BRIEFROMAN

‘n Briefroman is ‘n ROMAN wat geheel of gedeeltelik uit BRIEWE bestaan; dagboekfragmente e.a. dokumente kan ook toegevoeg word, asook ‘n voor- en/of nawoord van ‘n fiktiewe redakteur/uitgewer. Wanneer die roman bestaan uit briewe van meerdere skrywers wat mekaar se briewe beantwoord, word ook gepraat van ‘n briefwisselingsroman. Andersyds kan die briefroman opgebou word uit briewe van ‘n enkele skrywer (Goethe, Die Leiden des jungen Werthers, 1774; M.E.R., Goedgeluk, 1927).

Die briefroman is morfologies verwant aan die eerstepersoonsroman (“ek-vertelling”) en aan die *dagboekroman. Deurdat verskillende briefskrywers sonder vertellersbemiddeling aan die woord is, benader die briefroman ook die drama. Verskillende klassifikasies van briefromansoorte is onderneem: Rousset (1962) baseer sy tipologie van die briefroman op die betrokke aantal korrespondente; Jost (1966) onderskei twee basiese soorte: la lettre-confidence (die statiese of passiewe aanbiedingswyse wat gebeure verhaal waarin die ontvanger geen deel gehad het nie) en la lettre-drame (die kinetiese of aktiewe aanbiedingswyse, ‘n handeling wat die ontvanger tot ‘n bepaalde optrede aanspoor). Vir Altman (1982) is die inhoud van briefromans eroties of instruktief, van minnaar of van mentor. Tog word onderskeidende kenmerke daarvan fundamenteel bepaal deur die essensiële eienskappe van die brief (epistolariteit) wat o.a. deur Altman (1982) soos volg aangedui word: (i) Die brief as skakel tussen sender en ontvanger kan die afstand tussen hulle òf bevestig òf oorbrug. In die briefroman word “the letter’s power to connect or interfere” (Altman, 1982: 22) ontgin. (ii) Vertroue, vertroulikheid, vertrouelinge is inherent aan briefwisseling; so ook verlies of wins aan vertroue, en die spel met vertroue, nl. koketterie. Vertroulikheid en koketterie word deur Altman as die twee basiese stylsoorte in brief­wisseling beskryf. (iii) Die unieke rol wat die brieweleser in die briefroman speel, onderskei dit van ander eerstepersoonsvertelvorme. Die briefskrywer verwag ‘n bepaalde respons van sy leser, maak dus dié leser voortdurend aanwesig in sy brief; Altman noem dit “the epistolary pact” (1982: 89). Die lees van briewe, kritiek op gelese briewe, herlees en dekodering van gelese briewe is deel van die geskiedenis in die briefroman; dit lei tot openbaring en self-ontdekking, wat weer belangrike momente in die KARAKTERISERINGSPROSES word. Die brief is ook as “dokument” inherent onderworpe aan verspreiding onder ‘n groter groep lesers: vandaar die aanwesigheid in die briefroman van ‘n leser/redakteur wie se versameling en publikasie van die briewe deel uitmaak van die geskiedenis; d.w.s. die wyse waarop die betrokke briewe onder ‘n groter leserskring versprei is, word intern uitgebeeld. So word ‘n ketting gevorm van interne private leser na interne publieke na eksterne publieke leser (Altman, 1982: 111), (iv) Die KODE van epistolêre DISKOERS word bepaal deur ‘n spesifieke ek-jy-verhouding, ook genoem pronominale relatiwiteit; tydsaanduidings geskied m.b.t. die teenwoordige hede, waarteen verlede en toekoms afgeteken word; gapings in die tydsverloop, vertragings, is betekenisbepalend; die diskoers boots die praatstem na. (Vgl. ANACHRONIE.) (v) Die konvensie van afsluiting van ‘n brief bied vir die briefroman verskillende ontginningsmoontlikhede. Hoewel ouer briefromans die konvensie dikwels as ‘n strategie vir afronding en beslissende afsluiting gebruik, bewerkstellig die rol van ‘n redakteur in die briefroman wat redigeer, selekteer, publiseer, dikwels dat die briefroman verby die konvensionele afsluiting “oop” bly: meer briewe kan aan die lig kom, die dialoog/briefwisseling kan voortgaan, ‘n slot kan altyd ‘n nuwe begin inlui. ‘n Beskouing van briefromanslotte vestig veral die aandag op die briefroman as proses (Altman, 1982: 163). (vi) Die briefroman as mosaïek van briewe wat eenheid in sigself en ‘n eenheid binne die groter geheel vorm, maak volgorde en jukstaposisie van besondere belang. Die twee basiese redaksionele stylsoorte kan as “naatloos” of disjunk beskou word volgens die mate waarin die spronge tussen briewe geminimaliseer of beklemtoon word.

