SINTAKSIS (VAN DIE POëSIE)

Die sintaktiese strukturering is bepalend vir ‘n dekodering van die semantiese inligting in enige gesproke of geskrewe TEKS, aangesien betekeniseenhede as ‘t ware “sigbaar” gemaak word binne sinne en sinsnedes. (Vgl. KODE.) Woorde en woordgroeperings word saamgevoeg in groter eenhede, sodat dit vir die taalgebruiker moontlik word om samehangende teksgedeeltes te begryp. In groter tekstuele eenhede soos literêre tekste, word sinne in groter eenhede soos STROFES, paragrawe of hoofstukke saamgegroepeer om die leser in staat te stel om ‘n oorsig oor steeds groter gedeeltes van die teks te verkry. Samehangend met hierdie basiese funksie van groepering of organisering word die leser ook nog deur ander sintaktiese middele gerig in sy dekodering van die semantiese inligting in tekste. Poëtiese taalgebruik word bv. gekenmerk deur ‘n intensiewe en buitengewone eksploitasie van sintaktiese mid-dele, sodat die (metaforiese) inligting in ‘n gedig dikwels medebepaal word deur effekte van sintaktiese vooropstelling soos aksentuering, hiërargisering, aksentverskuiwing, meerduidigheid, SEMANTISERING en verbandlegging. Hierdie funksies kan afsonderlik of gesamentlik deur o.a. die volgende tipes sintaktiese vooropstelling bewerkstellig word: (1) die oortreding van bepaalde reëls wat in standaardtaalgebruik geld vir die konstituering van grammatikale sinne; (2) die eksploitasie van vorme van herha-ling en patroonvorming en (3) die verhouding tussen sintaktiese snitte en tipografiese afbakenings. (Vgl. VERVREEMDING.) Verskuiwing, delesie en seleksionele afwyking is drie manifestasies van reëloortreding wat as vorme van sintaktiese afwyking vooropgestel is. Die rangskikking van die fundamentele konstituente van ‘n sin in ongewone opeenvolgings lei tot mededelings wat nie moontlik sou wees binne grammatikale sinne nie. Juis omdat die leser gedwing word om die effekte van nuwe relasies tussen woorde te ondersoek, kom hy tot die besef dat die ongrammatikaliteit lei tot ‘n produktiewe meerduidigheid. Die leser word bewus van hierdie meerduidige aanbod van gegewens wanneer twee analitiese stappe uitgevoer word: in die eerste plek ‘n rekonstruksie van die normale of grammatikale vorm waarvan daar afgewyk is met die verskuiwing; in die tweede plek ‘n tak-sering van die nuwe betekenisassosiasies wat geïmpliseer word deur die funksionele afwyking van standaardtaalgebruik. ‘n Analise van sintaktiese verskuiwing moet dus noodwendig die interpretasie van (metaforiese) inligting in ‘n poësieteks bëínvloed, soos blyk uit die volgende reels uit Strydom se “Droogte”: (1) “in die geruis van die aandwind/

het die wolke melkwit gaan wandel” (A = argument;

A        FE          FE

FE = fokusekspressie.) (Vgl. METAFOOR.) As gevolg van die verskuiwing van “melkwit” in die tweede versreël, funksioneer dit soos ‘n adverbium wat die “gaan wandel” verder omskryf i.p.v. soos ‘n adjektief vir “wolke” in die “grammatikale” rekon­struksie “het die melkwit wolke gaan wandel”. Hierdie twee moontlike lesings van die tweede versreël impliseer dat die gunstige metaforiese inligting van “melkwit”, nl. dat dit as ‘n voedsame vloeistof gesien kan word, betrekking het op sowel die “wolke” (argument) as die “gaan wandel” (kwalifiserende fokusekspressie vir die argument “wolke”). Dit beteken dan dat nie net die vermoë tot verligting van die droogte nie maar inderdaad ook die daad wat daardie verligting kan laat realiseer in die vooruitsig gestel word deur die sintakties-metaforiese inligting van die tweede reël in die gedig. Dit is duidelik dat die verskuiwing lei tot produktiewe meerduidigheid wat die metaforiese inligting tegelyk uitbrei en nader spesifiseer.

