Hoewel die term relasionaliteit nie ʼn gevestigde of algemeen gebruikte begrip binne die literatuurwetenskap is nie, is die onderliggende konsep daarvan, naamlik dat die mens, die wêreld en alle dinge fundamenteel in verhouding tot mekaar bestaan, besig om toenemende aandag in verskillende dissiplines te geniet. Die vraag na hoe interverbondenheid in literêre tekste manifesteer, sluit aan by ʼn breër debat oor relasionaliteit in die geestes- en sosiale wetenskappe, sowel as by ʼn meer fundamentele relasionele verstaan van menslike bestaan self (Heinrich en Michaelis-König, 2025:296).
Die toenemende belangstelling in relasionaliteit kan breedweg geposisioneer word binne die konteks van die “relasionele wending” waarvoor Anne Fuchs en Mary Cosgrove (2024:12) pleit. In die inleiding tot die spesiale uitgawe van Oxford German Studies, getiteld “Relationality in Contemporary German Literature and Culture”, voer Fuchs en Cosgrove (2024:1) aan dat dit in die kontemporêre wêreld (gekenmerk deur die Covid-19-pandemie, die versnellende klimaatskrisis, die Sesde Uitwissing, die verstrengeling van mens en tegnologie, en die snelle ontwikkeling van Kunsmatige Intelligensie) al hoe duideliker raak dat bestaan op aarde noodwendig gekenmerk word deur verweefdheid, mede-afhanklikheid en relasionaliteit. Om te bestaan beteken reeds om in verhouding tot ander mense, ander spesies, tegnologieë, ruimtes en sisteme te staan, of die mens dit wil erken of nie.

Relasionaliteit kan daarom in die breedste sin beskryf word as ʼn filosofiese en teoretiese uitgangspunt wat die werklikheid as inherent relasioneel beskou.
Relasionaliteit uitgebeeld. Ontwerp: Janien Linde m.b.v. KI
Volgens Fuchs en Cosgrove is relasionaliteit in die huidige historiese oomblik nie bloot ʼn etiese moontlikheid of intellektuele keuse nie, maar ʼn ontologiese noodwendigheid. So ʼn relasionele bestaan word egter gekompliseer deur die nalatenskap van Westerse moderniteit en die ideaal van die onafhanklike, rasionele en outonome individu. Fuchs en Cosgrove (2024:1) beskryf “die moderne droom van die soewereine, rasionele en outonome mens” as ʼn “uitgediende fetisj van ʼn Westerse moderniteit” wat gekenmerk is deur kapitalistiese uitbreiding, koloniale uitbuiting en vernietigende ontginningspraktyke. Volgens hulle het die Verligting se ideaal van die selfgenoegsame individu uiteindelik aanleiding gegee tot ʼn afgeslote en selfgesentreerde subjek wat hoofsaaklik gerig is op individuele plesier, finansiële profyt en gekommodifiseerde selfoptimalisering (Fuchs en Cosgrove, 2024:3).
Met verwysing na Andreas Reckwitz se begrip van die “Gesellschaft der Singularitäten” (Die samelewing van singulariteite) wys hulle daarop dat individualiteit, selfbeeld en materiële gewin in die kontemporêre wêreld dikwels belangriker geword het as solidariteit, gemeenskaplikheid en “the common good” (Fuchs en Cosgrove, 2024:3). Hierdie oordrewe fokus op die self maak ʼn hernude fokus op relasionaliteit bykans radikaal. Fuchs en Cosgrove (2024:6) stel gevolglik die vraag: Wat beteken dit om ʼn mens te wees in die 21ste eeu? Volgens hulle kan geesteswetenskaplike navorsing wat ondersoek instel na modusse van relasionaliteit as etiese en estetiese praktyke, belangrike antwoorde op hierdie vraag bied.
