DIEPTESTRUKTUUR EN OPPERVLAKTESTRUKTUUR

Die terme dieptestruktuur en oppervlaktestruktuur is nie beperk tot die Chomskiaanse vorm van ‘n transformasionele grammatika nie. Ruim beskou, kan ‘n mens (in navolging van Lyons, 1977: 394) ‘n grammatika wat ‘n onderskeid maak tussen die diepte­struktuur en die oppervlaktestruktuur klassifiseer as ‘n transfor­masionele grammatika. Hierby moet gevoeg word dat die term transformasioneel verder dui op die aard van die verbande wat raakgesien word tussen ‘n sin se dieptestruktuur en sy opper­vlaktestruktuur. Een van die karaktertrekke (seker juis dié onderskeidende kenmerk) van ‘n transformasionele grammatika is dat dit sinne in twee fases genereer: ‘n sg. bodemfase en ‘n omsettingsfase. Die strukture wat deur die reëls van die bodemase gegenereer word, is dan die dieptestrukture, terwyl die reëls van die omsettingsfase oppervlaktestrukture lewer.

Dit is belangrik dat ons vir die doel van hierdie bespreking die terme dieptestruktuur en oppervlaktestruktuur eng binne die teoreties-linguistiese verband sal moet interpreteer. Die terme word soms (ook in die literatuurstudie) betreklik los en vas gebruik sonder om daarmee presies dieselfde te bedoel as wat daarmee in die teoretiese linguistiek bedoel word. Ter wille van duidelik­heid moet die terme egter eksplisiet binne ‘n bepaalde linguistiese raamwerk gebruik word. Daar hoef tans nie aandag gegee te word aan naverwante Afrikaanse terme, soos bv. bodemstruktuur of omsetting nie. Die doel van hierdie bydrae is die bespreking van dieptestruktuur en oppervlaktestruktuur binne die transformasioneel-generatiewe verband. Uiteindelik moet die toepasbaarheid van die begrippe binne die literêre analise ook ter sprake kom. Dit is egter so dat die toepassing daarvan op die analise van ‘n literêre DISKOERS gewoonlik daartoe lei dat die terme in mindere of meerdere mate geherdefinieer word om aan te pas by die spesifieke doel van die analise. Aanvanklik word hierdie bespre­king beperk tot die beskrywing van dieptestruktuur en opper­vlaktestruktuur binne die raamwerk van die transformasionele grammatika, veral soos beskryf deur die Amerikaanse taalkundige Noam Chomsky.

Die terme dieptestruktuur en oppervlaktestruktuur is nie beperk tot die transformasionele grammatika nie, ofskoon dit ‘n sentrale teoretiese term binne hierdie grammatika is. Dieptestruktuur kan bv. ook in die algemene sin van onderliggende strukturele interpretasie gebruik word, sonder dat dit spesifiek op ‘n interpretasie binne die transformasionele grammatika dui. Die gebruik van hier­die term deur Charles Hockett gaan die Chomskiaanse gebruik daarvan vooraf (vgl. in hierdie verband Crystal, 1985: 86, in A Dic­tionary of Linguistics and Phonetics). Sowel Chomsky as die ander Amerikaanse linguis van dieselfde tyd, Zellig Harris, werk met dieptestruktuur en oppervlaktestruktuur. Chomsky sien ‘n trans­formasionele verband tussen dieptestruktuur en oppervlaktestruktuur raak, maar baie van die transformasionele verbande word selfs in die tradisionele grammatika raakgesien. Die onderskeid tussen enkelvoudige en saamgestelde sinne is in ‘n sekere sin reeds die erkenning van ‘n soort diepte-oppervlakte-onderskeid (vgl. in hierdie verband verder Ponelis, 1968).