Soos dit by verskuiwing die geval is, kan ook die delesie of weglating van verwagte elemente uit ‘n bepaalde sinskonstruksie nuwe verhoudings en gevolglik ook ongewone betekenisassosiasies tus­sen die oorblywende konstituente in ‘n sin bewerkstellig. Die leser voer weer eens twee analitiese stappe uit om die twee moontlike lesings te dekodeer: in die eerste plek ‘n herwinning van die weggelate konstituent en ‘n gevolglike taksering van die mededeling van die volledige sinskonstruksie; in die tweede plek ‘n interpretasie van die ongewone betekenisassosiasies wat gegenereer word deur die nuwe verhouding tussen die oorblywende konsti­tuente. Semantiese meerduidigheid kan dus ook deur delesie be­werkstellig word.

Delesie van die laaste item in ‘n reeks kan egter ook lei tot semantisering wanneer die relevering van die voorlaaste item in die reeks resulteer in ‘n veranderde grammatikale funksie en ‘n nuwe semantiese inhoud. So ‘n funksieverandering van woordsoorte en ‘n daarmee gepaardgaande semantisering kom gewoonlik voor wanneer die gereleveerde item in ‘n delesie ‘n vorm van die infinitief “om te hê” of “om te wees” is, soos bv. in die laaste versreël van Stevens se “The snow man”: (2) “Nothing that is not there and the nothing that is.” Soos dit gewoonlik met verskuiwing en delesie die geval is, het die bostaande reël twee moont­like lesings: in die eerste geval word die volledige grammatikale sin gerekonstrueer; in die tweede geval word rekenskap gegee van die effek van die maksimale vooropstelling van die kopula “is”. Onder druk van die voorafgaande gedeelte vul die leser eerstens ‘n “there” na die kopula “is” in “the nothing that is there”. Aangesien die kompleterende gedeelte van die kopula ontbreek, funksioneer “is” egter ook soos ‘n selfstandige werkwoord met die betekenis van “om te bestaan/om te lewe”. Vanaf die semanti­sering van “is” is dit ‘n klein stap na die metaforisering van die hele gedeelte, sodat die “lewende niks” van die winterlandskap uiteindelik metafories gestel word.

 
Behalwe verskuiwing en delesie van bepaalde leksikale items en/of sinskonstituente is seleksie van ‘n foutiewe vorm van ‘n bepaalde woordklas of ook van die woordklas self ‘n ander manier om sin­taktiese vooropstelling te bewerkstellig d.m.v. ‘n oortreding van grammatikale reëls. Soms word ‘n sintaktiese ongrammatikale sin gekenmerk deur sowel verskuiwing as seleksionele afwyking soos in die volgende reëls uit ‘n cummingsgedig: (3) “what above did was/ always fall”. Meerduidigheid en semantisering word bewerkstellig weens die versteekte seleksionele afwyking binne die verskuiwing. Die eerste betekenis lê opgesluit in die rekonstrueerbare “grammatikale” lesing “what was always above did fall”. Aangesien “above” in (3) hierbo egter voorkom in ‘n sintaktiese posisie wat normaalweg deur ‘n nomen gevul word, ondergaan die preposisie “above” ‘n funksiebe-tekenisverandering: (3)(i) “what above did was always fall”

+Nomen

A                 FE

Die nominalisering van “above” impliseer dat dit sou kon verwys na iets soos ‘n hemelliggaam of ‘n verteenwoordiger van ‘n hemelruim. Dit is duidelik dat semantisering van ‘n preposisie teweeg-gebring word deurdat dit soos ‘n nomen funksioneer binne die verskuiwing in die gedig. Die stap na metaforisering is dan ‘n logiese een as die interaksie tussen die argument “above” en die fokusekspressie “was always fall” nagegaan word die argu­ment “above” word ‘n vehicle vir‘n hemelse mag wat aan gedurige val onderhewig is.

