PRAGMATIEK (LITERÊRE)

Pragmatiek, semantiek en sintaksis vorm die drie vlakke waarop tekens tradisioneel bestudeer word. Semiose is ‘n samewerking tussen ‘n teken (draer), ‘n designatum en ‘n interpretant (plus moontlik ‘n interpreteerder).

Sintaksis word daarbinne omskryf as die relasies tussen tekens, semantiek as die relasies tussen teken en designatum en pragmatiek as die relasies tussen teken en interpreteerder (Morris, 1971a: 21—22). Die literêre pragmatiek bestudeer dus die relasie tussen TEKS (as teken of hiperteken) en leser (of interpreteerder).

Hierdie definisie is te wyd. Morris (1971b: 302) het self later “the origin, uses, and effects of signs within the behaviour in which they occur” by sy definisie ingesluit. Dit is ook baie wyd, omdat dit ‘n groot scala psigologiese en sosiologiese fasette van tekenproduksie en -gebruik insluit. Andersyds is die pragmatiek o.a. deur Carnap (1948: 9) baie eng omskryf: vir hom het ‘n mens met pragmatiek te doen as die spreker (of gebruiker) van ‘n uiting (teken) eksplisiet vermeld word. Dit is egter geen waterdigte kriterium nie.

Naas die breë, algemene definisie van Morris c.s. en Carnap se eng definisie word pragmatiek in die taalkunde ook gebruik vir ‘n verskeidenheid ondersoekprogramme wat redelik moeilik onder een noemer gebring kan word. Hierdie gebruik van pragmatiek wentel om sleutelbegrippe soos konteks (vgl. TEKS EN KONTEKS), grammaties geënkodeer, uitingsbetekenis en toepaslikheid (“appropriateness”) (Levinson, 1983: 5—33).

Tekspragmatiek kan omskryf word as ‘n teorie van teksbegrip wat die bydrae van die konteks tot die uiteindelike teksbetekenis in ag neem (Levinson, 1983). Daarby moet kom die studie van taalgebruik, want pragmatiek is ‘n studie van wat volgens die tradisionele Saussuriaanse onderskeid parole genoem word. Die pragmatiek neig egter daartoe om hierdie tradisionele onderskeid te nivelleer, want sisteemverskynsels soos deiksis kan nie los van die konteks bestudeer word nie. Andersyds vertoon baie pragmatiese dinge ook sisteem. Grice (1967) se samewerkingsbeginsel gee bv. sistematiese insig in verskillende soorte taalgebruik.

Die verskil tussen semantiek en sintaksis enersyds en pragmatiek andersyds lê dus op ‘n ander vlak. Sintaksis en semantiek probeer ‘n teorie ontwikkel wat maksimaal gedekontekstualiseer is. Pragmatiek, daarenteen, wil die konteks sover moontlik inskakel binne die teorie, en kategorieë en begrippe ontwikkel wat die bydrae van die (relevante aspekte van die) konteks beskryfbaar maak.

Uit hierdie oogpunt is die dogma van dieOUTONOMIE VAN DIE LITERêRE WERK ‘n retoriese set wat die konteks van ‘n werk uitgeskakel het en ‘n maksimaal gedekontekstualiseerde teorie oor die immanente struktuur van ‘n werk moontlik gemaak het.

Vrae wat deur die outonomiedogma afgeskerm is, kan nou egter weer gevra word. Dit sluit in: watter uitwerking het ‘n werk op die leser? Wat is die funksie van literatuur? Hoe lees die leser?

‘n Belangrike teorie oor die uitwerking van literatuur is Aristoteles se katarsisteorie. Die literatuur (meer bepaald: die TRAGEDIE) werk soos ‘n purgeermiddel. Eers word die gehoor (deur noukeurige afstemming van die struktuur en die tragedie op hierdie doel) tot medelye en vrees geprikkel. Deur die tragedie word hulle dan van hierdie emosies gesuiwer (Brereton, 1968: 28). Vandag leef hierdie teorie die sterkste voort in ‘n PSIGOANALITIESE variant (kyk hieronder).

Hierdie teorie is o.a. deur Van den Bergh (1975, 1979, 1981) verder gevoer. Hy (1979: 41) verdeel die middele wat tot die “boeiende werking” van ‘n teks bydra in drie groepe: strukturele middele, kwessies van informasieverdeling, en identifikasie.

Streng gesproke is strukturele middele sintaktiese dinge, maar hier is dit ook nie moontlik om ‘n streng onderskeid tussen sintaksis en pragmatiek te maak nie. Van den Bergh onderskei veral twee strukturele middele, nl. prospektiwiteit, en kontras en konflik, maar tydsmanipulasies en oorgange van die vertelsituasie (Van den Bergh, 1975: 544) kan ook spanning skep.

Prospektiwiteit is die wyse waarop die skrywer verwagtings oor die verdere verloop van die roman by die leser wek.

Aankondiging van planne, uitsprake van orakels, gesigte, drome, die verwekking van ‘n kind, het alles ‘n prospektiewe werking en gee die leser ‘n gedééltelike voorkennis.

Kontras en konflik is ook in die roman belangrike pragmatiese middele. In alle romans is daar immers sprake van belangeteenstellings en -botsings, latent (kontras) of manifest (konflik).

Van den Bergh (1975: 548) se oorgange in die vertelsituasie kan ook beskou word as variasies van tydsduur, bv. die oorgange van ‘n opsomming na ‘n scène, van ‘n ellips na ‘n scène. (Vgl. ANACHRONIE OF TEMPORELE VERHOUDINGE IN NARRATIEWE TEKSTE.)

