AKTANT EN AKTANSÏELE MODEL

Die begrippe aktant en aktansiële model kom uit Greimas se strukturele semantiek.

Daar bestaan volgens Greimas ‘n immanente universum van betekenis wat as ‘n gemanifesteerde universum van betekenis in ‘n TEKS gerealiseer word. Die gemanifesteerde universum besit inhoudelike betekenis wat deur die kombinasie van geselekteerde elemente gestel word. ‘n Teks is betekenis wat deur leksikalisering en grammatisering in ‘n konkrete DISKOERS gerealiseer word.

Die elementêre struktuur van betekenis (A:B: : —A:—B:) (vgl. SEEM) lê so diep in die menslike samestelling dat die elemente van taalgebruik, die sintaksis en die weergawe van ondervindinge in verhale hierdeur gevorm word. Volgens Saussure is die langue onderliggend aan  parole, en volgens Chomsky gaan inherente vermoë die daadwerklike taalgebruik vooraf. Dieselfde geld volgens Greimas vir die verhale wat die mens vertel. Daar is ‘n basiese immanente verhaalstruktuur onderliggend aan alle verhale. Omdat ‘n mens oor taal beskik, sal die immanente taalstruktuur alle taaluitinge van die mens beheers en gevolglik ook verhale as taalverskynsels. “Man is the Talking Animal: he is homo loquens. So, the fundamental structures of his language must inevitably inform and shape the fundamental structures of his stories. And even though those stories seem different on the surface, a ‘structural’ analysis reveals that they spring from a common ‘grammar’ or (to use the term which Greimas employs to give the sense of the model’s fundamentally dramatic, interlocutory nature) ‘enunciation-spectacle’ (énoncé-spectacle)” (Hawkes, 1977: 89).

Op grond van hierdie onderliggende permanente struktuur wat in dieselfde verhouding tot verhale staan as die langue tot die parole, ontwikkel Greimas sy model van aktante, dit is vaste rolle waarin akteurs sekere funksies vervul. Volgens Greimas (1971: 158) is die belangrike eienskap van die onderliggende struktuur van verhale dat dit “permanent” is en dieselfde is vir alle verhale. Die inhoud van verhale wissel omdat daar verskillende akteurs en handelinge voorkom in verskillende verhale, maar die basiese onderliggende raamwerk bly dieselfde. Hierdie raamwerk funksioneer as ‘n dieptestruktuur wat volgens ‘n vaste patroon die rolle van akteurs en die verhoudinge tussen die rolle bepaal.

Greimas sluit nou aan by Propp, wat die funksies en handelingsfere van die Russiese SPROKIES ontleed het, en Souriau wat die dramatiese funksies in dramas gekatalogiseer het. Propp het sewe handelingsfere onderskei, respektiewelik rondom die skurk, die donateur (voorsiener), die helper, die prinses (die persoon wat “in aanvraag” is) en haar vader, die tussenganger (dispatcher), die held (soeker of slagoffer) en die valse held (Propp, 1971: 88 e.v.).

Souriau het ses dramatiese funksies aangetoon wat hy na hemelliggame vernoem het: leeu (die dinamiese tematiese krag), son (die mikpunt), aarde (die begunstigde), Mars (die teenstander), weegskaal (die regspleger, arbiter), maan (die hulp) (Greimas, 1971: 159-160).

Die ganse semantiese universum is te omvangryk om in sy totaliteit begryp te word, en daarom werk Greimas met ‘n abstrakte mikro-universum wat vir die mens se beperkte insig toeganklik is. Greimas wil nie in ‘n lineêr sintagmatiese analise bly steek nie (op grond van Lévi-Strauss se kritiek daarteen), en daarom sien hy die ideale werkwyse van die NARRATOLOGIE as ‘n kombinasie van die paradigmaties georiënteerde model van Lévi-Strauss en die sintagmaties georiënteerde model van Propp (Fokkema & Kunne-Ibsch, 1978: 66).