Dit is verder belangrik om in gedagte te hou dat die terme selfs binne die Chomskiaanse teorie van die transformasionele gram­matika nie staties gebly het nie. Die inhoud wat Chomsky in die oorspronklike vorm van die teorie (soos uiteengesit in Syntactic Structures, 1957) daaraan gee, verskil merkbaar van sy mening hieroor in latere wysigings van die teoretiese model (scos bv. uiteengesit in sy Lectures on Government and Binding van 1982). Sowel die term dieptestruktuur as die term oppervlaktestruktuur word in die ontwikkelingsloop van die transformasionele gram­matika gewysig. ‘n Bespreking van die terme moet ook hierdie ontwikkeling weerspieël.

In die meeste moderne opvattings oor ‘n grammatika staan die linguistiese reël sentraal. Lyons (1977: 375) aanvaar bv. dat ‘n sintaksis ‘n stel reëls is wat rekenskap gee van die verspreiding van woordvorme. Chomsky (1980: 65) stel dit dat hy onder ‘n grammatika ‘n sisteem van reëls verstaan; reëls wat o.a. voorstellings van klank en betekenis voorsien. Uitinge wat deur ‘n taalgebruiker voortgebring word, het ‘n bepaalde struktuur: hulle bly getrou aan identifiseerbare reëls van welgevormdheid. (In hier­die bespreking word grammatikaliteit en welgevormdheid afwisselend as sinonieme gebruik, ofskoon dit nie noodwendig binne enige teoretiese model as sinoniem gebruik word nie.) Diepte­struktuur en oppervlaktestruktuur word hoofsaaklik onderskei met verwysing na die soort sintaktiese reël wat toegepas word om die struktuur te produseer.

‘n Grammatika is dan hiervolgens ‘n tweeledige sisteem van reëls. Daar word tussen twee tipes reëls onderskei: reëls wat die diep­testruktuur genereer en dié wat oppervlaktestruktuur lewer. Binne die transformasionele grammatika word sinne in twee fases voort­gebring: ‘n bodemfase en ‘n transformasionele fase. Die aard van die reëls binne hierdie twee fases verskil. ‘n Bodemreël (van die soort S —> NS, WS) genereer ‘n dieptestruktuur, en by die uitvoer hiervan word ‘n transformasie (of dan omsettingsreël) toege­pas wat dit omsit in ‘n oppervlaktestruktuur. Op die aard van die twee reëltipes word hier nie verder ingegaan nie. Daar moet eg­ter opgemerk word dat veral die aard en aantal transformasies wat Chomsky aanvanklik postuleer, in die latere hersienings van sy teorie gewysig en drasties verminder word sodat transforma­sies uiteindelik gereduseer word tot die soort “skuif enigiets na enige plek”.

Ons kan probeer om hierdie reëldualiteit, waarop die onderskeid dieptestruktuur naas oppervlaktestruktuur gebaseer is, aan die hand van ‘n praktiese voorbeeld te verduidelik. Natuurlik vereenvoudig so ‘n soort verduideliking ‘n uiters komplekse teoretiese onderskeid, maar t.w.v. duidelikheid kan die twee stelle reëls so verduidelik word: gestel jy sou ‘n houtkissie wou skep uit ‘n ongeordende klomp materiaal, bv. hout, spykers, lym, verf, e.s.m. Om die kissie te skep uit hierdie ongeordende materiaal, sou jy ‘n stel basiese gebruiksaanwysings kon volg. Uit die materiaal en met sekere werktuie kan jy die basiese reëls volg en bv. ‘n vierkantige kissie genereer. As jy dan later hierdie basiese kis­sie sou wou omvorm tot bv. ‘n duiwehokkie, sal jy nie weer die basiese reëls volg nie. Jy sou bloot die bestaande houtstruktuur kon omskep. Jy kan dus die reeds bestaande vierkantige kissie neem, ‘n gat vir ‘n deur daarin aag en ‘n plankie of wat ver-skuif. Die omsettingsreëls vir die verandering (transformasie) van die bestaande vierkantige kissie na ‘n vierkantige houtduiwehokkie sal van ‘n ander orde wees as die oorspronklike basiese gebruiks­aanwysings, hoofsaaklik omdat jy in die omvormingsproses begin het met ‘n bestaande struktuur, terwyl jy in die oorspronklike skepping van die kissie met ‘n ongeordende klomp materiaal moes werk.

