DADA

Dada was ‘n provokatiewe anti-konformistiese beweging wat die Westerse literatuur en beeldende kunste tussen ongeveer 1916 en 1922 met sy aptyt vir andersheid en skandaal getref het.

 

Die blote naam Dada (“hobbelperd”), wat glo lukraak uit ‘n Frans-Duitse woordeboek gekies is, dui al klaar op die uitdagend arbitrêre aard van die beweging.

 

Dada was ‘n ontketening van instinkte en magte wat soos ‘n vroeë happening deur die kunste getrek het. Dit was ‘n aggressiewe eksperimentele verrinnewering van alle aanvaarde waardes; ‘n nihilistiese neusoptrek vir die kuns.

 

Wat tussen ongeveer 1916 en 1922 in die naam van Dada bedryf is, kan só opgesom word: die woord moes “bevry” word van die dwang van die sintaksis, logika en “betekenis” waarmee die bourgeois intellek dit vervals het (Bigsby, 1972: 26-27). Dada was die “ophef van logika … van alle hiërargieë … van die geheue … van die profete … van die toekoms …” (Tristan Tzara in Picon, 1983: 17). Die poësie en toneel moes gestroop word van alles wat onmiddellik vir ‘n gekondisioneerde Jan Alleman “verstaanbaar” was. Die kuns is uitgelewer aan die willekeurige en die irrasionele, aan toeval, intuïsie en spot. “Kuns moet die toppunt word van die nuttelose, onverdedigbare, onestetiese” (Picabia in Huyghe & Rudel, 1969: 366). Die poësie is herlei tot die fonetiek; die toneel tot stukke “onsin”-poësie, simultane voordrag (deur bv. drie stemme tegelyk), kakofoniese geluide en maskers; die musiek tot elementale klanke; die visuele kuns tot hoeke, vlakke en lyne.

 

Ondanks sy oënskynlik ikonoklastiese nuwigheid, had Dada ‘n lang aanloop. Die drang na artistieke bevryding was al werksaam onder die *Romantici van die 19e eeu, en veral in die poësie sedert Charles Baudelaire. Met die eeuwending het gebeurtenisse soos die opkoms van ‘n nuwe wetenskap, die sielkunde, Henri Bergson se intuïsieleer, die gewerskaf van literêre Bohemers, die KUBISTE se opbreek van die letterlike werklikheid en die FUTURISTE se protes teen artistieke verstarring, die beweging weg van die gevestigde patrone ingrypend verhaas. Maar die onmiddellike aanstigting tot Dada was die skok van die Eerste Wêreldoorlog. ‘n Jong geslag denkers en kunstenaars het ontnugterd nee gesê vir die waansin van ‘n sg. “rasionele” beskawing wat die vroeë 20e eeu in ʼn slagveld omgeskep en hulle aangehits het om in die naam van “patriotisme” in loopgrawe te gaan sterf (Richter, 1965: 21).

 

In 1916 het ‘n klompie van die kosmopolitiese rebelle rondom die Roemeen Tristan Tzara in die Duitser Hugo Ball se literêre “Cabaret Voltaire” in Zurich, Switserland, vergader –  ‘n samekoms van uitdagende eksperimentele energieë. Behalwe Tzara en Ball was daar Jean Arp, Richard Huelsenbeck, Hans Richter, Mar­cel Janco, Emmy Hennings, Sophie Taeuber, Walter Serner. Dit was die première van die Dada-ontploffing, ‘n feitlik uitsluitlik literêre happening. Die skilders is nog deur die Kubisme en Futurisme oorheers.

 

Die woord Dada verskyn vir die eerste keer in Dada se debuut-publikasie Cabaret Voltaire wat, behalwe die jong dadaïste, ook ouer medewerkers soos Apollinaire, Cendrars, Kandinsky, die futuris Marinetti, Modigliani en Picasso onder hulle geledere getelhet. Daarna is die Dadagees in ‘n nuwe lyfblad, Dada, gepropageer.

 

Intussen was ‘n ander, meer visuele Dada besig om hom in New York te voltrek rondom die kunspionier Alfred Stieglitz se uitstallingsgalery en kunsblaaie (Camera work, 291) en die futuristies geïnspireerde werk van Francis Picabia en Marcel Duchamp. Pica­bia, met sy meganiese anti-kunskomposisies (“Les danses à la source”, ‘n vonkprop, ‘n toeter, ens.) en Duchamp met sy ready-made voorwerpkuns (“A bicycle wheel”, “A bottle rack”, later “LHOOQ”, ‘n Mona Lisa met ‘n snor en baard) was in der waarheid al dadaïste vóór Dada: in New York het hulle al van 1913 af, nog voor Tzara-hulle, in die Dada-idioom gewerk. Hulle was deel van ‘n bont kosmopolitiese groep wat kunstenaars soos Crotti, Varèse, Gleizes, Walter Pach, Arthur Craven, Dove en Man Ray ingesluit net.

 

Die twee Dadas het bymekaargekom toe Picabia in 1917 terug is Europa toe, die tydskrif 391 uitgegee, Tzara ontmoet en hom by die Paryse Dada aangesluit het. Die New Yorkse Dada-invloed het nietemin nog lank lewend gebly en die Amerikaanse kuns help beïnvloed.

