SPEELSE POËSIE

In Afrikaans bestaan geen “amptelike” term vir wat in Engels bekend staan as light verse nie. Kingsley Amis, samesteller van The New Oxford Book of Light Verse, het as riglyn vir die uitkenning van hierdie soort vers geneem gedigte wat daarin slaag om “a good natured smile” by die leser te wek. Ten minste twee moontlikhede dien hulleself aan in die soektog na ‘n Afrikaanse ekwivalent, t.w. “speelse poësie” en “geestige poësie”. “Lig” i.v.m. die digkuns het, anders as die Engelse light, nie noodwendig die betekenis van glimlagwekkend nie, maar eerder die konnotasie van lig in gewig, nie geslaag nie. Die benaming “ligte poësie” sou daarom ‘n onreg doen aan die soort vers deur dit by implikasie as minderwaardig te etiketteer.

Die keuse moet op “speelse poësie” val, aangesien “GEESTIG” ‘n omvattender betekenisveld dek as die verlangde “*komies”. Dit is duidelik uit die HAT se verklarings by “geestig” en “geestigheid” onderskeidelik: “Met vernuf, ratse dinkvermoë; wat van ‘n lewendige gees getuig” en “Gesegde wat deur oorspronklikheid verras”. Geestige poësie hoef dus nie komies te wees nie (vgl. maar die ernstige vernufverse van Merwe Scholtz, J.C. Steyn, e.a.) – speelse poësie is dit egter altyd in ‘n mindere of meerdere mate. (Vgl. GEESTIGHEID.)

Speelse poësie op sy beste is meer as net ‘n grappie op RYM. Dit is juis die vernuftige hantering van die rym (of ander verstegnieke) wat die komiese effek bewerkstellig. Die limerick by uitstek bedien hom van hierdie soort gevatheid. Kenmerkend van die limerick met sy vaste rymskema aabba is die voorkoms van goëlrym (trick rhyme). Dit is dan ook die enigste digvorm wat uniek is aan die speelse poësie. Die selfstandige vier-reëlige vers of KWATRYN word ook dikwels gebruik, vanweë die moontlikhede wat dit bied vir epigrammatiese segging – vergelyk bv. die hekelkwatryne van A.G. Visser, die volkskwatryne van N.P. van Wyk Louw en R.K. Belcher, asook Hennie Aucamp se cocktail-kwatryne – maar dit is natuurlik nie die uitsluitlike eiendom van speelse poësie nie. (Vgl. CHANSON, EPIGRAMKWATRYN en KABARET (LITERÊRE/ARTISTIEKE).)

Ondanks die limerick se status as rasegte verteenwoordiger van die speelse digkuns tref ‘n mens baie min voorbeelde daarvan in Afrikaans aan. Vir hierdie toestand is daar m.i. ten minste twee belangrike oorsake. Eerstens is die limerick bekend vir sy bedenklike sedes. Dat so ‘n vorm in ‘n oorwegend behoudende taalgemeenskap gestigmatiseer sal raak, lyk onvermydelik. Nie verniet nie het die Engelse limerickdigter Morris Bishop die volgende waarskuwing gerig:

The limerick is furtive and mean;

You must keep her in close quarantine,

Or she sneaks to the slums

And promptly becomes Disorderly, drunk and obscene.

Die skaarsheid aan limericks in Afrikaans is in die tweede plek te wyte aan die taal self. Omdat Afrikaans (soos Nederlands en Duits) ‘n grootliks fonetiese spelwyse het, is die moontlikhede vir goëlrym beperk. C.J. Langenhoven, die enigste ware be-oefenaar van die limerick in Afrikaans, het enkele kere goëlrym bewerkstellig deur die normale uitspraak- en spelvorm te verdraai. Een van die geslaagdste voorbeelde is “Die festinalenters”:

Piet Zondagh en sy dogter Griet Zondagh

Leer Hooghollands stadagh maar grondagh;

Hulle sê, vir ‘n oumens

En nog meer vir ‘n vroumens.

Is Afrikaans glad te kort en te bondagh.

