KANONS EN KANONISERING

Die kanon is, tradisioneel beskou, die versameling meesterwerke van die Westerse literatuur, die beste werke, daardie tekste wat vir ons “die literatuur” uitmaak. Dit strek meestal oor tyd- en taalgrense heen, van Homeros en Vergilius af tot by Joyce, Kafka, Leroux, Kundera of J.M. Coetzee. Daar word meestal egter ook ‘n eie nasionale kanon onderskei, die groep “klassieke” of “onsterflikes” van ‘n NASIONALE LITERATUUR, soos bv. die lyste opgestel deur laat-Alexandrynse en Bisantynse geleerdes van Griekse tekste wat as navolgenswaardig (imitasie-waardig) beskou is en aanbeveel is vir gebruik op skool.

Volgens Curtius (1973: 256–272) verskyn die term kanon vir die eerste keer in die 4e eeu n.C. in die betekenis “katalogus van skrywers”. Hy onderskei drie kanons: die literêre tradisie van die skool (studium), die juridiese tradisie van die staat (imperium) en die religieuse tradisie van die kerk (sacerdotium). En hy ken drie funksies aan die kanon toe: dit beskerm die tradisie, maar dien ook as standaard en model vir ‘n nuwe tradisie.

Die kanon is sterk normatief en gesaghebbend. Dit blyk uit die assosiasie daarvan met geloofsvoorskrifte, gedragsreëls; met die Bybelboeke wat deur die kerk erken word (die kanon van die Heilige Skrif); en met die lys van heiliges van die Katolieke Kerk (HAT). Etimologies kom dit via Latyn uit Grieks, kanoon, “reël, rigsnoer”. Vandaar dat kanon ook veralgemeen is na “voorbeeld, norm, wet en lys, katalogus of tabel”, aldus Van Gorp in die Lexicon van Literaire termen.

Die kanon is ook outentiek: daardie Bybelboeke wat beskou word as outentiek deur God geïnspireer, behoort daaraan, in teenstelling met die apokriewe boeke. Analoog daaraan word die Shakespeare-kanon onderskei van werke wat op twyfelagtige basis aan Shakespeare toegeskryf word.

Fowler (1985: 213 e.v.) beklemtoon, naas die gesag en outentisiteit van die amptelike kanon, ook dat dit as stabiel of redelik koherent beskou word en eksklusief volledig is. Dit beperk egter ons begrip van die literatuur op verskillende maniere. Hoewel die amptelike kanon geïnstitusionaliseer word deur opvoeding, mecenasse, die joernalistiek, ens., het elke leser sy eie kanon van werke wat hy ken en waardeer. Hierdie persoonlike kanon kan ook nie-kanonieke werke insluit en verder gaan as die ampte­like kanon deur nuwer werke in te sluit of verwaarloosdes te herwaardeer.

Die omvang van die kanon word volgens Fowler egter op ver­skillende maniere prakties beperk. Sommige werke kan net in groot biblioteke geraadpleeg word. Die hele kanon is nooit gelyktydig in druk beskikbaar nie, net die mees onlangse herdrukke. Ook deur ander praktiese oorwegings soos pakhuiskoste word die kanon meestal prakties beperk tot tekste wat in slapbandvorm of in bloemlesings beskikbaar is. Dit is veral duur en moeilik om verwaarloosde dramas weer op te voer. Sensuur is ook ‘n belangrike faktor wat die beskikbare kanon beperk, soos dit bv. die geval is met die werk van verbanne Suid-Afrikaanse skrywers. Boonop bestaan daar selektiewe kategorieë binne die amptelike kanon. Net sekere tekste word opgeneem in kurrikula, selfs in alternatiewe kurrikula. Daarby wys Fowler ook op die informele kanon van bekende en maklik bekombare passasies, wat meestal verbasend eng is. Dit is hierdie passasies wat in tydskrifte bespreek word of as voorbeelde in handboeke gebruik word en waaroor kritici by herhaling skryf.

Alhoewel dit uitsluit en beperk, beklemtoon Fowler ook die positiewe uitwerking van die samehang en verskeidenheid van die kanon: “it constitutes one of our most significant images of wholeness” (1985: 216) – onpopulêr in ‘n tyd wat gate, breuke, verskille en fragmente hoog aanslaan.

