METATAAL

Metataal is ‘n taalvorm met behulp waarvan ‘n ander taalvorm die sg. objektaal ondersoek word en waarmee daar uitsprake oor die aard en werking daarvan gemaak word, ‘n Metataal stel dus nie direk verskynsels uit die werklikheid voor nie, maar slegs verskynsels uit die objektaal. Neem as voorbeeld die volgende uitinge: (1) Dit was ‘n koue winter vanjaar. (2) Die jaar word ryp in goue akkerblare. (1) maak ‘n uitspraak oor die werklik­heid op basis van die omgangstaalmodel, (2) op basis van die model van sg. literêre taal. Neem nou egter die volgende uitinge: (la) “Koue” is ‘n attributief gebruikte adjektief. (2a) Hierdie reël is in die jambiese versmaat geskryf. Dit is duidelik dat (1a) en (2a) nie uitsprake maak oor die werklikheid nie, maar oor (aspekte van) onderskeidelik (1) en (2). Nou funksioneer (1) en (2) dus as objektaal of betekenisinhoud waaroor daar in die metatalige uitinge of betekenisvorme (1a) en (2a) uitsprake gemaak word. Dit is verder moontlik dat daar weer oor (1a) en (2a) uitsprake gemaak kan word bv. oor die begrippe “adjektief en “jam­biese versmaat”. Dan funksioneer hulle weer as objektale. In sekere sin is die onderskeid tussen objek- en metataal dus relatief en moet die eindpunt pragmaties bepaal word deur ‘n bepaalde metataal as laaste betekenisvorm te kies, maar in elke bepaalde geval geld die volgende uitspraak van Eimermacher (1977: 52), alhoewel hy spesifiek oor die Literatuurwetenskap skryf: “… de taalkundige vorm van iedere literatuurwetenschappelijke uitspraak (zou) reeds als metatalig gekwalificeerd moeten warden, wanneer deze indicaties bevat over een verschil dat gemaakt is tus­sen object- en metataal en wanneer er duidelijkheid over bestaat, in welke taal een uitspraak over een andere gedaan wordt.”

Uit hierdie aanhaling blyk ook reeds een van die kenmerke van en vereistes vir ‘n metataal: die taalvorm daarvan is nie identies aan die taalvorm waaroor daar gepraat word nie. ‘n Parafrase van bv. ‘n gedig sou dus dikwels nie aan hierdie vereiste voldoen nie juis omdat dit woorde en uitdrukkings uit die gedig self oomeem en nie ‘n prinsipiële onderskeid tussen die taal van die gedig en die taal oor die gedig maak nie. Daarom word ‘n tweede vereiste ook meermale aan ‘n metataal gestel: dit moet spesiaal gekonstrueerde en geformaliseerde sisteme wees of “explicit conven­tions as to what kinds of descriptive statements are permissible” (Lyons, 1977: 12) bevat. Pogings tot eg. wat betref die Literatuur­wetenskap vind ‘n mens o.m. in Prince (1973) en Fokkema (1980) se beskrywingsapparaat vir verhaalstrukture (vgl. STORIEGRAMMATIKA). Maar ook wanneer ‘n metataal op ‘n natuurlike taal soos Afrikaans of Engels gebaseer word, moet dit gebeur op grond van uitdruklike, bewus aangebringde en algemeen herkenbare transformasies. Eimermacher (1977: 54) vervolg: “Bovendien moeten de transformaties niet alleen expliciet zijn, maar ook systematisch met inagneming van bepaalde, zo mogelijk steeds constante en uniforme criteria (eigenschappen, principia) tot stand komen, en voldoen aan de functie om in hun kwaliteit van ideale constructie of ideale classificatie een objecttalig voorwerp van onderzoek weer te geven (te beschrijven, te benoemen, te noteren) in een strengere resp. andere soort systematiek dan die, welke aan de objecttaal ten grondslag ligt.”

 
Uit wat pas gesê is, vloei ook weer verdere kenmerke van ‘n verantwoorde metataal voort. Dit moet geskik wees vir die bepaalde ondersoekobjek of -doel (‘n wiskundige metataal gaan waarskynlik nie geskik wees vir die ondersoek en beskrywing van die betekenisopbou van verhale die objektaal nie), dit moet sistematies opgebou wees (terme wat mekaar weerspreek of oorvleuel, moet dus vermy word) en ook vir ‘n bepaalde doel – in staat wees om die objektaal se tekens, uitdrukkings, ens., volledig te benoem, die uitdrukkings en die verhoudings tussen hulle te beskryf en insig te verleen in “aan regels gebonden/niet gebonden taalgebruik” (Eimermacher, 1977: 55) en dit te beskryf. Ten slotte kan nog die baie belangrike kenmerke van eenduidigheid en kontróleerbaarheid genoem word. Oor lg. kenmerk maak Schulte-Sasse & Werner (1977:44) die volgende opmerking: Toetsbaarheid sluit in die aandien van die basisonderskeidinge waarop die ondersoek gebaseer is, die verduideliking van die voorwaardes waaronder die ondersoek gedoen word en waaronder die onder-soekresultate geldig is, asook die aangif van ondersoekdoeleindes (redaksionele vertaling).

