WETENSKAPSFIKSIE

Hierdie veelberedeneerde term, soos sy nabye familielid FANTASIE waarmee hy dikwels verwar word, ontleen sy gebruik aan uitgewerskategorieë en het eers later die onderwerp van akademiese definisie geword. Die afkorting “Sci-Fi” wat soms nog aangetref word, word deesdae as aanstootlik beskou deur outeurs soos Harlan Ellison en akademiese kritici soos Gary K. Wolfe, veral in Amerika. Dit is vervang deur die akroniem SF (of s.f.), amper nes “Women’s Lib” vervang is deur “Feminisme”. Net soos wetenskapsfiksie self, wat vir Damon Knight beteken “what we point to when we say it”, is SF ook ‘n term met ‘n bra wasige omlyning: dit is al geïnterpreteer as o.a. Spekulatiewe Fiksie, Wetenskapsfantasie, en Structural Fabulation wat in Engels almal pogings is om die ou letters te behou terwyl dit die definisie probeer aanpas by die hedendaagse ontwikkelings.

Oor die algemeen omvat wetenskapsfiksie as kategorie ‘n reeks werke waarin die een of ander nuwe of vreemde “wetenskaplike” feit of ontdekking ‘n belangrike deel van die PLOT vorm. Sogenaamde “harde wetenskapfiksie” bestaan uit vertellings waarin besonderhede van ingenieurs- of wetenskaplike beginsels so realisties as moontlik voorgestel word, die sg. “science fiction with rivets”. ‘n Voorbeeld van so ‘n vertelling is Jules Verne se Twenty Thousand Leagues under the Sea. Die tegnologie waarom die plot draai, is die duikboot, wat nog in die toekoms gelê het toe die verhaal geskryf is. Dit is nog ‘n kenmerk van wetenskapsfiksie. Wetenskapsfiksie steun tipies op tegnologie vir spesiale effekte waar fantasie toorkuns gebruik (bv. die ruimteskip, eerder as mentale projeksie of betowerde ryperde), en stel ander wêrelde voor wat êrens buite in die ruimte bestaan eerder as in ‘n alternatiewe geskiedenis van die Middeleeue. In essensie verskil wetenskapsfiksie daarin van fantasie dat dit ‘n poging aanwend om ‘n realistiese voorstelling te gee van ontdekkings wat nie die wette van die moderne wetenskap uittart sover die nie-spesialis hulle ken nie.

Wetenskapsfiksie ekstrapoleer vanuit die hede na die toekoms. In onlangse werke strek hierdie ekstrapolasie tipies van wetenskaplike of tegnologiese ontdekkings tot die struktuur van toekomstige samelewings soos hulle beïnvloed mag word deur nuwe tegnologieë, sg. “denkeksperimente”: “wat sou die gevolge wees as dit en dat ontdek sou word?” Sulke vertellings word soms genoem “sagte wetenskapsfiksie”, bedoelende dat hulle gebaseer is op “sagte” wetenskappe soos Antropologie eerder as “harde” wetenskappe soos Fisika.

“Wetenskapsfiksie” was tot betreklik onlangs ‘n neerhalende term in Brittanje en die VSA, ‘n houding wat soms nog aangetref word in sekere akademiese kringe. Die rede hiervoor is dat die term oorspronklik ‘n “beskrywing” was van naïewe populêre of prulfiksie wat in die dertigerjare in goedkoop tydskrifte soos Science Wonder Storiesgepubliseer is. “Ninety per cent science fiction is crud” lui Sturgeon se Wet, bedoel as ‘n waarskuwing teen die beoordeling van die genre aan die swakste voorbeelde daarvan. Die prestige van hedendaagse skrywers soos Stanislaw Lem, Ursula K. Le Guin en Gene Wolfe het baie daartoe bygedra om die tradisionele vooroordeel af te breek. Tans word erken dat van die sterkste en stylvolste eietydse skrywers op hierdie terrein besig is. Ursula Le Guin het die algemene siening in 1979 só verwoord: “Science fiction has wasted far too much time apologizing to the pretentious and explaining itself to the wilfully ignorant” (Le Guin, 1989: 249).

