NEO-ROMANTIEK

Die Neo-Romantiek is ‘n stroming wat teen 1900 veral in die Europese prosa voorkom. Dit volg as reaksie op die voorafgaande REALISME en NATURALISME. In die Neo-Romantiek het die kunstenaar sy rug na die alledaagse werklikheid gekeer — soos die term aandui, is dit ‘n herhaling van die Romantiese: “In de neoromantiek neemt de verbeelding, de fantasie een belangrijke plaats in met een meer suggererende dan beschrijvende stijl, meer aandacht voor het muzikale dan het pikturale” (aangehaal uit Grote Nederlandse Larousse encyclopedie, 17). Neo-romantici spits hulle verder op die verlede toe (veral die Antieke); daarom neem die HISTORIESE ROMAN as subgenre ‘n belangrike plek in die Neo-Romantiek in. Kenmerkend van hierdie stroming is verder die belangstelling in vreemde lande (veral lande met ‘n eksotisme), die utopiese, die verre toekoms, die SIMBOLIESE, die SPROKIESAGTIGE, SAGESMITES en ook okkultisme. Dus: aspekte wat sterk op die verbeelding aanspraak maak. Tiperend van die Neo-Romantiek is ook die sentimentaliteit, morbiditeit, die wegskram van alles wat skrikwekkend is (vgl. Uri, 1955: 4). Knuvelder (1961: 181) sê dat dit in die Neo-Romantiek in wese gaan om “de predominantie van de eigen psyche in haar verschillende aspecten”. Dit gaan dus wesenlik om die weergawe van die eie innerlike lewe.

Die voorkoms van die Neo-Romantiek as stroming is in ‘n groot mate ‘n uitvloeisel van die mens se begeerte om te ontvlug uit sy hede. FANTASIE en verbeelding het in die verlede al geblyk goeie toevlugsoorde te wees. Vandaar die neo-romantici se verknogtheid aan die verlede en die geestelike terugbeweeg daarheen.

Die Neo-Romantiek het sy oorsprong in Duitsland in 1899 toe Ricarda Huch haar werk Die Blütezeit der Romantiek gepubliseer het. Duitse verteenwoordigers van die Neo-Romantiek is mense soos E.T.A. Hoffmann, in wie se werk die klem op die fantasie val; Freiherr von Eichendorff, wat hom toespits op natuurverering; Novalis, in wie se werk die MISTIEKE en religieuse sterk figureer, en Hölderlin. Neo-romantiese digters is bv. Stefan George, Hugo von Hoffmahnsthal, Alfred Neumann, Rainer Maria Rilke en Hermann Hesse.

In Frankryk ontstaan die Neo-Romantiek eweneens as reaksie op die Naturalisme. Dit het veral betrekking op die prosa van mense soos Villiers de I’Isle Adam, Huysmans, Barrès en Rousseau.

In Engeland kom die Neo-Romantiek ook hoofsaaklik in die prosa voor. Trouens, die Neo-Romantiek is, soos hierbo genoem, hoofsaaklik ‘n prosarigting. Engelse neo-romantici is o.a. Stevenson, Wilde en Yeats.

In die Nederlandse literatuur het die Neo-Romantiek ‘n hele paar verteenwoordigers, hoofsaaklik in die prosa. Name wat hier genoem kan word, is dié van Arij Prins, Jacobus (Jac) van Looy, Adriaan van Oordt, Arthur van Schendel, Aart van der Leeuw, P.H. van Moerkerken, August Vermeylen, A. den Doolaard, Albert Helman en Johan Fabricius.

Knuvelder (1961: 181) beskou Prins en Adriaan van Oordt as die voorlopers van die Neo-Romantiek in die Nederlandse literatuur.

Prins voer die Realisme tot ‘n hoogtepunt in werke soos Een koning (1897) en De heilige tocht (1913). ‘n Besliste neo-romantiese element in genoemde werke is die Middeleeuse milieu waarin die gebeure afspeel. In hierdie opsig is Prins se werk dus vernuwend van aard, hoewel dit nog bly staan in diens van die realistiese en nog nie as suiwer neo-romanties beskou kan word nie.