 

Uit hierdie omskrywing blyk dit dat die kwessie van metataal nie losgemaak kan word van (‘n bepaalde siening van) die begrip wetenskap(likheid) nie. Die ontwikkeling van ‘n metataal kan trouens beskou word as een van die kriteria van wetenskaplikheid (vgl. Kunne-Ibsch, 1977: 287) wat dan verder, i.p.v. blote intuïsie, “Einfuhlung” en subjektivistiese spekulasie, o.m. intersubjektiwiteit en rasionele argumentasie nastreef — sake wat juis weer ondenkbaar is sonder wetenskaplike metataal. Hierby aansluitend sien Eimermacher (1977: 55) die doel van die gebruik van ‘n metataal soos volg: “informatíe systematisch te ordenen, weer te geven, over te brengen, om ten slotte en vooral te komen tot nieuwe inzichten als basis voor de vorming van min of meer verstrekkende hypothesen of zelfc theorieën in de zin van specifiek wetenschappelijke verklaringen.”

 

Soos reeds plek-plek hierbo gesuggereer is, word daar ook binne die wêreld van literêre bedrywighede met die onderskeid tussen die begrippe objek- en metataal rekening gehou. Literêre kommunikasievorme soos poësie en verhalende prosa kan dan dikwels as die objektaal bestempel word, terwyl die krítikus en literêre geskiedskrywer in hulle beskrywing daarvan van metataal gebruik maak/behoort te maak metataal wat t.o.v. sy sistematiek reeds in 1953 deur Van Wyk Louw (1967: 59) só beskryf is: “Die teoretiese besinning sal hierdie begrippe aan ‘n kritiese ondersoek onderwerp om te kyk tot op watter kerf die betekenis van party gesuiwer en verhelder kan word sodat hulle met ‘n mate van vastheid gebruik kan word; van party ander sal hy die onbruikbaarheid aantoon en probeer om hulle uit die wetenskapiike woordeskat te verwyder. Dan sal hy die verhelderde begrippe in ‘n (altyd voorlopige) sisteem naas mekaar plaas, nagaan waar teenstrydighede ontstaan en die uit die weg probeer ruim, en op hierdie manier werk om ‘n stel begrippe op te bou wat betreklik wetenskaplik gebruik kan word.”

 
Wat die (skepping van ‘n) literatuurwetenskaplike metataal betref, kan daar geredeneer word oor die vraag of daar net een eenvormige taal moet wees en of daar, in elk geval voorlopig, volstaan moet word alleen met metatalige beskrywingskonstruksies vir bv. sekere probleemstellings. ‘n Ander probleem is die bronne waaruit daar geput kan/moet word by die vorming van ‘n literatuurweten­skaplike metataal. In hoeverre kan daar bv. by die eksakte wetenskappe met hulle “wette” aangesluit word, veral aangesien die literêre werk tog ook in sy bepaalde samestelling iets eenmaligs in hom het? Die klakkelose oorname uit ander wetenskappe se metatale sonder om die draagwydte en implikasies van die be­grippe in die oorspronklike metataal voldoende in berekening te bring of hulle nuwe status eksplisiet te omskryf, is ook meer as ‘n bloot denkbeeldige gevaar. ‘n Derde probleem vat Eimermacher (1977: 74) soos volg saam: “… metatalige beschrijvingen (zijn) naar hun aard statische constructies …, maar literaire teksten (moeten) structureel (semantisch) gezien als dynamisch beschouwd worden. Dat wil zeggen dat metatalige beschrij­vingen bijna uitsluitend slechts in staat zijnliteraire of esthetische constructies in statische modeller vast te leggen, en dat ze in de regel gedwongen zijn zeer complexe literaire verschijnselen in een schema te persen dat aan successiviteit gebonden is.” In die Literatuurwetenskap was daar al meer as een minder en meer geslaagde poging om ‘n metataal te ontwerp, bv. binne die generatiewe POËTIKA en die strukturele SEMIOTIEK. Dit is egter ‘n voortdurende proses, ‘n proses wat o.m. met die fokusverskuiwings t.o.v. die literatuurwetenskaplike studieobjek saamhang. Trouens, waar die strukturaliste nog uitgegaan het van die moontlikheid van ‘n Literatuurwetenskap waarin die wêreld van tekens bemeester en verduidelik kan word m.b.v. ‘n metataal, bevraagteken en ondermyn die post-strukturaliste die begrip metataal. Dit hang saam met hulle ontkenning van die tradisionele onderskeiding tussen soorte diskoerse (literatuur, literêre kritiek, ens.). Die tekens van die metataal van die literêre kritiek is volgens hulle immers net so onderworpe aan verglyding en onbepaaldheid soos enige ander taaltekens en “can no more offer a full and final presence of meaning than the signs of an object language” (Rice & Waugh, 1989: 112). Om o.a. via ‘n metataal ‘n sistematiese analise van ‘n teks aan te bied en so die betekenis daarvan vas te lê, sou ook ingaan teen hulle siening van die teks se bestaan in ‘n netwerk van tekstualiteit “where no final and transcen­dental signified can be fixed” (Rice & Waugh, 1989: 148).

