BURLESKE

Die woord burleske (Fr.: burlesque, ontleen aan It.: burlesco: It.: burla: skerts, bedrog, uit Lat.: burra: ‘n wolpluisie, ‘n nietigheid, beuselagtigheid, gekheid; burla: ‘n klug) fokus die aandag op die kernbetekenis van die literêre term: ‘n verspot-grappige voorstelling/nabootsing.

Burleske is die genelogiese naam vir die literêre kategorieë karikatuur, PARODIE, TRAVESTIE.

Teoreties kan die verskillende soorte burleske in skerp gedefinieerde kategorieë ingedeel word, maar meermale is hulle gelyktydig aanwesig. Belangriker as die onderskeidinge tussen hulle is die dinge wat hulle gemeen het: (i) alle vorme van burleske is komiese kuns; (ii) die lagwekkende, spottende effek word telkens bewerkstellig en bereik deur die tegnieke van karikaturale oordrywing, misplaaste onverenigbare jukstaposisies en spottend-ironiese nabootsing; (iii) essensieel is die diskrepansie tussen onderwerp en styl: (a) ‘n relatief ernstige, belangrike onderwerp word bespotlik gemaak deurdat dit op triviale en GROTESK-ligsinnige wyse behandel word (sg. lae burleske; vgl. TRAVESTIE), of (b) ‘n relatief onbeduidende onderwerp word belaglik gemaak deurdat dit met voorgewende waardigheid en ironiese erns benader word (sg. hoë burleske; vgl. PARODIE).

Die besondere genot wat die burleske verskaf, is veral toe te skryf aan die feit dat die onderwerp wat belaglik gemaak word, hoewel indirek voorgestel, tog herken word. Dit kan SATIRIES funksioneer of bloot net vermaak en amuseer.

D.J. Opperman se parodie op S.J. Pretorius se digstyl, toon iets van die burleske (Grové, 1988: 20): Die gegewe

Op ‘n Sondagmiddag loop die weduwee Viljee
in swart geklee
met twee kolliehonde langs die see.

word deur Opperman soos volg (in Pretorius-styl) nageboots:

O Here! ek word so opgewonne
as ek die arme honne
so kaalpoot sien draf,
maar wat kan ek, we­-
duwee Viljee,
doen met my pullover en staf?

Die burleske kom in al drie literêre genres voor, maar word meestal geassosieer met een of ander populêre vorm van verhoogvermaak. Die teater-burleske is so oud soos die KOMEDIE self: Aristophanes (450-385 v.C.) se klassieke komedies het elemente van karikatuur en parodie en travestie bevat (vgl. Die paddas).

‘n Eietydse genre van die burleske is die satiriese revue (soos beoefen deur Pieter-Dirk Uys). Sonder enige literêre pretensies is ook die Amerikaanse tipe variété-voorstelling waarin boerse komediante en ontkleedansers optree en ‘n swaar aksent geplaas word op seks.

 

Bibliografie

Grové, A.P. 1988. Letterkundige sakwoordeboek vir Afrikaans. Goodwood: Nasou.

Jump, J.D. (ed.). 1972. Burlesque. London: Methuen. (The Critical Idiom.)

Preminger, A. (ed.). 1965/1979. Princeton Encyclopedia of Poetry and Poetics. London: Macmillan.

Shaw, H. 1972. Dictionary of Literary Terms. New York: McGraw-Hill.

 

Réna Pretorius