EKSPERIMENTELE POëSIE

Hierdie term word in sy bepaalde betekenis in die besonder gereserveer vir die poësie van ‘n paar Nederlandse digters wat na die Tweede Wêreldoorlog opgang gemaak het. Belangrike name is Lucebert, Jan G. Elburg en Gerrit Kouwenaar, behorende tot die sg. Vyftigers. In die term eksperimentele lê t.o.v. die poësie twee betekenisse opgesluit: eerstens is daar die voor-die-hand-liggende betekenis van eksperiment, wat inhou dat geëksperimenteer word met die vorm, die woord, die sin, die klank en die vers. Dit dan in teenstelling tot die tradisionele hantering van die komponente van die gedig. Tweedens hou eksperiment ook verband met experience, in die betekenis van beiewing en belewenis, ondervinding en ervaring. Uit die ervaring word wette vir die poësie afgelei – die poësie word dus onderwerp en gemeet aan dit wat as werklikheid ervaar word. In die eksperimentele poësie word, aldus Fokkema (1979: 45), tydens die skeppingsproses ervarings opgedoen: “De ware experimentele dichter gaat niet uit van een vooropgesteld gegeven dat zijn versificatie in het gedicht krijgt, maar hij zoekt in, door en met de taal naar iets dat hij nog niet kende.” Hier word dus duidelik klem gelê op die dinamiese aard van die eksperimentele poësie. Den Besten (1973: 71) wys weer daarop dat die eksperimentele digters, veral aanvanklik, gedig het t.w.v. die eksperiment en nie t.w.v. die poësie nie. Hulle het die illusie probeer handhaaf “dat ware poezie niets beoogt, alleen maar is, ontstaat, vrij en zonder opzet”. Tereg voeg Den Besten hieraan toe dat die eksperimenteles met hulle sg. proefondervindelikheid uiteindelik tog maar beoog het om iets te ontdek, al het hulle dit heftig ontken.

In Europese verband was hierdie strewe van die eksperimentele digters hoegenaamd nie vreemd nie. Die groot eksplosie (die eks­periment) in die poësie het jare vantevore plaasgevind, rondom 1916 in Zurich, Switserland, met die manifestasies, op verskillende wyses, van die EKSPRESSIONISME, die DADAISME, die FUTURISME, die SURREALISME, die KUBISME en ander kubistiese strominge waarin juis soveel klem gelê is op die eksperimentele aard van die poësie. Die belangrikste stroming waarin die Nederlandse eksperimentele digters hulle weerspieël het, was seker die Dadai’sme, die sg. filosofie van die niks wat hom verset het teen alles wat tradisioneel vasgestaan het: “Dada keerde zich tegen alles waartegen men zich maar keren kan. Tegen God, de maatschappij, de rede en alle bestaande ethische en artistieke normen” (Rodenko, 1977a: 470).

Al hierdie modernistiese strominge het veral aanvanklik aan die Noordnederlandse kunstenaarskring verbygegaan. Daarom kan Simon Vinkenoog beweer dat die Nederlandse poësie eers in 1950 in Nederland begin het (Rodenko, 1977a: 469). Daarmee het hy bedoel dat die “mag” van die sg. tradisionele poësie eers toe gebreek is en dat die eksperiment in die poësie eers toe kon begin.

 

Die eksperimentele digters wil m.b.v. die taal en d.m.v. die taal die onontginde velde van die werklikheid ontgin. Dit beteken, aldus Fokkema (1979: 46), dat nie alleen die taal nie, maar bv. ook die onbewuste as objek ondersoek word.

 
Die hierbo genoemde belangrikste verteenwoordigers van die eks­perimentele poësie het lg. by uitstek gedoen. Jan G. Elburg se eerste pogings met die sg. eksperimentele poësie was ‘n klompie dadaistiese koldergedichten wat nooit gepubliseer is nie. Elburg distansieer hom as eksperimentele digter van die MIMETIESE digkuns. Die poësie moet, aldus Elburg, met geluide uit die onbe­wuste kom, nie ter vernietiging van die mensheid nie, maar tot opbou van die menslike bestaan. Lucebert gee aan een van sy bundels die tiperende titel Van de afgrond en de luchtmens, waar­in duidelik iets geïmpliseer word van die mens se los-wees van ankerpunte of tradisionele vastighede. As eksperimentele digter probeer Lucebert “een nieuwe mythe van het menselijk bestaan te scheppen” (Den Besten, 1973: 75). ‘n Ander belangrike eks­perimentele digter is Gerrit Kouwenaar wat hom eweneens afwend van die mimetiese digkuns en klem lê op die durende aspek van die poësie — poësie moet nie ontdek of vind nie, nog minder tot ‘n konklusie kom: “Wat ontdekt, gevonden, gemaakt is, is dood” (Fokkema, 1979: 89).

 

Die eksperimentele digters was nie los van ideologiese pretensies nie, hoe hulle ook al soms probeer het om hulle daarvan te distansieer. Alleen al die ontwikkeling van die eksperimentele poësie is ideologies geïnspireer. Die eksperiment van die eks­perimentele digters het ‘n belangrike bydrae gelewer tot die ontvoogding van die Nederlandse poësie na die Tweede Wêreldoorlog wat reeds in groter Europese verband bestaan het, het in die vyftigerjare deurgebreek in Nederland met die opkoms van die sg. eksperimentele poësie.

(Vgl. ook KONKRETE POËSIE en AVANT-GARDE.)

Bibliografle

Brems, H. 1976. Lichamelijkheid in die experimentele poezie. Has-selt: Heideland.

 
Den Besten, A. 1973. Dichten als daad opstellen over heden-daagse poezie. Baarn: Bosch & Keuning.
 
Fokkema, R.L.K. 1979. Het komplot der Vyftigers. Amsterdam: De Bezige Bij.Rodenko, P. 1977a. De experimentele explosie in Nederland I. De gids, 140(7).

 

Rodenko, P. 1977b. De experimentele explosie in Nederland II. De gids, 140(8).

 
Rodenko, P. 1977c. De experimentele explosie in Nederland III. De gids, 140(9/10).

 

Rodenko, P. 1978. De experimentele explosie in Nederland IV. De gids, 1.

 

Raadpleeg ook:

 

Rodenko, P. 1984. Keizer der Vlaamse experimentelen. In: Dot­ting, H. (red.). Over Hugo Claus, via bestaande modellen: be-schouwingen over het werk van Hugo Claus. Schoten: Hadewijck.

 

Slagter, E. 1980. De kunst na de bevrijding: experimenten in woord en beeld. In: Thomas, P. (red.). Woord en beeld: drie strek-kingen in de Nederlandse poezie en de schilderkunst na 1945. Tielt: Lannoo.

 

Stokvis, W. 1980. Cobra: geschiedenis, voorspel en betekenis van een beweging in de kunst van na de Tweede Wereldoorlog. Am­sterdam: De Bezige Bij.

J. van der Elst