KLANK

Teorieë oor die voorkoms en funksie van klank in die literatuur wissel tussen twee pole: i) die isolering van die afsonderlike klank en ʼn onderskeiding tussen vorme van ekspressie van die klank as klank; ii) ʼn beskouing van die klank as ʼn integrerende onderdeel van die semantiese en/of die geheelstruktuur van ʼn literêre teks. By die ritmiese, formele en semantiese funksies van klankherhalingspatrone word uitgegaan van die tweede aanname, nl. dat die klank ʼn integrerende onderdeel is van die semantiese en/of die geheelstruktuur van die gedig. Dit is dan veral by die akoestiese funksie van die klank dat die eerste aanname onderskryf word en dat die sg. onafhanklike ekspressiewe waarde van klanke dus in beginsel erken word.

Vir die klankaspek om sigbaar of hoorbaar te wees, is dit gewoon­lik essensieel dat klanke op ʼn redelike kort afstand herhaal moet word of in erkende konvensionele patrone moet voorkom soos in o.m. alliterasie (groot/groei), assonans (groot/skool), volrym (groot/dood), omgekeerde rym (grot/gros) en pararym (groot/grint), wat normaalweg die vooropstelling of opvallendheid van die klankstruktuur in ʼn gedig verseker. ʼn Spesifieke klank kan ook deur kontrastering opval in die omgewing van klanke wat kwalitatief daarvan verskil. Kontrastering word gewoonlik aangetref wanneer vokaliese gedeeltes afgewissel word met konsonantiese gedeeltes of ook wanneer vokale of konsonante met verskillende kwaliteite soos hoog, laag (vir vokale) of eksplosief, frikatief teenoor nasaal, lateraal (vir konsonante) naas mekaar voorkom. Afgesien van die rol wat die inherente kwaliteit van sekere spraakklanke speel, kan kontrastering ook bewerkstellig word wanneer onomatopeïese of klanknabootsende klankgroeperings die aandag trek op sekere klanke, woorde of gedeeltes in gesproke of geskrewe tekste. Alhoewel die klank in enige (literêre) teks òf deur herhaling òf deur kontrastering promiment ge­maak kan word, is dit veral in poëtiese tekste waar die klankmatige aspek van taal doelbewus geëksploiteer word.

Die akoestiese funksie van die klank word geaktiveer wanneer die aandag baie sterk getrek word op sg. suiwer klankeffekte, soos bv. in volgehoue passasies van “woorde” waarvan die klankgroeperings nie sin maak nie maar oënskynlik slegs klanknabootsend funksioneer. Die klank word as ‘t ware beklemtoon om die indruk te skep dat dit onafhanklik van die woordbetekenis funksioneer.

Selfs dergelike gevalle is gewoonlik met die woordbetekenis of algemene semantiese strekking van ʼn gedig geïntegreer, soos bv. blyk uit die slot van Breytenbach se “Die tweegeveg” waarvan een strofe ʼn aaneenstrengeling is van “woorde” soos kleng, tjeng, kieng, sssip waarvan die klankgroeperings geen sin uitmaak nie:

Aaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaa
(ek voel sy swaard soos ʼn graat in my gorrel)

Uit die gedig kan m.b.v. die verduidelikende titel waarin die woord “tweegeveg” voorkom, afgelei word dat die lank uitgerekte aaa ʼn doodsroggel klankmatig konkretiseer. In ʼn verduidelikende gedeelte wat op die doodsroggel volg, figureer die [a] nogeens prominent om die verbinding tussen “swaard” (tenor) en “graat” (vehicle) ook klankmatig uit te druk, sodat die klankherhaling ʼn verhoogde persepsie van die METAFORIESE skakel tussen “swaard” en “graat” in die hand werk. Die klanknabootsing is dus semanties verantwoord ten spyte van die ekstreme aandag vir die suiwer klankmatige tekstuur van die woorde in die gedig. Die klanknabootsing is egter nie net semanties verantwoord nie, maar ook struktureel geïntegreer in die Breytenbach-gedig, omdat dit op ʼn ander vlak die verloop en afloop van die tweegeveg konkretiseer.