Konsepsies van ‘n genre word voortdurend geherdefinieer deur nuwe werke in daardie genre: ‘n mens dink bv. aan die effek wat die werk van digters soos Pound en Eliot gehad het op ons begrip poësie. Net so het ons opvatting van wetenskapsfiksie verander met die nuwe talent en veranderende sosiale toestande aan die begin van die 21ste eeu. Die naïwiteit van baie vroeëre wetenskapsfiksie met sy eenvoudige genot in die wonders van die tegnologie en sy geloof in eindelose meganiese vooruitgang, het geleidelik plek gemaak vir meer komplekse verhale en dieper bevraagtekening van die uitwerking van die moderne tegnologie op ons en ons planeet. Van die skrywers van die sg. “Goue Eeu” van wetenskapsfiksie (die dertiger- en veertigerjare; die term waarborg nie literêre kwaliteit nie) het Gene Wolfe gesê: “We have had their future”. Sy werk, soos dié van ander eietydse skrywers, demonstreer die mislukking van die tegnologie en die skadelike effekte daarvan, sosiaal, geestelik en psigologies. Bowendien het hy en ander moderne beoefenaars van die genre die kategorie wetenskapsfiksie vergroot sodat dit sekere aspekte van fantasie insluit, óf in ‘n taamlik kru vorm in die sg. Swaard-en-planeet-romanses, óf op meer subtiele wyse in die geval van C.J. Cherryh of Ursula Le Guin wie se werk groter gewig toeken aan die mitiese en mistieke dimensies van die menslike lewe en minder aan tegnologiese wonders bloot ter wille van hulleself (The Left Hand of Darkness, The Dispossessed). As daar ooit ‘n duidelike skeidslyn was tussen wetenskapsfiksie en fantasie, bestaan dit vandag nie meer nie. Wetenskaplike en towenaar het verskillende metafore geword vir dieselfde werklikheid, die mag van die gees oor die materiële wêreld.

Die tendens by skrywers van wetenskapsfiksie om te put uit die psigologiese simbolisme van fantasie, spruit skynbaar uit die behoefte om kommentaar te lewer op ons eie tyd en sy institusies d.m.v. die metafoor en deur te fokus op betekenispatrone in individuele lewens, eerder as om ‘n naïewe plesier te put uit die tegnologie, die krag wat die mens uitoefen oor sy wêreld – ‘n teken van ons moeiliker tye. “Science fiction is not predictive; it is descriptive,” skryf Ursula Le Guin in die 1976-voorwoord tot haar roman The Left Hand of Darkness (1969). (Dit is herdruk in Le Guin (1979: 156).) Of soos ‘n kritikus dit tien jaar later uitgedruk het:

Science fiction is the mythos of industrialized societies, particularly if one uses ‘mythos’ in its anthropological sense; that is, those narratives of a society which are used to explain to the members of that society the nature of the universe, their roles in it, and what limits and values the members are to respect. (Spinks, 1986: 93)

As ‘n essensieel simboliese modus (die wêrelde, beskawings, ruimteskepe en vreemdelinge bestaan nie in die wêreld waarin ons lewe nie, maar lewer kommentaar daarop soos drome) deel wetenskapsfiksie meestal met fantasie die fundamentele patroon van die Soektog of rondreis, uit en weer tuis. So ‘n reis is ‘n tradisionele simbool van die geestelike soektog, die soeke na “an elusive part of the Self lost in unconsciousness” of na “the living contact between man and nature that has been lost” (Chetwynde, 1982: 229). Anders gestel, die onuitgesproke doel van wetenskapsfiksie is “om die werklikheid te verbeel”, en om ons “Wêreld” te verken (wat nie net ons planeet Aarde beteken nie):

