PRACTICAL CRITICISM

Die term Practical criticism word gewoonweg geassosieer met I.A. Richards, die Engelse kritikus van die twintiger- en dertigerjare. Practical criticism kan enersyds gesien word as ‘n reaksie op die oorwegend historiese studie van die literatuur in die voorafgaande jare, en andersyds as ‘n poging om die studie van die literatuur op ‘n sterk empiries-wetenskaplike grondslag te plaas. Richards se werk was in ‘n baie groot mate daarop gemik om ‘n meer gedissiplineerde en “accurate” EVALUERING van die literêre kunswerk (die gedig) moontlik te maak, maar in ‘n hoë mate het hy meer aandag gegee aan die verhouding gedig-reseptor as aan die verhouding tussen die gedig en die digter.

Richards het, saam met Charles Kay Ogden, vroeë bekendheid verwerf vir die skepping van Basic English, “an auxiliary international language comprising 850 words arranged in a system in which everything may be said for all the purpose of everyday language” (Drabble, 1985: 827). Twee van Richards se werke in die veld van literêre kritiek was revolusionêr in hulle inslag: Principles of Literary Criticism (1924) en veral Practical Criticism: A Study of Literary Judgment (1929), ‘n werk wat die studie en die onderrig van Engels aan Anglo-Saksiese instellings radikaal verander het.

Hierdie lg. werk is gebaseer op ‘n eksperiment wat Richards in Cambridge uitgevoer het en waarin hy ongeïdentifiseerde gedigte aan ‘n groep lesers uitgedeel het met die opdrag dat hulle skriftelik kommentaar moes verskaf wat hulle reaksies op die gedigte moes weerspieël. Die resultate, in Drabble se woorde “both entertaining and alarming”, het getoon dat die meeste van die lesers gevestigde “tradisionele” digters soos John Donne, D.H. Lawrence en Gerard Manley Hopkins geringgeskat het, terwyl die werk van prulskrywers soos Studdert Kennedy en J. DC. Pellew hoog aangeskryf is.

Richards (1929: 3) verklaar in die inleidende deel van sy Practical Criticism hoe hy te werk gegaan het: “For some years I have made the experiment of issuing printed sheets of poems — ranging in character from a poem by Shakespeare to a poem by Ella Wheeler Wilcox — to audiences who were requested to comment freely in writing upon them. The authorship of the poems was not revealed, and with rare exceptions it was not recognised.” Uit die res van die eksperimentele werk moet afgelei word dat volslae anonimiteit bewaar is, en dat die lesers hoofsaaklik voorgraadse studente was wat ‘n “Honours degree” in Engelse literatuur beoog het — dus belangstellende en “goeie lesers”. Hy verwys daarna dat die lees van poësie, net soos die lees van etiek, godsdiens, metafisika en estetika verskil van die lees van vakke soos die wiskunde, fisika, ens., waar daar sprake is van verifieerbare hipoteses, en hy kom tot die gevolgtrekking dat hierdie boek deels beoog om ‘n rekord te wees van “fieldwork in comparative ideology” (Richards, 1929: 6). Die hoofdoel van die boek is egter om maniere te vind waarvolgens die digkuns benader, geïnterpreteer en geëvalueer kan word, en Richards stel dit onomwonde dat “the whole apparatus of critical rules and principles is a means to the attainment of finer, more precise, more discriminating communication” (Richards, 1929: 11), en om die proses van evaluering te kan uitvoer, moet die leser die “relevant mental condition” kan vasstel waarbinne die gedig funksioneer.

