MITE IN DIE MODERNE ROMAN

Om te begryp waarom die MITE so ‘n belangrike strukturerende rol in die ROMAN van die 20e eeu begin speel het, is dit nodig om in aansluiting by die bespreking elders (vgl. MITE) enkele kenmerke uit te sonder. Die moderne skrywer wat hom te midde van die relativering van alle waardes bevind, stel uiteraard belang in die mites wat vroeër as absolute waarhede geglo is (Eliade, 1972: 16—17). Boonop sluit die roman as ‘n lang verhaal volgens sy aard goed aan by die mythos, d.w.s. die mite as een van die verhale in ‘n mitologie (‘n oorgelewerde sisteem van vertellings waarvan die oorsprong onbekend is). Die romanskrywer kyk ook dikwels oorskouend en verklarend na dié dinge waarvoor die mite op ‘n allegoriese wyse as “verklaringsmodel” ingespan word: die verhouding tussen mens en God, die natuurlike en bonatuurlike, begin- en eindtye.

Wanneer die protagonis in die oorgelewerde verhale ‘n persoon is, word hulle gewoonlik as LEGENDES geklassifiseer, en wanneer bonatuurlike wesens nie deel van ‘n mitologie vorm nie, word hulle VOLKSVERHALE genoem. Met dié literêre vorme, nl. die legende en volksverhaal, word daar na fiksie (vgl. FIKTIWITEIT) en dus die terrein van die roman oorbeweeg. Hoewel mites gewoonlik oor die metafisiese en gode handel, is dit egter nie noodwendig altyd die geval nie en is die wesenlike van die mite daarin geleë dat dit ‘n verhaal is (vgl. die gesaghebbende werk van Kirk, 1970: 10).

Hoewel die skrywer in die ROMANTIEK dikwels as ‘n miteskepper met ‘n profetiese en priesterlike rol voorgestel is, is die presiese verband tussen mite en literatuur nietemin nie duidelik nie. Iemand soos Northrop Frye vertrek van die Aristoteliaanse definisie van mite as verhaalplan: “Myth is a structural element in literature because literature as a whole is a ‘displaced’ mythology” (in Ruthven, 1976: 56). Sommige teoretici soek dan ook die ontstaan van die mite in die metafoor of in algemene beeldingsprosesse, in teenstelling met diegene wat die verband tussen literatuur en mite in die affektiewe, spell-binding effekte soek. Iemand soos Stanley Hyman ontken dat ‘n enkele persoon soos ‘n skrywer mites kan skep. “What such modern writers as Melville or Kafka create is not myth, but an individual fantasy expressing a symbolic action, equivalent to and related to the myth’s expression of a public rite. No one, not even Melville … can invent myths” (in Ruthven, 1976: 70).

Talle skrywers het nogtans sedert die MODERNISME die behoefte aan ‘n integrerende mite gevoel. Vanuit verskillende genres het skrywers soos James Joyce, T.S. Eliot en Eugene O’Neill by die singewende eienskappe van die mite aangesluit, in so ‘n mate dat Hermann Broch die 20e eeu “die mitiese era” genoem het. Vir skrywers soos Thomas Mann het die mite sin in die chaos geopenbaar, in hul soeke na nuwe waardes wat op die oues gebaseer is. Andre P. Brink (1967: 42) sien die belang van die mite naas hierdie beswerende mag in die vermoë om handelinge wat deur die eeue eenders gebly het, te betrek en om die romankompleksiteit te verhoog deurdat ‘n ander verhaal betrek en verskille naas ooreenkomste aangedui word. In aansluiting by C.G. Jung glo Etienne Leroux (1980: 11—24) dat die skrywer die lewende mite van ons tyd moet probeer peil en dat dit gebaseer is op simbole wat as lewend deur die gemeenskap ervaar word.

Teen hierdie agtergrond is dit verstaanbaar waarom Chase (1949: 84—85) literatuur “as mite” beskou en dit op die verskil en ooreenkoms tussen religie en magie baseer. Literatuur word mite wanneer dit die opponerende magte van religie (onderwerping van die ego aan die objektiewe wêreld of magte daarin) en magie (onderwerping van die objektiewe wêreld deur die ego) byeenbring. In die romans van die moderniste (en aansluitend by hulle, ook die Afrikaanse Sestigers — vgl. Steenberg, 1977) is die mite egter nie slegs betrek om te besweer nie, maar ook om eietydse waardes te relativeer en om die sinlose van die moderne tyd met die sinrykheid van ‘n vergange era te vergelyk. ‘n Verdigting van die hele romanstruktuur word terselfdertyd in die vroeë romans van Leroux, Brink en Dolf van Niekerk bewerkstellig.