Ten spyte van die pogings van sommige teoretici om die klank onafhanklik van die woordbetekenis te beskou, is bepaalde effekte wat dikwels aan die klank in isolasie toegeskryf word gewoonlik afhanklik van die klank én die betekenis van woorde, sinsnedes of groter gedeeltes in ʼn gedig. Voorstanders van klanksimboliek gaan egter uit van die standpunt dat sekere klanke oor spesifieke klankkwaliteite beskik wat daartoe lei dat ʼn bepaalde gevoel, stemming of ingesteldheid sg. suiwer klankmatig uitgedruk kan word. Die voorvokaal [i] word bv. met “vlugheid” of “kleinheid” en die agtervokaal [u] weer met “diepte” en “donkerheid” geassosieer. Afhangende daarvan of die effek van ʼn klankreeks strelend of steurend is, word van eufonie of kakofonie respektiewelik gepraat. Eufoniese effekte word verder dikwels met welluidenheid en ʼn vokaliese karakter geassosieer, terwyl kakofoniese effekte bewerkstellig sou word deur nie-sonorante konsonante. Die eksploitasie van klanknabootsende effekte in Cloete se “Prediker”, waar veral die eksplosief [k] nadruklik figureer, sou bv. bestempel kon word as kakofonies, d.w.s. klankmatig sg. steurend of nie-strelend:

…ek sien iets skeefs
kantel ek hoor ʼn aardbewing in ʼn wal
kraak ek hoor hoe val 
ʼn kruik ʼn kan ʼn wiel álmal
apokalipties agter my aan in ʼn put skreeuend tevergeefs
tevergeefs

Hierdie kakofoniese effek word natuurlik gedeeltelik verkry deur die herhaling van konsonante wat, weens die manier waarop hulle gevorm word in die mondholte, geskik is om “raasagtige” geluide na te boots. Die feit dat o.m. die eksplosief [k] so nadruklik gekontinueer word in die gedeelte hierbo is seker nie toevallig nie. Terselfdertyd word die sg. onaangename effek egter ook teweeggebring deur die betekenis van dié woorde waarbinne konsonantkombinasies van [k] gekontinueer word. Dit is duidelik dat ef­fekte soos kakofonie en eufonie eerder die resultaat is van ʼn samewerking tussen klank en betekenis en dat dergelike persepsies dus nie toegeskryf kan word aan ʼn bepaalde klankkwaliteit alleen nie. Nogtans het die klankmatige vooropstelling ʼn duidelike releverende funksie t.o.v. effekte soos kakofonie of eufonie. Veral wanneer dergelike effekte as ‘t ware gedra word deur klanknabootsing is hulle duidelik klankmatig vooropgestel. Samevattend kan tot die gevolgtrekking gekom word dat sg. suiwer klankmatige effekte enersyds berus op ʼn organisasie van opvallende klanke in klankherhalingspatrone of in kontrasterende passasies en andersyds gerig word deur die beklemtoning van bepaalde leksikale kombinasies.

Dit is duidelik dat ʼn eksploitasie van die klankaspek in die poësie nie ʼn selfgenoegsame verabsolutering van die klank ter wille van die klank alleen is nie. Veel eerder kan die doelbewuste aktivering van die klankmatige gesien word in samehang met die woord­betekenis of as integrerende deel van die geheelstruktuur van die gedig. Klankmatige eksploitasie in poëtiese taalgebruik is nie net indirek deel van die geheelstruktuur van die gedig nie, maar dik­wels ook direk medebepalend vir die aard en funksionering van afsonderlike aspekte daarvan, soos die ritmiese struktuur of die formele organisasie van ʼn gedig in versreëls en strofes.

Die ritmiese strukturering in ʼn gedig kan beduidend beïnvloed word deur prominente klankherhalingspatrone: òf deur die klank­matige omlyning van voorspelbaar beklemtoonde sillabes (d.w.s. sillabes wat outomaties deur linguistiese reëls klem verkry), òf deur die afdwing van ekstra klemtone op wisselend beklemtoonde sillabes (d.w.s. sillabes wat weens die een of ander beginsel van vooropstelling – metafories, sintakties, tipografies of klankma­tig – binne ʼn bepaalde gedig gepromoveer word tot klem) (vgl. RITME (IN DIE POËSIE)) en GENERATIEWE METRUM). Sodanige beïnvloeding van die ritme in ʼn gedig geskied dan sowel horisontaal deur klankbindinge binne die vers as vertikaal deur klankbindinge tussen versreëls. Tradisioneel kom alliterasie en assonans voor tussen beklemtoonde lettergrepe, sodat die klank en die ritme baie direk op mekaar betrek is in ʼn omlyning van voorspelbaar beklemtoonde sillabes. Soms kan ʼn wisselende klem ook afgedwing word deur prominente klankherhaling op kort afstand binne die versreël, of ʼn sillabe kan in die eindrymposisie gepromoveer word tot klem. Die bg. voorbeelde van ritmies gevoelige klankstrukturering kan almal geïllustreer word aan die hand van die volgende versreël uit Cloete se “Gebreekte bene”:

loop lig   loop versigtig

Die alliterasie van [l] sorg eerstens vir ʼn klankmatige omlyning van die voorspelbaar beklemtoonde sillabes “lóóp líg lóóp”; volrym binne die vers omlyn eweneens die voorspelbaar beklem­toonde sillabes in “líg/versígtig”. Omdat die laaste onbeklemtoonde sillabe van “versigtig” egter vertikaal rym met woorde soos “bloederig” en “lig”, word hierdie sillabe deur die klank gepromoveer tot wisselende klem. Dit beteken dan dat in die woord “versigtig”, wat toevallig twee opeenvolgende lettergrepe het wat met mekaar rym, twee verskillende sillabes onderskeidelik horisontaal en vertikaal deur volrym verbind word aan ander woor­de in die gedig. Weens hierdie eksploitasie van die inherente klank­matige kwaliteite in die woord “versigtig” kry dié woord uiteindelik, naas die voorspelbare klem, ook nog ʼn wisselende klem op die agtervoegsel. Dit is duidelik dat die samewerking tussen klank en ritme lei tot ʼn maksimaal ritmies vooropgestelde versreël in die Cloete-gedig.

Die formeel-strukturele funksie van klankherhaling word gewoon­lik gekoppel aan die formele tipografiese organisasie van die ge­dig in versreëls en strofes. Inderdaad is dit dan veral klank­herhalingspatrone in die eindposisie van die versreël wat hierdie formeel konstituerende funksie het – tradisioneel veral volrym, maar in die moderne poësie ook allerlei vorme van halfrym, soos assonans, alliterasie, konsonans, pararym, ens. (vgl. RYM). Dit is ʼn funksie wat in die eerste plek geassosieer word met konvensionele strofiese gedigvorme met bepaalde rymskemas, soos bv. die koeplet, die terset, die KWATRYN of die SONNET. Dit is egter ook ʼn funksie wat in minder vaste en konvensionele vorme ʼn belangrike rol kan speel wanneer die potensialiteite van tradisionele vorme op ʼn oorspronklike manier benut word. In hier­die verband kan klankherhalingspatrone die tendensies van kontinuering en sluiting in ʼn gedig ondersteun of signaleer. Hier­die formele funksie van klankherhalingspatrone aan die einde van die versreël is tweërlei: enersyds word die einde van die versreël klankmatig gesignaleer; andersyds word die versreël deur vertikale klankbindinge in die groter eenheid van die strofe opgeneem. Hierdie dubbele werksaamheid van ʼn klankherhalingspatroon, soos volrym aan die einde van die versreël, blyk duidelik uit die aanvangsversreëls van Van Wyk Louw se “Die hond van God”:

  1. Maak toe die deur en slaan die vensters dig…  a
  2. dat ek kan rus en alles buite sluit                       b
  3. wat in die stil, geel somer en die lig                    a
  4. gerook het bo die waterweiland uit…                  b

Die selfstandigheid van die tipografies gegewe eerste versreël word versterk deur die interne sintaktiese koppeling (vgl. SINTAKSIS (VAN DIE POëSIE)) binne die versreël, waardeur toe en dig op mekaar betrek word. Dig, as ʼn geïntensiveerde herhaling van toe, word binne die koppeling deur verskuiwing (vgl. SINTAKSIS (VAN DIE POëSIE)) vooropgestel en verder as rymwoord aan die einde van die versreël gereleveer. In samewerking met die sintakties-semantiese eggo van toe in dig funksioneer die eindrym in hierdie versreël duidelik afrondend en afsluitend. As rymwoord word dig egter terselfdertyd klankmatig in die lig van versreël drie gekontinueer, sodat die rym daarvoor sorg dat hierdie versreël opgeneem word in die “strofe” wat die eerste vier versreëls van die dramatiese monoloog beslaan. Dit is dan hierdie organiserende, oorkoepelende hoedanigheid van die rym wat o.a. vir die konstituering van strofes of ook van gedigvorme verantwoordelik is.