By ‘n oortreding van grammatikale reëls in sintaktiese strukture binne die poësie word die beperkings van grammatikale konstruksies doelbewus deurbreek en die sintaktiese vooropstelling is herkenbaar as verskillende vorme van sintaktiese afwyking. Dit is asof die digter die wetmatighede van die taal ontoereikend vind en slegs effektief kan kommunikeer as hy buite hierdie wet­matighede opereer. Sintaktiese vooropstelling in poëtiese taal-gebruik kan egter ook bewerkstellig word deur ‘n teenoorgestelde prosedure i.p.v. ‘n deurbreking van te beperkende wetmatighede word juis ekstra beperkings geplaas op die onderliggende reëlmaat van grammatikale konstruksies. Die sintaktiese vooropstel­ling is nie meer herkenbaar as verskillende vorme van sintaktiese afwyking nie maar word gekenmerk deur die eksploitasie van vorme van herhaling wat lei tot ekstra patroonvorming en ‘n buitengewone reëlmaat in die sintaktiese strukture binne poëtiese taalgebruik.

 

Hierdie ekstra patroonvorming en buitengewone reëlmaat behels ‘n deurkruising van die sintagmatiese en PARADIGMATIESE ordeningsprinsipes in ‘n taal en veronderstel die projeksie van die ekwivalensiebeginsel vanaf die seleksionele of paradigmatiese in die kombinatoriese of sintagmatiese as (Jakobson, 1960). Hierdie stelling van Jakobson kan geïllustreer word met verwysing na die vol­gende reëls uit verskillende strafes van Opperman se “Man met flits”:

(4) In die klein wit kol/ van my wete stol

uit die klein wit skyn/ van my flits verdwyn

Die sintagmatiese ordening van die twee strafes is presies dieselfde, nl. preposisie, determinant, adjektief, adjektief, no-men/proposisie, pronomen, nomen en verbum in elke geval. Nie net is presies dieselfde woordklasse in presies dieselfde volgorde herhaal nie, maar daar is ook semantiese ekwivalensie tussen die verskillende woordklasse in dieselfde sintaktiese posisies. Die identiese herhaling van die, klein, wit, van en my buite rekening gelaat, is daar ‘n sinonieme verband tussen die nomina kol, skyn en wete, flits (die wete (tenor) word binne die gedig metafories geïdentifiseer met ‘n flits (vehicle)) en ‘n antonfeme relasie tus­sen die preposisies in, uit en die verba stol, verdwyn.

 
Semantiese ekwivalente woorde is dus geplaas binne sintaktiese ooreenstemmende posisies. Die leser word gelei om semantiese ekwivalensie te verwag wanneer die sintaktiese opeenvolgíng gekenmerk word deur ekstra patroonvorming. Vorme van herhaling soos parallelisme (Jakobson, 1960) en sy stronger sintaktiese patroonvorming, koppeling (Levin, 1962), belig egter nie noodwendig altyd natuurlike of reeds bestaande semantiese ekwivalen­sie nie, maar dikwels word die leser juis onder druk van die sintaktiese patroon gelei tot die ontdekking van nuwe betekenisassosiasies. Vergelyk in hierdie verband die volgende reels uit Dylan Thomas se “This bread I break”: (5) “Man in the day or wind at night/ Laid the crops low, broke the grape’s joy.”

 

In die eerste reël is die nomina “day” en “night” semanties ekwivalent as die teenoorgestelde pole van dieselfde 24-uur tydperk, maar die nomina “man” en “wind” in sintakties ekwivalente posi­sies voor die preposisionele frases is nie sinonimies of antonimies verwant in natuurlike semantiese ekwivalente vorme nie. In die konteks van die tweede reël in (5) hierbo word dit egter duidelik dat sowel “man” as “wind” instrumente van geweld is en gesamentlik verantwoordelik is vir die vernietiging van groei en vreugde in die natuur. Onder druk van die patroon in die eerste reël, waar die semantiese ekwivalensie tussen “day” en “night” op betekenisopposisie berus, word die funksionele uiteenlopendheid van die gewelddadige vernietigers “man” en “wind” belig. Hierdie twee agente is weliswaar semanties ekwivalente omdat hulle dieselfde aksies uitvoer; as twee uiterste pole van dieselfde soort aksie vestig hierdie gekoppelde nomina egter dan die aandag van die leser op die allesomvattendheid van die aard van die agente van gewelddadige aksies in die gedig die konkrete en menslike sowel as die abstrakte en bo-menslike word betrek, sodat die aksies wat uitgevoer word daardeur ‘n meer universele karakter verkry.

