SINESTESIE

(Gr.: syn + -esthesia: saam waarneem) kom voor wanneer ‘n waameming terselfdertyd op meer as een sintuig aanspraak maak, bv. soos waar Herman Gorter in sy Mei van “vochtige (smaak) klinkers (gehoor)” praat of van ‘n “fontein van gouden klanken” (kleur en geluid saam waargeneem, eintlik: geluid as kleur waargeneem). Sinestesie is dus ‘n gemengde of vermengde waameming. ‘n Waarneming wat normaalweg deur een bepaalde sintuig waargeneem word, word tegelyk deur ‘n ander sintuig waargeneem.

Sinestesie kan in werklikheid as ‘n analoë vorm van METAFORIESE taalgebruik beskou word.

Volgens Cuddon (1984: 675) in A Dictionary of Literary Terms, is die term waarskynlik terug te voer na Jules Millet wat dit in 1892 in ‘n verhandeling, Audition colorée, gebruik het. Sinestesie kom as stylfiguur egter al voor by Huysmans en Rimbaud. Dit figureer egter die sterkste in die ROMANTIEK en die SIMBOLISME, en wel in Duitsland en Frankryk. Dit kom veral voor in die werk van Baudelaire (bv. in Les Fleurs du Mal), Hauptmann en Von Bretano. In die Nederlandse literatuur kom dit dikwels voor in die werk van die Tagtigers, soos in Gorter se Mei: “Mijn stem brandt in mij als de geele vlam van gas”. Beroemd is die gedig “Voyelles” van Rimbaud, met sy beginreël: “A noir, E blanc, I rouge, U vert, O bleu …”, waarin aan die klanke kleure toegeken word (behalwe dat hulle ook simboliese waardes het, waarop nie nou ingegaan hoef te word nie): A is swart, E is wit, I is rooi, U is groen, O is blou. In die Afrikaanse poësie vind mens mooi voorbeelde van sinestesie in die gedigte van Leipoldt, soos waar hy vir ons in “In die Slamaierwinkel” vertel dat hy kan proe (smaak) hoe groen (kleur) vye smaak.

Cuddon (1984: 675) sê tereg dat sinestesie egter ‘n baie ou verskynsel is wat reeds voorkom in die werk van mense soos Homeros, Horatius, Donne en Shelley – daar is indertyd net nie uitvoerig oor die verskynsel geteoretiseer nie en dit is nie doelbewus geëksploiteer soos deur die moderne digters nie.

Sinestesie kom ook in die alledaagse taalgebruik voor: warm kleure, donker stem, ens.

Raadpleeg ook:

Odin, S. 1986. Blossom scents take up the ringing: Synaesthesia in Japanese and Western Aesthetics. Soundings, 69(3).

Osgood, C.E. 1980. The cognitive dynamics of synesthesia and metaphor. In: Honeck, R.P. & Hoffman, R.R. (eds). Cognition and Figurative Language. Hillsdale, N.J. : Erlbaum.

 
Anna-Marie Bisschoff