Informasieverdeling beskryf die verhouding tussen wat die leser weet en wat die karakter weet. Sodra die leser ‘n kennisvoorsprong of ‘n kennisagtergrond het, wek dit spanning. Dit geld ook as leser en karakter albei in die duister gehou word.

Kennisvoorsprong is ‘n besonder sterk spanningsmiddel veral in die vorm van dramatiese IRONIE: die leser weet dat die karakter sy ondergang feitlik in die gesig staar, maar die karakter is daar salig onbewus van (Van den Bergh, 1979: 84—87).

Kennisagterstand is die klassieke situasie in speurverhale. Die spanning berus hier op enkele oopstaande vrae, en die leser sien uit na die beantwoording van hierdie vrae (Van den Bergh, 1979: 87—89).

Onder identifikasie onderskei Van den Bergh (1979: 91—92) twee kategorieë: herkenning en patos. Herkenning omskryf hy as spanning opgewek deur die mate waarin die leser homself en sy wêreld in die romanwêreld herken.

Dit is hier nie louter ‘n pragmatiese kwessie nie, maar raak ook aan die eintlike sin of betekenis van ‘n werk vir ‘n leser of groep lesers — d.w.s. aan die semantiek. Die lees van ‘n literêre werk bevredig, volgens Van den Bergh (1975: 550), by die leser diep gesetelde psigiese behoeftes, deurdat dit onbewuste konflikstof in simboliese vorm aanbied, die leser sy konflikte in karakters laat objektiveer en in metaforiese vorm onnoembare dinge (soos vadermoord en bloedskande) ervaarbaar maak. Dit is dus ‘n voorbeeld van ‘n Freudiaans-gekleurde katarsisteorie.

Patos, ‘n sterk emosionele uitbarsting van enige aard: woede, hartseer, ‘n lagbui, is ‘n onfeilbare middel om ‘n gehoor mee te boei (Van den Bergh, 1979: 92—94).

Veral twee begrippe van die RESEPSIE-ESTETIKA is belangrik vir ‘n literêre pragmatiek, nl. Jauss se VERWAGTINGSHORISON en Iser se oop plekke (Leerstellen). (Vgl. LESERTIPES.)

Jauss (1978: 3) omskryf die verwagtingshorison as “net objectiveerbare referentiekader van de verwachtingen” wat iedere werk by die leser tot stand bring sodra dit verskyn. Dit bestaan hoofsaaklik uit drie fasette: “1. de bij de lezer reeds aanwezige kennis van een genre, 2. de vorm en thematiek van al bekende werken, en 3. de tegenstelling tussen poetisch en praktisch taalgebruik.” Die laaste faset kom daarop neer dat die leser ‘n teks lees met sowel ‘n enger literêre verwagting as ‘n wyer stel verwagtings uit sy lewenservaring (Segers, 1980: 12).

Wolfgang Iser se leerstuk oor oop plekke voer die teorie oor estetiese effek (Wirkung) beduidend verder. ‘n Oop plek is in Iser se teorie ‘n belangrike manipuleringsmiddel van die leser en ‘n kategorie waarmee die effek van ‘n werk beskryf kan word.

Deurdat die literêre werk sy eie wêreld konstitueer waarin ander instellings aangebied en ander perspektiewe geopen word op sowel die objektiewe wêreld as die ervaringswêreld van die leser, ontstaan daar ‘n wanverhouding tussen die drie betrokke wêrelde. Dit open die moontlikheid van onbepaaldheid (Unbestimmtheit).

Binne die werk self word egter ook deur verskillende tegnieke onbepaaldheid geskep. Dit is plekke waar die harmonie tussen die verskillende “lae” (Schichten) van ‘n werk (soos Ingarden dit gesien het) verbreek word. Sulke onderbrekings prikkel die leser tot die oproep van moontlikhede. Hy werk so mee aan die leeshandeling en word geboei.

Iser (1975a: 241) noem ‘n hele repertorium tegnieke waarmee dergelike oop plekke bewerkstellig kan word. Snit-, montage- en segmenteringstegnieke en outeurskommentaar is die belangrikstes daarvan.

Paradoksaal genoeg is dit dus ‘n tweede funksie van oop plekke dat dit die leesproses stuur en aldus ‘n kontrole bied aan die leser se reaksies. Oop plekke is punte waar die “good continuation” van die teksskemas (-sisteme) en -verwagtings versteur word. Elke keer as die OUTEUR ‘n nuwe tema opneem en voriges op die horison of agtergrond laat versink, ontstaan daar ook ‘n oop plek. So word die aandag van die leser gestuur (Iser, 1975c: 327). Iser fokusseer op die onbepaaldhede, gate en disjunksies in ‘n teks waardeur die onvoltooid-wees van ‘n teks aan die lig kom. Dit is ‘n estetika van oopheid en onbepaaldheid, van wat tradisioneel “die negatiewe” genoem word, en staan as sodanig teenoor ‘n “positiewe”, “ponerende” estetika (Darstellungsästhetik) (Iser, 1975c: 328—329) wat die eenheid, harmonie of heelheid van ‘n teks (en die heelheid van die leserervaring en die leesproses) beklemtoon.

Iser en Van den Bergh se opvattings lewer ‘n aantal bruikbare kategorieë waarmee fasette van die konteks van ‘n literêre werk beskryf kan word. Teorieë deur taalkundiges ontwikkel, dra ook heelwat hiertoe by.