Tradisioneel gesien het verskillende soorte strofes die rym as onderskeidende kenmerk. Die rymende koeplet is bv. ʼn besonder kort of klein strofe-eenheid in ʼn gedig, waar die rymwoorde in opeenvolgende versreëls besonder opval weens die kort afstand waarop die herhaling plaasvind. As sodanig is dit besonder geskik om GEESTIGE of AFORISTIESE effekte op ʼn klinkende wyse te bewerkstellig, of om kernbegrippe in ʼn gedig klankmatig te intensiveer. Elisabeth Eybers se “Ode aan kontroleur de Laar” is ʼn gedig van vyftien rymende koeplette, waarin die rymposisie ten volle geëksploiteer word om die tematiese argument van die ge­dig klankmatig te omlyn, soos duidelik blyk uit die eerste drie rymende koeplette:

  1. Meneer de Laar, belastingkontroleur               a
  2. wys my met kleinste tydverlies die deur:          a
  3. “Soek eers die juiste syfers en kom terug”       b
  4. Hy draai sy hegemoniële rug                            b
  5. en ek wat trap-af strompel mompel: stik            c
  6. voor ek weer skrompel voor jou leenheerblik.   c

Belastingkontroleur as eerste rymwoord beslaan ses uit die tien sillabes waaruit die eerste versreël saamgestel is en neem dus ʼn belangrike plek in binne hierdie eenheid. Dit rym dan ironieskontrasterend met deur, omdat hierdie deur nie toegang verleen nie maar juis wegstuur. Dieselfde tipe kontras word in die tweede koeplet gevind as die oënskynlike tegemoetkoming in die uitnodiging “kom terug” tot niet gemaak word deur die ontoeganklikheid van “draai sy … rug”. Die rymwoord stik in die derde koeplet gee dan die opgekropte reaksie van die ek-persoon op hierdie amptelike behandeling weer; dit is ʼn reaksie wat in die eerste twee strofes deur die oorheersende figuur van die belastingkon­troleur onderdruk is – dit is nie verniet dat die eerste vier rym­woorde van die gedig almal met die amptenaar te make het nie. In die derde strofe sorg interne rym egter dat die aandag na die ek-figuur verskuif en stik val op, omdat dit klankmatig gekontrasteer word met strompel/mompel. Die rymwoord stik is nie net ʼn kulminasie van opgekropte gevoelens wat klankmatig gekonkretiseer word nie, maar dit rym ook semanties-kontrasterend met die deftige leenheerblik, waardeur die aforistiese en/of SATIRIESE moontlikhede van die rymende koeplet benut word. Dit is duidelik dat die rymende koeplet ʼn geskikte strofevorm is om semantiese intensivering klankmatig te omlyn. Om hierdie rede is dit besonder effektief wanneer dit as afsluiting funksioneer in ʼn gedig waar ander strofevorme oorheers (die Engelse sonnet) of waar rym nie voorkom nie en die rymende koeplet dus ʼn vorm van klankkontrastering bewerkstellig in vergelyking met voorafgaande versreëls in ʼn gedig.

ʼn Ander betreklik kort strofiese eenheid is die kwatryn. Dit is ʼn vierreëlige strofe wat verskeie rymkombinasies kan hê en wat òf as selfstandige gedigeenheid òf as strofiese onderdeel binne ʼn gedig kan funksioneer. Verskillende rymkombinasies is moontlik: kruisrym (abab), omarmende rym (abba), die Roebâijâtstrofe (aaxa), ens. (vgl. RYM). In teenstelling tot die terminale verandering wat deur die afsluitende rymende koeplet in ʼn Engelse sonnet bewerkstellig word, illustreer die laaste tipe rymskema die effektiwiteit van sluiting wanneer dit bewerkstellig word deur die terugkeer na ʼn norm ná ʼn interne afwyking. In J.C. Steyn se “Die kleurryke plaaslewe” word die rymskema aaxa bv. be­sonder effektief benut om tot ʼn geïntensiveerde slotsom te geraak:

  1. Die koring het swart geryp – git!                a
  2. Die mielies het sneeuwit verwit,                  a
  3. die sonneblom het groen-groen versuip     x
  4. vrugteloses het hul blou gebid.                  a

Die onverwagse (en ontstellende) manier waarop die “kleurryke” van die titel deur die kwatryn ingevul word, moet deurgaans aan die kombinasie van kleuradjektief en verlede deelwoord aan die einde van die versreël toegeskryf word – “swart geryp – git!/ sneeuwit verwit/groen-groen versuip/blou gebid”. Die eerste drie versreëls som in “kleurryke” taal drie verskillende rampe van die plaaslewe op: koue, droogte en te veel reën. Wanneer die laaste versreël se rymwoord gebid dan klankmatig na git en verwit in die eerste twee versreëls terugverwys, vorm dit méér as slegs ʼn strukturele voltooiing vir die kwatryn. Tematies word die volslae magteloosheid van die mens teenoor die natuuromstandighede waaraan hy uitgelewer is in die nodelose aanroep om verligting opgesom – die “blou gebid” antwoord m.b.v. nóg ʼn kleur op die “kleurryke” vernietiging wat in die eerste drie versreëls uitgebeeld is.

