AFORISME

(Hersien Januarie 2017)

‘n Aforisme (Gr.: apo + horizein: afbaken) is ‘n kernagtige stelling waarin ‘n idee of waarneming op ‘n kreatiewe wyse verwoord word. Die term is die eerste keer in die Griekse medikus Hippokrates se Aforismi gebruik. Hy is beroemd vir sy aforisme “Die kuns is lank, die lewe kort, geleentheid vervlietend, eksperimentering gevaarlik en beoordeling moeilik”. Sy aforismes verwys na ‘n kernagtige wetenskaplike beginsel, meestal medies van aard. Mediese aforismes kom ook voor by Joannes de Meditano van die Skool van Salerno (11de eeu) en Herman Boerhaave (18de eeu). Ander klassieke skrywers wat graag van aforismes gebruik gemaak het, is o.a. Zoroaster, Plato, Aristoteles, Homeros, Vergilius en Horatius. Dit kom ook dikwels voor in die werk van filosowe en geestelikes, bv. Thomas à Kempis en Erasmus van Rotterdam. Ook die Bybelboek Prediker is ‘n ryk bron van aforismes. In die 16de eeu word aforismes aangetref in die werk van skrywers soos Bacon en Montaigne. Aforismes was veral gewild in die 17de en 18de eeu, soos blyk uit die werk van mense soos Quevedo, Pascal en La Bruyère. ‘n Moderne skrywer, bekend vir sy humoristiese (dikwels bytende) aforismes, is Oscar Wilde: “Criticism is the highest form of autobiography.” Die lys illustreer dat aforismes dikwels by (klassieke) medici, filosowe en letterkundiges voorkom.

Aforismes is gewoonlik humoristies, bv. “Die lewe is kort; glimlag terwyl jy tande het!” Die humor is soms ook bytend en sarkasties: “Twee dinge is oneindig: die kosmos en menslike onnoselheid; en ek is nie seker van die kosmos nie.” Dié stylfiguuur word gebruik om universele waarhede te verkondig, veral deur hulle slim te verwoord sodat dit ‘n blywende indruk skep, bv. lord Acton (19de-eeuse Britse historikus, politikus en skrywer) se stelling: “Power tends to corrupt, and absolute power corrupts absolutely”. Of die wyse aforisme: “Truth is never pure nor simple.”

‘n Aforisme, SPREUK en spreekwoord word dikwels met mekaar verwar. ‘n Aforisme en spreuk druk albei ‘n algemene morele of religieuse waarheid uit, maar die verskil tussen die twee stylfigure lê daarin dat ‘n spreuk eerder moraliserend is (“Elke ding het sy vaste tyd, elke ding in hierdie wêreld het sy tyd”), maar die klem lê nie so erg op kreatiewe of humoristiese taalhantering soos by die aforisme nie. Spreekwoorde druk óók algemene waarhede uit, maar die klank- en ritmepatroon is treffend: “Die môrestond het goud in die mond.” Talle spreekwoorde, soos die voorbeeld, se trefkrag slyt later af en word dan eerder as clichés beskou.

Kenmerkend van die aforisme is die gebruikmaking van stylfigure soos teenstellings, PARADOKSE (bv. “Ware vryheid lê in gebondenheid”) en parallelismes, soos T.S. Eliot se alombekende uitspraak “Genuine poetry can communicate before it is understood”.

In Afrikaans het o.a. Langenhoven, N.P. van Wyk Louw, Breyten Breytenbach, André P. Brink en Hennie Aucamp aforismes geskryf.

 
Anna-Marie le Roux

 

Bibliografie

Chisholm, H. (ed.) 1911. Aphorisms. (In: Encyclopædia Britannica. Cambridge University Press. 11th ed.

Hippocrates. Aphorismi. In: Littre, A., (ed.) Oeuvres complètes d’Hippocrate. Amsterdam: Hakkert. (Ook beskikbaar as eBoek.)

Leach, Maria. (samest.) 2000. The Wicked Wit of Oscar Wilde. London: Michael O’Mara Books.

Meyers, W. 2003. The Dictionary of Poetic Terms. Denton: University of North Texas Press.

Morley, J. 1887. Aphorisms – an Address Delivered Before the Edinburgh Philosophical Institution, Nov. 11, 1887. London: Macmillan.

Oversteegen, J.J. 1982. Twee genres: aforisme en sonnet. In: Oversteegen, J.J. Beperkingen. Utrecht: HES.

Van Gorp, H., et al. 1986. Lexicon van literaire termen. Groningen: Wolters-Noordhoff.