TAALHANDELINGE” word dikwels as sinoniem gebruik vir pragmatiek (Pratt, 1977; Van Dijk, 1981 o.a.; Van Jaarsveld, 1982; Van Coller & Van Jaarsveld, 1984).

Pragmatiek is egter die omvattender term. Die Resepsie-estetika en die verskillende terreine waarop daar aan die (taalkundige) pragmatiek gewerk word, is subterreine daarvan. Taalhandelinge is dus maar ‘n faset van die pragmatiek.

Taalhandelinge in die streng sin van die woord was een van die eerste terreine waarop daar betekenisvolle bydraes gelewer is tot die groter kontekstualisering van die grammatika. In die literatuurstudie open dit die moontlikheid om weer te vra wat die intensie van die outeur is. Binne die kader van die taalhandelingsteorie is slegs ‘n gedeeltelike antwoord op hierdie vraag moontlik, en dan ook ‘n antwoord wat nog steeds sterk gedekontekstualiseer is. Op grond van die taalhandelingsteorie kan daar net afleidings gemaak word oor die illokusie en die bedoelde perlokusie van die abstrakte outeur (Van Coller & Van Jaarsveld, 1984: xi) — dinge op ‘n teksinterne vlak. As sodanig is dit wel ‘n uitbreiding van die maksimaal gedekontekstualiseerde teorie. Die voordeel daarvan is dat dit die handelingskarakter van die literatuur beklemtoon.

Illokusies kan net beskryf word in die mate waarin die teorie daarvoor voorsiening maak. Interpretasies kan nouliks buite die kategorieë representatiewe, direktiewe, kommissiewe, ens. (Cloete, 1984: 4) beweeg en nog as kontroleerbaar bestempel word. Die meeste toepassings van die taalhandelingsteorie laat trouens die bydrae van die leser tot die estetiese objek, sy verwagtingshorison, buite rekening en verraai daarmee dat dit die bydrae van die konteks nog steeds grotendeels negeer. (Vgl. ARTEFAK EN ESTETIESE OBJEK.)

Die kwessie van indirekte taalhandelinge plaas egter die meeste vraagtekens agter die taalhandelingsteorie. In die vorm van ‘n vraag (“Is die deur toe?”) kan ‘n mens bv. ‘n versoek of selfs ‘n bevel rig (“Maak asseblief die deur toe”). So ‘n “vraag” het dan die illokusie van ‘n versoek en word daarom ‘n indirekte taalhandeling genoem. Daar is m.a.w. geen noodsaaklike verband tussen die vorm van die uiting en die illokusie daarvan nie. ‘n Illokusie wat uit ‘n teks afgelei word, is daarom geensins meer kontroleerbaar as ‘n “gewone” interpretasie nie. Die illokusie van vrae is bv. afhanklik van die konteks waarin dit gebruik word, sodat vrae by implikasie geen uitingskrag van hul eie het nie. Dit bring selfs die nodigheid van ‘n taalhandelingsteorie in die gedrang (Levinson, 1983: 263—276).

In die meeste Afrikaanse toepassings word die taalhandelingsteorie met Grice se teorie van “gespreksimplikasie” (Eng.: “conversational implicature”) gekombineer (vergelyk o.a. Van Coller & Van Rensburg, 1982, 1984). Grice (1967) het vier gespreksvoorwaardes (“maxims of conversation”) onderskei wat grondliggend is aan die voer van gesprekke. Gesamentlik vorm hulle die sg. “samewerkingsbeginsel”. Die vier gespreksvoorwaardes is:

1.    Ekonomie (“maxim of quantity”)
Lewer jou bydrae so informatief moontlik
Vermy oortolligheid2.    Opregtheid (“maxim of quality”)
As iets onwaar is, moenie dit vir waarheid verkondig nie
Moenie iets sê as jy nie voldoende bewyse daarvoor het nie
3.    Relevansie (“maxim of relation”)
*    Wees relevant
4.    Wyse (“maxim of manner”)
*    Wees duidelik. Vermy daarom onduidelike uitdrukkings, meerduidige uitdrukkings, omslagtigheid, en wees geordend (Van Coller & Van Rensburg, 1982: 219).

Gesamentlik vorm hierdie gespreksvoorwaardes die basis/vir geslaagde rasionele kommunikasie. Feit is egter dat hulte/gesprekke veel eerder oortree as nagevolg word. Hier lê egter ook die grootste bydrae van Grice. As ‘n mens aanneem dat die spreker nog steeds wil kommunikeer, dat die samewerkingsbeginsel nog steeds van krag is, kan jy m.b.v. die gespreksvoorwaardes dikwels implikasies aflei wat nie direk gesê word nie (Levinson, 1983: 100—104). A: “Waar is Jan?” B: “Daar staan ‘n blou Volkswagen voor die skool.”

In bostaande sinne word die voorwaarde van relevansie oënskynlik oortree, maar as ‘n mens aanneem dat die samewerkingsbeginsel nog van krag is, is dit duidelik dat B wel relevant is, maar op ‘n dieper vlak en dat hy A se vraag inderdaad indirek beantwoord. ‘n Mens kan aflei dat hy sê: “Ek weet nie, maar dalk is hy by die skool. Ek het ‘n kar soos syne daar sien staan.”

Deur die oortreding of eksploitasie van die gespreksvoorwaardes ontstaan daar dus oop plekke, breuke wat die leser, wanneer hy dit d.m.v. die gespreksvoorwaardes ontdek het, weer kan invul of voltooi. Dit gebeur bv. in: “Vannag en terwyl julle gefluister’t/ vir die kêrel, gekreun, en die heer-, heer-, heer-/ likheid van die oomblik gehad het …” (Van Wyk Louw, “Arlésiennes”).