Die beweging “terug na die mite ” was teen 1945 egter verby en moderne romanskrywers soos Broch, Butor, Moravia, Robbe-Grillet en Updike klee nie meer klassieke mites in kontemporêre idiome nie. Hulle bied die leser eerder ‘n moderne situasie en verwys hom na ‘n bekende analogie sodat hy nuwe ervarings in die lig van tradisionele bronne van argetipiese patrone moet interpreteer (White, 1971: 23). Die mite word nou ook dikwels vir SATIRE en PARODIE benut, totdat Leroux in Onse Hymie selfs die hele “mite” van sy eie oeuvre parodieer.

Vir ‘n literêre benadering is dit die vrugbaarste om die mite in die moderne roman as ‘n tekensisteem te benader, d.w.s. as ‘n bepaalde KODE wat saam met baie ander romanelemente beteken. Claude Lévi-Strauss was die eerste wat die mite as ‘n tekenstelsel binne ‘n bepaalde kultuur beskou het en nagegaan het hoe dit integrerend en singewend optree. Daar is ‘n natuurlike affiniteit tussen die mite en die literêre kommunikasiesisteem in ‘n roman, soos reeds geblyk het.

Romanskrywers uit die periodes van die Romantiek en Modernisme het die mite veral betrek vir die opstel van verhaalraamwerke, verwysingswêrelde, prefigurasies en motiewe, epiese substrata en die tydruimtelike uitheffing van die verhaal. Laasgenoemde aspek het reeds aandag gekry (vgl. MITE) en die ander word kortliks behandel.

Wanneer verhaalraamwerke ontwerp word in aansluiting by bepaalde mitologieë of mites, kan die skrywer van bestaande verhaalpatrone gebruik maak. Die leser moet dan by die verhaalrekonstruksie (SJUŽET) rekening hou met die gebeure in die mite as deel van die oorspronklike storie (die FABULA). White (1971: 52—54) onderskei vier soorte mitologiese romans, nl. (1) die volledige oorvertelling van ‘n klassieke mite, waarin mitologiese karakters benoem word; (2) ‘n jukstaposisie van gedeeltes waarin ‘n mite vertel word met ander waarin die eietydse wêreld ter sprake is; (3) ‘n roman wat in die moderne wêreld afspeel en ‘n deurlopende patroon van verwysings na mitologie bevat; en (4) ‘n roman waarin ‘n mitologiese motief ‘n gedeelte van die vertelling (‘n enkele gebeurtenis, ‘n karakter of ‘n groep mense) prefigureer, maar sonder om dit deurlopend in die verhaal vol te hou.

Verwysingswêrelde, veral van ‘n bepaalde religieuse of ideële aard, word maklik tot stand gebring omdat bekende mitiese motiewe ‘n ryk konnotasieveld met hulle saamdra. Die misterie-elemente wat op hierdie wyse betrek word, word elders bespreek (vgl. MITE). Paul Tillich noem die mite die “taal van die geloof”, en talle teoretici beskou dit as iets wat die gans andere of numineuse in kunswerke kan oproep (vgl. Malan, 1977: 80—90). Kermode (1962: 37) beskryf die mite vanuit ‘n literêre perspektief as ‘n liturgie, iets heiligs, terwyl Vickery (1973: 2) die “mitiese” kwaliteit van literatuur aan die teenwoordigheid van die primitiewe mana-mag toeskryf; volgens Chase (1949: 78) kan slegs literatuur mana vandag nog bewaar. Hoewel ‘n aantal kritici teen die soort idealisering in opstand kom (kyk Ruthven, 1976: 81—83 en Kirk, 1970: 266) betoog Gould (1981) onlangs nog dat die numineuse dimensie in romans grotendeels deur die mitiese elemente gestalte kry.