At the same time that it is a physical environment, a culture, a history, a home, it is also selfhood, ‘world’ as ‘Welt’ in ‘Weltanschauung’, a configuration of concepts, a pattern or mode of perceiving with which one individually responds to and orders his experience. Thus a ‘world’ is the totality of the dialectical interplay of individual self and environment, a Gestalt which can either be a conglomeration of isolated fragments or an integrated unity, an identity. This ‘world’ is no ahistorical, static entity, though, for it exists as a ‘story’, and therefore unfolds in time, in an ordered and coherent fashion, structured according to a particular ‘pattern’, a plot, which leads up to and expresses a ‘vision’.
(Bittner, 1979: 4)

Deur middel van nuwe argetipes van ‘n tegnologiese gemeenskap (sien Wolfe, 1979), verken wetenskapsfiksie wie ons is en wat ons besig is om te doen. Soos meer tradisionele vertellings, kom dit neer op ‘n tegniek van meditasie waardeur ons ons herbeskou uit ‘n ander gesigspunt as dié van ons alledaagse wêreld. Net soos ons ‘n herinterpretasie maak van onsself en ons plek in die heelal ooreenkomstig die relatiwiteitsteorie en kwantumfisika, so is die onbewuste toenemend besig om meer prominent te word in ons MITE, wat wegdoen met vooringenome idees oor die struktuur van die samelewing en sosiale verhoudings. Saam met die paradokse van die heelal buite die grense van die aarde, word die gees self as fenomeen met steeds groter aandrang ondersoek. Die krag wat die gees het om werklikhede te skep, waarvan ‘n deel die lewe van mense in stede en lande is, is die tema van die wetenskapsfiksie-kunstenaar. Wetenskapsfiksie wys op die mag van die verbeelding om aan te toon, weer eens in Ursula Le Guin se woorde, dat “die heelal eindeloos is, en verskriklik en wonderskoon”.

Bibliografie

Aldiss, B. 1988. Trillion-Year Spree: The History of Science Fiction. New York: Avon Books.
Bittner, J.W. 1979. Approaches to the Fiction of Ursula K. Le Guin. Ann Arbor, Michigan: UMI Research Press. (Speculative Fiction Series.)
Chetwynde, T. 1982. A Dictionary of Symbols. London: Granada.
Davies, P. 1980. Other Worlds: Space, Superspace and the Quantum Universe. Harmondsworth: Penguin Books.
Davies, P. 1983. God and the New Physics. Harmondsworth: Penguin Books.
Hall, H.R. (ed.). 1987. Science Fiction and Fantasy Reference Index, 1878―1985: An International Author and Subject Index to History and Criticism. Detroit, MI: Gale Research Company.
Le Guin, U.K. 1979. The Language of the Night: Essays on Fantasy and Science Fiction (ed. and  introduction by Susan Wood). New York: G.P. Putnam’s Sons.
Le Guin, U.K. 1989. Dancing at the Edge of the World: Thoughts on Words, Women, Places. New York: Grove Press.
Lem, S. 1984. Microworlds: Writings on Science Fiction and Fantasy (ed. Franz Rottensteiner). New York: Harcourt Brace & Jovanovich.
Scholes, R. & Rabkin, E.S. 1977. Science Fiction: History, Science, Vision. London: Oxford University Press.
Smith, C.C. (ed.). 1981. Twentieth Century Science Fiction Writers. London & Chicago: St James Press.
Spinks, C.A. 1986. Motifs in Science Fiction as Archetypes of Science. Extrapolation, 27(2).
Wendland, A. 1985. Science, Myth, and the Fictional Creation of Alien Worlds. Ann Arbor, Michigan: UMI Research Press. (Speculative Fiction Series.)
Wolfe, G.K. 1979. The Known and the Unknown: The Iconography of Science Fiction. Kent, Ohio: Kent State University Press.
Wolfe, G.K. 1986. Critical Terms for Science Fiction and Fantasy. New York & London: Greenwood Press.

