POËTIEK

Die term poëtiek dui op opvattings en teorieë oor die literatuur as ‘n kunsvorm. In poëtikas. word uitsprake gemaak oor wat die literatuur is, hoe dit funksioneer, watter middele dit gebruik en wat die doel daarvan is. Twee hoofsoorte word onderskei: outeurspoëtiek en genrepoëtiek.

 

Wat die eg. betref, onderskei ons tussen ‘n eksterne en interne outeurspoëtiek.

 

Kommentaar oor eie werk, literêre credo’s, ESSAYS en manifeste is voorbeelde van eksterne outeurspoëtiek. In hierdie eksterne poëtikale geskrifte verduidelik of regverdig outeurs dikwels bloot hul eie skeppende praktyk, maar soms het die uitsprake soveel tiperende waarde dat dit ‘n literêre PERIODE of ‘n algemener kunsopvatting karakteriseer. Martinus Nijhoff se poëtikale essay “De pen op papier” (1961: 1063 e.v.) is van lg. ‘n voorbeeld. Hierdie opstel bevat sy beroemde ALLEGORIE oor die Rottevanger van Hameln, wat aan die digter die raad kom gee om nie met sy eie lippe nie maar met ‘n fluit musiek te maak. Poësie is dus nie die belydenis van die digter se gevoel nie; dit is ‘n instrument om gevoelens buite die digter se ervaring op te wek of te vertolk.

 

Nijhoff verduidelik hiermee nie alleen sy eie voorliefde vir die gestaltevers nie, maar sluit ook aan by ‘n poëtikale tradisie: die “objektiewe” of “*simbolistiese” tradisie wat sedert Mallarmé, Valéry, Rilke, Eliot e.a. ‘n vername deel van die Westerse poëtiek uitmaak (Sötemann, 1985: 100).

 

‘n Digter soos Nijhoff se poëtiese oeuvre is in harmonie met sy poëtiek van objektiwiteit. By ander digters is die relasie tussen poësie en poëtiek veel minder harmonies. Latere poëtikale opvattinge kan ook dramaties van vroeëres verskil. Paul van Ostaijen is só ‘n digter; as klassieke EKSPRESSIONIS, soos hy homself in die opstel “Wies Moens en ik” noem (1979: 328 e.v.), verwerp hy én die poëtiek van sy romantiese fase én die gevoelspoësie van sy jongelingsjare. Of die relasie nou harmonies of disharmonies is, wat ‘n skrywer óór die aard, die funksie, die middele en die doel van die literatuur sê, vorm ‘n belangrike INTERTEKS by sy skeppende werk.

 

Benewens die eksterne, tref ons ook ‘n interne vorm van outeurspoëtiek aan (Sötemann, 1985: 79). In hierdie geval word in die literêre werk self oor die literatuur besin. So ‘n gedig-oor-die-digkuns is D.J. Opperman se “Digter” (in Negester oor Nivevé). Ook Nijhoff se sonnet “De danser” (in Vormen) is ‘n poëtikale gedig. Hier word ín die gedig, versintern dus, oor die poësie gepraat as gesê word dat die wildheid van die kunstenaar se gevoel getem moet word in die kunsvorm (die dans, die digkuns) wat hy beoefen: “Men moet gepoederd zijn, dat in ‘t gelaat/ Alleen het zwart der openschroeiende oogen/ Den waanzin van ‘t inwendig dier verraadt.” In der waarheid is “De danser” op twee maniere ‘n poëtikale gedig: tematies, omdat die gedig oor kuns-as-beheersing handel; IKONIES, omdat hierdie tema juis in die gebonde vorm van die sonnet ter sprake kom. Die vorm demonstreer op die wyse die inhoud.

 

Die status van werkinterne poëtikale uitsprake is ‘n problematiese saak. Uitsprake van bv. ‘n romankarakter oor die ROMANKUNS kan dien om hom te karakteriseer (IRONISEREND, HUMORISTIES; vgl. Droogstoppel in Multatuli se Max Havelaar) of om ‘n gemeenskap waarin sulke denkbeelde moontlik was of is, te teken. In hierdie gevalle word ‘n werkinterne poëtikale KODE gevestig wat nie summier as die kode van die outeur of van sy tyd kan geld nie.

 

Wat die genrepoëtiek betref: die oudste poëtikale geskrif in die Westerse literêre tradisie is Aristoteles se Peri poietikes, ‘n werk waarin hy o.a. die TRAGEDIE definieer. Tot vandag toe geld dit as ‘n prototipe van ‘n genrepoëtiek. Aristoteles werk kontrastief (hy onderskei bv. die tragedie van die EPOS en die KOMEDIE), nie preskriptief nie. Ander klassieke poëtikas is die Ars poetica van Horatilis en Quintilianus se Institutio oratorio. In die MIDDELEEUE en die RENAISSANCE word die klassieke poëtikas herinterpreteer as leerboeke oor die literatuur (retorikas) en die aandag word van fundamentele vrae na praktiese onderrig oor styl- en stelreëls verskuif. Hierdeur word die poëtikas ook preskriptief. So word Aristoteles se opvatting oor die eenheid van handeling in die drama in Lodovico Castelvetro se Poetica (1570) uitgebrei tot die drie eenhede van tyd, plek en handeling. Belangrike dramaturge soos Racine, Corneille en Vondel sou hulle met groot omsigtigheid aan hierdie drie “wette” probeer hou (vgl. die “Berecht” by Vondel se Jeptha). In die moderne betekenis van die woord val die begrip genrepoëtiek in hoë mate met die begrip teoretiese LITERATUURWETENSKAP saam. Van E. Staiger se Grundbegriffe der Poetik (1946) en K. Hamburger se Die Logik der Dichtung (1957) tot by Tzvetan Todorov se The Poetics of Prose (1977) en Johathan Culler se Structuralist Poetics (1975) word poëtikale en literêr-teoretiese vraagstukke in dieselfde wetenskaplike sisteem beskryf. In die jongste ontwikkeling word die poëtiek gesien as ‘n aspek van ‘n LESERSGERIGTE DISKOERSANALISE: opvattinge oor die aard en middele van die literatuur en van literêre soorte word beskou as ‘n stel veranderlike konvensies of kodes wat lesers se leesgedrag bepaal. Die begrip poëtiek verloor hierdeur sy ontologiese betekenis ten gunste van ‘n funksionele betekenis: dit dui nie meer op wat die literatuur is nie, maar op wat lesers met hul poëtikale opvattings dóén (vg. Eagleton, 1983: 9).

 

Bibliografie

Eagleton, T. 1983. Literary Theory: An Introduction. Oxford: Blackwell.

 

Nijhoff, M. 1961. Verzamelde werk 2. Den Haag: Bakker.

Sötemann, A.L. 1985. Over poetica en poëzie. Groningen: Wolters-Noordhoff.

Van Ostaijen, P. 1979. Verzamelde werk: proza 2. Amsterdam: Bakker.

 

L.S. Venter