KORTKUNS

Kortkuns of kortprosa is ʼn sambreelterm wat gebruik word om alle kort prosawerke soos die KORTVERHAALKORTKORTVERHAAL of prosas, SKETSPROSAGEDIG en ESSAY onder een begrip in een kategorie te plaas. Die benaming word dan enersyds gebruik as kategorisering vir ooreenkomstigheid en andersyds as onderskeidingsterm vir die korter prosavorme teenoor die langer prosavorme soos die NOVELLE of ROMAN. Aucamp (1969: 15) hou die volgende kenmerke as tiperend van die kortkuns in die algemeen voor: “poëtiese elemente, oombliklikheid, gekonsentreerdheid … ʼn strewe na ʼn eenheidseffek … dit moet ʼn storie vertel…” Van der Merwe (1984: 50) verkies Botha (1980: 347) se term “kortprosa” en motiveer dit só: ” ‘Kortprosa’ dui op kortheid, en die feit dat die prosa as genre bedoel word en dat geen evaluatiewe waarde daaraan geheg kan word nie, maak dit ʼn geskikter term as ‘kortkuns’.”

 

Bibliografie

Aucamp, H. 1969. Die belydenis van ʼn kortkunsbeoefenaar. Standpunte 85, 22(1).

Botha, E. 1980. Prosa. In: Cloete, T.T. (red.). Die Afrikaanse literatuur sedert Sestig. Kaapstad: Nasou.

Van der Merwe, T. 1984. Tipering van die Afrikaanse kortverhaal. Potchefstroom. (Wetenskaplike bydraes van die PU vir CHO. Reeks A: Geesteswetenskappe, nr. 47.)

Raadpleeg ook:

Aucamp, H. 1978. Kort voor lank: opstelle oor kort prosatekste. Kaapstad: Tafelberg.

Aucamp. H. 1986. Die blote storie: ʼn werkboek vir kortverhaalskrywers. Kaapstad: Tafelberg.

 
Tom Gouws