Uitgesoekte bibliografie van belangrike wetenskapsfiksieskrywers

Bear, G. 1980. Beyond Heaven’s River. London: Gollancz.
Bear, G. 1985. Eon. London: Arrow Books.
Bear, G. 1987. The Forge of God. London: Arrow Books.
Cherryh, C.J. 1976. Brothers of Earth. New York: DAW.
Cherryh, C.J. 1977. Hunter of Worlds. New York: Doubleday.
Cherryh, C.J. 1979. Hestia. London: Gollancz.
Cherryh, C.J. 1981. Serpent’s Reach. London: Macdonald.
Cherryh, C.J. 1981. Sunfall. New York: DAW.
Cherryh, C.J. 1982. Merchanter’s Luck. London: Methuen.
Cherryh, C.J. 1982. Port Eternity. New York: DAW.
Cherryh, C.J. 1983. Downbelow Station. London: Methuen.
Cherryh, C.J. 1986. Forty Thousand in Gehenna. London: Methuen.
Clarke, A.C. 1954. Childhood’s End. London: Pan Books.
Clarke, A.C. 1973. Rendezvous with Rama. London: Pan Books.
Delaney, S.R. 1976. Triton. New York: Bantam Books.
Delaney, S.R. 1986. Nova. New York: Doubleday.
Heinlein, R. A. 1961. Stranger in a Strange Land. London: NEL.
Herbert, F. 1966. Dune. London: NEL.
Herbert, F. 1971. Dune Messiah. London: NEL.
Herbert, F. 1976. Children of Dune. London: NEL.
Herbert, F. 1982. God Emperor of Dune. London: NEL.
Herbert, F. 1984. Heretics of Dune. London: Gollancz and NEL.
Herbert, F. 1985. Chapterhouse Dune. London: NEL.
Le Guin, U.K. 1966. Planet of Exile. London: Gollancz.
Le Guin, U.K. 1966. Rocannon’s World. London: Gollancz.
Le Guin, U.K. 1969. The Left Hand of Darkness. St Albans: Panther.
Le Guin, U.K. 1971. City of Illusions. London: Gollancz.
Le Guin, U.K. 1972. The Lathe of Heaven. St Albans: Panther.
Le Guin, U.K. 1974. The Dispossessed. London: Gollancz.
Le Guin, U.K. 1975. Dreams Must Explain Themselves. New York: Algol Press.
Le Guin, U.K. 1976. The Wind’s Twelve Quarters. London: Gollancz.
Le Guin, U.K. 1977. The Word for World is Forest. London: Gollancz.
Le Guin, U.K. 1983. The Compass Rose. London: Gollancz.
Lem, S. 1961. Solaris, The Chain of Change, A Perfect Vacuum. Harmondsworth: Penguin Books
Lem, S. 1971. The Star Diaries. New York: Avon Books.
Lem, S. 1981. Tales of Pirx the Pilot. New York: Avon Books.
Silverberg, R. 1969. Nightwings. London: Macdonald & Co. (Future, 1987.)
Silverberg, R. 1970. Tower of Glass. London: Macdonald & Co. (Future, 1987.)
Silverberg, R. 1972. Dying Inside. London: Gollancz.
Silverberg, R. 1981. Majipoor Chronicles. London: Pan Books, 1983)
Silverberg, R. 1984. Valentine Pontifex. London: Pan Books.
Silverberg, R. 1985. Tom O’Bedlam. London: Macdonald & Co. (Future, 1987.)
Wolfe, G. 1970. Operation ASRES. London: Dobson.
Wolfe, G. 1972. The Fifth Head of Cerberus. London: Quartet Books.
Wolfe, G. 1980. The Shadow of the Torturer. London: Arrow Books.
Wolfe, G. 1981. The Claw of the Conciliator. London: Arrow Books.
Wolfe, G. 1981. Gene Wolfe’s Books of Days. New York: Doubleday.
Wolfe, G. 1982. The Castle of the Otter. Willimantic, CT: Ziesing Brothers.
Wolfe, G. 1982. The Sword of the Lictor. London: Arrow Books.
Wolfe, G. 1983. The Citadel of the Autarch. London: Arrow Books.
Wolfe, G. 1984. The Island of Doctor Death and Other Stories. London: Arrow Books.
Wolfe, G. 1987. The Urth of the New Sun. New York: TOR Books.
Wolfe, G. 1989. Endangered Species. New York: TOR Books.

A. Morgan