MISTIEK

Mistiek is ‘n begrip in die godsdiens en literatuur wat egter ook algemeen gebruik word in die onnoukeurige sin van die “geheimsinnige” of “vreemde”. Tradisioneel is die betekenis daarenteen duidelik godsdienstig en die woord vind sy oorsprong in die Griekse misterie-godsdienste en is afgelei van die Griekse muein (om die oë te sluit) en mustérion (geheimenis). Die begrip het uiteenlopende definisies, maar kan wesenlik omskryf word as die herkenning van en die ontmoeting en vereniging met die goddelike.

Die kern van die mistiek is hierdie mistieke ervaring waarin die ervaarder (mistikus) ‘n eenwording met die godheid (in watter gestalte ook al) ondervind, iets wat alleen moontlik is indien die mistikus van sy menswees verlos kan word.

Die mistiek strek oor godsdiensgrense heen en die siening van die godheid kan verskillende vorme aanneem. In nie-Christelike verskyningsvorme soos die Taoïsme het die mistiek dikwels ‘n panteïstiese karakter, terwyl die Soefistiese tradisie binne die Islam ‘n brug vorm tussen dié karakter en die sterker beperkte siening van die godheid in die Christelike tradisie.

Die Christelike mistiek, die tradisie wat in die Afrikaanse literatuur sentraal staan, stuit voortdurend teen die probleem van die kloof tussen mens en God wat met die sondeval ontstaan het en wat nie deur die mens oorskry kan word nie.

Die aard van die mistieke vereniging is universeel. Die mistikus is tradisioneel ‘n reisiger onderweg na die vereniging met die godheid en is aanvanklik hierin ‘n aktiewe faktor soos hy hom van die aardse en vleeslike probeer losmaak. Hierdie proses, bekend as die via mystica (die Latynse benaming spruit uit die uitgebreide mistieke literatuur in die MIDDELEEUE), word gewoonlik in drie dele onderverdeel: die via purgativa (reiniging), via illuminativa (verligting) en die uiteindelike via unitiva (vereniging). Ten spyte van sy pogings bly die mistikus ‘n passiewe vennoot, wagtend op die oomblik van absolute ekstase. Die oomblik kom onverwags en die onmiddellike aanraking van die godheid vul die mistikus met vreugde en vernietig alle opvattings van tyd en ruimte. Terselfdertyd het dit ‘n vervlietende karakter en die mistikus vind homself terug in die alledaagse werklikheid, bewus daarvan dat sy ervaring buite die normale menslike ervaringsfeer lê.

Maar juis omdat die mistieke ervaring so ‘n intense belewenis is, voel die mistikus daartoe gedwing om daarvan te vertel. In sy soeke na die verwoording wat naaste daaraan lê, kies hy dikwels geykte beelde en METAFORE, werk hy met ‘n reeks spesifieke analogieë.

Na aanleiding van die materiaal en analogieë waardeur die mistikus sy ervaring verwoord, word ‘n aantal newe-tradisies geïdentifiseer. Sekere van hulle behoort spesifiek binne die Christelik-Westerse mistiek, maar is weer aan ander godsdienste se mistieke stroom verwant.

Voorbeelde van die liefdesmistiek binne Christelik-Westerse verband vind ‘n mens in die geskrifte van Bernardus van Clairvaux (12e eeu), die poësie van Hadewijch (13e eeu) en die groot Spaanse mistikus Juan de la Cruz (16e eeu). Jan van Ruusbroec (14e eeu) se prosa kan weer as voorbeeld van die natuurmistiek binne die Dietse literatuur genoem word. Jacob Boehme (17e eeu) is een van die min skrywers binne die Protestantisme, ‘n godsdiensrigting waarin die mistiek betreklik arm vertoon.

Die mistieke tradisie in Afrikaans het sy eerste sterk manifestasie in ’n werk van Catherina van Lier in 1804. Dit bly egter ‘n mindere stroom binne die Afrikaanse literatuur, waarskynlik a.g.v. die streng Calvinistiese inslag wat nie baie ruimte laat vir die gewaagde ontginning van die verhouding tussen mens en God en die intieme kennismaking met God nie. Mistieke gedigte is die uitsondering by ‘n godsdienstige digter soos Totius, maar die Oosterse belangstelling van C. Louis Leipoldt gee aanleiding tot een van die boeiendste mistieke gedigte: “Om Mane Padne Hum”. C.M. van den Heever is ‘n voorbeeld van ‘n natuurmistikus. Heelparty gedigte van N.P. van Wyk Louw het ‘n mistieke inslag, maar dit is veral die bydrae van D.J. Opperman wat met sy belangstelling in die Middelnederlandse wêreld en die geesteshervorming in ons stamlande gedurende die *Renaissance die ryk mistieke tradisie van daardie eeue in ons literatuur invoer.

Deur die omvangryke oeuvre van Sheila Cussons kom die Rooms-Katolieke mistiek vanaf 1970 in Afrikaans na vore, terwyl die digter Breyten Breytenbach mistieke poësie skryf waardeur die Oosterse tradisie van die Zen-Boeddhisme deel word van die Afrikaanse literatuur. Ander digters wie se werk soms sterk mistieke trekke toon, is Bonaventure Hinwood (onder skuilnaam: Hewitt Visser) en Fanie Olivier, terwyl Antjie Krog in haar siklus “Die Leeu en die Roos” in Otters in Bronslaai die mistieke inslag in die dagboek van Susanna Smit uit die 19e eeu in versvorm vasvang.

Elemente van die mistiek is aanwesig in Lobola vir die lewe en veral Kennis van die aand deur Andre P. Brink, van die min prosawerke met mistieke inslag. Margaret Bakkes se Susanna die geliefde betrek dieselfde gegewe as Antjie Krog se “Die Leeu en die Roos”.