Uit die voorafgaande bespreking van die rymende koeplet en die kwatryn word dit duidelik dat die rym twee formeel-strukturele funksies in die poësie het: die signalering van verskillende strofiese en gedigvorme d.m.v. spesifieke rymkombinasies; die bewerkstelliging van formele sluiting in ʼn gedig deur òf ʼn ter­minale verandering (die rymende koeplet na drie voorafgaande kwatryne in ʼn Engelse sonnet), òf die terugkeer na ʼn norm ná ʼn interne afwyking (die rymskema aaxa met sy terugkerende aanvangsrym na die afwykende derde versreël). Belangriker as die signalering van strofiese en gedigvorme (vgl. STROFE) of selfs die bewerkstelliging van strukturele sluiting, is egter die potensiële semantiese intensivering van begrippe in die rym wat die kommunikasie van die poëtiese boodskap in die Eybers- en Steyn-gedig bevorder.

Alhoewel vertikale kombinasies in die eindrym een van die maniere is waarop betekenisassosiasies m.b.v. klankherhalingspatrone teweeggebring kan word, is dit ook belangrik om bewus te wees van moontlike verspreide of diffuse en horisontale klankbindinge wat terselfdertyd semanties beduidend kan wees. Op die diffuse vlak kan die herhaling van klanke en/of klankkombinasies ʼn reeds vasgelegde betekenisassosiasie van ʼn woord of woorde klankmatig lewendig hou oor gedeeltes van ʼn teks waar die betrokke woord of woorde dan nie meer herhaal hoef te word nie. In D.J. Opperman se “Kontrak” word die sentrale verbale fokus oopgeskiet bv. klankmatig gekontinueer in klankkombinasies wat verspreid in die gedig voorkom, sodat die volgehoue assonerende en volrym van dié sleutelwoord nog lei tot ʼn geïntensiveerde persepsie van die klankmatige kontinuering daarvan. Die omgekeerde kan ook gebeur deurdat ʼn bepaalde klankpatroon diffuus deur ʼn gedig herhaal word ter voorbereiding van ʼn sleutelwoord of woorde wat pas teen die einde van die gedig eers prominensie verkry.

By klankbindinge op die vertikale vlak gaan dit veral om die vooropstelling van bepaalde (gewoonlik buite-sintaktiese) semantiese relasies tussen woorde of woordgroeperings wat klankmatige ooreenkomste vertoon. Hierdie semantiese relasies kan òf kontrasterende òf ooreenstemmende betekenisverbande omlyn. Verder kan ekstra grammatikale verbande beduidende semantiese implikasies hê. Kontrasterende semantiese verwantskappe is dan gewoonlik antiteties (die betekenis van die klankmatige verwante woorde is wyd uiteenlopend) of IRONIES (die een woord kwalifiseer ʼn ander klankmatig verwante woord op ʼn ironiese wyse). Semantiese ooreenstemmende klankverbande behels veral simboliese of metaforiese, kousale en sinonieme groeperings van woorde. In ʼn simboliese en/of metaforiese verwantskap is die een woord die simboliese of metaforiese ekwivalent van die ander; albei rymwoorde kan ook simbolies of metafories wees en dan betrekking hê op letterlike terme buite die rymverband. By ʼn kousale verwantskap is die een woord die resultaat van die ander, terwyl in ʼn sinonieme groepering die betekenis van die woorde sterk ooreenstemmend is. In vertikale grammatikale verbande word die grammatikale toepassingsbereik van woorde uitgebrei en bykomende semantiese assosiasies op dié manier bewerkstellig. Dit is duidelik dat woorde in die poësie aan ʼn ekstra ordeningsbeginsel onderwerp kan word: semanties ekwivalente leksikale items kan in konvensioneel ekwivalente posisies in die rymskema van ʼn gedig geplaas word; of ekwivalente posisies in die rymskema kan lei tot die onthulling van onverwagte en/of nuwe betekenisverbande tussen woorde, sodat semantiese ekwivalensie in dergelike gevalle geskep word binne die gedig. In die sesde strofe van Cloete se “Hamster” word sintaktiese teenstellings binne die gedig bv. geëggo in die vertikale verbande in die rym:

