KUBERNETIKA EN INFORMASIETEORIE

Die kubernetika is die wetenskap wat ʼn studie maak van die teorie en praktyk van kontrole en kommunikasie, waar kontrole gesien word as die oorsend van boodskappe wat op effektiewe wyse die gedrag van die ontvanger verander of beheer. Die wetenskaplikes wat die kubernetika bestudeer, hou hulle besig met die probleme rondom die bewerkstelliging van kommunikasie d.m.v. masjiene of outomate.

Die kubernetika het gegroei uit die ondersoek van die moontlikhede om masjiene te gebruik op terreine wat tradisioneel slegs deur mense beman kon word. As basis van die ondersoek is ʼn studie gemaak van die effektiewe oorsending en ontvangs van boodskappe tussen mense en tussen mense en tekens omdat geglo is dat “society can only be understood through a study of the messages and the communication facilities which belong to it; and that in the future development of these messages and com­munication facilities, messages between man and machine, be­tween machine and man, and between machine and machine, are destined to play an ever-increasing part” (Wiener, 1950: 9).

Die term kubernetika, voorgestel deur Norbert Wiener, kom van die Griekse woord kubernétés, wat stuurman beteken, en kubernetika is dan ook die wetenskap wat ʼn studie maak van die kuns van die “stuurman” of “loods”. Wiener (1961: 11–29) vertel die geskiedenis van die ontstaan van die kubernetika, en hoewel die term of benaming kubernetika eers vanaf 1947 gebruik is, word dit later ook gebruik om te verwys na die bydraes van die voorlopers van hierdie wetenskaplikes tot sover terug as 1868.

Die grondleggers van die kubernetika het hulself gesien as die opvolgers van die werk van mense soos Pascal en Leibniz. Hier­die ouer wetenskaplikes was in staat om ʼn omvattende kennis en begrip te hê van die ganse intellektuele aktiwiteit van hulle tyd, maar reeds vroeg in die 20e eeu was dit nie meer vir ʼn enkeling moontlik om op soveel terreine te spesialiseer nie. Hulle het besef dat die grensgebiede tussen verskillende vakdissiplines onontgin is en dat hierdie grensgebiede juis die rykste geleenthede en moontlikhede vir die bekwame navorser bied. Hulle het dus as ʼn span gespesialiseerde wetenskaplikes saamgewerk om die terrein van die kontroleteorie en kommunikasieteorie te bestudeer. Tot die ontwikkeling van die teorie het medici, fisici en wiskundiges aanvanklik saamgewerk, en later is meer en meer gespesialiseerde wetenskaplike kennis uit ʼn verskeidenheid vakgebiede geïntegreer in die navorsing.

Die belangstelling in hierdie soort wetenskaplike navorsing het reeds voor die Eerste Wêreldoorlog tot seminare oor die onderwerp en die benadering aanleiding gegee. Voor die Tweede Wêreldoorlog het ʼn groep navorsers aan die Harvard Medical School gereeld vergader om nuwe teorieë te bespreek. Norbert Wiener en Arturo Rosenblueth was oortuig van die “essential unity of the set of problems centering about communication, control, and statistical mechanics whether in the machine or in living tis­sue” (Wiener, 1961: 11). Hul aanvanklike onderneming was om ʼn meganies-elektriese stelsel te ontwerp wat ʼn menslike funksie kon vervul. Daar is gewerk aan ʼn stelsel wat ingewikkelde berekeninge kon uitvoer, maar ook aan stelsels wat op grond van sekere ingevoerde gegewens outomaties ʼn vooruitberekening of voorspelling kan maak.

Met die ontwrigting wat die Tweede Wêreldoorlog meegebring het, is die navorsing baie vertraag en die aanvoorwerk is tydens die oorlog gebruik om die lugafweergeskut te verfyn. Daar is gewerk aan outomate wat die nodige berekeninge kon maak om verdediging teen vyandelike vliegtuie doeltreffender te maak.