In vers twee van die sitaat word die ekonomievoorwaarde op twee maniere oortree: deur oortolligheid (van heer-) en ‘n gebrek (-lik ontbreek). Die implikasie daarvan is dat die liggaamlike seksuele ekstase onvolledig is. As mens “Heer” lees, is daar ‘n oortolligheid, met die implikasie dat religieuse ekstase wél volledigheid meebring (Van Coller & Van Rensburg, 1984: 94).

Gespreksvoorwaardes open interessante perspektiewe op verskynsels soos die METAFOOR, ironie, simbool en SATIRE (vgl. Snyman, 1983: 52 e.v.; Levinson, 1983: 142—162; Du Plessis, 1982). Die rol van gespreksvoorwaardes by metafore is baie duidelik in Opperman se kwatryn “Skip”: “Ongeduldig gly jy van stellasies nader, die fluite oop, maar jy sal later/ in verre storms terug verlang/ na hierdie baai se stiller water.”

Snyman (1983: 68) meen dat die metafoor aan drie voorwaardes uitgeken kan word. Die eerste is die disjunksie van betekenis wat daar bestaan tussen die twee sake X en Y (beeldskenker en beelddraer; tenor en vehicle) betrokke by die metaforiese proses. Uit die oogpunt van gespreksvoorwaardes is dit ‘n oortreding of swak realisering van die relevansievoorwaarde, omdat ‘n skip as “jy” aangespreek word en aan ‘n mens gelykgestel word. Dit is ook ‘n oortreding van die opregtheidsvoorwaarde, omdat dit nie letterlik waar is dat ‘n skip ‘n mens is nie (1983: 52).

Alle metafore is egter nie logies vals nie. Sommige metafore kan bv. tegelyk letterlik waar en metafories wees: “Freud lived here.” Dié sin is letterlik waar en metafories as dit gebruik word vir ‘n plek waar Freud werklik gewoon het en waar sy idees na sy dood lewend gehou is (Levinson, 1983: 157).

Letterlik is metafore dus òf ‘n swak realisering van die relevansievoorwaarde òf ‘n oortreding van die opregtheidsvoorwaarde. Hierdie oortredings sit die metaforiese proses aan die gang. Daardeur word dit duidelik dat ‘n ander proposisie nodig is ten einde die samewerkingsbeginsel in stand te hou. Die tweede stap is dus om hierdie proposisie af te lei (Levinson, 1983: 157—158).

Snyman (1983: 68) onderskei ook ‘n eksegetiese moment in die metafoor, “‘n essensiële kondisie waarvolgens die verhouding van X tot Y geëksegeer word om die volledigheid (totaliteit) van die metaforiese transaksie te beklink”.

By hierdie tweede stap lê die kruks van ‘n metafoorteorie, want die gespreksvoorwaardes gaan in hooftaak net tot by stap een: die aan die gang sit (“triggering”) van die metafoor. Levinson suggereer dat die interpretasie van metafore op ‘n algemene menslike vermoë berus om analogies te dink. Dit sal eventueel beskryf kan word as ‘n interaksie tussen konseptuele sisteme of raamwerke.

Die probleem by “Skip” is om uit te kom by die interpretasie skip = geboorteling. Omdat die gespreksvoorwaardes oortree word, moet skip metafories vir iets anders staan, vir meer as net ‘n mens. Snyman (1983: 67) fokus op die konnotasie van “nuutgeboud”, “veilig” en “onveilig” en lei daaruit geboorteling af. Hy werk dus duidelik met die teks in isolasie, maksimaal gedekontekstualiseer. Daar is egter ‘n korter pad: sodra “Skip” (4) in sy effens groter konteks (ko-teks) gelees word, nl. die kwatrynreeks “Almanak”, lê geboorteling voor die hand, omdat die reeks die eerste raam-swangerskap en geboorte met ‘n reeks ander rame (o.a. die skip, hawens en storms) in verband bring, ‘n Verdere uitwerking van die teorie van gespreksvoorwaardes kan ‘n eenvoudige metode vir die uitkenning en onderskeiding van metafore bied.

Die taalkundige pragmatiek is egter nie bloot ‘n bron van nuttige teorieë vir die literatuurstudie nie. Dit het groot implikasies vir die heersende literatuuropvatting.

Tradisioneel word daar in die Literatuurwetenskap onderskei tussen gestruktureerde, digte poëtiese taalgebruik en gewone taalgebruik, wat beskou word as kleurloos, bloot kommunikatief en volkome deursigtig. Uit die taalkundige pragmatiek is dit egter duidelik dat gewone taalgebruik geensins so vaal of deursigtig is nie. In gewone taalgebruik is daar genoeg voorbeelde van struktuur, van fokus op die boodskap self (vooropstelling) en van tipiese “poëtiese” dinge soos ironie, metafoor e.d.m. Die teoretiese konsep “gewone taalgebruik” verteenwoordig in die literatuurwetenskap eintlik die nultrap van taalgebruik; poëtiese taalgebruik verteenwoordig die verste ontwikkelde trap. As sodanig is gewone taalgebruik ‘n abstraksie wat daarop gemik is om die linguistiese outonomie van die literatuur te handhaaf. ‘n Studie van die wyse waarop mense taal werklik gebruik, het laat blyk dat die tradisionele beeld van gewone taalgebruik vals is (Pratt, 1977: 3 e.v. praat van die ‘”poetic language fallacy”). Dit is in werklikheid ‘n strooipop, die strooipop van ‘n STRUKTURALISTIESE beskrywing van taal, gekenmerk deur “structures (that are) merely dummies to be filled in by just any form as long as it is grammatical and communication is effected” (Levin, 1962: 34, aangehaal deur Pratt, 1977: 13). Die besef dat gewone taalgebruik meer as dit is, nivelleer die absolute teenstelling tussen “gewone” en “poëtiese” taalgebruik en open die moontlikheid dat literatuur soortgelyk aan gewone taalgebruik is.

