KONKRETISERING

Die term konkretisering is vir die eerste keer gebruik deur Ingarden (1973a & b). Die term verwys na die leser se verwerking van ʼn literêre werk gedurende die leesproses. ʼn Mens kan dus verskillende konkretiserings van dieselfde literêre werk kry. Hieruit volg dat konkretisering verband hou met die LESERROL.

Die konkretisering van ʼn literêre werk hou verder verband met die onderskeid wat die Praagse strukturalis, Jan Mukařovský, getref het tussen die ARTEFAK EN DIE ESTETIESE OBJEK. Konkretisering vind plaas wanneer die artefak deur die leser gelees en geïnterpreteer word en sodoende omgesit word in die estetiese objek.

Deur konkretisering word die potensiële kunswerk omgesit in die gerealiseerde kunswerk.

Voorts staan konkretisering i.v.m. Saussure se onderskeid tussen die SIGNIFIANT (die teken, artefak of materiële kunswerk) en die SIGNIFIÉ (die betekende, estetiese objek of gerealiseerde kuns­werk).

Die proses van konkretisering omsluit die proses van akkommodasie en assimilasie. Akkommodasie vind tydens die leesproses plaas wanneer die leser sy VERWAGTINGSHORISON wysig in die lig van dít wat hy besig is om te lees. Gepaardgaande hiermee vind assimilasie plaas, d.w.s. die leser herorganiseer sy verwagtingshorison a.g.v. sy nuwe leeservaring: “Het nieuwe tekst wordt in het oude van de verwachtingshorizont geïntegreerd” (Segers, 1980: 32).

Volledige konkretisering vind plaas deur die ideële leser (vgl. LESERTIPES). Aangesien hierdie soort leser nie werklik bestaan nie, kan ʼn literêre werk nooit volledig gekonkretiseer word nie. (Vgl. ook LESERROL.)

 

Bibliografie

Ingarden, R. 1973a. The Cognition of the Literary Work of Art (transl. R.A. Cowley & K.R. Olson). Evanston: Northwestern University Press.

Ingarden, R. 1973b. The Literary Work of Art: An Investigation on the Borderlines of Ontology, Logic, and the Theory of Litera­ture (transl. G. Grobowicz). Evanston: Northwestern Universi­ty Press.

Mukařovský, J. 1977. De kunst als semiotisch feit. In: Bronzwaer, W.J.M., Fokkema, D.W. & Kunne-Ibsch, E. (reds.). Tekstboek Algemene Literatuurwetenschap. Baarn: Ambokoeken.

Segers, R.T. 1980. Het lezen van literatuur: een inleiding tot een nieuwe benadering. Baarn: Ambo Basisboeken.

 
Anna-Marie Bisschoff