Die 18e eeu is die tydperk van die klassieke briefromans wat gegroei het uit ‘n gevestigde briefkultuur (bv. Mme De Sévigne): Samuel Richardson, Pamela: or Virtue Rewarded (1740) en Claris­sa: or, the History of a Young Lady (1748); Jean-Jacques Rousseau, Julie, ou la nouvelle Héloïse (1761); Goethe, Die Leiden des jungen Werthers (1774); Choderlos de Laclos, Les liaisons dangereuses (1782); Wolff en Deken, De historie van mejuffrouw Sara Burgerhart (1782); Hölderlin, Hyperion (1797). Dit maak egter deel uit van die opbloei van die roman self as nuwe literêre soort, en die briefroman kan beskou word as een van die belangrikste vroeë vorms van die roman. Diskursiewe kenmerke van die briefroman wat die moderne roman prefigureer, is o.a. iteratiewe vertelling van een en dieselfde gebeurtenis met stilistiese variasies en vanuit verskillende gesigspunte; veelvuldige interne FOKALISASIE; geïnterpoleerde vertelling (tussen die oomblikke van handeling); meervoudige vertelvlakke; die “afwesige aanwesigheid” van die ontvanger as dominante element van die diskoers (vgl. Genette, 1980: 115, 190, 217, 230, 256). In teenstelling met vroeëre 20e-eeuse opvattings dat die briefroman ‘n histories-beperkte, argaïese vorm is, het literêr-wetenskaplike belangstelling daarin sterk herleef gedurende die sestigerjare (Rousset, 1962; Jost, 1966), en naas die 18e-eeuse werke word latere verskyningsvorme van die briefroman raakgesien en ondersoek (Saul Bellow, Herzog, 1964; Etienne Leroux, 18-44, 1967; Hella S. Haasse, Een gevaarlijke verhouding of Daal- en Bergse brieven, 1976; Marlise Joubert, Klipkus, 1978). Ook Altman (1982: 195) dui die eksperimente van briefromanskrywers aan wat eintlik as domein van die moderne roman beskou word: elliptiese vertelling, subjektiwiteit, meerstemmigheid, INNERLIKE MONOLOOG, gesuperponeerde tydsvlakke en aanbieding van gelyktydige gebeure. (Vgl. VERTELLER en ANACHRONIE.) Altman (1982) en Duyfhuizen (1985) verstrek omvangryke bibliografiese besonderhede m.b.t. die briefroman.

Bibliografie

Altman, J.G. 1982. Epistolarity: Approaches to a Form. Colum­bus: Ohio State University Press.

Botha, E. 1982. Die briefroman in Afrikaans. In: SAVAL-kongresreferate II: vertalingsteorie en die briefroman. Potchefstroom, 1983. (Ook oorgedruk in Botha, E. 1987. Prosakroniek. Kaapstad: Tafelberg.)

Brink, A.P. 1988. Die Postmodernistiese Roman: ‘n Skakel met die 18e eeu? In: SAVAL-kongresreferate VIII. Potchefstroom, 1988.

Duyfhuizen, B. 1985. Epistolary narratives of transmission and transgression. Comparative Literature, 37(1).

Genette, G. 1980. Narrative Discourse (transl. Jane E. Lewin). Oxford: Blackwell.

Jost, F. 1966. Le roman épistolaire et la technique narrative au XVIIIe siècle. Comparative Literature Studies, 3.

Rousset, J. 1962. Une forme littéraire: le roman par lettres. Forme et signification: essais sur les structures littéraires de Corneille à Claudel. Paris: Corti.

 

Elize Botha