In eietydse romans is die prefigurasie-moontlikhede wat die mite bied, waarskynlik vir die skrywer belangriker as die religieuse implikasies. “A myth introduced by a modern novelist into his work can prefigure and hence anticipate the plot in a number of ways. Although an awareness of sources is declining, the ideal reader can still be expected to be familiar with most prefigurations beforehand, just as the novelist himself was when he wrote the work” (White, 1971: 11-12). Mitologiese figure soos Prometheus, Dionisos, Herakles en Apollo bied nie slegs die buitelyne vir romankarakters nie, maar hulle verteenwoordig soms ‘n rykdom aan idees en motiewe, soos in die bekende Dionisies-Apolliniese motiewe van Nietzsche.

Die moderniste het gevind dat psigologiese substrata met die mitiese onderbou in ‘n roman kan saamval, veral op grond van die insigte van die dieptesielkundiges, in die besonder C.G. Jung (vgl. Jung, 1964). Argetipiese patrone in die menslike psige vind nl. uitdrukking in die mites van alle beskawings. Leroux se benutting van hierdie aansluitingsmoontlikhede kan in sommige opsigte vergelyk word met die werk van James Joyce, Herman Hesse en Thomas Mann. Naas Leroux se inskakeling van die mitologie op ‘n tradisionele analogiese wyse, onderskei Elize Botha (in Cloete, 1980: 471-486) egter ook ‘n moderner soort mitisering by hom, nl. die uitbeelding van eietydse en spesifiek Suid-Afrikaanse mites (bestaande uit beelde waarin ons ons eie tyd en aspekte van ander tye in ons eie samelewing kan begryp), asook die opbou van sy eie mitologie.

Met Leroux se hedendaagse soort mitisering is daar oorbeweeg na ‘n POSTMODERNISTIESE periodekode, waarin mites as tekensisteme in romans in ‘n toenemende mate hulle verband met religie, misterie en ‘n bo-wetenskaplike “waarheid” verloor het. Hier is nog slegs in ‘n sekondêre sin van mite sprake, omdat die konteks dikwels gesekulariseer is. Barthes (1972: 115) sien die mite vanuit ‘n SEMIOTIESE hoek as ‘n METATAAL, waarin daar in die taal oor die taal self gepraat word. Hy gaan dan selfs so ver as om dit op die volgende wyse te tipeer: “What is characteristic of myth? To transform a meaning into form. In other words, myth is always a language-robbery” (1972: 131). Barthes se aanval op die mite kan beter begryp word wanneer daar gekyk word na sy beskrywings van dié komponente waaruit ons tyd se “mitologie” bestaan, veral soos ervaar deur ’n bourgeois-verbruikerspubliek: o.m. in stoei, rolprente, skrywersvakansies, seksgodinne, ontkleedanse en luukse motors. Al hierdie tekens van ‘n Ersatz-mite word in die werk van Leroux geparodieer, want vir hom het die ware simbole en dus die lewende mite vandag tot blote tekens verval. Ook die moderne eksperimentele skrywer Robbe-Grillet (in Righter, 1975: 110) sê: “I am assailed by a multitude of signs which taken together constitute the mythology of the world in which I live, something like the collective unconscious of society …” Leslie Fiedler sê dan ook sonder meer dat ons te veel by Griekeland en Rome oorgeneem het: die nuwe mitologie moet uit popliedjies en prenteverhale kom (in White, 1971: 13). Die groot stad openbaar vir vandag se skrywer sy eie mitologie: vgl. die romans van Leroux, Die ambassadeur van Andre P. Brink en Op die rug van die tier van Anna M. Louw.

Daar is steeds dikwels sprake van ‘n literêre mitologie in kontemporêre romans. Daar word by werke van Shakespeare, Dante, Cervantes e.a. aangesluit asof hulle mites in eie reg is. Dante se Divina commedia dien as verwysingsraamwerk vir sowel Leroux se Die derde oog as vir Brink se Die ambassadeur. Op hierdie wyse kom ‘n veelbetekenende INTERTEKSTUELE “gesprek” ter sprake, iets wat ‘n gewilde prosedure in die moderne roman geword het.

Sommige romanskrywers ontwerp ook hulle eie mitologie in hulle oeuvre, hetsy by wyse van ‘n mitiese *ruimte (Leroux se Welgevonden-landgoed en Faulkner se streek in die suide van die VSA), of in die vorm van terugkerende simbole, argetipes, figure, ens. (Chris Barnard se Duiwel-in-die-bos en Breyten Breytenbach se Mouroir.) Hierdie mitiese elemente dien as ‘n belangrike samebindende faktor in SIKLUSSE en verhaalbundels.

