NEO-KLASSISISME

Die Neo-Klassisisme is ‘n herlewingstyl, nl. ‘n herlewing van ‘n vroeër styl wat as klassiek beskou word. In hierdie opsig ontstaan ‘n probleem: “Omdat de term … uiterst vaag van inhoud is (welke vroegere periode beschouwt men als klassiek en wat is het in die vroegere periode dat als inspirerend voorbeeld dient?), bleek het mogelijk deze benaming op geheel verschillende stromingen toe te passen. Zij wijst dus eerder een gekwalifiseerde periode aan in een nationale literatuurgeschiedenis dan een algemene Europese stroming”, aldus J.G. Bomhoff in die Moderne encyclopedie der wereldliteratuur.

Die Neo-Klassisisme kom in sowel die kunsgeskiedenis as die literatuurgeskiedenis voor. Dit kom in die RENAISSANCE en in die 18e eeu voor (1660—1780), is ‘n reaksie teen die ROCOCO en vorm verder ‘n teenstelling met die ROMANTIEK. Volgens J.T. Shipley in die Dictionary of World Literature kan slegs die werke wat ‘n herlewing van die klassieke oudheid is as neo-klassisisties beskou word: “work that fails to recapture that spirit is pseudo-classical”.

Volgens G. von Wilpert in die Sachwörterbuch der Literatur, gaan dit in die Neo-Klassisisme nie om ‘n presiese weergawe van die werklikheid nie. Tiperend van die Neo-Klassisisme in die algemeen is ‘n beheerstheid, ‘n elegansie en noukeurigheid in taalgebruik, aandag aan die struktuur van die werk, ‘n klem op die rasionele en logiese, balans, harmonie, asook goeie smaak en dekorum.

Die literatuur moes in diens staan van die mensdom, daarom moes dit vir die leser ‘n aangename ervaring wees, maar ook aan hom inligting verskaf en sy gedrag korrigeer.

Die ESSAY, die BRIEF en die ODE was gewilde genres. Verder speel SATIRE, morele onderlegging, PARODIëRING en die BURLESKE ‘n belangrike rol. Die literatuur het dikwels ‘n didaktiese inslag. In die poësie was rymende koeplette ‘n gewilde digvorm. Reëls was veral belangrik vir die neo-klassisistiese skrywers; hulle was dus “painstaking craftsmen”, volgens J.A. Cuddon in A Dictionary of Literary Terms. Die reëls is ontleen aan die werk van die Klassieke outeurs soos Horatius.

In die Engelse literatuurgeskiedenis omsluit die Neo-Klassisisme die periode van 1650—1750. Dit kom as reaksie op die Renaissancestyl van die Elizabethaanse periode. Die klem val nou op ‘n meer rasionele benadering tot die kuns. Die Latynse literatuur en die Franse klassieke literatuur dien as voorbeeld. Vakmanskap neem ‘n belangrike plek in. Te veel oorspronklikheid word ontmoedig en die literatuur word gekenmerk deur ‘n ewewigtigheid en beheerstheid. Enkele eksponente is Dryden, Pope, Addison, Goldsmith en Swift.

In Frankryk is die Neo-Klassisisme ook die Romaanse skool genoem. Dit kom as reaksie teen die SIMBOLISMEen die sg. vormloosheid van die VERS LIBRE. Die klem val op ‘n “vormlijke schoonheid” soos ‘n mens dit aangetref het in die werk van Ronsard, Racine en Chénier. Jean Moreas is ‘n verteenwoordiger van die Neo-Klassisisme in Frankryk.

In Duitsland was die Neo-Klassisisme ‘n reaksie teen die NATURALISME en die IMPRESSIONISME. Dit “streeft … ca 1905 naar volstrekt geldende esthetische maatstaven, ontleend aan een bezinning op de antieke kunst” (aangehaal uit Moderne encyclopedie der wereldliteratuur) Sake wat veral van belang was, is taalbeheersing, verstegniek en vorme wat ‘n streng beheersing van die kunstenaar vereis. Die Neo-Klassisisme het hier nie veel kreatiewe werk opgelewer nie, maar wel ‘n aantal teoretici soos P. Ernst (Der Weg zur Form, 1906), W. von Scholz (Gedanken zum Drama, 1904), S. Lublinski (Balanz zur Moderne, 1905) en G.R. Binding.

In die Nederlandse literatuurgeskiedenis word die term Neo-Klassisisme nie baie gebruik nie. Carel Vosmaer kan as ‘n neo-klassikus beskou word en teen 1910 tref ‘n mens neo-klassieke spore aan in die werk van Geerten Gossaert en ‘n paar digters van die 1910-generasie.

 

Bibliografie

Heier,E. 1981. Ludwig Heinrich von Nicolay (1737—1820) as an exponent of Neo-Classicism — Bouvier. (Studien zur Germanistik, Auglistik und Komparatistik.)

Low, A. 1989. Idolatry, Iconoclasm, and the beauty of form. Christianity and Literature, 38(3).

 
Anna-Marie Bisschoff