 
Dit is duidelik dat die horisontale koppeling in (5) hierbo seman­ties beduidend is en die leser se dekodering van metaforiese in-ligting rig. Dikwels dien vorme van herhaling soos koppeling en parallelisme egter om metaforiese konstruksies óor sintaktiese grense heen met mekaar te verbind, sodat sintaktiese ekwivalen­sie ‘n belangrike funksie verrig in die leser se dekodering van globale of paradigmatiese metaforiese relasies. Dikwels is die leser se enigste leidraad vir verbandlegging tussen argumente en fokusekspressies uit verskillende metaforiese konstruksies in paradigmatiese tenor-vehicle-relasiesdie ekwivalensie tussen metaforiese konstruksies oor sintaktiese en strofiese grense heen. Die globale rekonstruksie:

(6) “A process is like weather/darkness” uit die argumente
Tenor                 Vehicle

van verskillende strofes in Dylan Thomas se “A process in the weather of the heart” kan afgelei word uit die eenderse sintak­tiese posisies wat hierdie subjek-NP’s binne parallelle sinskonstruksies beklee. Die funksie van verbandlegging in sintaktiese vooropstelling belig dus ook die noodsaaklikheid om die vertikale interaksie tussen metaforiese gespesifiseerde argumente in ‘n poësieteks na te gaan.

 
‘n Volgende manifestasie van sintaktiese vooropstelling bevat elemente van sowel sintaktiese afwyking as sintaktiese patroon­vorming. Baker (1967) klassifiseer uitbreiding saarn met delesie en verskuiwing as ‘n voorbeeld van sintaktiese afwyking waar die byvoeging van leksikale items i.p.v. die herrangskikking (ver­skuiwing) of die weglating (delesie) daarvan ter sake is. Widdowson (1972) omskryf uitbreiding egter eerder as ‘n vorm van defleksie, wat nie ongrammatikaal is nie maar wat o.a. die rekursiewe eienskappe van ‘n grammatika illustreer. Dikwels kombineer rekursiewe reëls (wat die oneindige generering van ekwivalente sintaktiese reekse soos bv. ingebedde bysinne onder ‘n nominale frase reguleer) elemente in ‘n sintagmatiese reeks wat ‘n paradig­matiese verwantskap vertoon en wat normaalweg alternatiewe keuses verteenwoordig vir ‘n bepaalde posisie in die sintaktiese struktuur. Die gevolg is ‘n deurkruising van sintagmatiese en paradigmatiese ordeningsprinsipes soos in parallelisme en kop­peling. Uitgebreide sintaktiese konstruksies kan lei tot die van verbande tussen ekwivalente (metaforiese) konstruksies in poësietekste.Die saamgroepeer van sinsnedes met ‘n vergelykbare grammatikale funksie binne een lang uitgebreide sintaktiese konstruksie lei egter veral ook tot die hiërargisering van (metaforiese) inligting in ‘n gedig. In die eerste strofe van Dylan Thomas se “A process in the weather of the heart” word die tweede selfstandige sintaktiese eenheid ingebed in die eerste binne die uitgebreide konstruksie, sodat die selfstandige metaforiese konstruksies hierargies georden word: (7) “A process in the weather of the heart/ Turns damp to dry; the golden shot/ Storms in the freez­ing tomb.” Omdat die selfstandige sintaktiese eenheid “the golden tomb” nie in ‘n aparte sin aangebied word nie, word dit duidelik dat “process” en nie “shot” nie die hoofargument van (7) is. Terselfdertyd word die ondergeskikte status van “the golden shot/storms in the freezing tomb” en daarmee die metaforiese status daarvan as ‘n kwalifiserende fokale sin vir die metaforiese spesifisering van die hoofargument “process” belig.
 
