GONGORISME

Die gongorisme is vernoem na die Spaanse digter Luis de Gongóra y Argote, die hoofeksponent van die gongorisme. Dit word soms ook die CULTERANISMO genoem. Dit is verwant aan die Italiaanse MARINISME, die Engelse EUPHUÏSME en die Franse PRÉCIOSITÉ.

Die gongorisme is ‘n literêre styl wat gedurende die BAROK in Spanje voorgekom het. Die voorloper daarvan was Luis de Carrillo y Sotomayor se boek Libro de erudiccóm poética. Die gon­gorisme word gekenmerk deur die gebruik van neologismes, dikwels afgelei uit Latyn, ‘n gelatiniseerde sintaksis, woordomsettings, mitologiese verwysings, METAFORE, eie woordvormings, argaïsmes en concetti. Die styl was dus “pretentious, inflated and highly rhetorical”, aldus Elkhadem (1976: 49) in The York Dic­tionary of English-French-German-Spanish Literary Terms and their Origin. Volgens Geers (1965: 329) in Moderne encyclopedie der wereldliteratuur was die poësie van die gongorisme meer “ingenieus dan geniaal” met uitsondering van die werk van Gongóra en iemand soos Villamediana. Die stylkenmerke van die gongorisme is die ekwivalent van die *conceptismo van Quevedo en Grácian in die prosa.

Lope de Vega was geweldig gekant teen die gongorisme, maar het soms self daarin verval. Aan die ander kant het hy ook baie navolgers gehad, bv. Sir Thomas Browne en Richard Crashaw. Die kenmerke van die gongorisme kom later ook voor in die werk van die Franse SIMBOLISTE, bv. Mallarmé en by die Spaanse digters van die generasie van 1920.

 

Anna-Marie Bisschoff