 

In 1918 is die Dadakiem deur Huelsenbeck uitgedra na Duitsland (Berlyn, Keulen, Hanover) waar dit in ‘n gewelddadige sosio-politieke agitasie ontaard het en waar Max Ernst, Johannes Baargeld, Jean Arp, Raoul Hansmann en George Grosz ‘n driftige anti-kuns bedryf en hulle in tydskrifte soos Der Dada en Der Ven­tilator uitgedruk het. In die jare ná1919 sou die Duitse Dada hom nog veral in die vorm van die EKSPRESSIONISME laat geld. In Parys het Dada, o.l.v. André Breton, Louis Aragon, Paul Eluard en later Picabia (met sy tydskrif 391) en Tzara ‘n sterk literêre koers ingeslaan. In 1919 het Breton-hulle die beweging met ‘n nuwe tydskrif, Littérature, verryk. Teen dié tyd was Parys, met sy lewenskragtige AVANT-GARDE-tradisie, die fokuspunt van Dada. Die stad het gekrioel van provokatiewe dadaïstiese manifeste (Bulletin Dada, Dadaphone, Cannibale) en happenings. Die hoogtepunt van die dadaïste se Paryse gewerskaf was hulle “verhoor” van die skrywer Maurice Barrès – in die gedaante van ‘n strooipop – as beliggaming van burgerlike deugde, en ‘n Dadafees waar die skare die voordraers met eiers en biefstukke bestook het. Op die Dadakongres van 1922 het Dada in ‘n roesemoes van aanklagte, pamflette, ekskommunikasies en bedankings verkrummel.

 

Intussen sou Dada hom nog tot in Nederland (Theo van Doesburg), België (Paul van Ostaijen), Spanje (Picabia), Italië (o.m. Marinetti, Chirico) en Oos-Europa laat geld.

 

Poëties het Dada hom veral in die werk van Tzara (“Vingt-cing poèmes”, “Sept manifestes Dada”), Aragon, Soupault, Ribemont-Dessaignes, Eluard en Péret uitgedruk.

 

Die dadaïstiese toneel was beperk tot die pogings van Tzara (“Symphonie vaseline”, “Coeur à gaz”), Ribemont-Dessaignes (“Le serin muet”) en selfs die musikus Erik Satie (“Le piège de Méduse”).

 

Dada se positiewe kant was sy gees van herontdekking, sy profetiese protes teen artistieke verharding, sy aanklag teen ‘n stelsel van uitgediende waardes en dogmas wat die mens ontmens het, sy afskaffing van die konvensie van ‘n kant-en-klaar-taal. Sy bemoeiing met die oermens en die onderbewussyn het die deur oopgemaak na die primitiewe en kinderkuns, en laat 20e-eeuse manifestasies soos happenings en Andy Warhol se Pop Art en Punk Rock en modes en juweelontwerp.

 

Verder bly dit nog sporadies en moedswillig en intertekstueel meepraat in die Afrikaanse letterkunde. Daar is ‘n smeerseltjie Dada by oueres soos Opperman, Van Wyk Louw, Small en Walters se sg. “anti-poësie”. Daar is Dada-aksente in Breyten Breytenbach se vroeë ikonoklasme (Die ysterkoei moet sweet); in Dan Roodt se teruggryp na ‘n literêre nulpunt; in André le Roux se vars eerste liefdesverse (“For your guidance”, uit Struisbaai blues); en in party van André Letoit se anti-establishment-lirieke (Die bar op De Aar).

 

Dada se andersheid was dat dit die mimetiese, die tydruimtelike, die verwysing (referensialiteit), d.w.s. “betekenis”, ophef; dat dit die semantiese orde skeeftrek deur woorde en sinne buite hulle gerusstellende samehangende patrone te gebruik, m.a.w. deur “verwysing” te verskuif na “teken”, “referensiële” na die semiotiese; dat dit ‘n eie innerlike logika het wat ‘n kortsluiting afgee by die (her)lees van ‘n tradisionele gedig; dat dit in eie reg “post-modernisties” met ‘n teks werk – los, gefragmenteerd, kategorieloos, permissief.

 

Dada was egter veels te eensydig negatief en onsamehangend om beduidend werksaam te bly. Dat van sy dinamiese abstrakte ener­gieë mettertyd sou oorgaan in die meer skeppende SURREALISME was eintlik vanselfsprekend.

 

Oor Dada het Hugnet (1971) en Bigsby (1972) die bekendste werke geskryf. Dada-poësie en die Semiotiek word insiggewend behandel deur Erickson (1984). Oor die verband tussen Dada en die Surrealisme kyk ook Ades (1974) en Picon (1988).

(Vgl. ook EKSPRESSIONISME en SURREALISME.)

Bibliografie

Ades, D. 1974. Dada and Surrealism. London: Thames & Hud­son.

 

Bigsby, C.W.E. 1972. Dada and Surrealism. London: Methuen.

 

Erickson, J.D. 1984. Dada: Performance, Poetry and Art. Boston: Twayne.

 

Gaunt, W. 1949. The March of the Moderns. London: Cape.

 

Hugnet, G. 1971. L’aventure dada. Paris: Seghers.

 

Huyghe, R. & Rudel, J. 1969. L’art et le monde moderne. Paris: Larousse.

 

Meiring, E. 1976. Die Dada-ontploffing. Die Burger, Jun. 21.

Pauvert, J-J. 1965. Dada à Paris. Paris: Pauvert.

Picon, G. 1983. Surrealists and Surrealism. London: Macmillan.

Richter, H. 1965. Dada: art et anti-art. Londres: Thames & Hud­son.

 

Stemmet, K. 1980. ‘n Bekendstelling met Dadaïsme. Maandblad eksperimentele teater Stellenbosch, Aug. 30.

E. Meiring