Dit is duidelik dat uitbreiding resulteer in ‘n bepaalde strukturering van metaforiese konstruksies, sodat die leser die hiërargiese verhouding tussen metaforiese uitdrukkings kan herken. So ‘n bewus wees van die hiërargiese ordening beïnvloed vanselfsprekend die leser se dekodering van metaforiese inligting in ‘n poësieteks.

 

Sintaktiese vooropstelling word volgens die voorafgaande bespreking gemanifesteer as of vorme van sintaktiese afwyking of grade van patroonmatigheid. Woorde word dus in poëtiese taalgebruik op ‘n opvallende manier gekombineer in sintaktiese eenhede wat op een of ander manier onderskei kan word van die algemeen geldige vorm van standaardtaalgebruik. Die groepering van woor­de of leksikale items in groter eenhede word in poëtiese taalgebruik egter nie slegs bepaal deur die eiesoortigheid van sintaktiese afwykinge of ekstra patroonvorming nie. ‘n Distinktiewe kenmerk van poëtiese taalgebruik is juis die eksploitasie van tipografies waarneembare eenhede wat sorg vir addisionele kombinasiemoontlikhede van leksikale items. Die individuele woorde in enige gedig word daarom opgeneem in ten minste twee groter groeperings: die van die sintaktiese snit en die van die VERS. In sommige gedigte word die afsonderlike vers weer opgeneem in die ‘n groter eenheid van die strofe, sodat in die tipe gedigte daar drie eenhede is waarbinne leksikale items opgeneem word: sintaktiese snitte (frases of volledige sinne), versreëls en strofes.

 
Afgesien van sintaktiese opvallendheid soos afwyking en ekstra patroonvorming, moet die leser dus ook rekening hou met die verhouding tussen aan die een kant (afwykende of patroonmatige) sinseenhede en aan die ander kant die tipografiese afbakenings van die vers en/of strofe. Wanneer die sin en ‘n tipografiese een­heid soos die vers mekaar nie dek nie, soos in enjamberende verse, lei dit dikwels tot produktiewe meerduidigheid (Fairiey, 1975) of ‘n “vermenigvuldiging van die aanbod” (Geggus, 1961). In die volgende verse uit cummings se “a man who had fallen among thieves”: (8) “swaddled with a frozen brook/ of pinkest vomit out of eyes/ which noticed nobody he looked/ as if he did not care to rise”, hoort die preposisionele frases van die tweede vers sintakties onderskeidelik by die eerste en derde vers: “… frozen brook/ of pinkest vomit …” en “… out of eyes/ which noticed nobody...”. Wanneer die tweede vers egter gelees word asof dit ‘n semantiese eenheid vorm, kry die leser die idee dat die braaksel van die afkomstig is: “… pinkest vomit out of eyes” (Green­field, 1967). ‘n Spanning tussen sintaktiese eenheid en tipogtafiese afbakening lei dus tot meeiduidige lesings, omdat die eksploitasie van tipografies waarneembare eenhede resulteer in die vrystel van addisionele kombinasiemoontlikhede van woorde.
 
‘n Verwante funksie van hierdie (addisionele) kombinasiemoont­likhede van die leksikale items in ‘n gedig is die aksentuering van of enkele woorde (soos dikwels in ‘n enjambement) of ‘n spesifieke groepering van woorde. Só ‘n aksentuering het dan (soos ook die geval met hiërargisering, semantisering, verband-legging of meerduidigheid) implikasies vir die leser se dekodering van (metaforiese) inligting in ‘n gedig. Die kernmededeling in poësietekste word dikwels tipografies uitgesonder in strategies belangrike posisies aan die begin of einde van ‘n gedig. Wanneer so ‘n kernmededeling terselfdertyd ‘n metaforiese uitdrukking is, word die leser se dekodering van die metaforiese inligting op ‘n bepaalde manier gerig; ‘n sentrale fokusekspressie of tenor-vehicle-relasie aandie begin van die gedig noop die leser om ‘n bepaalde rekonstruksie op verdere metaforiese inligting te plaas; ‘n sentrale metaforiese konstruksie aan die einde van die gedig dwing die leser dikwels om bepaalde leidrade retrospektief vanuit ‘n ander hoek te beskou. Op hierdie manier word twee algemene interpretatiewe beginsels m.b.v. die ooreenstemming tussen die sintaktiese snit en tipografiese afbakening en plasing onderstreep: enersyds word latere gegewens deur vooruitprojektering gedetermineer; andersyds word vorige gewens retrospektief onderwerp aan herinterpretasie. Vergelyk in hierdie verband die manier waarop Auden se “In time of war” begin en eindig: (9) Die ge­dig begin met: “Here war

