BEWUSSYNSTROOMVERHAAL

Onder invloed van ontdekkings soos dié van die outonome bewussyn, die sentrale rol van die onderbewuste in die dieptepsigologie (W. James, S. Freud en C.G. Jung) en die fenomenologiese en EKSISTENSIëLE stromings in die filosofie, word daar in die moderne bewussynstroomverhaal gestreef na ‘n outentieker weergawe van die innerlike van die individu as vroeër (vgl. NARRATIEWE WEERGAWES/MODUSSE). Met behulp van tegnieke soos die vrye indirekte rede (Dts.: *erlebte Rede) en die INNERLIKE MONOLOOG (Fr.: *monoloue intérieur) word gepoog om die illusie te skep van die direkte weergawe van die “verbystromende” gebeure in die bewussyn van die karakter(s) soos wat dit van oomblik tot oomblik geregistreer word.

Die term stream of consciousness (bewussynstroom) is deur die Amerikaanse psigoloog W. James (1390: 239) gemunt: “Consciousness, then, does not appear to itself chopped up in bits. Such words as ‘chain’ or ‘train’ do not describe it fitly as it presents itself in the first instance. It is nothing jointed, it flows. A ‘river’ or a ‘stream’ are the metaphors by which it is most naturally described. In talking of it hereafter, let us call it the stream of thought, of consciousness, of subjective life.” Humphrey (1959: 7) verduidelik, na ‘n uiteensetting van die psigologiese en filosofiese implikasies van hierdie begrip, dat die bewussynstroom in die literatuur te make het met die “wat” én die “hoe” van die mentale en geestelike ervaring, en wel op so ‘n wyse dat dit dikwels onmoontlik is om die “wat” en die “hoe” te skei. Vir hom omvat die “wat” mentale ervarings soos sensasies, herinneringe, fantasieë, denkbeelde en intuïsies, terwyl die “hoe” betrekking het op simboliseringswyses en die aard van assosiatiewe prosesse en ervarings.

Seker een van die belangrikste grondmotiewe in die bewussynstroomverhaal is die totale en dikwels onversoenbare vervreemding tussen mens en werklikheid. Vandaar dan ook die besondere klem in hierdie verhaalsoort op die binnelewe van die mens, die gebeurtenisse in die bewussyn van die karakter(s), terwyl dinge in die hier-en-nou ervaar word. Die buitewêreld kom derhalwe hoofsaaklik of uitsluitlik ter sprake as simbolies geïnterpreteer, as gesubjektiveer deur die belewende bewussyn. (Vgl. ROMAN.)

Die klem op die binnelewe van die karakter verklaar ook hierdie verhaalsoort se voorkeur vir wat Stanzel (1963) die personale vertelsituasie noem. Hierdeur word die illusie geskep dat ‘n alwetende VERTELLER, wat die innerlike van die karakter(s) ken en daaroor verslag doen (ouktoriële vertelsituasie), verdwyn en ‘n belewende karakter die sentrale oriënteringsentrum is. Die “handeling” word na binne verplaas, sodat die leser te staan kom voor die skynbaar direkte en assosiatiewe opeenvolging van beelde en gedagtes in die bewussyn van die belewende karakter. Dit bring mee dat die tradisionele epiese illusie van ‘n daar-en-toe plek maak vir die illusie van ‘n dramatiese hier-en-nou soos dit afspeel in die bewussyn van die karakter(s).

Die kenmerkende struktuurprinsipe in hierdie verhaalsoort is daarom ook nie langer die kousaal-konsekutiewe nie, maar eerder die additief-assosiatiewe (Lämmert, 1955), ‘n struktuurbeginsel wat “ooreenstem” met die wyse waarop die registrerende bewussyn volgens die psigologiese wet van vrye assosiasie op elke buiteprikkel reageer en verbande lê soos wat die indrukke verbystroom. Die bewussynstroomverhaal maak derhalwe ook dikwels gepruik van kompositoriese tegnieke wat in die musiek (“Leitmotiv”), in die eksperimentele skilderkuns (“collage”) en in die film (“montage”) ontwikkel is.

Die kousaal-konsekutiewe struktureringsbeginsel wat die ouktoriële diskoers kenmerk, “vervals” die werklikheid van die direkte belewenis van die gelyktydigheid van indrukke wat in die personale diskoers additief-korrelatief d.m.v. assosiasie ervaar word. Die chronologiese struktuur word daarom ook in hierdie verhaalsoort vervang deur die segmentstruktuur: ‘n segment eindig dikwels net so onverwags as wat dit begin het, gaan op assosiatiewe wyse oor tot ‘n volgende en is nie kousaal-konsekutief (“daarom … en toe”) met ander segmente verbind nie. Dit verklaar ook waarom hierdie verhaalsoort van die leser ‘n groter inset vra, van hom vereis dat hy ‘n medeproduseerder van die teks word. Virginia Woolf (1975: 190), wat saam met o.a. Dujardin (Les lauriers sont coupés, 1931) en James Joyce as belangrike voorlopers in die beoefening van die bewussynstroomtegniek beskou word, doen in hierdie verband die volgende beroep op die skrywer: “Let us record the atoms as they fall upon the mind in the order in which they fell, let us trace the pattern, however disconnected and incoherent in appearance, which each sight or incident scores upon the consciousness.”

Oor die bewussynstroomverhaal is Bowling (1950) se artikel ‘n handige inleiding. Die werk van Cohn (1978) is ‘n meer diepgaande studie oor die weergawe van die innerlike in die verhaalkuns. Die artikel van Friedman (1967) en die werke van Humphrey (1959) en Stanzel (1963) is werke wat aanvullend gelees kan word.

 

Bibliografie

Beach, J.W. 1932. The Twentieth Century Novel: Studies in Technique. New York: Appleton-Century.

Bowling, L. 1950. What is the stream of consciousness-technique? PMLA, 65.

Cohn, D. 1978. Transparant Minds: Narrative Modes for Presenting Consciousness in Fiction. Princeton, N.J.: Princeton University Press.

Dujardin, E. 1931. Le monologue intérieur, son apparition, ses origines, saplace dans l’oeuvre de James Joyce. Paris: Messein.

Friedman, N. 1955. Stream of Consciousness: A Study in Literary Method. London & New Haven: Yale University Press.

Friedman, N. 1967. Point of view in fiction: the development of a critical concept. In: Stevick, P. (ed.). The Theory of the Novel. New York: The Free Press.

Humphrey, R. 1959. Stream of Consciousness in the Modem Novel. Berkeley: University of California Press.

James, H. 1934. The Art of the Novel. London: Scribner.

James, W. 1890. The Principles of Psychology, vol. 1. London: Dover Publications.

Lämmert, E. 1955. Bauformen des Erzählens. Stuttgart: Metzler.

Stanzel, F. 1963. Die typischen Erzählsituationen im Roman. Stuttgart: Universität-Verlagsbuchhandlung.

Stephan, D. 1962. Der Roman des Bewusstseinstromes und seine Spielarten. Deutschunterricht, 14.

Woolf, V. 1975. The Common Reader. London: Hogarth.

M.G. Scholtz