die jare van sy hoogbloei nie; spore daarvan kom ook in die hedendaagse literatuur voor by bv. Giraudoux. ‘n Mens kry ook préciosité-kenmerke in die DANDYISME wat geen tydgrense ken nie.

Die préciosité kan as die Franse teenhanger van die GONGORISME in Spanje, die MARINISME in Italië en die EUFUÏSME in Engeland gesien word.

Raadpleeg ook:

Mongrédien, S. 1939/1963. Les précieux et les précieuses. Paris: Meroure de France.

Lathuillere, R. 1987. La langue des précieux. Travaux de Linguistique et de Littérature, 25(1).

 
Anna-Marie Bisschoff