Die werk van Labov (1972) oor die sg. “natural narratives” is hier baie belangrik. In die loop van sy ondersoek na die taalvaardigheid van sprekers van “Black English” het Labov ‘n groot korpus vertellings van persoonlike ervarings versamel en ontleed. In plaas van vaal, kleurloos en bloot kommunikatief is hierdie natuurlike vertellings hoogs gestruktureer. Hulle vertoon groot ooreenkomste met die literatuur. Volgens Labov bestaan hierdie vertellings gewoonlik uit ses dele. Hulle begin gewoonlik met ‘n “abstract” — ‘n kort opsomming van die “points” van die vertelling, bv.: “I never came nearer bootin’ a dog in my life.” Daarop volg die oriëntasie (“orientation”) waarin die tyd, plek, karakters en hulle situasies geïdentifiseer word. Dit word gewoonlik net voor die eerste narratiewe frase geplaas. Daarop volg die komplikasie (“complicating action”) wat uiteindelik weer uitloop op die ontknoping (“result” of “resolution”), gewoonlik in die laaste narratiewe frase.

Aan die einde kan ‘n “coda” volg wat die reeks komplikasies afsluit, die vertelling afrond en die hoorder terug laat keer na die huidige situasie (Labov, 1972: 362—370).

Die evaluering (“evaluation”) is, naas die komplikasie, die belangrikste element van die vertelling omdat dit aan die gehoor verduidelik waarom die vertelling nou eintlik oorvertelbaar was. Die oordra van inligting is nie so belangrik soos die beoordeling daarvan of die wyse waarop dit oorvertel word nie. Verskillende tegnieke word ingespan vir die beoordeling van die gebeure, en hierdie tegnieke vertoon verbasende ooreenkomste met literêre tegnieke soos FOKALISASIE, kommentaar en metodes van vooropstelling. Die ooreenkoms tussen Labov se ses stadia en die verskillende fases wat tradisioneel in ‘n verhaal onderskei word, spreek vanself (Pratt, 1977: 67). Pratt haal verskillende voorbeelde aan wat aandui dat dinge soos oriëntasie, opsommings (“abstracts”), evaluerende kommentaar en “codas” ook in literêre werke voorkom.

‘n Ander belangrike argument vir die gelyksoortigheid van literêre en natuurlike vertellings is dat baie literêre werke op die natuurlike vertelsituasie gebaseer is (Pratt, 1977: 67). Dit kom voor in werke so uiteenlopend soos The Canterbury Tales, The Turn of the Screw, “Oom Gert vertel”, “Die swart luiperd” (wat bv. aan die begin ‘n baie duidelike “abstract” vertoon) en die kortverhale van Herman Charles Bosman.

Hierdie dinge bevraagteken die opvatting dat literêre taalgebruik formeel en funksioneel distinktief is. Selfs die gewoonste ANEKDOTES vertoon “literêre” strukture en tegnieke van evaluering en vooropstelling soos parallelisme, vergelyking, herhaling en kontras. Pratt (1977: 68) vat dit so saam: “In short, if aesthetic objects are, as Sklovskij says, objects created by means of techniques designed to ’emphasize the emotional effect of an expression’, then natural narratives are such objects, and it no longer makes any sense to speak of an opposition between the laws of poetic and everyday languages.”

Bowendien is die primêre funksie van natuurlike vertellings nie die oorvertel van inligting nie (die kern word meestal reeds in die opsomming gegee). Hulle stel eerder die boodskap, “die manier waarop”, maksimaal voorop. Dus voldoen hulle aan Jakobson e.a. se kriterium vir literariteit. Literariteit sal dus anders omskryf moet word. Ook die verhouding tussen sg. literêre en sg. nie-literêre taalgebruik sal heromskryf moet word.

Al hierdie dinge is sterk argumente daarvoor dat die hele kommunikasiesituasie van die literatuur by die literatuurstudie betrek moet word. Enige heromskrywing van literariteit sal dus instansies soos die sender, situasie en ontvanger en kontekstuele inligting soos die intensie van die spreker (senderskode), sy verhouding tot sy ontvanger, sy houding teenoor sy uiting moet verdiskonteer. Die aard van die gespreksituasie waarbinne ‘n literêre werk as uiting voorkom, is ook bepalend vir die juiste interpretasie daarvan (Pratt, 1977: 115).

Die literêre gespreksituasie is van groot belang vir die omskrywing van *literatuur. Een van die groot verwagtings van die taalhandelingsteorie was dat dit ‘n formele definisie van literatuur sou oplewer. Pogings in die rigting was die opstelle van Ohmann (1971, 1973) en Levin (1976). Ohmann probeer om literatuur te omskryf as ‘n oortreding van die sg. “felicity conditions” van Austin (1962). Van Luxemburg (1975/1976) beskou dit nie as geslaag nie, omdat Ohmann nie kon bewys dat die “felicity conditions” inderdaad in die literatuur opgeskort word nie.