Waar die mite in moderne gewaad voorkom om te relativeer en dus te IRONISEER (in die vorme van parodie, SATIRE, parallelisme, jukstaposisie, ens.), het ons dikwels te doen met die tweede betekenis van mite soos dit in die volksmond voorkom, nl. “FABEL, stories sonder grond” (HAT, 1981: 75). Dit lyk in elk geval sinvol om die begrip mite i.v.m. die literatuur as die ekwivalent van prefigurasie te gebruik, soos White (1971: 68) bepleit, omdat dit ook legende, geskiedenis en die literêre tradisies van die onlangse verlede omvat.

Die naspeuring van mitiese bloudrukke in die literatuur het gelei tot die opkoms van die omstrede skool van “mite-kritici”, waarvan Frye (1963) die belangrikste eksponent is. Fiedler (1963) gaan bv. die motief van opstand teen die niet na, Campbell (1949) ondersoek die held as die belangrikste literêre argetipe deur die eeue heen, Bodkin (1963) bespreek motiewe soos die tragiese dood, die verdeling hemel-hel en die moederfiguur, terwyl Van Groningen et al. (1964) ‘n oorsig van die mite in die literatuur vanaf die Griekse tragedie tot by die moderne literatuur gee.

(Vgl. MITE.)

 

Bibliografie

Alitzer, T.J.J, (ed.). 1962. Truth, Myth and Symbol. Englewood Cliffs: Prentice-Hall.

Barthes, R. 1972. Mythologies. London: Paladin.

Bodkin, M. 1963. Archetypal Patterns in Poetry. London: Oxford University Press.

Booth, W.C. 1961. The Rhetoric of Fiction. Chicago: University of Chicago Press.

Brink, A.P. 1967. Aspekte van die nuweprosa. Pretoria: Academica.

Campbell, J. 1949. The Hero with a Thousand Faces. New York: Bollingen Series.

Chase, R. 1949. Quest for Myth. Louisiana: Baton Rouge.

Cloete, T.T. (red.). 1980. Die Afrikaanse literatuur sedert Sestig. Goodwood: Nasou.

Dillistone, F.W. (ed.). 1966. Myth and Symbol. London: S.P.G.K.

Eliade, M. 1972. Myths, Dreams and Mysteries. London: Collins.

Fiedler, L.A. 1963. No! In Thunder: Essays on Myth and literature. London: Aeyre & Spottiswoode.

Frye, N. et al. 1963. Myth and Symbol. Lincoln: University of Nebraska Press.

Frye, N. 1973. Anatomy of Criticism: Four Essays. Princeton: Princeton University Press.

Gould, E. 1981. Mythical Intentions in Modern literature. Princeton: Princeton University Press.

Jung, C.G. 1964. Man and his Symbols. London: Aldus Books.

Kermode, F. 1962. Puzzles and Epiphanies. London: Routledge & Kegan Paul.

Kirk, G.S. 1970. Myth. Cambridge: Cambridge University Press.

Kitagawa, J.M. & Long, C.H. (eds). 1969. Myths and Symbols: Studies in Honour ofMircea Eliade. Chicago: University of Chicago Press.

Leroux, E. 1980. Tussengebied. Johannesburg: Perskor.

Luke, H.M. 1982. The Inner Story: Myth and Symbol in the Bible and Literature. London: Crossroad.

Malan, C. 1977. Die numineuse in die moderne prosa, met besondere aandag aan die oeuvre van Etienne Leroux. D.Litt.-proefskrif, UOVS, Bloemfontein.

Righter, W. 1975. Myth and literature. London: Routledge & Kegan Paul.

Ruthven, K.K. 1976. Myth. London: Methuen.

Slote, B. (ed.). 1963. Myth and Symbol. Lincoln: University of Nebraska Press.

Steenberg, D.H. (samest.). 1977. Random Sestig: perspektiewe op die nuwer Afrikaanse prosa. Kaapstad: HAUM.

Van Groningen, B.A. et al. 1964. De mythe in de literatuur. Den Haag: Servire.

Vickery, J.B. (ed.). 1973. Myth and Literature. Lincoln: University of Nebraska Press.

White, J.J. 1971. Mythology in the Modern Novel. Princeton: Princeton University Press.

 
Charles Malan