Richards voer aan dat die hoofprobleme wat die kritikus in die gesig staar, die volgende is: a) Die probleem om bloot vas te stel wat die gedig sê, die suiwer inhoudelike betekenisaspek. b) Hiermee saam hang die probleem van die suiwere ervaring van die sensoriese aspek van die gedig — iets wat volgens hom moet gebeur deur ‘n samevloeiing van sensoriese, intellektuele en emosionele savoir faire. c) Hierna volg die probleme wat sentreer om die plek wat die BEELDSPRAAK in die gedig inneem, ‘n probleem wat vererger word omdat lesers so enorm verskil in hulle vermoë om te visualiseer. d) Die probleem van persoonlike mnemoniese irrelevante insprake in die loop van die leesproses word ook moeilik oorbrug. e) Die probleem van geykte response (“stock responses”) wat die resultaat is van die leser se vroeë “opleiding” in die lees van gedigte is ‘n ander gedugte struikelblok in die ontwikkeling van ‘n fyn kritiese instelling. f) Sentimentaliteit hoef nie verder belig te word as ‘n gevaar inherent aan die leesproses nie, en word gebalanseer deur: g) Inhibisie, wat ook nie hier losstaande bestudeer kan word nie. h) Gevestigde dogmatiese reste (“doctrinal adhesions”) wat sentreer rondom stellings i.v.m. veral godsdienstige sake bemoeilik die lees van gedigte baie. i) Tegniese voorveronderstellinge wat sentreer om die wyse waarop iets gedoen of nie gedoen behoort te word nie, is ‘n ander probleem wat die digter aan bande kan lê in terme van wat al tevore goed of minder goed gedoen is. j) In die laaste instansie is daar die probleem van algemene kritiese voorveronderstellinge wat eindeloos inbreuk maak op die leser se reaksie op die gedig — “like an unlucky dietetic formula they may cut him off from what he is starving for, even if it is at his very lips” (Richards, 1929: 17).

In sy (nou beroemde) kommentaar het Richards dus by uitnemendheid kommentaar gelewer oor veral die geykte reaksies (“stock responses”), vooropgesette idees, metriese ongevoeligheid en totale gebrek aan indringende lees van sy proefpersone. Sy algemene gevolgtrekking was dat ‘n algemene gebrek aan sensitiwiteit vir die digkuns die manifestasie is van ‘n lae vlak, in die algemeen, wat betref die algemene verbeeldingrykheid van die lewe, en hy het die idees gevestig wat vir dekades van deurslaggewende belang sou wees in die studie van die Engelse literatuur, veral die poësie: ‘n algemene afkeer van vaagheid, sentimentaliteit en luiheid by sowel die leser as die digter, en sy aandrang op IRONIE (“a characteristic of poetry of the highest order”), meerduidigheid, dubbelsinnigheid en rykdom aan verwysing (“allusion”). Hy het deur sy voorgestelde metode van indringend lees (“close reading”) die meeste gedoen om die klimaat te skep vir die aanvaarding van die modernistiese gees in die literêre kritiek, en het ‘n groot invloed uitgeoefen op kritici soos Empson en Leavis.

Sy grootste enkele invloed lê duidelik in sy aandrang op ‘n indringende en nougesette studie van die teks self met die uitsluiting van vae veralgemening.

Richards voer aan dat die belangrikste feit onderliggend aan die studie van die literatuur of enige ander vorm van kommunikasie die feit is dat daar verskillende soorte betekenis is. Die taal het nie net een nie maar verskeie take wat gelyktydig vervul moet word, en met die verskille en samehange tussen hierdie funksies moet altyd rekening gehou word. Richards onderskei vier soorte betekenis vir die doeleindes van literêre studie:

1) Sin (sense — inhoudelike betekenis). ‘n Mens praat om iets te sê, om gedagtes aan ‘n ander voor te lê, om te evalueer en hom aan die dink te sit. 2) Gevoel (emotiewe, ook sensoriese betekenis). ‘n Mens het normaalweg ook gevoelens omtrent hierdie dinge wat gesê word, ‘n houding omtrent die dinge waaroor gepraat word. Taal word gebruik om uitdrukking te gee aan die gevoelens; daardeur verleen ons emotiewe kleur aan dit wat gesê word. 3) Toon (tone). Die spreker sal normaalweg ook ‘n houding openbaar teenoor sy toehoorder. Hy kies en rangskik sy woorde na gelang van die aard en samestelling van die toehoorder(s), in outomatiese of doelbewuste aanvaarding van sy verhouding tot hulle. Die toonaard van sy verbale uiting weerspieël sy bewustheid van hierdie verhouding. Dit kan ook natuurlik gebeur dat hy onbewus uitdrukking sou gee aan ‘n houding wat hy nie wou/kon uitdruk nie. 4) Intensie. In die laaste instansie is daar die spreker (skrywer) se (bewuste of onbewuste) intensie met die werk, die effek wat hy wil bereik. Normaalweg sal daar ‘n doel wees met enigiets wat gesê (geskryf) word, en hierdie doel modifieer sy uiting — en die begrip van die reseptor van hierdie intensie is deel van die hele proses van verstaan van die betekenis van dit wat oorgedra word.