In Van Oordt se werk Irmenlo (1896) en Warhold (1906), speel die gebeure in die Middeleeue af. Tipies neo-romanties val die klem weer op die verre verlede.

In die Vlaamse skrywer August Vermeylen se roman De wandelende Jood (1906) tref ‘n mens reeds afwyking aan van die naturalistiese idee dat die mens die slagoffer is van sy omgewing en oorerflikheid. Die hoofkarakter word “getekend als een figuur, die met eigen wil strijdt en streeft of wel los is van de realiteit” (Van Leeuwen, 1935: 141). (Vgl. NATURALISME.) Die werk is gebaseer op die LEGENDE van die wandelende Jood — die neo-romantici het geweldig aangetrokke gevoel tot legendes, juis omdat dit so sterk op die verbeelding aanspraak maak.

Van Looy word as ‘n volbloed verteenwoordiger van die Neo-Romantiek beskou. Uri (1955: 9) verwys na hom as ‘n “picturaal proza-schrijver”; d.w.s. die beskrywende oorheers altyd sterk in sy prosa. ‘n Mens sou dus kon redeneer dat Van Looy eerder as ‘n realis beskou kan word, maar hierdie “tekening” in pen het dikwels te doen met die emosionele waarin die neo-romantiese element sterk na vore tree. Sy prosa het verder dikwels, tipies van die Neo-Romantiek, ‘n simboliese inslag.

Prins debuteer in 1885 met ‘n bundel realistiese sketse met die titel Uit het leven, maar die res van sy oeuvre staan in die teken van die Neo-Romantiek: die gebeure speel altyd af in die verre verlede, en die fantasie speel ‘n groot rol in die gebeure: “Prins is in zijn diepste wezen een romanticus: fantasie, droom en visioen zijn de sterkste krachten in hem; er hangt een doodsdreiging over verschillende delen van zijn werk, welke steeds suggestief, meermalen angstaanjagend is. Het bizarre, het gruwelijke, het raadselachtige van voorbijgegane tijden trekt hem meer dan de normale en vlakke gang van het dagelijks leven der mensen in de eigen tijd” (Van Leeuwen, 1935: 167). Soos uit die aanhaling blyk, wend Prins hom in sy skryfwerk (tipies van die Neo-Romantiek) weg van die alledaagse werklikheid. Geen wonder nie dus dat Uri (1955: 30) na hom verwys as ‘n visionnair prozaist.

Van Leeuwen (1935: 185) beskou Van Schendel as “de gaafste, klaarste en zuiverste vertegenwoordiger van de nieuwe romantiek”. In Van Schendel se werk is daar nie soos by die naturaliste en realiste ‘n preokkupasie met die gedetailleerde beskrywing van dinge nie. Wat hom betref, dien die uiterlike aspekte bloot om die innerlike gebeure in die karakters meer geloofwaardig te maak. Dit het dus slegs ‘n ondersteunende funksie en beteken op sigself nie so veel nie. Tipies van die Neo-Romantiek val die klem in Van Schendel se werk op die innerlike van die karakters. Ook die droom neem dikwels ‘n belangrike plek in sy werk in. Later bereik hy ‘n vereniging tussen droom en werklikheid, veral in werke soos Het fregatschip en De waterman.

Van der Leeuw was digter sowel as romanskrywer. Van Leeuwen (1935: 213) noem sy werk romanties-idillies, “vervuld van droom en mystiek”. Die droom en mistiek is albei aspekte wat, soos vroeër vermeld, ‘n sentrale plek in die Neo-Romantiek inneem. Die verlede speel in Van der Leeuw se werk ook ‘n rol, soos ‘n mens dit dikwels in die werk van die neo-romantici aantref, maar daar is ‘n aksentverskil by hom. Soos voorheen genoem, wou die mense in hierdie jare as reaksie op die Naturalisme en Realisme aan die werklikheid ontvlug. Dit doen hulle deur die droom en ‘n inlewing in die verlede. Daarom neem hierdie twee sake ‘n belangrike plek in die Neo-Romantiek in. By Van Schendel speel die verlede nie ‘n belangrike rol omdat dit die weg na ontkoming aan die werklikheid is nie; in sy werk word hierdeur juis lig op die werklikheid gewerp, wat “het leven van alledag een nieuwe, gelukmakende waarde verleent” (Van Leeuwen, 1935: 213).