Levin (1976: 150) beskou ‘n spesiale taalhandeling as die onderskeidende kenmerk van literatuur: “I imagine myself in and invite you to conceive a world in which …”

Watter soort taalhandeling literatuur nou eindik is, kan beter beantwoord word in die lig van navorsing oor alledaagse gesprekke (vgl. Levinson, 1983: 296 e.v.; Pratt, 1977: 100 e.v.). Gesprekke word gekenmerk deur spreekbeurte. Dit spreek vanself. Daar bestaan egter ‘n ingewikkelde stel reëls wat bepaal wanneer ‘n spreker se beurt om is en ‘n volgende spreker kan begin praat of watter reaksies voorkeur geniet (nie gemerk is nie) en watter nie. Basies is dit dus reëls wat bepaal hoe die skaars “vloer” aan die verskillende sprekers toegedeel word. Vergaderingsprosedure is uit hierdie oogpunt bv. geformaliseerde “vloertoedelingsreëls”.

Elke beurt het ‘n sekere struktuur. Ander sprekers kan net op sekere relevante plekke die “vloer” oorneem (vgl. Levinson, 1983: 296 e.v.). In beginsel (die nie-gemerkte geval) het alle sprekers ewe veel reg op die vloer. Daar is egter ook verskeie tegnieke wat ‘n spreker kan aanwend om ‘n langer beurt te verkry sodat hy ‘n anekdote of ‘n grap kan vertel. Natuurlike vertellings versteur m.a.w. die wisseling van beurte. Daarom is dit gebruiklik dat ‘n verteller eers toestemming vra om ‘n anekdote te vertel. Dit is die funksie van die opsomming wat hy aan die begin verstrek. Daarin verseker hy sy gehoor dat sy storie vertelnuut (“tellable”) is. Omdat ‘n verteller dus meer as sy regmatige deel van die vloer kry, staan hy onder die verpligting om sy bydrae vir die gehoor die moeite werd te maak. In ruil daarvoor luister die gehoor na hom sonder onderbreking maar behou hulle ook die reg voor om die vertelling aan die einde te evalueer. ‘n Storie sonder vertelnuutheid word met ‘n verpletterende “So what?” verwerp (Pratt, 1977: 100—116; Levinson, 1983: 296—303).

Literêre werke hoort in ‘n soortgelyke gespreksituasie tuis (Pratt, 1977: 115—116). Hulle is nie outonoom nie, maar veronderstel ‘n spreker en ‘n hoorder wat verantwoordelikhede teenoor mekaar het en daarvan bewus is. Literatuur staan dus nie los van die konvensies van alledaagse gesprekke nie, maar gehoorsaam hulle juis. Een van dié konvensies is dat literatuur “die moeite werd is”. Die seleksie- en keuringsprosesse waardeur ‘n manuskrip gaan voordat dit gepubliseer word, verseker die leser dat dit wel die geval is. Die boek as objek simboliseer dat dit hierdie prosesse deurstaan het en daarom waardevol is. Die titel, die uitgewer, die omslagontwerp, die aanhalings uit die menings van kritici agterop, gee aan die boek sy geloofsbriewe. Hieruit is dit duidelik dat die literatuur ‘n sosiale instelling is wat deur keuringsprosesse tot stand kom. Natuurlik verskil hierdie prosesse by die verskillende soorte literatuur en in verskillende tydperke. Deur hierdie prosesse word die toepaslikheid van die literêre taalhandeling getoets en geyk. Dit bepaal m.a.w. sy literariteit. Literatuur kan dus nie losgemaak word van waardes nie: dit is ‘n konsep wat met waardes gelaai is.

In die loop van die keuringsproses (waardeur werke deur die gemeenskap, via sy meningsvormers, tot literatuur gekanoniseer word) is waardes op die spel. Dit beteken dat die unisiteit en intrinsieke waarde van literatuur nie beredeneer hoef te word nie, maar vanself spreek. (Vgl. KANONS EN KANONISERING.)

Dit maak uitsprake soos dat poësie die fynste en verbeeldingrykste gebruik van taal verteenwoordig, suiwer toutologies, want as ‘n teks tot literatuur gekanoniseer is, het dit al hierdie intrinsieke eienskappe (Pratt, 1977: 124).

Hoe literêre werke nou by gewone gesprekke aansluit, blyk uit Pratt (1977: 134 e.v.) se bespreking van stelbaarheid (“assertability”) en vertoontekste (“display texts”), ‘n Stelling in ‘n gesprek kan sowel waar as nie-vanselfsprekend wees, maar nog steeds vir die hoorder irrelevant bly. ‘n Sin soos “Piet het vandag ‘n pak klere aan” kan waar wees, maar vanselfsprekend omdat Piet nooit iets anders dra nie. Maar as Piet in sy lewe nog nooit ‘n pak klere gedra het nie, is ‘n stelling soos hierbo nie net waar nie, maar ook stelbaar en inderdaad ook nuus — vertelnuut. Omdat dit hoogs onwaarskynlik is dat Piet ‘n pak sal dra, is die sin in daardie geval hoogs relevant en werd om as ‘t ware ten toon gestel te word in ‘n uitroep of ‘n anekdote. Dit is ‘n soort relevansie wat sterker is as die relevansie van ‘n antwoord op ‘n vraag. Dit is die eerste soort relevansie — vertelnuutheid — waardeur natuurlike vertellings, literêre werke en groot stukke van gesprekke gekenmerk word. Die spreker stel in so ‘n geval nie net iets nie, hy stel ‘n toestand verbaal ten toon en nooi sy hoorders uit om dit saam met hom te beskou, te evalueer en te beleef. Hy wil hulle in sy verwondering laat deel, emosioneel en intellektueel daarby betrokke laat voel en dit saam laat beoordeel. Die doel daarvan is uiteindelik die interpretasie van ‘n nuuswaardige gebeurtenis en die toekenning van betekenis en waarde daaraan (Pratt, 1977: 125—126). Dit geld ook vir literêre werke.

