KORTKORTVERHAAL

Die kortkortverhaal kan getipeer word as ʼn subgenre van die prosa. Die short short story in Amerika en die Kurzgeschichte in Duitsland vertoon sterk ooreenkomste met die kortkortverhaal. Vanweë die eiesoortige aard van die kortkortverhaal, is daar duidelike onderskeidingsaspekte ter sprake in vergelyking met die ander kortkunsvorme soos die KORTVERHAAL, prosagedig, SKETS en ESSAY. Die term “prosas” word ook as gelyknaming vir die kortkort­verhaal aanvaar.

Die belangrikste kriterium vir die tipering van ʼn prosawerk as ʼn kortkortverhaal is uiteraard die lengte van so ʼn teks. Die lengte varieer tussen ongeveer 300 en 1 800 woorde en kan korter maar nie langer wees nie.

Die kortheid van die teks gee aanleiding tot ʼn eiesoortigheid t.o.v. konseptuele en taalmanifestasievorme. Die besondere aard van die kortkortverhaal lê dan juis in ʼn bepaalde hantering van die stofgegewe. Vanweë die feit dat die kortkortverhaal wesentlik in die kategorie EPIEK tuishoort, veronderstel dit dat daar noodwendig ʼn epiese gerigtheid moet wees. (Die onderskeid tussen die kortkortverhaal en die prosagedig is dan juis hierin geleë: die prosagedig is ʼn tipe van die poësiegenre, waar die liriese noodwendig voorop staan.) Die verhaal hoef nie ʼn definitiewe spanningslyn te vertoon nie, maar selfs in assosiatiewe handelingseenhede moet die narratiewe voorop staan. Lombard (1979: 124) sê in dié verband: “Die kort-kortverhaal beskik oor ʼn duidelike aantoonbare verhaalmatigheid.”

Omdat die kortkortverhaal “gespanne, byna kripties in sy gedrongenheid” (Aucamp, 1980) is, word die epiese dikwels vereng tot (ʼn) flitsmoment(e). Dít korreleer met die taalhantering in die LIRIEK. Die liriese element word dan veral vanweë die moontlikheid van metaforiese kriptiek en understatement ʼn belangrike kenmerk van die kortkortverhaal. Vanweë die gedrongenheid sluit die kortkortverhaal ook aan by die dramatiese.

Die KARAKTER(S) in die kortkortverhaal vertoon slegs enkele fasette. In “diggepakte momentopnames” (Botha, 1980: 510) word die gebeure in enkele strak bewegings vertel/gebeeld. Indien daar ʼn aaneenskakeling van handelingsgehele is, word dit dikwels simultaan aangebied. Die RUIMTE is bykans gestileer, en soms is dit bloot ʼn denkruimte. Daar is ʼn verskeidenheid tegnieke van tydshantering in die kortkortverhaal, en die TYD is dié konseptuele element waarmee die meeste geëksperimenteer word. Die vertellersrol is dikwels ʼn narratiewe spel tussen enersyds verskillende VERTELLERS en andersyds ʼn naby en veraf kyk. Die PERSPEKTIEFWISSELING hang nou saam met die tydshantering. Uiter­aard is al die elemente baie dig verweef in ʼn “digter geweefde gedagte-inhoud” (Du Toit, 1974: 18).

Op taalmanifestasievlak het die liriese inslag van die kortkort­verhaal tot gevolg dat die woordgebruik ʼn poëtiese aard het. Prosarym en -ritme dra veral hiertoe by. (Vgl. RYM en RITME (IN DIE PROSA).)

Daar is ʼn verskeidenheid komposisionele wetmatighede wat veral in die kortkortverhaal gedy, waaronder herhaling, parallelismes en anaforiek (vgl. SINTAKSIS (VAN DIE POëSIE) en SINTAKSIS (VAN DIE PROSA)). Die kortkortverhaal leen hom ook tot verskillende metodes van beskryf en beeld en het daarom dikwels ʼn IRONIESE, SATIRIESE, bisarre, ABSURDE, GROTESKE, BURLESKEKOMIESE of vulgêre vertelhouding ten grondslag.

In Afrikaans is daar ʼn verskeidenheid goeie kortkortverhaalbundels, waaronder Dwaalstories (Eugène Marais), Een-en-twintig (Jan Rabie), katastrofes (Breyten Breytenbach), Liefs nie op straat nie (John Miles) en Aandenking vir ʼn vry man (Jan van Tonder).

 

Bibliografie

Aucamp, H. 1980. Binneflapteks. In: Müller, P. Werf in die rûens. Kaapstad: Tafelberg.

Botha, E. 1980. Prosa. In: Cloete, T.T. (red.). Die Afrikaanse literatuur sedert Sestig. Kaapstad: Nasou.

Du Toit, P. A. 1974. ʼn Ondersoek na Afrikaanse beskouinge oor die kortverhaal met besondere verwysing na enkele Afrikaanse verhale. M.A.-verhandeling, Universiteit van Rhodes, Grahamstad.

Lombard, J. 1979. Die kort-kortverhaal in Afrikaans. M.A.-verhandeling, Universiteit van Stellenbosch, Stellenbosch.

Van der Merwe, T. 1984. Tipering van die Afrikaanse kortverhaal. Potchefstroom. (Wetenskaplike bydraes van die PU vir CHO. Reeks A: Geesteswetenskappe, nr. 47.)

 
Tom Gouws