Speelse poësie dwing egter onstuitbaar om die komiese in die menslike seksuele optrede te ontdek. In Afrikaans dien veral die volksvers as uitlaatklep vir erotiese uitbundigheid. Die aanvanklike anonimiteit en gevolglik onbeheerbaarheid van hierdie soort vers het dit meer speelruimte gegee binne die eng gemeenskap. Hoewel die Engelse limerick ook ‘n sosiale rymvorm is wat dikwels anoniem beoefen word, is dit tog prosodies meer gesofistikeerd as die deursnee volksvers, wat dit ‘n sekere eksklusiwiteit verleen en daarom minder toeganklik maak as voertuig vir volkse erotiek. Van die limerick word selfs gepraat as “the folklore of the educated”. N.P. van Wyk Louw se bekende tipering van die volksvers in Random eie werk lê inderdaad klem op hierdie aspek: “… soms kru; vol seksuele verwysings en maskerings; obsene dinge; wreedheid; droewighede; vrolikheid; bygeloof; liefdes-jaloesie, haat, spot…” Uit die aanhaling blyk ook waarom die seksualiteit in die volksvers soms sosiaal aanvaarbaar is – die potensieel aanstootlike word nl. verhul (gemaskeer) in simbole en suggesties.

Die volksvers vertoon ‘n groot aantal digvorme, hoewel dit tog ‘n voorkeur het vir die kwatryn as selfstandige gedig én as die strofevorm van ‘n langer gedig/lied. Die volkskwatryn het dikwels ‘n kenmerkende, vaste patroon: die tweede reël begin met “o” of “ja” en is ‘n herhaling van die eerste; reël drie is rymloos, terwyl vier weer op een en twee rym; oënskynlik is daar geen logiese verband tussen reëls een & twee en drie & vier nie; by nadere ondersoek het A.P. Grové egter vasgestel dat dié twee dele meestal in die verhouding konkreet:abstrak tot mekaar staan. Het ‘n mens eenmaal die klein struktuur gesnap, kan jy eindeloos daarop invul. ‘n Voorbeeld van so ‘n liedjie is die volgende:

Die kapkar se karet
o die kapkar se karet
toe ken ek mos my bokkie
aan die houdings wat sy het.

Die verband tussen die eerste twee en die laaste twee reëls van hierdie gedig is onbegryplik, totdat die leser/luisteraar besef dat soos die meisie aan haar “houdings” (maniertjies) herken kan word, die kapkar opval weens sy bagasiedraer (die karet), letterlik dus ‘n “hou-ding”. Daarby kom nog dat die woord “bokkie” nie net op ‘n geliefde meisie slaan nie, maar ook die naam is vir ‘n ligte kar (vgl. die HAT). Laasgenoemde homonimie het dan erotiese implikasies deur sy verbinding van die meisie met die ryding.

‘n Interessante verskynsel in Afrikaans is die aanwending van die aristokratiese sonnetvorm vir speelse sosiale kritiek. Peter Blum het die klein tradisie begin met sy “Kaapse sonnette” in navolging van die Italiaanse digter Guiseppe Gioacchino Belli (1791–1863) se Sonetti Romaneschi en is, volgens Blum, ‘n poging om ‘n poëtiese vorm by die volksmond aan te pas. J.C. Kannemeyer verduidelik in Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur, band 2 die funksie van die kontradiksie tussen *vorm en inhoud só: “Die sonnetvorm dra hier by om die sosiale kritiek op die hoër stand te versterk, aangesien die sprekers in hierdie verse bruinmense is wat met hulle taalgebruik en tipe emosie ‘n ruwe wêreld oproep wat sterk met die estetiese konvensies van die sonnet as Renaissancistiese vorm kontrasteer.” Ook Barend J. Toerien gebruik die sonnetvorm vir sosiale kommentaar in die reeks “Shakesperiaanse sonnette”. Die jongste toevoeging tot hierdie “genre” is R.K. Belcher se bundel Ringe in ‘n geelhoutboom van 1982. Net soos Blum maak sowel Toerien as Belcher vrylik gebruik van dialektiese en spreektaalverskynsels.

Benewens die digvorme limerick, kwatryn en SONNET wat tipies is van die speelse poësie in Afrikaans, behoort ook sekere onderskeibare digsoorte tot hierdie terrein. In sy opstel “Geestigheid in die poësie” bespreek N.P. van Wyk Louw (1972.) o.m. die volgende speelse verssoorte: die nonsens-vers, die SATIRE, die PARODIE.

Die bekendste onsinverse in die Engelse literatuur is die limericke van Edward Lear (1812-1888). In Afrikaans bestaan daar nie egte voorbeelde van dié digsoort nie. Gedigte wat die naaste daaraan kom, is C.J. Joubert se “Nuttige reseppe”, enkele limericks van Langenhoven, “Noag se ark” van A.G. Visser, Boerneef se “My agtuur-eier was ‘n dubbeldoor”, Philip de Vos se kinderverse, e.a. Al hierdie voorbeelde het egter meer van die fentastiese/surrealistiese weg as wat dit blote nonsens is.