  1. trots en brutaal, nederig en verag                a
  2. of gelief, geniaal                                            b
  3. en onnosel, sag                                             a
  4. of hard, mooi en lelik, verhewe of banaal.     b

Binne sintaktiese verband word hard in die vierde versreël teenoor sag gestel; binne die vertikale klankbinding van die a-rym is dit egter verag wat teenoor sag gestel word. Op dieselfde wyse word die sintakties gegewe teenoorgestelde van geniaal, nl. onnosel in die derde versreël, vertikaal in die b-rym vervang met banaal. In albei hierdie gevalle word die kontrasterende verbindingsmoontlikhede van die rymwoorde uitgebrei: in die a-rym word ʼn nuwe antitetiese relasie tussen sag en verag tot stand gebring; in die b-rym is banaal ʼn ironiese kommentariëring van geniaal. Dit is duidelik dat bykomende semantiese verwantskappe buite sinsverband in die eindrym belig word. Op dieselfde manier sou ekstragrammatikale en metaforiese verbande in die rymposisie geaktiveer kon word. Die semantiese implikasies van dergelike buite-sintaktiese verbande moet egter versoenbaar wees met die geheelinterpretasie van die gedig – anders sou ʼn kreatiewe leser dalk in die versoeking kon kom om onwaarskynlike betekenisse in te lees in ʼn gedig.

Waar vertikale klankverbande gewoonlik buite-sintaktiese rela­sies tussen woorde of woordgroeperings omlyn, is dit juis be­staande sintaktiese verbande wat deur klankherhalingspatrone binne die vers of oor ʼn enjambement heen gereleveer word. In Opperman se “Kontrak” sorg alliterasie vir ʼn verbinding binne enjamberende versreëls (“wortels/wat nederig werk”), terwyl vol­rym en alliterasie sorg vir ʼn sintaktiese verbinding binne ʼn versreël (“tot grot en gramadoela”). Bestaande grammatikale en/of sintaktiese verbande kan dus horisontaal in ʼn gedig klankmatig omlyn word.

Eksploitasie van die klankmatige in poëtiese taalgebruik kan blykens die voorafgaande uiteensetting verskeie vlakke betrek: akoesties, ritmies, formeel-struktureel en semanties. Die klankaspek word deel van die geheelstruktuur van ʼn gedig en terselfdertyd ʼn belangrike kommunikatiewe middel deur die relevering van bestaande en bykomende sintaktiese en semantiese verbande.

Vir ʼn uitgebreide bespreking van die moontlikhede van die akoestiese funksie van klank, gesien as ʼn manifestasie van klankekspressie, kan Boets (1965) geraadpleeg word. Vir ʼn siening dat die klank ʼn integrerende deel van die struktuur of die semantiek van ʼn gedig is, kan teoretici soos Jakobson (1960), Levin (1962), Perloff (1970), Nemoianu (1971) en Wimsatt (1944/1954) ge­raadpleeg word. Die uiteensetting van die klank hierbo steun op twee vorige studies waarin die bg. aspekte uitvoeriger beredeneer en geïllustreer word, nl. Gräbe (1983 en 1984).

 

Bibliografie

Boets, J. 1965. Moderne teorieën in verband met klankexpressie. Gent: Secretariaat van de Koninklijke Vlaamse Academie voor Taal en Letterkunde.

Gräbe, I. 1983. Eksploitasie van klankmatige aspekte in T.T. Cloete se Jukstaposisie. In: Viljoen, H. et al. In teen die groot vergeet. Potchefstroom: PU vir CHO.

Gräbe. I. 1984. Aspekte van poëtiese taalgebruik. Teoretiese verkenning en toepassing. Potchefstroom: PU vir CHO.

Jakobson, R. 1960. Concluding statement: linguistics and poet­ics. In: Sebeok, T. (ed.). Style in Language. Cambridge, Mass.: MIT.

Levin, S. 1962. Linguistic Structures in Poetry. The Hague: Mouton.

Perloff, M. 1970. Rhyme and Meaning in the Poetry of Yeats. The Hague: Mouton.

Nemoianu, V. 1971. Levels of study in the semantics of rhyme. Style, 5.

Wimsatt, K. 1944/1954. On relation of rhyme to reason. In: Wim­satt, W.K. The Verbal Icon: Studies in the Meaning of Poetry. Kentucky: University of Kentucky Press.

 
Ina Gräbe