In die teorie van die beheer en kommunikasie en in die bou van elektro-meganiese stelsels, het die kubernetika in sy ontwikke­ling by ander vakdissiplines aangesluit. Hulle gebruik die winste van navorsing op gebiede soos die wiskunde, die matematiese logika, die mediese wetenskap, die biologie, die fisiologie, die neurofisiologie, die psigologie, maar ook die tegniek van die elektriese ingenieurswese is betrek. Omdat die belang van informasie en kommunikasie in die organisasie en ordening en beheer van gemeenskappe al hoe duideliker word, maak die kubernetika van steeds meer instellings in die gemeenskap ʼn studie. So word die politiek, die ekonomie en selfs ontspanning en spel bestudeer en die resultate word weer gebruik in die ontwikkeling en verfyning van outomate wat op hierdie terreine van nut kan wees.

Die vroeë kubernetika het gestel dat “the operation of the living individual and the operation of some of the newer communica­tion machines are precisely parallel. Both of them have strong sensory perceptors as one stage in their cycle of operation: that is, in both of them there exists a special apparatus for collecting information from the outer world at low energy levels, and for making it available in the operation of the individual or of the machine” (Wiener, 1950: 15).

Vanaf die veertigerjare tot nou het die kubernetika ontwikkel tot ʼn hoogs gesofistikeerde en gespesialiseerde wetenskap wat ʼn belangrike en selfs noodsaaklike rol in die moderne wêreld speel. Die kontrole en kommunikasie van informasie vorm die basis van die meeste kontemporêre instellings en die kubernetika kan dus gesien word as die wetenskap van kunsmatige intelligensie (K.I.) (artificial intelligence: A.I.).

Die ontwikkeling van rekenaars en outomatiese stelsels word steeds verfyn en uitgebrei en die funksionering van regerings, die internasionale ekonomiese betrekkinge en die plaaslike en internasionale kommunikasienetwerke is heeltemal van sulke stel­sels afhanklik. Kubernetika is egter nie gelyk te stel aan rekenaarwetenskap nie omdat die rekenaarwetenskap primêr geïnteresseer is in die bou, programmering en ontwikkeling van rekenaars. Die wetenskaplikes van die kubernetika is steeds besig om verskillende moontlikhede te ondersoek en navorsing te doen om intelligente gedrag soos dié van ʼn mens te probeer sintetiseer of naboots.

Die kubernetika werk met begrippe soos invoer (input), afvoer (output) en terugvoering (feedback) in die hantering van inlig­ting. Daar moes ook ʼn statistiese teorie ontwerp word om die hoeveelheid en vloei van informasie te kan meet en die bestudering van KODES en koderingstegnieke speel deurgaans ʼn baie belangrike rol in die kubernetika. In die bepaling van die hoeveelheid inligting in ʼn stelsel speel die begrip entropie ook ʼn baie belangrike rol: “Just as the amount of information in a system is a measure of its degree, of organization, so the entropy of a system is a measure of its degree of disorganization; and the one is sim­ply the negative of the other” (Wiener, 1961: 11).

Kubernetika moet onderskei word van informasieteorie (inligtingsteorie). Die informasieteorie of kommunikasieteorie is ʼn mate­matiese teorie wat gebruik word om inligting te meet, d.w.s. om die vloei van inligting te bepaal en om die omvang en aard van kommunikasiemedia soos bv. die radio, die telegraaf, die televisie, ens. vas te stel. Die informasieteorie is dus ʼn abstrakte teorie wat gebruik word as ʼn model waarvolgens die vloei en die hoe­veelheid inligting gemeet kan word. Dit word gebruik om te beskryf hoe ʼn kommunikasiestelsel daar uitsien en hoe die kom­munikasie bewerkstellig word. Informasieteorie kan gesien word as ʼn soort “dienswetenskap” vir die kubernetika omdat dit ʼn alternatiewe *metataal bied waarin kommunikasie en kommunikasiestelsels deeglik en presies beskryf kan word.

Hoewel die informasieteorie ontstaan het op die terrein van die telekommunikasie en ingenieurswese, word dit veel wyer toegepas. Dit is tans van groot belang in die kommunikasiekunde. Dit gaan vir die informasieteorie om die kwantitatiewe aspek van in­formasie en daar word gevra hoe informasie op die mees “ekonomiese” manier versend kan word, d.w.s. hoe die meeste inligting deur die kleinste aantal eenhede versend kan word sonder om onverstaanbaar te wees.

