ROCOCO

Die Rococo is een van die kulturele bewegings wat in die loop van die 18e eeu sy aan sy met ander strominge (die VERLIGTING, die KLASSISISME, die Eeu van die Rede) bestaan het. Dit kan as die sleutel tot 18e-eeuse kuns en denke beskou word.

In die kunste (skilderkuns, beeldhoukuns, argitektuur) kan die Rococo beskryf word as ‘n dekoratiewe styl wat op die BAROK gevolg het; dit het grasie en sjarme in die plek van die ernstige, hoogdrawende waardigheid van die styl van Lodewyk XIV gestel. Die woord rococo is afgelei van die Franse woorde coquillage (skulp) en rocaille (klipwerk). Die kenmerke van die Rococo-styl is die wisselwerking van kurwes en kontrakurwes van skulpe, asimmetriese motiewe, algehele vryheid en onreëlmatigheid t.o.v. RITME. Die styl het in Frankryk ontstaan en vandaar versprei na buurlande in Sentraal-Europa en selfs na Rusland en Latyns-Amerika.

As kulturele beweging volg die Rococo op die Barok-Klassisisme van persone soos Lully, Boileau, Racine en Molière en gaan vooraf aan die rasionele neo-klassieke strominge (Voltaire), die NATURALISME (Chénier) en die voor-romantiese bewegings (Rousseau, Greuze). Dit was ‘n reaksie teen die ernstige politieke en kritiese werke van die Verligting, wat as stroming naas die Rococo bestaan het. Die Rococo word deur lighartigheid, humor, subtiliteit, verfyndheid en grasie gekenmerk.

Die Rococo-beweging kan nie suiwer chronologies geplaas word nie, maar mens kan sê dat daar twee tydperke was wat daartoe aanleiding gegee het: 1685—1700 (Bérain, Hamilton, Fontenelle) en 1700—1715 (Perrault, Lepautre, Watteau). Die eintlike Rococo het egter ongeveer teen 1715 begin en tot 1750 geduur, hoewel dit nie moontlik is om skrywers volledig en kunsmatig in hierdie enkele estetiese stroming in te deel nie.

In Duitsland ontwikkel die Rococo in ‘n literêre styl waarvan die vorm grasieus, lig en aangenaam was. Die Duitse skrywers het ‘n versigtige keuse uit Franse bronne gemaak, met die uitskakeling van sekere aspekte van die Rococo, soos die intellektuele materialisme, die afkeer van die kerklui, die dikwels striemende sosiale satire (Jakobynse), die metafisiese anargisme van die libertyne en die sinisme van persone soos die Crébillon fils, Voltaire en Choderlos de Laclos.

Op die gebied van die teater word die Rococo verteenwoordig deur die KOMIESE opera, dikwels met bykomende Oosterse invloede, en die galante KOMEDIES van Fontenelle, Coypel, Darcourt en veral van Marivaux, die meester van die Rococo in sy komiese werke. Die delikate skilderye, genoem fêtes galantes, van Watteau is op die verhoog veraanskoulik deur Marivaux met sy Le jeu de I’amour et du hasard, Surprise, Seconde surprise de I’amour en Fausses confidences. Meer as in enige ander kunsvorm vind mens in die Rococo subtiel geskakeerde detail. Die onderwerpe van die Rococo-teater is die vrou en die liefde.

Die teatersielkunde is nie meer dié van die stereotiepe klassieke teater nie, maar vloeibaar; dit toon en bestudeer die psigologiese prosesse en oorgangsfases in die fynste besonderhede in ‘n styl wat lig is hoewel dit in die inhoud ernstig mag wees.

Die Rococo-digters is geïnspireer deur die klassieke Griekse en Latynse skrywers soos Horatius, Catullus, Ovidius en Vergilius, en Franse skrywers soos La Fontaine en Marot, asook Engelse skrywers soos Addison en Pope. Hulle het hulle lewensfilosofie ontleen aan Epikurus en Shaftesbury — “pluk die dag” (carpe diem).

Die Rococo-digkuns toon ‘n verskeidenheid aangesigte — ‘n samelewing wat in prag en praal lewe, delikate vrouefigure met elegante kleding en opskik, galante komplimente, blomruikers, ‘n bietjie erotiek, liefde en die daarmee gepaardgaande plesier, pyn en wispelturigheid. Die Rococo het voorts talryke mites en simbole gehad, soos Venus en Pan, Liefde en Cupido, ens.

Die Rococo-literatuur gebruik as stilistiese middele welsprekendheid, en die reëls van die retorika en die METAFOOR. Ritmiese harmonie word bo RYM verkies en die hoflike PERIFRASE word gebruik saam met kort en onreëlmatige verse en prosa wat met poësie gemeng word.

Skrywers wat as verteenwoordigers van die Rococo-styl beskou kan word, is o.a.: Marivaux (Le jeu de I’amour et du hasard), Hamilton, Fontenelle, Sheridan (in sy komedies), Christoph Wieland (Die komischen Erzählungen), Friedrich von Sallet, Henry Fielding (Tom Jones), Daniel Defoe (The Adventures of Moll Flanders), Swift, met sy bytende satire en humor (Gulliver’s Travels) en Beaumarchais (Le manage de Figaro).

Die Rococo is geleidelik teen ongeveer 1760 vervang deur die NEO-KLASSIEKE styl wat die klassieke opvatting van die kunste beliggaam het. Die Rococo-literatuur het die weg gebaan vir die ROMANTIEK en sy sentimentaliteit, en vir die SIMBOLISME van die daaropvolgende eeu.

 

Bibliografie

Ammon, H. 1951. Deutsche Literaturgeschichte in Frage und Antwort. Bonn: Diimmlers.

Anger, A. 1962. Literarisches Rokoko. Stuttgart: Metzler.

Dieckmann, H. 1968. Reflections on the use of Rococo as a period concept. In: Demetz, P., Greene, T. & Nelson, L. (eds). The Disciplines of Criticism. New Haven: Yale University Press.

Millon, H. 1968. Baroque & Rococo Architecture. London: Studio Vista.

Norberg-Schultz, C. 1974. Late Baroque & Rococo architecture. New York: Abrams.

Schönberger, A. 1960/1963. The Age of Rococo (transl. D. Woodward). London: Thames & Hudson.

Senter, A. 1972. Baroque and Rococo Art. London: Thames & Hudson.

Simon, R 1972. Dizionario critico della letterature francese. Vol. 2. Torino: UTET.

 
Hilda M.B. Thomas