Twee belangrike ooreenkomste tussen natuurlike vertellings en literêre werke is volgens Pratt dat hulle maklik uit hulle konteks losgemaak kan word en dat hulle vatbaar is vir uitbreiding (“elaboration”). ‘n Natuurlike vertelling hoef nie direk by die vorige onderwerp van ‘n gesprek aan te sluit nie en hoef ook nie in te haak op die persoonlike belangstellings van die gehoor nie, solank dit maar vertelnuut is. Op vertelnuwe dinge word graag uitgebrei. Herhaling en redundansie is tipies van vertoontekste juis omdat hulle wil vertoon.

Insgelyks, meen Pratt, is literêre werke nie relevant omdat hulle aansluit by wat voorafgegaan het nie. In die mate waarin literatuur egter ‘n groot gesprek “oor Hom en ons” is, is haar opvatting hier gebrekkig. Literêre werke sluit dikwels aan by relevante gespreksonderwerpe binne ‘n bepaalde samelewing, hoe indirek ook al. (Maar baie groot werke is hoogs losmaakbaar uit hulle kontekste.) Die meeste literêre werke kan in beginsel enige gehoor bereik. In ‘n sekere sin is die outonomie-opvatting ‘n verabsolutering van hierdie insig. Daar kan eweneens gesê word dat ‘n literêre werk hoofsaaklik ‘n uitbreiding van stande van sake is. Enorme uitbreidings, herhalings, opstapeling van besonderhede, is gebruiklik in literêre werke. ‘n Werk self is ook herhaalbaar en kan soos ‘n goeie grap oor en oor geniet word (Pratt, 1977: 148).

Pratt gee toe dat dit geen nuwe opvatting is dat literêre werke vertoontekste is wat ervarings wil herskep, interpreteer en beoordeel nie. Sy beklemtoon egter dat hierdie funksies nie uniek aan die literatuur is nie. Dít is nuut. Literatuur kan dus nie as iets sui generis beskou word, los van alle ander vorme van taalgebruik of ander soorte tekste en van die konvensies wat hulle beheers nie. Hierdie siening kan metafories wees of die literatuur reduseer tot wat dit nie is nie. Op die oog af is Pratt se siening vanselfsprekend en vol gesonde verstand. Dit gee insig in wat die “literêre kommunikasiesituasie” nou eintlik inhou. Die kanoniseringsprosesse en die kriteria waarvolgens dit in verskillende tydperke en literature plaasvind, moet egter ook nader ondersoek word.

Twee probleme bly egter oor. Die een vraag is in hoeverre teorieë op sinsvlak tot tekste veralgemeen kan word. Die tweede is in hoeverre ‘n mondelinge en ‘n tipografiese gespreksituasie (vgl. Ong, 1982) van mekaar verskil — ‘n probleem wat Pratt volkome ignoreer.

Pratt (1977) is ‘n ver gevoerde poging tot ‘n literêre pragmatiek. Dit dui die omvattende taak van ‘n literêre pragmatiek aan, maar is nog weinig meer as ‘n program. Pratt skenk aandag aan taalstrukture (taalhandeling), sosiale konvensies (die samewerkingsbeginsel, gesprekreëls), kognitiewe strukture (gespreksimplikasies), en vertelkonvensie. (Vgl. Van Dijk, 1981: 243—263 vir hierdie indeling en ‘n program vir ‘n literêre pragmatiek.)

Die verbande tussen die literêre werk en al hierdie strukture moet nader ondersoek word. ‘n Belangrike vraag hier is in hoeverre literêre werke en die konvensies daarvoor verskil of daarmee ooreenkom. Hier is ook die waarde en waardes van literatuur en die kwessies van fiksionaliteit (vgl. FIKTIWITEIT) en lewensgetrouheid op die spel. Volgens watter reëls en konvensies verwerf sekere mense bv. die sosiale status van skrywer en sekere tekste die status van literatuur?

‘n Literêre pragmatiek moet ook verduidelik wat mense met die literêre *diskoers doen, direk of indirek. ‘n Literêre pragmatiek is dus ‘n hoofstuk in die boeiende verhaal van die mens, sy diskoerse (veral die literêre diskoers), sy sosiale konvensies, sy kognitiewe vermoëns en die struktuur van sy taal. Nog net die breë omtrek van hierdie verhaal is al duidelik.

(Vgl. OUTONOMIE VAN DIE LITERêRE WERK en TAALHANDELING EN DIE LITERATUUR.)

 

Bibliografie

Austin, J.L. 1962. How to do Things with Words. New York: Oxford University Press.

Brereton, G. 1968. Principles of Tragedy. London: Routledge & Kegan Paul.

Buursink, M. et al. 1978. De wetenschap van het lezen: tienjaar theorie der literaire receptie. Assen: Van Gorcum.

Carnap, R. 1948. Introduction to Semantics. Cambridge: Harvard University Press.

Cloete, T.T. 1984. Taalhandeling en die literatuur. In: Van Coller, H.P. & Van Jaarsveld, G.J. Woorde as dade: taalhandelinge en letterkunde. Durban: Butterworth.