As STRUKTURALIS is Greimas geïnteresseerd in die verhoudinge tussen elemente, en daarom kyk hy na gebeure en akteurs vanuit die verhoudinge van die akteurs tot die gebeurtenisse wat hulle veroorsaak of ondergaan. Hy veronderstel dat die menslike denke en handelinge doelgerig is, en daarom is sy model daarop gerig om die verhouding van ‘n akteur tot die nagestreefde doel weer te gee: “Zoals gezegd gaat Greimas uit van een teleologiese relatie tussen de elementen van de geschiedenis: de acteurs streven naar een doel” (Bal, 1980: 35). Na aanleiding van die verhouding waarin die akteurs staan tot die nagestreefde doel – in die immanente semantiese universum en in een of ander vorm gerealiseer in ‘n verhalende teks – maak Greimas ‘n klassifikasie van akteurs, en elke klas word ‘n aktant genoem. Mieke Bal (1980: 35) gee dit eenvoudig weer: “De klassen acteurs die Greimas onderscheidt noemt hij actants. Een actant is een klasse van acteurs die een gemeenschappelijke kenmerk vertonen. Dat gemeenschappelijke kenmerk staat in verband met de hele geschiedenis, gezien als een naar een doel gerichte onderneming. Een actant is daarom een klasse van acteurs die allen dezelfde relatie onderhouden met het streven, dat de kern vormt van die geschiedenis. Die relatie noemt Greimas de functie (F).”

Greimas is van mening dat alle verhale ’n fundamentele STRUKTUUR vertoon, en verder beweer hy dat hierdie struktuur analoog sal wees aan die semantiese struktuur van die sin. Hy reduseer Propp se sewe handelingsfere tot drie pare binêre teenstellings waarin volgens hom alle aktante pas en wat alle funksionele akteurs van enige verhaal insluit.

Die aktansiële kategorieë is die volgende:

(a)    Subjek versus objek: Hierdie kategorie val saam met Propp se held (subjek) en die persoon of saak wat die held graag wil verwerf (objek). Die verhouding tussen die twee aktante stem ooreen met die verhouding tussen die onderwerp en die voorwerp in die sin.

Greimas (1971: 161) merk op dat vir sowel Propp as Souriau hierdie twee kategorieë in ‘n verhouding van “begeerte” tot mekaar staan. Die onderliggende “mitiese” dimensie wat op teleologiese verhoudinge berus, manifesteer op verskillende maniere, maar die betekenis wat gerealiseer word, is dié van begeerte of strewe (Greimas, 1971: 61).

‘n Akteur X strewe na ‘n doel Y, en X is die aktant-subjek en Y die aktant-objek. Die objek is nie altyd ‘n persoon nie, omdat X ook na ‘n nie-personale doel of hoedanigheid kan strewe. Die objek is dus losgemaak van die persoon, maar vanweë die teleologiese aard van die verhouding waarin die subjek tot die doel staan, is die subjek altyd ‘n persoon of ‘n gepersonifieerde dier of voorwerp.

(b)    Begunstiger en begunstigde: ‘n Subjek is dikwels nie in staat om sy doel te bereik nie en word daartoe gehelp of daartoe in staat gestel of daarvan weerhou deur ander magte wat ‘n rol speel in die verhaal. Die klas akteurs, d.w.s. die aktant wat die onderneming van die subjek aanhelp of begunstig, is die begunstiger, en die ontvanger van die objek is die begunstigde (destinateur en destinataire).

‘n Begunstiger kan ‘n persoon of ‘n abstraksie soos die gemeenskap, tyd of selfs ‘n persoonlikheidseienskap wees. Die beguns-tigde is dikwels dieselfde persoon as die subjek, maar omdat dit nie altyd die geval is nie, moet dié klas akteurs as ‘n aktant onderskei word.

(c) Helper en teenstander: Elkeen van die vier bg. aktante kan baie akteurs insluit (‘n span of ‘n groep of ‘n volk), maar prinsipieel sal al vier in elke GESKIEDENIS voorkom; “. . . zonder actants geen relaties, zonder relaties geen proces, zonder proces geen geschiedenis” (Bal, 1980: 37).

‘n Verhaal bestaande uit slegs hierdie vier noodsaaklike aktante sal egter baie vinnig verloop en afloop. Die komplikasies wat die verhaal uitbrei en interessant maak, word deur die aktante van helper en teenstander bewerkstellig – die subjek verkry hulp of kry met teenstand te doen. Hierdie kategorieë stem ooreen met bywoordelike bepalinge in die sinstruktuur.

