(Hersien April 2025)
Eenvoudige omskryf is ‘n prosagedig (Fr.: poème en prose) ‘n teks wat in prosavorm geskryf of gedruk is, maar eienskappe vertoon wat tipies van die poësie is, soos rym, ritme, ander soorte klankherhaling, beeldrykheid, sterk patroonmatigheid, herhaling, volgehoue intensiteit en kompaktheid van segging. Die saak is egter nie so eenvoudig nie: “( ) if the broad classifications we call ‘poetry’ and ‘prose’ are more elusive than we would often assume, then the prose poem may be a demonstration of how certain kinds of literary works are unclassifiable, or perhaps even extra-generic – in this case, both poetic and prosaic at once” (Hetherington & Atherton, 2015). Die prosagedig kan as ‘n hibridiese vorm beskou word. ‘n Ander definisie lui soos volg: “The prose poem is a poem written in prose rather than verse. On the page it can look like a paragraph or fragmented short story, but it acts like a poem. It works in sentences rather than lines” (Lehman, 2003). Kyk bv. na die volgende:
Ek was al tien jaar oud
Maar my ma wou my
Nog nie toelaat
Om alleen brood
by die kafee te gaan
koop nie.
Bostaande is in werklikheid net een sin (boonop ‘n heel prosaïese sin), maar is in gedigvorm gerangskik. In sommige sinsdele is hoofletters aangebring waar dit in die ‘gewone’ sin nie gedoen sou word nie, maar waar ‘n digter dit heel waarskynlik sou doen. Daar is wel klankherhaling in die ‘gedig’ (kyk die vetgedrukte letters). ‘n Doodgewone sin is in ‘n eenvoudige prosagedig omskep deur dit bloot in gedigvorm te rangskik. Die talle enjambemente stel beweging voor wat ‘n ironiese kontras vorm met die ma wat weier dat die kind op tienjarige ouerdom kafee toe gaan om brood te gaan koop. Die punt (die leesteken) na “nie” sou kon voorstel dat dit ‘n situasie is wat ‘n voldonge feit was.
Abrahms & Harpham (2015:318) se definisie van die prosagedig is kort en kragtig: “Prose poems are compact, rhythmic, and usually sonorous compositions which exploit the poetic resources of language for poetic ends but are written as a continuous sequence of sentences without line breaks.” ‘n Mens sou jouself egter nou wou afvra, wat van gevalle waar doodgewone sinne (soos in die voorbeeld hierbo) wel in gedigvorm geskryf word? Hetherington en Atherton merk op dat beoefenaars van hierdie kunsvorm nie altyd seker is watter genre hulle beoefen nie: Skryf hulle gedigte, of beoefen hulle prosa?
Prosagedigte het in die 19de eeu op die voorgrond getree toe ‘n klompie Franse skrywers – spesifiek Charles Baudelaire en Arthur Rimbaud – die sg. moderne prosagedig aan die Europese letterkunde bekendgestel het. In der waarheid het heel vroeëre skrywers hierdie vorm reeds gedeeltelik beoefen ”to problematise traditional traditional poetic prosody, once this aim was achieved prose poetry remained a significant contemporary literary form” (Hetherington & Atherton, 2015).
Prosagedigte beweeg tussen twee genres: dié van die prosa en dié van die poësie. Sommige prosadigters (of digterprosaïste?) is onseker watter genre hulle nou eintlik beoefen (kyk Hetherington & Atherton, 2015 waarin hulle hierdie probleem vollediger bespreek). Dit is daarom gepas dat dié twee skrywers van die prosagedig as “Janus-faced” praat: prosagedigte kyk in die rigting van die poësie sowel as die prosa; hulle is as ‘t ware tweegesigte.
Aloysius Bertrand (skrywersnaam van Louis Jacques Napoléon Bertrand) se bundel Gaspard de la Nuit: fantasies à la manière de Rembrandt et de Calot[1] (1842) word oor die algemeen as die eerste bewuste poging beskou om prosagedigte te skryf, maar, vra Kathryn Slott (1985:92) was hy werklik so ‘n groot bron van inspirasie vir digters soos Baudelaire en Lautréamont? Kritiek wat bv. op Bertrand se bundel prosagedigte geopper kan word, is dat hy te veel van stereotipe romantiese konvensies gebruik maak. Nietemin het Baudelaire Bertrand erken as die eerste skrywer van prosagedigte in Frankryk (Greene et al., 2012).
