MONOLOOG

‘n Monoloog is ‘n rede van ‘n sekere lengte wat deur een persoon uitgespreek word. Sommige kritici onderskei tussen die monoloog waar daar wel toehoorders is, hoewel hulle nie aktief aan die gesprek deelneem nie, en die alleenspraak (soliloquy), waar die spreker heeltemal alleen is. Die maatstawwe wat hier gebruik word, lewer probleme op. Aan die een kant is dit moeilik om vas te stel hoe lank ‘n rede moet wees om as monoloog te kwalifiseer. Aan die ander kant is die afwesigheid van toehoorders nie altyd deurslaggewend nie. Sekere dialooggedeeltes kan die aard van ‘n monoloog hê omdat almal met een spreker se opinie saamstem; daarteenoor het sekere alleensprake ‘n dialoogkarakter omdat botsende standpunte teenoor mekaar gestel word. In die gewone spraakgebruik word daar egter nie tussen monoloog en alleenspraak onderskei nie.

In die Griekse TRAGEDIE is daar min egte alleensprake vanweë die voortdurende teenwoordigheid van die koor, maar daar is enkeles, soos Prometheus se klag oor sy folteringe, of Ajax se laaste rede vóór sy selfmoord; die proloogredes van Euripides val ook in hierdie klas. Daar is egter baie monoloë waar die koor slegs ‘n passiewe toehoorder is. Met die verdwyning van die koor kom daar al hoe meer alleensprake in die Griekse en Latynse KOMEDIE voor en hulle dien veral om die ingewikkelde intrige te verduidelik. In die DRAMA van die RENAISSANCE speel die monoloog ‘n belangrike rol, en dit bly so tot met die drama van die ROMANTIEK.

Die gebruik van die monoloog in hierdie dramas berus op die konvensie dat die karakters in ‘n drama hardop dink, anders as mense in die werklike lewe. Daardeur kan sekere inligting oorgedra word wat die VERTELLER in ‘n ROMAN gewoonlik self meedeel. Die monoloog kan dus gebruik word om die EKSPOSISIE te vergemaklik, veral in proloë aan die begin van die drama waar die voorgeskiedenis en huidige omstandighede verduidelik word. ‘n Monoloog in die begin van ‘n latere bedryf kan ook dien om die veranderde situasie te skets. In die KLASSISISTIESE drama, waar die reëls vereis het dat die verhoog nooit leeg moet wees nie, het die monoloog dikwels die verbinding tussen verskillende tonele gevorm. Soms is ‘n monoloog ook as afsluiting aan die einde gebruik.

Die vernaamste funksie van die monoloog is egter om tot die karakteruitbeelding by te dra deur die diepste gevoelens van ‘n KARAKTER te openbaar, gevoelens wat hy nie altyd openhartig aan ander kan blootlê nie. Dit kan ‘n liriese ontboeseming wees of ‘n meer beredeneerde ontleding van die situasie, soos in Hamlet se beroemde monoloog “To be or not to be”. Veral treffend is die monoloog waarin ‘n innerlike botsing uitgebeeld word: die karakter stel verskillende gevoelens, motiewe of oorwegings teenoor mekaar en kom uiteindelik tot ‘n besluit wat ‘n beslissende invloed op sy lewe het. So ‘n monoloog word alreeds in Euripides se Medeia gevind; d.i. veral algemeen by Corneille en Schiller waar die botsende oorwegings met groot retoriese krag uiteengesit word.

Namate daar al hoe meer na ‘n werklikheidsgetroue uitbeelding in die drama gestreef is, het die monoloog in onguns geraak, veral in die 19e eeu. Dit het egter nie heeltemal verdwyn nie, maar word nou uit ander oorwegings gebruik, soos M. Pfister (1982) aangetoon het. In die moderne drama dien dit om karakters te tipeer wat nie wil of nie die vermoë het om met ander mense te kommunikeer nie, en dus met hulleself praat. Die taal van hierdie monoloë is ook anders; die gedagtes is nie mooi logies gerangskik nie, maar volg op mekaar soos hulle spontaan deur assosiasies opgeroep word. By Shakespeare word al ‘n aanloop tot hierdie soort monoloog gevind. Hierdie gebruik van die monoloog word tot sy uiterste gevoer in daardie dramas wat geheel en al bestaan uit die monoloog van ‘n enkele karakter, die sg. monodramas, bv. Krapp’s Last Tape van Beckett.

In Afrikaans is daar twee monodramas van Henriette Grové in die bundel Halte 49 en twee monoloë.

Oor die monoloog skryf Pfister (1982: 180-195) en Una Ellis-Fermor (1945: 106—112). Schadewaldt (1926) bespreek die monoloog by die Grieke, Clemen (1964) by Shakespeare en Meltzer (1974) die monoloog in die tyd van die Stuarts.

 

Bibliografie

Clemen, W. 1964. Shakespeare’s Soliloquies. London: Cambridge University Press.

Ellis-Fermor, U. 1945. The Frontiers of Drama. London: Methuen.

Meltzer, H.M. 1974. Der Monolog in der Tragödie der frühen Stuart-Zeit. Bern: Lang.

Pfister, M. 1982. Das Drama. München: Fink.

Schadewaldt, W. 1926. Monolog und Selbstgespräch: Untersuchungen zur Formgeschichte der griechischen Tragödie. Berlin: Weidemann.

 
P.J. Conradie