So ‘n oorvereenvoudiging kan egter juis daartoe lei dat die teoretiese begrippe dieptestruktuur en oppervlaktestruktuur te letterlik geïnterpreteer word. Dieptestruktuur en oppervlaktestruktuur is abstrakte strukture: preterminale (of dan “woordlose”) strukture en nie sinne nie!

Dieptestruktuur is die abstrakte sintaktiese voorstelling van ‘n sin se onderliggende vlak van strukturele organisasie. Dit is dus nie ‘n sin nie, maar bloot ‘n abstrakte struktuurvoorstelling van ‘n moontlike sin. Chomsky (1975: 82) self het in ‘n stadium die term dieptestruktuur vermy en dit vervang met “initial phrase mar­kers”, juis omdat die term misleidend gebruik is. Vroeër in die transformasionele grammatika is die betekenis van ‘n sin uit sy dieptestruktuur afgelei, maar later word die sintaktiese en semantiese eienskappe van die sin losgemaak van die dieptestruktuur.

Op so ‘n dieptestruktuur as invoer (“input”) word die ander stel reëls (nl. transformasies) toegepas, wat hierdie abstrakte struk­tuur omvorm tot ‘n oppervlaktestruktuur. Dit is die finale fase in die sintaktiese voorstelling van die sin. Chomsky (1972: 44) formuleer dit aanvanklik so: “‘n Grammatiese transformasie T werk op ‘n gegewe reeks met ‘n gegewe stukstruktuur (konstituentstruktuur) en sit dit om in ‘n nuwe reeks met ‘n nuwe, afgeleide struktuur” (eie vertaling). Die oppervlaktestruktuur is die abstrakte voorstelling van die sin wat deur die toepassing van ‘n transformasie (of transformasies) gelewer is.

In die nuwere publikasies voer Chomsky (1975, 1982) ‘n tweeledige oppervlaktestruktuur in. Hy onderskei nl. tussen “S-structures” (wat ons vertaal met O-strukture) en “surface structures” (oppervlaktestrukture). Hiervolgens word ‘n dieptestruktuur in ‘n heel abstrakte O-struktuur verander wat dan weer omgesit word in ‘n oppervlaktestruktuur deur die werking van ander reëls. Hier­die onderskeid is hoofsaaklik van belang vir die uiteindelike semantiese interpretasie van die sin, want die O-struktuur se uit-voer (“output”) is relevant vir die semantiese interpretasie van die sin (eerder as die dieptestruktuur se invoer).

Sonder om op die tegniese besonderhede in te gaan, kan ons opsommend sê dat dieptestruktuur die abstrakte sintaktiese voor­stelling is van ‘n sin wat deur die bodemreëls gegenereer is. ‘n Oppervlaktestruktuur is die abstrakte voorstelling van ‘n sin wat deur ‘n transformasie gelewer is. In die moderne variasies van die Chomskiaanse Transformasionele Grammatika word die be­tekenis van die sin afgelei uit ‘n vorm van die oppervlaktestruk­tuur. Binne die raamwerk van hierdie teoretiese grammatika is die term dieptestruktuur en oppervlaktestruktuur hoogs tegniese en teoretiese terme.

Die vraag wat uiteindelik beantwoord moet word, is hoe toepasbaar hierdie twee begrippe is op die analise van ‘n literêere teks? Sal die gebruik van die begrippe tot ‘n beter literêre analise van bv. ‘n gedig lei?