Die idee van ‘n vaste, algemeen aanvaarde, gesaghebbende ka­non word tans ernstig bevraagteken. Kanons word vandag eerder beskou as histories gevormde instellings wat die belange van die heersende groep verskans. Hulle is nie onveranderlik nie, maar word histories gevorm deur die oordele wat resensente, kritici, literatuurdosente, skrywers, keurders en ander hekwagters in his­tories kontingente situasies vel. Daarna word kanons voortgeplant deur die kanonieke tekste voor te skryf, na hulle te verwys in klasse en tekste, deur hulle te bestudeer of met ander te vergelyk. Daarom is kanons gelaai met die IDEOLOGIE van die kanoniseerders, gewoonlik die heersende klas.

T.S. Eliot was een van die invloedrykste teoretici oor kanons. Sy siening, uitgewerk in opstelle soos “Tradition and the individual talent” (1919), “What is a classic?” (1944) en “What is minor poetry?” (1957), begin by die aanname dat die erkende literêre werke van Engeland én die hele Europa “an ideal order amongst themselves” vorm. Hierdie omvattende geheel word egter deur elke werklik nuwe werk gewysig, al is dit ook in ʼn baie geringe mate. Die kanon is van nature geslote, en om dit te heropen, moet die buitestaander (soos Eliot) met ‘n subtiele, strategiese beskeidenheid optree. Guillory (1983: 340) beskou Eliot se doktrine van onpersoonlikheid as so ‘n strategie. Hy beskou die impas­se tussen “major” en “minor” digters egter as die motor van Eliot se opvatting van kanons.

Die herwaardering van die “minor stance” is die beginsel van Eliot se hersiening van die kanon. Die beroemde assimilerende gees van die (onopvallende) digter kan, soos ‘n stukkie platina, die katalis wees wat die andersins stabiele mengsel van die ka­non as ‘t ware kan omkeer sodat houer en inhoud plek kan verwissel (en natuurlik dan “minor” en “major” ook) (Guillory, 1983: 341). Deur aan te sluit by die gesonde invloed van “minor poets” systap Eliot die invloed van sy sterk voorgangers soos Ten­nyson en die impasse en wanhoop van The Waste Land. Op ‘n subtiele manier ruil ortodoksie en heterodoksie dan plekke om: die heersende kanon word uitgedryf na die buitenste duisternis terwyl die heterodokse “minor tradition” sy plek inneem, meen Guillory (1983: 349). By uitbreiding word die oordrag van die tradisie gelaat in die hande van ‘n marginale elite, die literêre kringe, wat soos ‘n “incognito clergy” ondergronds funksioneer.

Volgens Guillory (1983: 350) was Eliot se nalatenskap aan die literatuuronderrig op universiteit juis hierdie ideologie van die marginale elite en ‘n opvatting van die marginale verhouding van die gedig tot die waarheid. Volgens hom is hierdie opvattings o.a. deur Cleanth Brooks gebruik in die debat tussen ‘n literêre en ‘n sosiaal-wetenskaplike metodologie vir die literatuurstudie in die vyftigerjare. Hy toon aan dat Brooks in sy opstel oor Donne se “The canonization” (Brooks, 1949) die paradoks tot sentrale kategorie verklaar van ‘n literatuurstudie wat nie die betekenis van ‘n teks benoem nie, maar dit net aanwys, “pointing without saying”, en die beeld van die feniks wat weer uit die as opstaan, as die sentrale metafoor vir hierdie inhoud gebruik. Guillory (1983: 356-358) se argument is dat Brooks Donne se opposisies tussen heilig en profaan, wêrelds en geestelik, gebruik om ‘n ideologie van onttrekking uit die profane lewe te legitimeer. Hierdie onttrekking is tegelyk ook die transendensie én die kanonisering van die gedig. Daarmee saam word ook die (buitewetenskaplike) diskoers oor die poësie en die dissipline van die literatuurstudie gelegitimeer terwyl die geskiedenis daarvan, die kanoniseringsproses, verdoesel word agter “a narrative of error”. Die literatuurstudie word gestuur deur die kanon; die gedig word ‘n paradogma.

Hierdie nalatenskap van die NEW CRITICISM is al fel gekritiseer in die afgelope drie dekades. Guillory toon hier ook aan dat ka­nons historiese institusies is. Van die skerpste kritiek teen die idee van ‘n kanon kom egter uit FEMINISTIESE hoek. Die verwyt is dat die kanon die dominansie van mans bevestig, vroue doelbewus van die kanon uitsluit, misken en stilmaak – ‘n gebaar wat ek waarskynlik hier herhaal. Sodoende word die ideologie van mag en hiërargisering wat in die kanon ingeskryf is, onkrities aanvaar. Die potensiële omvang van die kanon, die menslike ervaring, die kollektiewe geheue wat in die literatuur opgesluit lê, word daardeur verskraal, veral ook deur die patriargale leesgewoontes waaraan mens jou lewe lank al blootgestel is (Froula, 1984: 171).