Cole, P. & Morgan, J.L. (eds). 1975. Syntax and Semantics. Vol. Ill: Speech Acts. New York: Academic Press.

Du Plessis, L.T. 1982. Ek maak maar net ‘n ou grappie. In: Van Jaarsveld, G.J. (red.). Wat sê jy?: studies oor taalhandelinge in Afrikaans. Johannesburg: McGraw-Hill.

Grice, H.P. 1967. Logic and conversation: William James lectures, Harvard University. (Ongepubliseerde teks.) (Uittreksel in Cole, P. & Morgan, J.L.)

Ingarden, R. 1973. The literary Work of Art: An Investigation on the Borderlines of Ontology, Logic and Theory of Literature (transl. G.G. Grabowicz). Evanston: Northwestern University Press.

Iser, W. 1975a. Die Apellstruktur der Texte. In: Warning, R. (Hrsg.). Rezeptionsästhetik: Theorie und Praxis. München: Fink.

Iser, W. 1975b. Der Leservorgang. In: Warning, R. (Hrsg.). Rezeptionsästhetik: Theorie und Praxis. München: Fink.

Iser, W. 1975c. In Lichte der Kritik. In: Warning, R. (Hrsg,). Rezeptionsästhetik: Theorie und Praxis. München: Fink.

Jauss, H.R. 1978. Literatuurgeschiedenis als een provocatie voor de literatuurwetenschap. In: Buursink, M. et al. De wetenschap van het lezen: tienjaar theorie der literaire receptie. Assen: Van Gorcum.

Labov, W. 1972. Language in the Inner City. University Park: University of Pennsylvania Press.

Levin, S.R. 1962. Linguistic Structures in Poetry. The Hague: Mouton.

Levin, S.R. 1976. Concerning what kind of speech act a poem is. In: Van Dijk, T.A. (ed.). Pragmatics of Language and Literature. Amsterdam: North-Holland.

Levinson, S.C. 1983. Pragmatics. Cambridge: Cambridge University Press.

Malan, C. (red.). 1983. Letterkunde en lser. Durban: Butterworth.

Morris, C. 1971a. Foundations of the theory of signs. In: Morris, C. Writings on the General Theory of Signs. The Hague: Mouton.

Morris, C. 1971b. Science, language, and behaviour. In: Morris, C. Writings on the General Theory of Signs. The Hague: Mouton.

Morris, C. 1971c. Writings on the General Theory of Signs. The Hague: Mouton.

Ohmann, R. 1971. Speech acts and the definition of literature. Philosophy and Rhetoric, 4(1).

Ohmann, R. 1973. Literature as act. In: Chatman, S. (ed.). Approaches to Poetics. New York: Columbia University Press.

Ong, W.J. 1982. Orality and Literacy. London: Methuen. (New Accents.)

Pratt, M.L. 1977. Toward a Speech Act Theory of Literary Discourse. Bloomington: Indiana University Press.

Prince, G. 1982. Narrative analysis and narratology. New Literary History, 13(2).

Sayward, C. 1974. The received distinction between pragmatics, semantics and syntax. Foundations of Language, 11.

Segers, R.T. 1980. Het lezen van literatuur: een inleiding tot een nieuwe literatuurbenadering. Baarn: Ambo.

Segers, R.T. (red.). 1981. Lezen en laten lezen: recent receptieonderzoek in Nederland en België. ‘s-Gravenhage: Nijhoff.

Snyman, H. 1983. Mirakel en muse: ‘n studie oor die funksie van implikasie-verskynsels by die interpretasie van ‘n gedig. Johannesburg: Perskor.

Van Coller, H.P. & Van Jaarsveld, G.J. 1984. Woorde as dade: taalhandelinge en letterkunde. Durban: Butterworth.

Van Coller, H.P. & Van Rensburg, M.C.J. 1982. Van mond tot oor. In: Van Jaarsveld, G.J. (red.). Wat sê jy?: studies oor taalhandelinge in Afrikaans. Johannesburg: McGraw-Hill.

Van Coller, H.P. & Van Rensburg, M.C.J. 1984. Suggesties, implikasies en afleidings. In: Van Coller, H.P. & Van Jaarsveld, G.J. Woorde as dade: taalhandelinge en letterkunde. Durban: Butterworth.

Van den Bergh, H. 1975. Niet echt, maar niet heus: een onderzoek naar spannende werking. Spektator, 4.

Van den Bergh, H. 1979. Teksten voor toeschouwers. Muiderberg: Coutinho.

Van den Bergh, H. 1981. De verteller als strateeg: persuasieve processen in het korte verhaal. In: Segers, R.T. (red.). Lezen en laten lezen: recent receptie-onderzoek in Nederland en België. ‘s-Gravenhage: Nijhoff.

Van Dijk, T.A. 1976. Pragmatics of Language and Literature. Amsterdam: North-Holland.

Van Dijk, T.A. 1981. Studies in the Pragmatics of Discourse. The Hague: Mouton.

Van Jaarsveld, G.J. (red.). 1982. Wat sê jy?: studies oor taalhandelinge in Afrikaans. Johannesburg: McGraw-Hill.

Van Luxemburg, J.J.H. 1975/1976. De gelukkige families van Anna Karenina. Spektator, 5(5).

Warning, R. (Hrsg.). 1975. Rezeptionsästhetik: Theorie und Praxis. München: Fink.

Raadpleeg ook:

Adams, J-K. 1985. Pragmatics and Fiction. Amsterdam: Benjamins.

Prince, G. 1983. Narrative pragmatics, message, and point. Poetics, 12(6).

 
Hein Viljoen