CULTERANISMO

Die culteranismo is ‘n tendens wat in die 17e eeu in die Spaanse literatuur, veral die poësie, voorgekom het. Kenmerkend van die culteranismo is die bloemryke taal, die baie metafore, die neologismes, die talle woordomsettings, die gelatiniseerde sintaksis en die mitologiese onderwerpe en toespelings. Die culteranismo kan dus as die Spaanse variant van die EUFUÏSME gesien word.

 

Die culteranismo was een van twee tendense wat in die Spaanse BAROKLITERATUUR voorgekom het. Die ander is die CONCEPTISMO. Wie presies die leiers van die culteranismo en die conceptismo was, kan nie altyd onomwonde gestel word nie. In A Dictionary of Literary Terms sê Cuddon (1979: 169): “Though famous per­sonalities were involved, this is not to say they were team lead­ers. It is therefore an oversimplification to say that it boiled down to Góngora versus Lope de Vega. In practice most of the propagan­da wasproduced by others of less distinction, but sometimes of clearer aim and warmer feeling”.

 

Die culteranismo as literêre tendens kan teruggevoer word na Luis de Góngora y Argote se styl soos dit voorkom in werke soos Soledades en Fábula de Polifemo y Galatea. Om dié styl werklik te waardeer, was ‘n kennis van vroeëre literature en taalgebruik nodig. Góngora was ook lief daarvoor om bekende, alledaagse woorde in ‘n nuwe betekenis te gebruik. So het hy ‘n nuwe linguistiese sisteem op die oue “oorgeplant” en ‘n rykdom betekenisnuanses geskep.

 

Vanweë die nougesette navolging van die Latynse sintaksis, het die culteranismo nie ‘n wye leserspubliek gehad nie. Hierteen het Lope de Vega geweldig te velde getrek.

 

Die culteranismo toon as styl ‘n ooreenkoms met die Franse PRÉCIOSITÉ.

 

Raadpleeg ook:

Alonso, D. 1961. La lenguapoética de Góngora. Madrid: Gredos.

 

Palomo, P. 1975. Lapoesia de la Edad Barocca. Madrid: SGEL.

 

Collard, A. 1967. Nueva Poesia: conceptismo; culteranismo en la critica española. Massachusetts: Waltham.

 

Anna-Marie Bisschoff