Ook sg. koloniale en inheemse literature en veral ook MONDELINGE LITERATUUR tree vandag na vore as alternatiewe vir die Westerse kanon. Trouens, heelwat teoretiese skole probeer hulle eie alter­natiewe kanons erken kry. Albei hierdie impulse is bv. aan die werk in SA in poësie/SA in poetry (Van Wyk et al., 1988), wat nie net die heersende kanon van Suid-Afrikaanse poësie wil hersien deur werkerspoësie te bundel “wat insae bied in ideologiese formasies” nie, maar die idee van afsonderlike kanons uitdaag deur poësie in Afrikaans en Engels en in mengvorme in een bundel bymekaar te bring. Sodoende wil dit die grond voorberei vir ‘n breër Suid-Afrikaanse nasionale literatuur. So ‘n nasionalistiese strewe was al dikwels die dryfveer agter dispute oor die kanon, o.a. in die sg. “Pope controversy” (vgl. Chandler, 1984).

Juis uit die gesag en die bewarende funksie van kanons spruit die skerpste kritiek daarteen, want dit stel die idee van ‘n kanon bloot aan die kritiek dat dit net ‘n voertuig vir die belange van ‘n sekere dominerende groep (meestal die bourgeoisie) is. Dit kom louter volgens magskriteria tot stand: die groep wat die mag het om as kanoniseerders op te tree, skryf hulle eie smaak aan ander voor.

‘n Voorbeeld van hierdie kritiek op die idee van ‘n kanon is Ohmann (1984) se analise van die vorming van die Amerikaanse prosakanon, 1960–1975. Daarin toon hy aan dat die norme en voorkeure van ‘n klein klompie mense ‘n buitengewoon belangrike rol gespeel het om te bepaal watter boeke wyd gelees is. ‘n Boek moes eers in harde band ‘n BLITSVERKOPER word voordat dit vir heruitgawes in slapband kon kwalifiseer. Die mense wat die hardebanduitgawes koop, bepaal dus watter boeke sukses sal behaal. Verder meen hy dat hierdie groep se waardes nou ooreenkom met die waardes van die resensente van die New York Times Book Review, wat die vernaamste kanoniseringskanaal was. Boonop het hierdie resensente noue bande met die groot maatskappye wat die boeke uitgee. Hy meen daar was ‘n beduidende korrelasie tussen die hoeveelheid advertensieruimte wat aan sekere uitgewers afgestaan is in die New York Times Book Review en die hoeveelheid resensies van hulle publikasies. Dié kanon verteenwoordig dus maar die waardes en belange van die nuwe klas wat hy onderskei, die Beroepsbestuursklas.

Of so ‘n analise ook vir Suid-Afrika sou geld, is ‘n ope vraag, maar die neiging om die uitgee en bemarking van boeke en die verspreiding van tydskrifte in Suid-Afrika te sentraliseer in een groot maatskappy, Nasionale Media, dui in dié rigting.

Volgens hierdie siening verteenwoordig kanons dus ‘n vals bewussyn waardeur mense verhinder word om raak te sien dat formasies soos kanons hulle eiebelang legitimeer. Die vernaamste argument hiervoor is dat kanons op ‘n sekere voorkennis berus, wat die basis vorm van mense se evaluerings van tekste. My ka­non berus op norme wat ek neerlê of minstens legitimeer. Die proses is dus sirkulêr.

Ter verdediging van kanons teen dergelike aanvalle voer Altieri (1984) drie argumente aan. Die eerste is dat die kritiek teen ka­nons op ‘n eng siening van die self berus – ‘n self wat nie sy eie belange ken nie of slegs belang het by die reproduksie van voortdurend dieselfde belange. Hierteen redeneer hy dat mens ook ander belange kan hê, o.a. belang by jou eie emansipasie, en dat jy jou eiebelang minstens goed genoeg kan ken om dit onder die beheer te plaas van iets waarvoor jy self verantwoordelikheid kan aanvaar.