Richards voer aan dat die sensoriese aard van digterlike beeldspraak nie in ‘n vaste verhouding staan tot die uitwerking van die beeldspraak nie, en hy voel dat te veel aandag altyd gegee is aan die sensoriese aard van beeldspraak. Hy meen dat wat ‘n beeld trefkrag gee, meer geleë is in die aard van die beeld as ‘n mentale gebeurlikheid wat op ‘n besondere manier gekoppel is aan sensoriese ervaring. Hy wil dus dat mens versigtig moet wees en nie moet dink dat hoe helderder en meer “treffend” ‘n beeld is, des te treffender en helderder die inslag van die beeld sal wees nie. Hy voer aan dat hoewel beeldspraak vir sommige mense van die uiterste belang is in hulle persepsie van die wêreld, ander nie noodwendig ooit in beeldspraak dink nie — dus kan mens nie aanvoer dat beeldspraak onontbeerlik is in die persepsie van die werklikheid deur almal nie.

Wat is die gedig in der waarheid? Is dit die digter se ervaring? Die ervaring van die “gekwalifiseerde” leser, wat nie foute begaan nie? Die ideale, die perfekte leser se moontlike ervaring? Ons eie werklike ervaring? Richards (1929: 226) voer aan dat “to define the poem as the artist’s experience is a better solution … but we cannot take any single experience as the poem; we must have a class of more or less similar experiences instead”. ‘n Mens kan dus uiteindelik ‘n gedig beskryf as ‘n groep of soort ervaringe wat nie in meer as ‘n gegewe mate afwyk van ‘n sekere standaard of norm nie. Hierdie standaardervaring is dus die relevante ervaring van die digter wanneer die voltooide werk betrag word, en enigeen wie se ervaring in hierdie mate saamval met die standaardervaring sal in staat wees om die gedig te beoordeel.

Richards (1929) se onderskeiding van twee soorte taalgebruik was onderliggend aan sy teorie, maar dit het terselfdertyd heelwat kritiek uitgelok. Hy onderskei tussen die wetenskaplike en die emotiewe gebruik van taal: ‘n stelling kan gemaak word vir die doeleindes van die referensie (waar of vals) wat gemaak word, en dit kan dan beskou word as die wetenskaplike gebruik van taal; ‘n stelling kan ook gemaak word vir die doeleindes van die affektiewe uitwerking wat dit kan hê, dus die emotiewe uitwerking daarvan. Hy voer aan dat “in the scientific use of language not only must the references be correct for success… (they) must be logical … But for emotive purposes logical arrangement is not necessary … it may be and often is an obstacle” (1929: 268).