Die relasionele wending word sterk beïnvloed deur ekokritiese en posthumanistiese denke. Tobias Heinrich en Andree Michaelis-König (2025:296), redakteurs van The Productive Force of Friendship in Literary History (2025), beskryf relasionele perspektiewe as ʼn teenvoeter vir die Cartesiaanse verstaan van die mens as ʼn geïsoleerde, rasioneel denkende entiteit. Volgens hulle reageer navorsing oor relasionaliteit op die “komplekse sosiale krisisse (veroorsaak) deur die oorheersende neoliberalisering van arbeids- en ekonomiese strukture sowel as die groeiende medialisering van menslike verhoudings” (Heinrich en Michaelis-König, 2025:297). Hoewel mense tegnologies meer verbind is as ooit tevore, blyk hulle terselfdertyd die vermoë te verloor om betekenisvolle interpersoonlike verhoudings te handhaaf. Eensaamheid en sosiale isolasie neem wêreldwyd toe, selfs in ʼn tyd van digitale konnektiwiteit (vgl. Roberts, Young en David, 2024). Die hedendaagse mens leef dus dikwels onder die illusie van verbondenheid terwyl hy of sy in werklikheid toenemend vervreemd raak.
ʼn Afrika-filosofiese konsep soos ubuntu (soos byvoorbeeld bespreek deur Michael Onyebuchi Eze, 2010) sluit op betekenisvolle wyse by hierdie relasionele wending aan. Waar Westerse moderniteit die individu dikwels as selfgenoegsame en afgeslote subjek verstaan het, beklemtoon ubuntu dat menswees fundamenteel relasioneel is. Die bekende formulering “’n mens is ʼn mens deur ander mense” dui daarop dat identiteit, etiek en bestaan slegs binne verhouding tot ander verstaan kan word. Ubuntu bied dus ʼn alternatiewe ontologiese en etiese model waarbinne interafhanklikheid, gemeenskaplikheid en wederkerigheid sentraal staan.
ʼn Relasionele raamwerk bied gevolglik ʼn besonder vrugbare vertrekpunt vir die bestudering van literêre tekste. Vanuit so ʼn perspektief word literatuur nie bloot beskou as ʼn versameling selfstandige tekste of individuele uitdrukkings van identiteit nie, maar as ruimtes waarin verhoudinge, verweefdheid, interafhanklikheid en gedeelde kwesbaarheid ondersoek word. ʼn Relasionele leespraktyk vra daarom nie slegs wat ʼn teks beteken nie, maar hoe ʼn teks relasie voorstel, produseer, ondermyn of transformeer. Dit vra hoe mense, ruimtes, liggame, herinneringe, stories en selfs nie-menslike entiteite met mekaar verbind word.
Die interdissiplinêre aard van relasionaliteit is belangrik in hierdie verband. Die idee dat alle organismes en sisteme in verhouding tot mekaar bestaan, soos dit ook in Darwinistiese evolusieteorie en ekologiese denke manifesteer, het neerslag gevind in uiteenlopende velde. Kaja Silverman (2009) benader hierdie konsep vanuit ʼn filosofiese en kunsgeskiedkundige perspektief en toon aan hoe opvattings oor relasie deur die eeue verander het. Nel en Van Schalkwyk (2013:139) beskryf die relevansie van relasionaliteit soos volg:
In the contemporary world with its ethnic, national and religious polarization and intolerance, and its histories of oppression, the notion of relationality suggests a more optimistic view of human relations. The theme of relationality is becoming more important in thinking on how certain spaces are connected, how people or groups of people connect with one another and how they construct meaning in everyday exchanges and decisions.
So ʼn fokus op hoe mense betekenis deur relasie konstrueer, maak relasionaliteit besonder relevant vir die bestudering van literêre tekste, aangesien literatuur by uitstek handel oor verhoudinge: tussen mense, tussen mens en wêreld, tussen self en ander, tussen hede en verlede, en tussen verteller en leser.
Kaja Silverman se Flesh of My Flesh (2009) bied een van die mees omvattende teoretiese vertrekpunte vir ʼn relasionele verstaan van menslike bestaan en literatuur. Silverman begin haar argument deur Lacan se teorie van die spieëlstadium te bespreek. Volgens Lacan word die idee van ʼn self gevorm wanneer ʼn baba hom- of haarself vir die eerste keer in ʼn spieël herken (Silverman, 2009:1). Hierdie identifikasie kan egter nie volledig gehandhaaf word nie omdat die kind steeds afhanklik van ander is. Die besef dat die spieëlbeeld iets buite die self is, veroorsaak ʼn ervaring van verdeeldheid of disintegrasie. Van daardie oomblik af word identiteit voortdurend teenoor dié van ander gevorm. Ooreenkomste met ander word gevolglik bedreigend omdat dit die mens se behoefte aan uniekheid ondermyn.