Die satire kan ook tot die kategorie speelse poësie gereken word, hoewel nie alle satiriese poësie speels van aard is nie.

Dikwels bevat die soort gedigte ‘n venynige, bitter of wrokkige aanklag. Daar is egter ook satires met ‘n ligter aanslag wat ‘n goedaardige glimlag by die leser ontlok. Die vaardigste satirici in Afrikaans is Barend J. Toerien, Peter Blum, M.M. Walters, R.K. Belcher, Wilma Stockenström, Adam Small, Peter Snyders, Stephan Bouwer en Marlene van Niekerk – met Walters die produktiefste.

Oor die verhouding tussen high verse en light verse sê Kingsley Amis (1978) die volgende: “The two are different arts with a strong one-sided relationship. High verse could exist without light verse, however impoverished life would be if that were the state of affairs. But light verse is unimaginable in the absence of high verse. We are told that all poetry refers to all the poetry extant at the time of composition. With high verse this reference will usually be distant, often imperceptibly tenuous; with light verse it is intimate and essential. To this degree it is altogether literary and impure.”

Nêrens elders word speelse poësie se afhanklikheid van bestaande literatuur beter geïllustreer as by die parodie nie. Hierdie digsoort werk met die tegniek van die doelbewuste versteuring van die verhouding tussen “vorm” en “inhoud”. Die geparodieerde digter se kenmerkende vorm- en styleienskappe word aangewend vir ‘n onvanpaste inhoud of tema. So werk D.J. Opperman se “Met apologie” met ‘n vaste teks wat as boustof dien waarop dan die stylhebbelikhede van agt Afrikaanse digters met komiese gevolge afgedruk word. Die parodie kan ook ‘n lig-kritiese aanslag hê, soos Toon van den Heever se “Hoe hulle Afrikaans sou geskryf het”. Nie alle parodieë het egter ‘n kritiese of komiese doelstelling nie. Opperman se reaksie op Leipoldt se “Boggom en Voertsek” in Komas uit ‘n bamboesstok is op sigself ernstig bedoel, met ‘n wrangheid wat verkry word deur die ironiese jukstaponering van oerteks en nuwe skepping. ‘n Soortgelyke ironiese parodie op die kleuterrympie “Trippe trappe trone” kom in Joernaal van Jorik voor. Hierdie parodieë kan uiteraard nie as speelse poësie beskou word nie.

Speelse poësie slaag die beste wanneer daar ‘n spelelement t.o.v. die taal of poëtiese vorm aanwesig is. Spel met die rymwoord kom dikwels voor by die limerick. Parodie weer is die speelse aanwending van ‘n bekende vorm. Taalspel kan vanselfsprekend talle gedaantes aanneem: homonimie, homofonie, polisemie, ambiguïteit, betekenisverletterliking, volksetimologie, kontaminasie, neologisme, ens. In “Forellestroomlied” van Merwe Scholtz is die spil waarom die gedig draai die spel met die woord of woorddeel “oor”, begelei deur die volgehoue binne- en eindrym op -el (ingegee deur “forel”). Die taalspel lei noodwendig tot die absurd-komiese feit van die forel se “oorlel”: “Hups wip vliegie/ oor die stroom-/ versnelling// Maar die forel/ verkies oorlams/ oorlel// ietwat stroomop/ reënboog/ forellin/ hom welgesind// Vir haar is kuns/ van vliegies/ gans oor-/ bodig (met so ‘n oorlel/ wee-jy-wel?)//”. Vir hierdie forellin geld ook wat Van Wyk Louw van A.G. Visser se arkdiere gesê het, dat hulle “ver meer diere (is) wat van woordspel as van vleis en bloed gemaak is” – vir sover ‘n vis dan vlees is!

 

Bibliografie

Amis, K. 1978. The New Oxford Book of Light Verse. Oxford: Oxford University Press.

Kannemeyer, J.C. 1983. Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur, band 2. Pretoria: Academica.

Louw, N.P. van Wyk. 1970. Random eie werk. Kaapstad: Tafelberg.

Louw, N.P. van Wyk. 1972. Geestigheid in die poësie. In; Louw, N.P. van Wyk. Opstelle oor ons ouer digters. Kaapstad: Human & Rousseau.

Schutte, H.J. 1975. Geestigheid as literêre perspektief: ‘n literatuurteoretiese ondersoek met spesiale verwysing na die ontwikkeling van geestigheid in die Afrikaanse poësie. D.Litt.-proefskrif, PU vir CHO, Potchefstroom.

 
D.J. Hugo