Die kommunikasie, wat die versending en ontvangs van inlig­ting omvat, vind plaas binne ʼn sisteem of stelsel en daar word onderskei tussen oop en geslote stelsels. ʼn Geslote stelsel werk op ʼn eenvoudige prinsipe en die moontlike inligting wat gestuur kan word, is beperk en vas bepaal en ook die moontlike reaksies op die inligting wat ontvang is. ʼn Voorbeeld van ʼn geslote stelsel is ʼn elektriese geiser. Die werking van oop stelsels is veel meer kompleks. Die oop stelsels ontvang, versend en bewaar informasie op grond van betekenisdraende tekens en is in staat om selektief-relevant op sulke tekens as prikkels te reageer. Die menslike senuweestelsel is ʼn voorbeeld van ʼn oop stelsel, hoewel dit seker die mees komplekse en veelsydige stelsel is wat bestaan. Deur die senuweestelsel is die mens in staat om op ʼn onbeperkte aantal en verskeidenheid van prikkels te reageer op ʼn onbeperkte aantal maniere omdat die stelsel gelyktydig na binne en na buite waarneem en reageer en ook die inligting bewaar (vgl. SISTEEM (LITERÊRE)).

In die LITERATUURWETENSKAP, veral in die STRUKTURALISTIESE en SEMIOTIESE Literatuurwetenskap, word heelwat van die begrippe uit die kubernetika en informasieteorie teruggevind. Trouens, die siening van die literêre TEKS (selfs enige teks, of dit ʼn taalteks is of nie) as ʼn gekodeerde boodskap wat langs ʼn bepaalde kanaal tussen sender en ontvanger kommunikasie bewerkstellig – ʼn sie­ning wat steeds ʼn deurslaggewende rol speel in die gesprekke oor die literatuur – sluit nou aan by die basiese benadering en die sentrale probleemstelling van sowel die kubernetika as die informasieteorie.

Sonder om te kenne te gee dat dit moontlik is om aan te toon hoe die terreine van die Literatuurwetenskap en linguistiek enersyds en die kubernetika en informasieteorie andersyds mekaar beïnvloed, kan daar baie opvallende raakpunte tussen dié dissiplines aangedui word. Een van die primêre deurbrake van die kubernetika was die besef dat ʼn binêre skaal in ʼn outomaat meer ekonomies, werkbaar en betroubaar is as ʼn skaal van tien. Nou is dit so dat binêre opposisies in vele strukturalistiese teorieë oor taal, betekenis en literêre struktuur, veral narratiewe struktuur, ʼn bepalende rol speel. ʼn Mens dink hier aan die werk van Greimas oor semantiese struktuur en Bremond se model van die logika van handelingsmoontlikhede. Betekenisdraende onderskeidinge in taal en artistieke teenoormekaarstelling berus volgens struk­turalistiese teorieë op dieselfde beginsel as ʼn binêre skaal waar tussen twee moontlikhede gekies kan word.

Die kubernetika het van die begin af die mens as model geneem in die ondersoek van die moontlikhede om outomate te laat funksioneer (Wiener, 1950:2), juis omdat die mens die enigste lewende organisme is wat kan praat en wat d.m.v. taal kommunikeer. Taal en kommunikasie word dan ook in sowel die kubernetika en in­formasieteorie as in die taalwetenskap en Literatuurwetenskap in die brandpunt van ondersoek geplaas.

In die semiotiese Literatuurwetenskap word die invloed van die kubernetika en informasieteorie duidelik sigbaar en dit word ook erken deur toonaangewende semiotici (Ryan & Van Zyl, 1982: 72; Jefferson & Robey, 1982: 86; Eco, 1984: 169; Lotman, 1977: 7–31). Waar die Semiotiek sy ondersoek aanvanklik rondom die betekenisdraende teken gesentreer het (soos Saussure gedoen het), het die klem toenemend na die ondersoek van KODES, kodering en dekodering verskuif. Lotman (1977: 59 e.v.) beskryf die onderskeidende kenmerke van die artistieke teks as so ʼn teks se vermoë om ʼn hoë konsentrasie van inligting te dra. Hy verduidelik hierdie betekenisdigtheid deur te sê dat die artistieke literêre teks ʼn teks is wat verskeie male gekodeer is en waarin al die kodes gelyktydig funksioneer. Lotman verwys deurgaans na die kuber­netika en informasieteorie en haal A.M. Kolmogorov soos volg aan: “In noncybernetic literature, the formal analysis of artistic creation has long been on a high level. Information theory and cybernetics could make a large contribution to these studies. But real progress in this direction demands that cyberneticians take a greater interest in the humanities and learn more about them” (Lotman, 1977: 27).