Die term *New Criticism (Anglo-American Formalism) vloei uit Richards se werk voort. Hierdie naam kan hoofsaaklik gebruik word vir ‘n groep Amerikaanse kritici wat in die loop van die dertigerjare op die voorgrond begin tree het en wat ‘n enorme invloed sou uitoefen op die Engelse literêre kritiek, in so ‘n mate dat ten minste die tegnieke en metodes van dié groep vandag nog in die meeste Engelse departemente aangehang word. Hoewel dit nie werklik moontlik is om al die eksponente van hierdie benadering onder een sambreel in te jaag nie (mense soos Cleanth Brooks, John Crowe Ransom, Allen Tate, Robert Penn Warren, Wimsatt en Beardsley het almal hulle metode van “close scrutiny” ontleen aan Richards se werk), word die term NEW CRITIC gebruik om diegene te beskryf wat die literêre teks beskou het as ‘n komposisie wat bestaan uit formele strukture en as ‘n selfreferensiële ARTEFAK met ‘n rigoristiese uitsluiting van wat moontlik beskou kon word as “ekstrinsieke” faktore in die oorweging van die literêre meriete van die betrokke werk. Die literêre kunswerk (in die geval altyd die gedig) kan dus gesien word as ‘n veelkantige en komplekse objek wat ‘n OUTONOME bestaan het, heeltemal los van die biografie van die skrywer en die literêre geskiedenis. Rabinowitz (1982: 27) dui egter op een van die grootste gevare van hierdie “skool”: “It is unfortunate that by 1940 Richards’ insistence on the primacy of the text — a view of literature prompted by the need to protect it from political and ideological influences and idiosyncratic associations — had become the shibboleth of a generation of professional critics.” In teenstelling met Richards se siening van die digkuns as ‘n “synthesis in tension of a reader’s impulses and emotions” (Rabinowitz, 1982: 25) het die New Critics ‘n gedig gesien as ‘n self-definiërende en alleenstaande matriks van formele strukture: Brooks se opvatting van die digwerk is dat dit ‘n patroon is van “stresses and balances,” en die doel van die kritiese arbeid het gesentreer om die evaluering van die gedig as gedig. Dit het ook toenemend waar geword dat vir die New Critic die betekenis van ‘n gedig ten nouste saamgehang het met die werking van figuratiewe taal — die sinestetiese interaksie van verskeie sensoriese modaliteite speel dus nou ‘n belangrike rol in die oordrag van betekenis.

In die algemeen gesien het die Practical criticism (ook in die latere verfyning en ontwikkeling bekend as die New Criticism) ‘n groot bydrae gelewer veral in terme van die metodes en tegnieke vir die ontleding van gedigte. Die belang van hierdie rigting in die literêre kritiek is te vinde in die praktiese en teoretiese metodiese aspekte wat dit uitgelig het, maar in die woorde van Rabinowitz (1982: 39) is dit ook waar dat “the enormous practical and theoretical importance of the method should not blind us to its cultural, professional and even theological and political prejudices”.

Richards se werk is deur baie kritici al beoordeel en hoofsaaklik in die onlangse verlede verwerp. Voorbeelde hiervan is legio. Die enigste bronne om te gebruik om sy metode te bestudeer bly die primêre bronne, nl. Principles of Literary Criticism (1924) en Practical Criticism (1929).

 

Bibliografie

Brooks, C. 1949. The Well-wrought Urn. London: Dobson.

Drabble, M. (ed.). 1985. The Oxford Companion to English Literature. Oxford: Oxford University Press.

Empson, W. 1930. Seven Types of Ambiguity. London: Chatto & Windus.

Hartman, G.H. 1979. A short history of Practical Criticism. New Literary History, 10.

Krieger, M. 1956. The new apologists for Poetry. Minneapolis: University of Minnesota Press.

Leavis, F.R. 1948. The Great Tradition. London: Chatto & Windus.

Leavis, F.R.  1952.  The Common Pursuit. Harmondsworth: Penguin.

Rabinowitz, I. 1982. New Criticism: beloved infidel. In: Ryan, R. & Van Zyl, S. (eds). An Introduction to Contemporary Literary Theory. Johannesburg: Ad. Donker.

Ransom, J.C. 1941. The New Criticism. Norfolk, Conn.: New Directions.

Richards, I.A. 1924. Principles of Literary Criticism. London: Routledge & Kegan Paul.

Richards, I.A. 1929. Practical Criticism. London: Routledge & Kegan Paul.

Wellek, R. 1978. The New Criticism: pro and contra. Critical Enquiry, 4.

Wellek, R. & Warren, A. 1949/1968. Theory of Literature. Harmondsworth: Penguin.

Wimsatt, W.K. 1954. The Verbal Icon. Lexington: Kentucky University Press.

Raadpleeg ook:

Bowen, J. 1987. Practical criticism, critical practice: I.A. Richards and the discipline of ‘English’. Literature and History, 13(1).

Bredin, H. 1986. I.A. Richards and the philosophy of practical criticism. Philosophy and literature, 10(1).

Lumdsden, R. 1987. Is practical criticism practical? Journal of Literary Semantics, 12(1).

 
Annette L. Combrink