Tenor is simple like a monument” en eindig met:

Fokus      Vehicle

“And maps can really point to places/ Where life is evil now:/ Nanking; Dachau.” Vehicle   Vehicle

Die sentrale tenor-vehicle-relasie word in die eerste versreël van die gedig uitgedruk as ‘n globale paradigmatiese verhouding wat in die oppervlaktestruktuur van die sin gereflekteer word. (Vgl. DIEPTESTRUKTUUR EN OPPERVLAKTESTRUKTUUR.) Die leser hoef dus nie die globale tenor-vehicle-relasiete rekonstrueer uit ‘n analise van die interaksie tussen metaforiese konstruksies en hulle onderdele (argumente en fokusekspressies) nie, want die tenor-vehicle-verbinding word eksplisiet in die eerste vers aangedui. Dit is wel belangrik dat die lokale interaksie tus­sen die twee argumente “war” en “monument” en die fokusekspressie “simple” nagegaan word. Met ander woorde, dit lyk asof die leser sou kon volstaan met ‘n analise van die lokale interak­sie tussen tenor, fokus en vehicle wat sintakties uitgedruk is in een vers. So ‘n oënskynlike interpretasieprosedure het egter glo­bale implikasies, aangesien die volgende mededelings in die ge­dig dan geïnterpreteer word as “simple”: dit is maklik of eenvoudig vir ‘n telefoon om met ‘n man te praat, vir vlae om aan te dui waarheen troepe gestuur moet word en vir ‘n seun om as deel van sy daaglikse roetine melk aan te dra. Kortom, die beplanning van oorlog is volgens die tipografiese afbakening van die eerste strofe in die gedig “eenvoudig” en “maklik”: (9)(i) “Here war is simple like a monument:/ A telephone is speaking to a man/ Flags on a map assert that troops were sent/ A boy brings milk in bowls. There is a plan.” Die fokusekspressie “simple” aan die begin van die gedig lei die leser dus om opeenvolgende metaforiese konstruksies en ander mededelings in die gedig in ‘n bepaalde lig te sien. Dit lyk asof die raakpunt tussen die tenor “war” (waarom dit eintlik gaan) en die vehicle “monument” (waardeur die tenor metafories gekarakteriseer word) die maklike en eenvoudige beplanning van oorlog is. ‘n Mens kan sê: eenvoud kenmerk die verskynsel oorlog en sy beplanning. So ‘n interpretasie word egter ingrypend gewysig deur die gegewens in die sestet wat kulmineer in die twee name in die laaste vers van die gedig in (9) hierbo. Pas teen die einde van die gedig word die werklike “inhoud” van die vehicle “monument” onthul as die verskriklike bakens van menslike vernietiging. Die gemaklikheid waarmee oorlogsplanne gemeganiseer word, word hierdeur retrospektief ontmasker as ‘n meganisering wat die totstandkoming van die verskriklike resultate van oorlog, die eintlike monument Nanking en Dachau, iets alledaags, gewoons en geroetineerds maak.

