FIKTIWITEIT EN FIKSIONALITEIT

(Hersien Junie 2018)

Die terme fiktiwiteit en fiksionaliteit het ‘n geskiedenis wat teruggaan na die Franse en Latynse woorde fictif, fictio en fingere wat almal op die een of ander manier verband hou met iets wat by wyse van verbeelding vorm gegee is – tot stand gebring, geprakseer, verdig, voorgegee of, in die meer negatiewe betekenis, versin of vervals is. In die algemene omgang word die terme “fictive”, “fictional” en “fictitious” in Engels uitruilbaar gebruik, terwyl “fictional” en “fictionality” meer algemeen in die literatuurteorie en -kritiek voorkom. Die negatiewe gevoelswaarde van die Engelse “fictitious” kan in Afrikaans weergegee word met woorde soos gefabriseer.

In die Afrikaans omgangstaal is die terme fiktief en fiktiwiteit die algemene gebruiksvorme, hoewel fiksioneel en fiksionaliteit meer in die literêre konteks gebruik en dikwels eksplisiet van die eersgenoemde paar onderskei word. Daar kan ook ’n saak uitgemaak word dat die twee termpare in die narratologie verskillende aspekte benoem. Internasionaal is daar egter nie eenstemmigheid oor die gebruik van die terme in die akademiese konteks nie. Sedert die laaste dekade van die 20ste eeu is daar ’n hernude belangstelling in fiksionaliteit veral op die terrein van die narratologie wat op feitelike (Eng. factual) narratiewe fokus. Die wyer debatte wat toenemend sedert ongeveer 2007 gevoer word, spoel egter ook weer oor na die literêre narratologie. (Vgl. hieroor Fludernik, 2018.)

Dit was lank die gebruik om fiksionaliteit in die literêre narratologie met fiksiegenres te assosieer en fiksionaliteit as ’n eienskap van fiksie te beskou. Sommige histories-georiënteerde studies probeer verder ’n skakel aantoon tussen die opkoms van die romankuns en fiksionaliteit as konsep. In “The rise of fictionality” argumenteer Catherine Gallagher (in Moretti, 2007) byvoorbeeld dat die term fiksionaliteit in die 18de eeu in die Engelse letterkunde in gebruik gekom het om prosaskrywers te verdedig teen beskuldigings dat hulle lieg (soos Daniel Defoe wat moes toegee dat sy karakter, Robinson Crusoe, nie bestaan nie) of om skrywers te vrywaar van vervolging omdat dat hulle bestaande mense sou belaster (soos Delarivier Manley). Karakter, lui die argument, het gevolglik die toetssteen vir fiksionaliteit geword. Op  grond hiervan argumenteer Gallagher en ander dat die roman en fiksionaliteit (minstens in die Britse konteks) gelyktydig in die narratiewe prosa ontstaan het (Gallagher, in Moretti, 2007: 340). Ander studies verskil egter van dié standpunt:

Monika Fludernik (2018) verskil byvoorbeeld radikaal van Gallagher oor die geskiedenis van die opkoms van die gebruik van die term en van die eienskappe wat fiksionaliteit uitmaak. Fludernik volg Timo Reuvekamp-Felber (2013) na, wat die opkoms van die term fiksionaliteit in die Middeleeue plaas en dit daardeur losmaak van die opkoms van die roman as fiksie in Engeland in die 18de eeu. Fludernik aanvaar ook die narratiewe strategieë wat Reuvekamp-Felber isoleer om grade van fiksionaliteit in Middeleeuse genres identifiseer. Fludernik (2018) voer verder ook aan dat die Middeleeuse Engelse fabel, (ridder-)roman en legendes van die heiliges as fiksioneel sou kwalifiseer. Voorts argumenteer sy dat hoewel fiksionaliteit grotendeels met literatuur as kunsvorm oorvleuel, dit nie net tot die geskrewe vorm beperk is nie en ook nie tot literêre fiksie nie: dit kan onder meer ook storievertelling vir illustrasie- en onderrigdoeleindes insluit.

Om te onderskei tussen fiktiwiteit en fiksionaliteit verwys Fludernik (2018) na Klauk en Köppe (2014) se vier dissiplinêre benaderings tot fiksionaliteit: teksgebaseerd, performatief, sosiologies en filosofies. Die filosofiese benadering tref tradisioneel ’n onderskeid tussen fiktiwiteit en fiksionaliteit: “German criticism in particular differentiates between fictive (fiktiv) entities (fictive numbers, fictive or suppositional explanations) and fictional works (fiktional) in which the defining feature is their communicative intent (Fludernik, 2018: 71–72), waar fiksionaliteit met teks en genre skakel (fiksionele diskoers) en fiktiwiteit met die verbeelde of alternatiewe wêreld.

Simona Zetterberg Gjerlevsen (2016), na aanleiding van McNally (2013), onderskei tussen teksgerigte benaderings wat fiksionaliteit as ‘n teksinterne eienskap beskou en sintakties en/of semanties gerig is, aan die een kant, én pragmatiese benaderings wat fiksionaliteit in tekseksterne of kontekstuele verhoudings, soos die bedoeling van die skrywer of opvattings en verwagtings van die leser of in verhoudings tussen die twee kommunikatiewe posisies lokaliseer: “…the semantic approach is characterized as a language-centred, text-internal, context-independent approach and the pragmatic approach as a speaker-centred, text-external, context-dependent approach.”