Charles Baudelaire het egter baanbrekerswerk verrig met sy Petits poèms en prose (1869), Arthur Rimbaud met sy Illuminations (1886) en Stéphane Mallarmé met sy Divagations (Omswerwinge, 1897). Die prosagedig geniet in Frankryk uiteindelik wye aansien en aanvaarding as digvorm.
In ‘n prosagedig word geen vaste ritmiese patroon gevestig nie, maar dit is ook waar van baie ‘suiwer’ gedigte. Prosagedigte moet onderskei word van die vrye vers (vers libre) en liriese prosa: vrye verse is in gedigvorm gedruk en, anders as by liriese prosa, is prosagedigte kort. Hierdie genre oefen ‘n groot invloed uit op die literatuur, want die vrye vers, die bewussynstroomtegniek en die neiging tot die vermenging van genres hou verband met die prosagedig.
Bertrand se prosagedigte het waarskynlik ook ‘n invloed uitgeoefen op die poësie van die Simboliste en die Surrealiste: in Duitsland het Novalis, Hölderlin (Hyperion), Stefan George, Nietzsche (Also sprach Zarathustra[2]) en Rilke prosagedigte geskryf. In Engeland is die prosagedig beoefen deur o.a. Oscar Wilde en T.S. Eliot, maar is nooit alom as erkende digvorm aanvaar nie omdat die vrye vers hier bevredigend genoeg was. In Nederland is die prosagedig tot dusver nog nie grootskaals beoefen nie. Enkele beoefenaars daarvan is J.C. van Schagen, Bert Schierbeek (De blinde zwemmers, 1955) en Hans Andreus (Empedocles de Ander, 1955). In Afrikaans kom die prosagedig voor by Eugène Marais (Dwaalstories), Uys Krige, Jan Rabie (21 en Dakkamer), Hennie Aucamp, Breyten Breytenbach (bv. “Die boenk” in Katastrofes en Mouroir) en by T.T. Cloete in Die waarheid gelieg. Orgie van André P. Brink is deels ook ‘n prosagedig. Moderne prosagedigte in Afrikaans is bv. “Klassieke tweespraak” van Charl-Pierre Naudé wat in sy bundel In die geheim van die dag (2004) verskyn. Die titel verwys na ʼn tweespraak tussen Horatius en Catullus. Opvallende poëtiese kenmerke in hierdie prosagedig is die rym, halfrym en beelde wat eggo’s van mekaar vorm. Fransi Philips se Die horlosie se wysers val af (1983) is kortverhale wat ook prosagedigte is. Plaasroman II van Toast Coetzer kan op grond van sy herhaling van s, m, en w, die talle metafore en personifikasies ook as ‘n prosagedig beskou word, hoewel dit meer prosa as gedig is. In Kaar van Marlene van Niekerk verskyn ‘n klompie prosagedigte. So ook in Breyten Breytenbach se jongste digbundels, bv.”toe ek hom sien” in Die beginsel van stof (2011). Bernard Odendaal “Haar beduidehand, die linker” uit Nootvat.Kwashaal.Stapel (2021) is ook ʼn prosagedig.
Anna-Marie le Roux
Bibliografie
Abrahms, M.H. & Harpham, G.G. 2015. 11th ed. A Glossary of Literary Terms. Stamford: Cengage Learning.
Bernard, S. 1959. La poème en prose de Baudelaire jusqu’a nos jours. Paris: Nizet.
Greene, R., et al. 2012. The Princeton Encyclopedia of Poetry and Poetics. New Jersey: Princeton University Press.
Hetherington, P. & Atherton Cassandra. 2015. “Unconscionable Mystification”. The International Journal for the Practice of Creative Writing, November.
Lehman, D., ed. 2003. Introduction to Great American Prose Poems: From Poe to the Present. New York City: Scriber.
Monroe, J. 1987. A Poverty of Objects: The Prose Poem and the Politics of Genre. Ithaca: Cornell University Press.
Van der Berg, Danelle. 2016. Die verskillende verskyningsvorme van die narratiewe poësie by Charl-Pierre Naudé en Loftus Marais (M.A. Stellenbosch.)
Van Heerden, E. 2006? LitNet. Seminaarkamer. H.J. Pieterse resenseer Charl-Pierre Naudé se In die geheim van die dag.
[1] Gaspard de la nuit is ‘n werk vol nostalgiese prosagedigte.
[2] Richard Strauss het ook ‘n simfoniese gedig (Opus 30, 1896) met dieselfde naam gekomponeer. Stanley Kubrick gebruik dit in 1968 in sy fliek 2001: A Space Odyssey as temalied en maak Nietzsche en Strauss se werk onvergeetlik.