P.H. van Moerkerken se werk kan as wysgerig-romanties beskou word: “Wij vinden bij hem niet de machtige kleurrijke visioenen van Prins; evenmin de tedere, doorzichtige iets sentimentele dromen van Van Schendel; eerder gaat Van Moerkerken verder op de weg, die Van Oordt insloeg, in wiens werk wij de worsteling opmerken om de overwinning van een idee over de drift der zinnen” (Van Leeuwen, 1935: 221).

Soos uit die aanhaling blyk, val die klem in Van Moerkerken se werk op die idee. Sy *Siklus van ses werke De gedachten der tijden wat tussen 1918 en 1924 verskyn het, word as die betekenisvolste in sy oeuvre beskou. Die tema van hierdie reeks romans is die mens se soeke na ‘n beter lewe en hoe dit hom telkens te staan bring voor vrae waarvoor nie antwoorde beskikbaar is nie.

Al was die Neo-Romantiek hoofsaaklik ‘n prosarigting, kan ‘n mens nogtans tendense van die Romantiese en Neo-romantiese in die poësie uitwys.

Die Tagtigers in Nederland het hulleself as nie-romanties beskou. Tog is hulle werk met die klem op die droom, die skoonheidverheerliking en die positiewe aandag aan die natuur in wese romanties.

Uri (1955: 7) is ten regte of onregte die mening toegedaan dat alle poësie wesenlik romanties van aard is en dat ‘n mens daarom nie kan praat van ‘n neo-romantiese ontwikkeling in die poësie nie.

In 1914 breek die Eerste Wêreldoorlog uit. Hiermee word die mense en die kunstenaars uit hulle droom van die verlede geruk en op harde wyse teruggebring na die hier en nou. Op eie manier het die oorlog weer nuwe stof gebring waaruit skrywers vir hulle werk kon put.

Hoewel die Neo-Romantiek as stroming met die uitbreek van die oorlog die nekslag toegedien is, kan ‘n mens nie sê dat die Romantiese tot ‘n einde gekom het nie. Romantiese trekke word dikwels in die werk van moderner prosaïste aangetref, bv. Willem Elsschot, Gerard Walschap, Simon Vestdijk, Theun de Vries en F. Bordewijk. Dit is ook nie vergesog om te sê dat romantiese trekke in die werk van heel moderne (Nederlandse) prosaïste voorkom nie. Dit blyk veral uit die werk van Maarten ‘t Hart met sy klem op die musikale en die positiewe terme waarin die natuur beskryf word. In De herfst zal schitterend zijn van Jan Siebelink speel die droom ‘n groot rol, terwyl Cees Nooteboom se Een lied van schijn en wezen in sy geheel werk met die verwisselbaarheid tussen werklikheid en illusie. ‘n Lang bespreking oor die Neo-Romantiek verskyn in Momente in die Nederlandse letterkunde (1988) van Van der Elst, Ohlhoff en Schutte.

 

Bibliografie

Knuvelder, G. 1961. Handboek tot de geschiedenis der Nederlandshe letterkunde. Deel 4.2e herz. dr. ‘s-Hertogenbosch: Malmberg.

Rispens, J.A. 1938. Richtingen enfiguren in de Nederlandse letterkunde na 1880. Kampen: Kok.

Uri, S.P. 1955. Vlucht der verbeelding: de neo-Romantiek bij twaalf Nederlandse prozaschrijvers en —schrijfiters van de periode 1890—1920. Groningen: Wolters-Noordhoff.

Van Leeuwen, W.L.M.E. 1929. De Nederlandsche dichtkunst sinds 1880. Groningen: Wolters-Noordhoff.

Van Leeuwen, W.L.M.E. 1935. Naturalisme en Romantiek: proza en kritiek in Nederland sinds 1880 met bloemlezing. Groningen: Wolters-Noordhoff.

Van Leeuwen, W.L.M.E. 1936/1951. Drift en bezinning: beknopte geschiedenis der nieuwe Noord-Nederlandsche letterkunde. Amsterdam: Wereld-Bibliotheek.

 
Anna-Marie Bisschoff