Frank Zipfel (2001) tref byvoorbeeld vanuit die pragmatiek en tekslinguistiek (onderskeidelik taalhandelinge, en teksproduksie en -resepsie) ’n onderskeid tussen die storie– (Geschichte) en vertelaspek (Erzählens) in fiksie; die eersgenoemde konsep skakel hy met fiktiwiteit en die laasgenoemde met fiksionaliteit. Vir Zipfel hou die storie-aspek van ’n narratiewe teks dus verband met die totstandgekome fiktiewe of verbeeldingswêreld (waarbinne aangeleenthede soos gebeure, tyd en ruimte onder meer ter sake is). Die vertelaspek, weer, behels onder meer die verskillende verteltegnieke wat die fiksionaliteit van die narratiewe teks of narratiewe diskoers help merk. Zipfel tref verder ook ’n onderskeid tussen die skrywer se taalhandelinge in die produksie of tot stand bring van die teks en die lesers se opvolging en beoordeling van fiksiemerkers tydens die ontvangs (resepsie) van fiksionele tekste. Die moontlike verbintenisse (in die sin van die Engelse term affordances) tussen die aspekte van teksproduksie en fiksionaliteit en tussen aspekte van teksresepsie en fiktiwiteit binne ’n omvattende taalhandelingsraamwerk verdien verdere navorsing.

Studies in die 21ste eeu wys toenemend daarop dat die gebruik van die term fiksionaliteit sedert die begin van die millennium buite die tradisionele grense van die literatuur en literatuurstudie uitgebrei het en argumenteer dat fiksionaliteit nie ’n eienskap van fiksie of selfs teks-inherent is nie, maar ’n retoriese strategie wat ook in nie-literêre narratiewe situasies aangetref word (vgl. Walsh, 2007; Nielsen, Phelan en Walsh, 2015; Zetterberg Gjerlevsen, 2016). Ondersoeke binne die wyer narratiewe konteks problematiseer kwessies soos die waarheid van fiksie of die moontlikheid om merkers in tekste te isoleer wat die fiksionele en die feitelike van mekaar onderskei. Soos Fludernik (2018: 78) te kenne gee: “fictionality – unless explicitly marked by generic labels (novel, play, etc.) – to some extent lies in the eyes of the beholder”. ’n Betreklik nuwe impuls in die klemverskuiwing kom van Richard Walsch (2007) en ander navorsers wat binne ’n pragmaties-retoriese  raamwerk werk. Hulle uitgangspunt is Sperber en Wilson se relevansieteorie wat redeneer dat tersaaklikheid of relevansie (uit al vier grondreëls vir doeltreffende kommunikasie wat Grice onderskei) op sigself ’n afdoende verduideliking vir doeltreffende kommunikasie bied.  Hiervolgens sal ontvangers in enige kommunikasiesituasie altyd probeer om die tersaaklikheid van ’n taaluiting te vergroot deur ’n konteks te vind waarin die uiting maksimaal ter sake is. Op grond hiervan argumenteer Walsch “that a reader—in any type of communication—assumes that fictionality is being deployed whenever the context cues him or her to assume that that is the most relevant interpretation strategy” (vgl. Gjerlevsen, 2016).

Vir Walsch, Gjerlevsen en hulle medenavorsers “fictionality is founded upon a basic human ability to imagine and … it operates as a ‘double exposure’ of the imagined and the real: the paradox that fictionality is not meant to be understood as true and yet is meant to shape our beliefs about the actual world” (Vgl. Gjerlevsen, 2016).

Ronél Johl

 

Bibliografie

Cohn, Dorrit. 1990. Signposts of Fictionality: A Narratological Perspective. Poetics Today, 11 (4): 775–804.

Fludernik, Monika. 2018. The Fiction of the Rise of Fictionality. Poetics Today, 39 (1): 67–92. DOI: https://doi.org/10.1215/03335372-4265071

Gallagher, Catherine. 2006. The Rise of Fictionality. In: F. Moretti (red.). The Novel 1. Princeton: Princeton UP. pp. 336–63.

Klauk, Tobias & Tilmann Köppe (reds.). 2014. Fiktionalität: Ein interdisziplinäres Handbuch. Berlyn: de Gruyter.

McNally, Louise. 2013. Semantics and Pragmatics. WIREs Cognitive Science, 4: 285–97.

Moretti, F. (red.). The Novel 1. Princeton: Princeton UP.

Nielsen, Henrik Skov, James Phelan & Richard Walsh. 2015. Ten Theses about Fictionality. Narrative, 23 (1): 61–73.

Phelan, James. 2018. Fictionality, Audiences, and Character: A Rhetorical Alternative to Catherine Gallagher’s ‘Rise of Fictionality’. Poetics Today, 39 (1): 113–129. DOI: https://doi.org/10.1215/03335372-4265095

Reuvekamp-Felber, Timo. 2013. Diskussion: Zur gegenwärtigen Situation mediävistischer Fiktionalitätsforschung; Eine kritische Bestandsaufnahme. Zeitschrift für deutsche Philologie, 132 (3): 417–44.

Sperber, Dan &  Deirdre Wilson. 1986. Relevance, Communication and Cognition. Oxford: Blackwell.

Walsh, Richard. 2007. The Rhetoric of Fictionality. Columbus: The Ohio State UP.

Zetterberg Gjerlevsen, Simona. 2016a. A Novel History of Fictionality. Narrative, 24 (2): 174–89.

Zetterberg Gjerlevsen, Simona. 2016b. Fictionality. The living handbook of narratology. http://www.lhn.uni-hamburg.de/article/fictionality.

Zipfel, Frank. 2001. Fiktion, Fiktivität, Fiktionalität: Analysen zur Fiktion in der Literatur und zum Fiktionsbegriff in der Literaturwissenschaft. Erich Schmidt Verlag GmbH & Co KG.