Die tweede argument is dat kanons sekere belangrike sosiale funksies het, nl. “(to transmit) contrastive frameworks, (to exempli­fy) forms of imagination considered valuable in a culture and (to provide) figures of judgment for our actions” (1984: 57). Dit is funksies wat ook in ons eie belang is. Alhoewel die self nie as ‘n substansie beskou moet word nie, meen Altieri dat kanons ‘n belangrike rol speel deur modelle vir toekomstige optrede daar te stel. Dit geskied deur ‘n proses van sterk evaluerings. Anders as voorkeure (direkte uitdrukkings van individuele behoeftes), is sterk evaluerings keuses van ‘n tweede orde wat gemaak word ondergeskik aan ‘n bepaalde betekenis of selfbeeld wat jy belangrik ag. Hierdie betekenis of beeld bepaal jou optrede. As jy jouself as dapper sien, weerhou jy jou van sekere lafhartige optredes. Deur die instandhouding van dergelike kontrasterende of alternatiewe kontekste vir jou optrede kry mens ‘n openbare identiteit.

Kanons funksioneer vir Altieri analoog aan hierdie alternatiewe kontekste: hulle bewaar ryk, komplekse kontrasterende raamwerke wat ‘n kulturele grammatika vir die artikulasie van ervaring skep. Kanons is vir hom nie dogmas nie, maar dien as “dialectical resources, at once articulating the differences we need for a rich contrastive language and constituting models of what we can make of ourselves as we employ that language” (1984: 51). Hulle dien as twee soorte modelle: eerstens as voorbeelde van wat met literêre middele bereik kan word en tweedens as lewens- of wysheidsmodelle. Dit doen hulle deur konkreet aan te toon wat botsende keuses waarskynlik sal inhou.

Altieri se derde argument is dat kanons drie belangrike gevolge vir die kultuur inhou. Eerstens bied dit voorbeelde van wat as ideale kan dien en hoe mense dit kan gebruik vir hulle eie ontwikkeling. Tweedens kan mens jou werk en jou ideale meet teen die implisiete gehoor van gekanoniseerde skrywers, ‘n soort onafhanklike regsbank van die groot geeste van die verlede met wie jy in gesprek tree. Dit is ‘n gesag waaraan selfs heersende sosiale praktyke gemeet kan word, volgens Altieri. Derdens, meen Al­tieri, kan die bewaring van ideale uit die verlede na die toekoms geprojekteer word. Dit plaas druk op skrywers om sekere take minstens so goed soos die gekanoniseerde outeurs te verrig, m.a.w. om breë, transhistoriese ideale na te streef, vergelykbaar met die eise wat aan klassieke werke gestel word.

Dit is natuurlik juis teen hierdie soort idealisering dat baie kri­tiek op kanons gemik is. Nogtans is dit belangrik dat Altieri die produktiewe funksie van kanons beklemtoon. Hulle beperk en beheer nie net nie, maar kan ook as belangrike impulse of uitdagings vir ‘n kunstenaar dien. So toon Fried (1984) bv. aan hoedat Manet doelbewus uit werke van sy voorgangers aanhaal, juis met die doel om aan te sluit by die tradisie én dit te transendeer. Hy tree dus direk in ‘n “intertekstuele” gesprek met sy voorgangers en open ‘n ryk resonansiesfeer vir sy werk. Dit is hierdie soort gesprek met die voorgangers waardeur ‘n ruimte vir ‘n eie stem oopgemaak word, wat in die teorieë van Harold Bloom (1979) so ‘n belangrike rol speel. (Vgl. INTERTEKSTUALITEIT en INVLOED (LITERÊRE).)

Kanons ontstaan deur die optrede van mense in die geskiedenis, of dit nou literatore is wat die werk bespreek, voorskryf, ontleed of tekskrities versorg, skrywers wat dit lees en herskryf of lesers wat dit koop, lees of by ander aanbeveel. Hulle beoordeel tekste volgens ‘n persoonlike, kontingente waardeskaal. In dié proses reproduseer hulle die kanon bewus en onbewus, omdat dit ‘n model vorm waarvolgens die keuses gemaak word. So, kort saamgevat, lui die siening van Barbara Smith (1988). (Vgl. EVALUERING (LITERêRE) vir ‘n vollediger uiteensetting daarvan.)

Oor die kanoniseringsproses bestaan daar verskeie opvattings. Die RUSSIESE FORMALISTE het reeds daarop gewys dat die literatuur homself vernuwe deur elemente uit laer of populêre strata te kanoniseer. Volgens hierdie sg. “canonization of the junior branch” vind literêre oordrag nie van pa na seun plaas nie, maar van oom na neef, deur terug te gaan op elemente wat die vorige generasie negeer het. In Afrikaans verteenwoordig die Louws se pogings in die dertigerjare om die volksliedjie tot ‘n literêre vorm te verhef, iets dergeliks – ‘n verheffing wat kulmineer in Van Wyk Louw se reeks “Klipwerk”. Even-Zohar (1979) het hierdie proses geformaliseer as konversies in literêre *sisteme waardeur elemente uit die periferie na die sentrum verskuif word.

