MANIËRISME

Die term maniërisme (It.: maniera: manier) is ontleen aan Vasari se boek Lives of the Most Eminent Painters, Sculptors and Architects (1550). Vasari het die woord maniera gebruik in die betekenis van indrukwekkend en onderskeidend en met die vermoë om afsonderlike elemente van skoonheid tot ʼn geheel saam te voeg. In die 17e eeu is daar begin om dit te gebruik vir enige geaffekteerde styl. Gedurende die 20e eeu word die term in ʼn neutrale sin gebruik en ook om ʼn bepaalde chronologie aan te dui.

Die term maniërisme is in die 20e eeu ontwikkel om te verwys na die beeldende kunste en die argitektuur van die laat 16e eeu (dus tussen die RENAISSANCE en die BAROK). Dit is later deur E.R. Curtius in sy boek Europäische Literatur und lateinisches Mittelalter (1948) oorgedra op die literatuur van die Barok wat (in die werk) van die groot digters van al die anti-klassieke strominge as egte styl voorkom, waar dit in ʼn subjektief-willekeurige variasie van die tradisionele reëls en vorme uitgedruk word met ʼn neiging tot esoteries-speelse gebruike … concetti, diepsinnighede en die groteske, om só die wêreldgevoel van die tyd uit te druk … (vgl. Von Wilpert (1979: 494) in Sachwörterbuch der literatur). Die term word ook gebruik om die literatuur van die 16e en 17e eeu aan te dui waarin kunsmatigheid vooropstaan.

Een van Curtius se leerlinge, G.R. Hocke, beskou die hele tydperk na 1880 as maniëristies (anti-klassiek). Hy sien die maniërisme nie geheel en al in ʼn negatiewe lig nie, maar beskou dit nogtans as die vergestalting van ʼn “chaotisch wereldbeeld, labiel, kil, dissonant, onpersoonlijk, richtingloos en gespleten soms tot schizofrenie toe”, aldus Janssens & Aerts (1968: 298) in Moderne encyclopedie der wereldliteratuur.

Die term maniërisme word in die algemeen gebruik om te verwys na enige geaffekteerde styl, bv. dié van Lyly (vgl. EUFUÏSME), Marino (vgl. MARINISME) en Guevara. Dit word ook gebruik om tiperende kenmerke van ʼn skrywer se werk aan te dui, bv. Leroux se kenmerkende gebruik van die MITE, Proust se komplekse sinsbou en die Tagtigers se gebruik van argaïsmes in hulle poësie.

Kenmerkend van die maniërisme is die bloemryke taalgebruik, woordomsettings, PERIFRASE, vreemde METAFORE en SINTAKSIS, en ʼn geaffekteerde *beeldspraak.

Raadpleeg ook:

Greenwood, J. 1988. Shifting Perspectives and the Stylish Style: Mannerism in Shakespeare and his Jacobean Contemporaries. Toronto: University of Toronto Press.

 
Anna-Marie Bisschoff