Die intense en intiem-persoonlike aard van die mistieke ervaring en die analogiese gebruik van taal in die verwoording daarvan, dra waarskynlik daartoe by dat dit binne die literatuur veral uitloop in die poësie en in kort prosastukke met duidelike kenmerke.

Die sentrale organisasiebeginsel in hierdie werke is die teenstelling van twee werklikhede wat teenoor mekaar staan. Die VERTELLER se ervaring van die verskille tussen die werklikhede word die eintlike saak waardeur al die ander komponente van die gedig se onderlinge verhouding bepaal word.

Die vertelstandpunt is oorwegend die van die eerste persoon, en hy verwoord sy wisselende emosionele gevoelens wat spruit uit die kontrasterende werklikhede wat hy ervaar. Dit is ‘n selfnegerende en -relativerende verteller wat liefs as “ek” uit die gedig sou wou verdwyn. Passiwiteit, verlange en ‘n onvermoë om te artikuleer is kenmerke van hierdie verteller.

Die mistiek word gekenmerk deur ‘n paradoksale verhouding tussen presisering en veralgemening, deurdat die digters soms gebruik maak van veralgemening om die een werklikheid mee te relativeer. Aangesien hulle oor die ander werklikheid egter juis nie presies kan praat nie, moet hulle hulle dan ten opsigte daarvan ook op veralgemenings verlaat.

Die tematiese materiaal is onbeperk. Die liefdesverhouding, dikwels besonder sensueel, tree sterk na vore. Daar is verder ‘n voorliefde vir die natuur om daarin dinge te vind wat as illustrasiemateriaal kan dien vir die twee werklikhede wat teenoor mekaar staan. Voorts word die mens se intellek as negatiewe illustrasiemateriaal aangewend. Die tradisionele religieuse materiaal word selde benut.

RUIMTE speel in die mistieke literatuur ‘n belangrike rol, omdat die twee werklikhede as verwyderd van mekaar voorgestel en ervaar word. Daar is ‘n bewuste poging van die verteller om hom los te maak van die beperkings van die ruimte waarbinne hy as mens beweeg.

Tyd word in hierdie werke gekoppel aan die gewone werklikheid, en daarom vind ons dat die opskorting of die opheffing van die tyd dikwels in ‘n gedig voorop staan. Ook hier vind ons ‘n paradoksale verhouding tussen tydloosheid en oombliklikheid, ewigheid en kortstondigheid.

Daar is geen sprake van maatskaplike BETROKKENHEID nie, want die verteller wil juis die volle aardse bestaan afwys en ontkom. Uitsprake oor geregtigheid, vryheid en verantwoordelikheid ontbreek feitlik in alle mistieke tekste.

Die taalgebruik in hierdie soort tekste word gekenmerk deur die gebruik van teenstellings en paradokse om die gedigte mee op te bou. Die hiperboliese skryfwyse is onmiskenbaar, terwyl die herhaling van woorde, frases en konstruksies opval. Daar is ‘n bepaalde leksikon wat gegroepeer is rondom sekere dinge: lig, duisternis, water, vuur en wind.

Hierdie woorde dui op ‘n toestand van onbepaaldheid en onvatbaarheid en word van ‘n spesifieke betekenis voorsien, deurdat hulle in ‘n sekere reëlmaat voorkom en daardeur ‘n duidelike metaforiese waarde kry. Die SINTAKSIS in mistieke TEKSTE is redelik gewoon, die versvorm konserwatief, terwyl die uitroep heel dikwels aangetref word om die ekstase van die eenwording te probeer suggereer.

 

Bibliografie

Aalders, W.J. 1928. Mystiek, haar vormen, wezen, waarde. Groningen: Wolters.

Baumgardt, D. 1961. Great Western Mystics, their Lasting Significance. New York: Columbia University Press.

Beuken, W.H. 1946. Ruusbroec en de Middeleeuwse mystiek. Brussel: Het Spectrum.

Bremond, H. 1927. Prayer and Poetry: A Contribution to Poetical Theory. London: Burns Oates & Washbourne.

Capps, W.H. & Wright, W.M. (eds). 1978. Silent Fire: An Invitation to Western Mysticism. San Francisco: Harper & Row.

Fremantle, A. (ed.). 1964. The Protestant Mystics. London: Weidenfeld & Nicholson.

Happold, F.C. 1977. Mysticism: A Story and an Anthology. Harmondsworth: Penguin.

Hartman, S.S. & Edsman, C. (eds). 1970. Mysticism: based on papers read at the symposium on Mysticism held at Abo on the 7th-9th September, 1968. Stockholm: Almqvist & Wiksell.

James, J. 1955. Approaches to God. London: Allen & Unwin.

Olivier, S.P. 1985. Mistiek in die Afrikaanse poësie. D.Litt.-proefskrif, PU vir CHO, Potchefstroom.

Otto, R. 1973. The Idea of the Holy: An Inquiry into the Nonrational Factor in the Idea of the Divine and its Relation to the Rational. London: Oxford University Press.

Parrinder, G. 1976. Mysticism in the World’s Religions. London: Sheldon Press.

Santayana, G. 1957. Interpretations of Poetry and Religion. New York: Harper & Brothers.

Scott, N.A. 1971. The Wild Prayer of Longing Poetry and the Sacred. New Haven: Yale University Press.

Spencer, S. 1966. Mysticism in World Religion. London: Allen & Unwin.

Underhill, E. 1955. Mysticism. London: Methuen.

Wilson, C. 1970. Poetry and Mysticism. London: Hutchinson.

Zaehner, R.C. 1957. Mysticism, Sacred and Profane: An Inquiry into some Varieties of Praeter-natural Experience. Oxford: Clarendon.

 
Fanie Olivier