Daarnaas moet die retoriese kunsgrepe van die skeppers van ka­nons nie buite rekening gelaat word nie, die subtiele verskuiwings en ondermynings waarmee literêre mag verower word. Sogenaamde eksterne faktore – soos nasionalisme, markmeganismes, politieke druk – speel ook ‘n belangrike rol in kanonisering. Fowler (1985: 213-234) wys egter ook op die groot rol wat GENRE in kanonisering speel. Hy wys daarop dat elke PERIODE maar ‘n beperkte stel genres tot sy beskikking het en dat daar in die literatuurgeskiedenis groot bewegings onderskei kan word waarvolgens die hiërargie van genres verander. So het die roman bv. die epos van vroeër vervang as die dominante genre. Hieruit en uit die verplasing van tradisies lei hy dan af dat herevaluerings van werke uit die verlede waarskynlik eerder aan die druk van verborge verskuiwings in die genresisteem as aan morele of formele waardes toegeskryf moet word.

Die groot paradoks van die huidige gevoeligheid vir kanons en kanonisering is juis dat kritiek op die heersende kanon beskou kan word as die wyse waarop die kanon hom aanpas by nuwer omstandighede. Teenstanders van die kanon is juis besig om ander tekste te kanoniseer, waardeur die kanon lewend gehou word. Die kanon kan dus nie afgeskaf word nie; hoogstens hersien of deur ‘n ander vervang word. En die huidige debat oor kanons kan beskou word as die reaksie van die literêre bedryf op sy mar­ginale status in ‘n samelewing waarin hy deur ander magte gedomineer word (vgl. Renza, 1987). Op dié wyse speel selfs die heftigste skreeuers teen kanons getrou hulle rol om die kanon te bestendig en te vernuwe.

(Vgl. EVALUERING (LITERêRE) en LITERATUURKRITIEK; vgl. ook LITERATUURSOSIOLOGIE.)

 

Bibliografie

Altieri, C. 1984. An idea and ideal of a literary canon. In: Von Hallberg, R. (ed.). Canons. Chicago & London: University of Chicago Press.

Bloom, H. 1973/1979. The Anxiety of Influence. London: Oxford University Press.

Brooks, C. 1949. The Well-wrought Urn. London: Dennis Dobson.

Chandler, J. 1984. The Pope Controversy: Romantic poetics and the English canon. In: Von Hallberg, R. (ed.). Canons. Chica­go & London: University of Chicago Press.

Curtius, E.R. 1953/1973. European Literature and the Latin Mid­dle Ages. Princeton: Princeton University Press. Bollingen Series.

Eliot, T.S. 1957/1965. On Poetry and Poets. London: Faber and Faber.

Even-Zohar, I. 1979. Polysystem theory. Poetics Today, 1(1–2).

Fowler, A. 1985. Kinds of Literature. Oxford: Clarendon.

Fried, M. 1984. Painting memories: On the containment of the past in Baudelaire and Manet. In: Von Hallberg, R. (ed.). Can­ons. Chicago & London: University of Chicago Press.

Froula, C. 1984. When Eve reads Milton: Undoing the canoni­cal economy. In: Von Hallberg, R. (ed.). Canons. Chicago & London: University of Chicago Press.

Guillory, J. 1983. The ideology of canon-formation: T.S. Eliot and Cleanth Brooks. In: Von Hallberg, R. (ed.). Canons. Chica­go & London: University of Chicago Press.

Kermode, F. 1989. History and Value. Oxford: Clarendon.

Kermode, F. (ed.). 1980. Selected Prose of T.S. Eliot. London & Boston: Faber & Faber.

Ohmann, R. 1984. The shaping of a canon: U.S. fiction 1960 – 1975. In: Von Hallberg, R. (ed.). Canons. Chicago & Lon­don: University of Chicago Press.

Perloff, M. 1987. Ca(n)non to the right of us, Ca(n)non to the left of us: A plea for difference. New Literary History, 18(3).

Renza, L.A. 1987. Exploding canons. Contemporary Literature, 28(2).

Smith, B.H. 1988. Contingencies of value. Cambridge, Mass. & London: Harvard University Press.

Von Hallberg, R. (ed.). 1984. Canons. Chicago & London: University of Chicago Press.

Weimann, R. 1988. Shakespeare (de)canonized: Conflicting uses of “authority” and “representation”. New Literary History, 20(1).

 
Hein Viljoen