Lotman beskryf en bespreek die artistieke literêre teks in die terminologie van die kubernetika en informasieteorie deur gebruik te maak van begrippe soos “geraas” (noise), entropie en disorganisasie: “If we define information in the broad sense of the word as any structure – the opposite of entropy – then we can define pleasure as an emotional upsurge, as tension in connec­tion with the reception of necessary information that is difficult to acquire” (Lotman, 1977: 58). Die artistieke teks het die unieke vermoë om “geraas” te transformeer tot inligting en vorm so ʼn eiesoortige bydrae tot die kultuur omdat die weerstand teen en­tropie gesien word as een van die basiese funksies van kultuur (Lotman, 1977: 75).

Umberto Eco (1979: 8–10) se onderskeiding tussen OOP EN GESLOTE TEKSTE (wat in ʼn mate ook aansluit by Barthes se onder­skeiding tussen leesmatige (lisible) en skryfmatige (scriptible) tekste) sluit aan by die definisies van oop en geslote stelsels, en sy uiteensetting van kodes sluit openlik aan by die informasieteorie (Eco, 1976: 8 e.v.; 1984: 164–188).

Daar kan nog baie soortgelyke voorbeelde aangedui word. In die produksie en bemarking van “verbruikerstekste” of TRIVIAALLITERATUUR en die verspreiding van nuus en propaganda speel die kuber­netika en informasieteorie tans ʼn geweldige prominente rol. Daar bestaan gerekenariseerde woordverwerkers wat ʼn aanduiding gee van die keuse van woorde wat geskik is vir bepaalde teikengroepe. Op hierdie manier kan die skrywer van taaltekste van enige aard hulp verkry van ʼn outomaat wat op grond van navorsing so geprogrammeer is dat die boodskap op die vinnigste, duidelikste en doeltreffendste wyse tussen sender en ontvanger kan kom­munikeer.

In die navorsing oor die verhaalstruktuur, soos gedoen in die Amerikaanse story grammars en deur mense soos Van Dijk in sy tekswetenskap, speel rekenaars en outomate ʼn belangrike rol. Die resultate van die verhaalanalise en die opstel van ʼn STORIEGRAMMATIKA stel nie net die navorsers in staat om onderliggende denkprosesse en leerprosesse te ondersoek nie, maar word ook gebruik om rekenaars so te programmeer dat hulle stories kan skryf of leerprogramme kan opstel.

Die aard en die omvang van die invloed van die kubernetika, in­formasieteorie en aanverwante wetenskappe is ʼn bepalende faktor vir die lewenstyl en lewenskwaliteit van die mens van ons tyd. Hierdie invloed sal sekerlik in die laaste jare van die 20e eeu steeds toeneem.

 

Bibliografie

Ahituv, N. & Neumann, S. 1982. Principles of Information Sys­tems for Management. Dubuque, Iowa: Brown.

Davis, G.B. 1974/1982. Management Information Systems: Con­ceptual Foundations, Structure and Development. Kogakusha: McGraw-Hill.

Eco, U. 1976. A Theory of Semiotics. Bloomington: Indiana University Press.

Eco, U. 1979. The Role of the Reader. Bloomington: Indiana University Press.

Eco, U. 1984. Semiotics and the Philosophy of Language. Bloomington: Indiana University Press.

George, F.H. 1977. The Foundations of Cybernetics. London: Gor­don & Breach Science Publishers.

Jefferson, A. & Robey, D. 1982. Modern Literary Theory. Lon­don: Batsford Academic & Educational.

Lotman, J. 1977. The Structure of the Artistic Text (transl. G. Lenhoff & R. Vroom). Michigan: University of Michigan Press.

Ryan, R. & Van Zyl, S. (eds). 1982. An Introduction to Contem­porary Literary Theory. Johannesburg: Ad. Donker.

Snyman, P.G. 1971. Pers en leser. Potchefstroom: Pro-Rege-pers.

Van Dijk, T.A. 1980. Macrostructures. Hillsdale, N.J.: Erlbaum Associates.

Wiener, N. 1950. The Human Use of Human Beings. Cybernetics and Society. Boston: Houghton Mifflin Company.

Wiener, N. 1961. Cybernetics or Control and Communication in the Animal and the Machine. Cambridge: M.I.T.

 
Heilna du Plooy