 
Dit is duidelik dat die tipografiese sigbaarmaking van die kernmededelings in die gedig sorg vir ‘n spesifieke aksentuering van metaforiese inligting. Die leser se dekodering van die (metaforiese) inligting in ‘n gedig word nie net gelei deur aksentuering nie maar ook gerig deur aksentverskuiwings in poëtiese tekste. Soos dit die geval is met aksentuering, kan aksentverskuiwing geregistreer word deur enige manifestasie van sintaktiese vooropstelling verskuiwing, delesie, seleksionele afwyking, parallelisme, koppeling, uitbreiding, tipografiese afbakenings soos die vers en die strofe, ens. Gevalle van sintaktiese afwyking of eksterne patroonvorming word gewoonlik teen die norm van standaardtaalgebruik waargeneem as vorme van eksterne vooropstelling. Poëtiese sintaksis kan egter ook as opvallend waargeneem word wanneer daar binne die gedig ‘n verbreking van ‘n patroon of ‘n verandering van woordkeuse of sintaktiese strukturering voorkom. In dergelike gevalle kan die vooropstelling beskryf word as intern, en in­terne afwyking of die verbreking van ‘n bepaalde verwagtingspatroon kan dan deur verskeie sintaktiese middele bewerkstellig word (Levin, 1965). Enige interne sintaktiese afwyking sal noodwendig nuwe aksente meebring en op die manier die leser se dekodering van (metaforiese) inligting beïnvloed. Wanneer die twee keer herhaalde “process” in Thomas se “A process in the weather of the heart” skielik in die derde strofe van die gedig posisioneel vervang word deur “darkness”, registreer die verbre­king van die verwagtingspatroon van ekwivalente leksikale items in parallelle strofiese eenhede ‘n baie belangrike aksentverskuiwing in die gedig, aangesien “process” as die sentrale tenor dan verbind word aan ‘n tweede vehicle “darkness” wat “weather” in hierdie stadium van die gedig as sentrale vehicle vervang. Hierdie vervanging van “weather” deur “darkness” is betekenisvol, aangesien die belangrikheid van duisternis of donker bo lig uitgelig word, met die gevolg dat die tenor “process” a.g.v. hier­die vervanging ‘n nuwe inhoud van negatiewe assosiasies rand­om die begrip duisternis toegevoeg kry.

 

Dit is duidelik dat sintaktiese vooropstelling die leser se dekode­ring van die semantiese inligting in ‘n poësieteks beduidend beïvloed. Vorme van sintaktiese vooropstelling sorg afsonderlik of gesamentlik vir aksentuering, aksentverskuiwing, hiërargisering, meerduidigheid, semantisering en verbandlegging t.o.v. die (metaforiese) inligting in poëtiese tekste.

 
Sintaktiese afwyking word hoofsaaklik bestudeer in Baker (1967) en Fairley (1975); Levin (1965) onderskei tussen eksterne en in­terne afwyking en vooropstelling; vir ekstra patroonvorming is Jakobson (1960) en Levin (1962) basiese bronne. Die uiteensetting van sintaktiese vooropstelling hierbo steun op Grabe (1984a en 1984b).

Bibliografie

Baker, W. 1967. Syntax in English Poetry 1870-1930. Berkeley: University of California Press.

 

Fairley, I. 1975. e.e. cummings and Ungrammar: A Study of Syn­tactic Deviance in his Poems. New “fork: Watermill.

Geggus, R. 1961. Die wit in diepoësie: ‘n ondersoek na diefunk-sionaliteit van die wit in die visuele aanbod van hedendaagse poësie. Amsterdam: Heijnis.

 

Grabe, I. 1984a. Aspekte van poëtiese taalgebruik: verkenning en toepassing. Potehefstroom: PU vir CHO.

Grábe, I. 1984b. Sintaksis in die poësie/Syntax in Poetry. Port Elizabeth: UPE.

Greenfield, S. 1967. Grammar and meaning in poetry. PMLA, 82.

 

Jakobson, R. 1960. Concluding statement: linguistics and poet­ics. In: Sebeok, T. (ed.). Style in Language. Cambridge, Mass.: MIT Press.

 

Levin, S.R. 1962. Linguistic Structure in Poetry. The Hague: Mouton.

 

Levin, S.R. 1965. Internal and external deviation in poetry. Word, 21.

 

Widdowson, H.G. 1972. On the deviance of literary discourse. Style, VI.

Raadpleeg ook:

Adams, J. 1984. Yeats and the Masks of Syntax. New York: Columbia University Press.

Austin, T.R. 1984. Language Crafted: A Linguistic Theory of Poetic Syntax. Bloomington: Indiana University Press.

Moore, P. 1986. William Carlos Williams and the Modernist at­tack on logical syntax. ELH, 53(4).

Ina Grabe