Die aktante van helper en teenstander staan nie in ‘n direkte verhouding tot die objek nie maar tot die funksie wat die subjek en objek verbind. Dikwels is dit moeilik om te onderskei tussen begunstiger en helper, en negatiewe begunstiger en teenstander. Mieke Bal (1980: 39) gee vier verskilpunte aan om hierdie onderskeiding makliker te maak:

– begunstiger (negatiewe begunstiger)    – helper (teenstander)
– beïnvloed hele onderneming                 – tree net insidenteel op
– is dikwels abstrak                                  – is meestal konkreet
– bly dikwels op agtergrond                     – tree na vore
– meestal net een                                    – meestal talryk

Die helper en teenstander is aktante wat slegs ‘n sekondêre rol speel, omdat hulle slegs by geleentheid die verhaal beïnvloed. Hulle is slegs omstandigheidsbetrokkenes of geleentheidsdeelnemers (participants circonstanciels), wat in dieselfde verhou¬ding staan tot die hoofaktante as byvoeglike naamwoorde tot selfstandige naamwoorde of bywoorde tot werkwoorde in die sin.

Terwyl aktante kan saamval en terwyl baie akteurs saam ‘n aktant kan vorm, aanvaar Greimas prinsipieel dat alle aktante in elke geskiedenis verteenwoordig is. Wanneer ‘n enkele akteur in die verhaal optree, is die begunstiger in die stryd abstrakte hulpmiddele en die helper of teenstander abstrakte faktore wat verwikkeling en komplikasie meebring. Die eerste vier aktante bepaal die basiese struktuur van die geskiedenis, en die helpers en teenstanders maak die geskiedenis spannend en voorsien die geskiede¬nis van karakteristieke eienskappe en ‘n eie kleur.

Greimas (1971: 165) stel die hele aktansiële model, wat hy die mitiese aktansiële model van die semantiese universum noem, heel eenvoudig voor:

Begunstiger——->    objek ———>   Begunstigde
                                     |
                                     |
Helper ———->        subjek ——–>   Teenstander

Hierdie ses aktante is die basiese klasse van akteurs wat in elke geskiedenis voorkom, maar aktante kan in verskillende geskiedenisse verskillende inhoude (met ooreenstemmende funksies) hê.

Binne die filosofie van die klassieke tyd kan die inhoud van die aktante bv. só lyk (Greimas, 1971: 166):
Subjek                         Filosofie
Objek                          Wêreld
Begunstiger                God
Begunstigde               Mensdom
Teenstander               Materie
Helper                        Gees

Binne die MARXISTIESE ideologie lyk dieselfde model só:
Subjek                        Mens
Objek                         Gemeenskap sonder klasseverdeling
Begunstiger               Geskiedenis
Begunstigde              Mensdom
Teenstander              Burgerlike stand
Helper                       Arbeidersklasse

Greimas beskou die aktansiële model as die mitiese onderstruktuur van alle verhale. Teen so ‘n absolute siening kan kritiek uitgespreek word, soos wat Bremond (Fokkema & Kunne-Ibsch, 1978: 67), Scholes (1974: 103) en Bal (1980: 67) inderdaad doen (vgl. ook Du Plooy, 1986: 181-183 vir verdere kommentaar). Die begrip aktant is egter ‘n baie nuttige instrument in die analise van ‘n verhalende teks en kan op ‘n verskeidenheid maniere met groot vrug aangewend word (vgl. Du Plooy, 1986: 293-302, 312-316, 329).

Bibliografie

Bal, M. 1978/1980. De theorie van vertellen en verhalen. Muiderberg: Coutinho.

Du Plooy, H. 1986. Verhaalteorie in die twintigste eeu. Durban: Butterworth.

Fokkema, D.W. & Kunne-Ibsch, E. 1978. Theories of Literature in the Twentieth Century. London: Hurst.

Greimas, A.J. 1971. Strukturale Semantik. Braunschweig: Vieweg.

Hawkes, T. 1977. Structuralism and Semiotics. London: Methuen.

Pelser, G.M.M. 1982. Die aktante-model van A.J. Greimas. Hervormde Teologiese Studies, 38(4).

Propp, V. 1968/1971. Morphology of the Folktale. Austin: University of Texas Press.

Rimmon-Kenan, S. 1983. Narrative Fiction. Contemporary Poetics. London: Methuen. (New Accents.)

Scholes, R. 1974. Structuralism in Literature. New Haven: Yale University Press.

Heilna du Plooy