 

Ten slotte moet daarop gewys word dat die begrip “metatalig” soms ook gebruik word vir ‘n verskynsel binne sekere literêre tekste self. Die teks kan bv. van die woorde of frases waaruit dit opgebou is, verklaar, soos meermale in Die Koningin van Skeba gebeur: ‘Die Molemo’s’ (geeste van die afgestorwe oumense) lewe in die Abalanga.” In dialoog kan ‘n woord, frase, sin of groter diskoerseenheid of ook ‘n spreker se idiolek verskillende soorte kommentaar ontlok. Ten opsigte van die drama voeg Elam (1980: 156) toe: “… the metalinguistic function often has the ef­fect of foregrounding language as object or event by bringing it explicitly to the audience’s attention in its pragmatic, structural, stylistic or philosophical aspects.” MacCabe (1989: 135) weer sien metataal in die klassieke realistiese roman as die dele van die teks wat nie tussen aanhalingstekens staan nie en “can state all the truths in the object language those words held in in­verted commas and can also explain the relation of this object language to the real”. In hierdie soorte gevalle gaan dit dus nie oor metataal as sistematiese, genormeerde taalvorm nie, en in die opsig sluit dit aan by Jakobson (1960: 356) se “metalingual” funksie van taal waar daar op die KODE self gefokus word soos in die volgende gesprek: “Die studente het gemassa.” “Wat beteken ‘gemassa’?” Hier wil die spreker dan bloot seker maak dat hy en die ander spreker dieselfde kode gebruik, of andersins wil hy ‘n verklaring vir ‘n aspek van die kode kry.

 
Oor metataal kan Allwood e.a. (1977), Claes (1988), Eimermacher (1977), Lyons (1977) en Schulte-Sasse & Werner (1977) as uitgangspunte gebruik word. Wat die houding van die strukturaliste en post-strukturaliste betref, kan ‘n “reader” soos die van Rice & Waugh (1989) geraadpleeg word, terwyl Elam (1980), Fokkema (1980), Jakobson (1960), Kunne-Ibsch (1977), Louw (1967), MacCabe (1989) en Prince (1973) ingaan op bepaalde beginsels en toepassings.

Bibliografie

Allwood, J., Andersson, L. & Dahl, Ó. 1977. Logic in Linguis­tics. Cambridge: Cambridge University Press.

 
Claes, P. 1988. Echo’s echo’s. Amsterdam: De Bezige Bij.
 
Eimermacher, K. 1977. Het probleem van een literatuurwetenschappelijke metataal. In: Bronzwaer, W.J.M.,
 
Fokkema, D.W & Kunne-Ibsch, E. (reds.). Tekstboek Algemene Literatuurwetenschap. Baarn: Amboboeken.
 
Elam, K. 1980. The Semiotics of Theatre and Drama. London: Methuen.
 
Fokkema, D.W. 1980. An interpretation of ln the Lighthouse with reference to the code of Modernism. FTL, 4.
 
Jakobson, R. 1960. Closing statement: linguistics and poetics. In: Sebeok, T. (ed.). Style in Language. Cambridge: MIT.
 
Kunne-Ibsch, E. 1977. Periodiseren: de historische ordening van literaire teksten. In: Bronzwaer, W.J.M.,
 
Fokkema, D.W. & Kunne-Ibsch, E. (reds.). Tekstboek Algemene Literatuurweten-schap. Baarn: Amboboeken.
 
Louw, N.P. van Wyk. 1967. ‘n Wêreld deur glas. Kaapstad: Nasionale Boekhandel.

 

Lyons, J. 1977. Semantics 1. Cambridge: Cambridge University Press.

 
MacCabe, C. 1989. Realism and the Cinema. Notes on some Brechtian Theses. In: Rice, P. & Waugh, P. Modern Literary Theory. London: Edward Arnold.
 
Prince, G. 1973. A Grammar of Stories. The Hague: Mouton.Rice, P. & Waugh, P. (eds). 1989. Modern Literary Theory. Lon­don: Edward Arnold.
 
Schulte-Sasse, J. & Werner, R. 1977. Einfiihrung in die Litera-turwissenschaft. Miinchen: Fink.
H. Ohlhoff