Hiermee word nie voorgegee dat daar tot dusver nie in ‘n literêre analise met hierdie teoretiese begrippe gewerk is nie. ‘n Mens sou kon verwys na ‘n verskeidenheid werke van bv. Theun A. van Dijk; selfs na Afrikaanse studies soos dié van Ina Gräbe (1984) en Du Plessis (1981, 1984). In die meeste van hierdie gevalle word daar egter gewerk met minder tegniese of geherdefinieerde be­grippe. In elk geval: in hierdie analises word daar nog aanvaar dat betekenis afgelei word uit die dieptestruktuur, soos dit in die vroeëre vorm van die TGG geformuleer is. ‘n Suiwer tegniese interpretasie van die linguistiese terme lyk vir my egter nie baie suksesvol nie. Die rede hiervoor word na my mening deur Chomsky self (1982: 4) gegee: “Note that the central concept throughout is ‘grammar’ and not ‘language’.” Juis die vlak van abstraksie waarop die terme dui, maak dit m.i. onbruikbaar in die literêre analise; onbruikbaar as dit gebruik word in die eng termbetekenis van die teoretiese taalkunde. Daar is egter geen rede hoekom daar nie, na analogie van hierdie terme, gebruik gemaak kan word van die minder tegniese basiese en minder basiese sin nie. Dit is m.i. noodsaaklik dat daar ‘n verband raakgesien word tussen verwante sinne, omdat veral sintaktiese prosesverbande noodsaaklik is vir die interpretasie van ‘n teks. Hierdie verbande hoef egter nie in hoogs tegniese terme gestel te word nie. Die erkenning van basiese en minder basiese sinne en die sintaktiese verband tussen hulle kan voldoende wees, want wat uiteindelik belangrik is by die interpretasie van veral die literêre diskoers is die hoekom van ‘n bepaalde sintaktiese proses; nie net ‘n beskrywing van die hoe nie.

Die gebruik van ‘n gegewe sintaktiese proses deur die woordkunstenaar is in elk geval o.a. ‘n manifestasie van ander nie-linguistiese faktore. Die gebruik van ‘n gegewe sintaktiese proses word deur nie-sintaktiese faktore beïnvloed en dit is ook hierdie pragmatiese wat by die teksanalise betrek moet word. Vir so ‘n interpretasie is die teoretiese terme dieptestruktuur en opper­vlaktestruktuur in die eerste plek nie in hulle tegniese sin nood­saaklik nie en in die tweede plek nie in hierdie sin van die woord prakties bruikbaar nie. Die abstrakte sintaktiese struktuurvoor­stelling (op watter vlak ook al) is dan tog uiteindelik weinig meer as die herformulering van die sintaktiese feite. Dit mag deskriptief adekwaat wees binne die teoretiese linguistiek, maar die nie-linguistiese verklaring van dit wat sintakties gemanifesteer staan in die beplande diskoers van die literêre teks het weinig te wen by die toepassing van hierdie begrippe.

Ten slotte: in die literêre analise is die “hoekom” van die sintaksis (ook die nie-sintaktiese “hoekom”, bv. kognitiewe faktore) belangriker as die hoe van die sintaksis.

(Vgl. AKTANT EN AKTANSÏELE MODEL en STORIEGRAMMATIKA.)

 

Bibliografie

Chomsky, N. 1957/1972. Syntactic Structures. The Hague: Mouton.

Chomsky, N. 1975. Reflections on Language. New York: Pan­theon.

Chomsky, N. 1980. Rules and Representations. Oxford: Blackwell.

Chomsky, N. 1982. Lectures on Government and Binding. Dord­recht: Foris.

Du Plessis, H. 1981. Musiek: ‘n sintaktiese analise. In: Coetzee, A.J. (red.). Hulsels van kristal. Kaapstad: Tafelberg.

Du Plessis, H. 1984. Die verband tussen taal- en letterkunde. In: Sinclair, A.J. (red.). G.S. Nienaber — ‘n huldeblyk. Bellville: Universiteit van Wes-Kaapland.

Grabe, I. 1984. Aspekte van poëtiese taalgebruik. Potchefstroom: PU vir CHO.

Lyons, J. 1977. Semantics I & II. Cambridge: Cambridge Univer­sity Press.

Lyons, J. 1981. Language and Linguistics. Cambridge: Cambridge University Press.

Ponelis, F.A. 1968. Grondtrekke van die Afrikaanse sintaksis. Pretoria: Van Schaik.

 

Hans du Plessis