Silverman voer egter aan dat relasie histories vir ’n lang tyd as belangriker as individualiteit geag is. Volgens haar is die Westerse wêreld vanaf Plato tot aan die einde van die sestiende eeu grootliks analogies verstaan (Silverman, 2009:1). Die heelal is beskou as ʼn netwerk van korrespondensies waarin dinge betekenis verkry deur hul verhouding tot ander dinge. Sy haal Foucault aan wat in The Order of Things beskryf hoe “(the) earth echo[ed] the sky, faces [saw] themselves reflected in the stars, and plants [held] within their stems the secrets that were of use to man” (Silverman, 2009:1). Hoewel Christelike en Platoniese denke soms hiërargiese onderskeide tussen wêrelde gehandhaaf het, het hierdie premoderne wêreldbeeld steeds ʼn fundamentele verbondenheid tussen dinge veronderstel.
Verbondenheid word deur Silverman beskryf aan die hand van die begrip analogie. Volgens haar is analogie ʼn verhouding “of greater or lesser similarity” tussen ontologies gelyke dinge: “a corresponding with, rather than a corresponding to” (Silverman, 2009:179). Sy beweer verder dat analogie “the structure of Being” is (Silverman, 2009:4). Alles op aarde is dus reeds ontologies met alles anders verbind. Die probleem is egter dat die moderne mens geneig is om hierdie verbondenheid te ontken in ʼn poging om die self as uniek, afgesonderd en outonoom te handhaaf.
Die idee van analogiese verbondenheid bied belangrike moontlikhede vir die akademiese bestudering van literêre tekste. ʼn Relasionele lees kan ondersoek instel na hoe ʼn teks ooreenkomste tussen mense, liggame, ruimtes, spesies en ervarings voorstel eerder as bloot verskille. In plaas daarvan om identiteit as stabiel en afgesonderd te lees, kan karakters verstaan word as figure wie se identiteite voortdurend deur ander gevorm en verander word. ʼn Relasionele leespraktyk kan daarom fokus op interafhanklikheid, gedeelde kwesbaarheid, emosionele verweefdheid en ontologiese verbondenheid.
Silverman se gebruik van die begrip “flesh” is in hierdie opsig sentraal. Sy verwys na Ovidius se Metamorfoses, waarin alles in die heelal analogies met mekaar verbind word omdat alles uit dieselfde “vlees” ontstaan het (Silverman, 2009:2). Volgens hierdie perspektief beskik die mens nie oor ʼn vaste identiteit nie, maar verander voortdurend. Ons “buitelyne” herhaal dié van ander en plaas ons sodoende in relasie met hulle (Silverman, 2009:2). Ovidius se uitspraak dat “Nature, ever renewing the world, creates new forms from old ones” (Silverman, 2009:2), impliseer dat identiteit, liggaamlikheid en bestaan voortdurend transformeer.
Leonardo da Vinci het volgens Silverman soortgelyk oor “vlees” gedink: “everything derives from the same flesh. These correspondences connect us to both ourselves and others, promoting transformation rather than stasis, equality rather than hierarchy, and an ‘unfinished universality’ rather than a closed order” (Silverman, 2009:2). Vanuit ʼn literêre perspektief bied dié idee ʼn manier om tekste te lees as ruimtes van transformasie eerder as stabiliteit. ʼn Relasionele lees kan fokus op hoe karakters deur verhoudings verander word, hoe grense tussen self en ander vervaag, of hoe die mens in verhouding tot die nie-menslike wêreld voorgestel word.
Verbondenheid manifesteer verder nie slegs deur liggame nie, maar ook deur stories. Brink (1999:72) haal Muriel Rukeyser aan wat skryf: “Die heelal bestaan uit stories, nie uit atome nie.” Johan Degenaar sluit hierby aan wanneer hy stel: “we are stories because we make stories” (Degenaar, 1992:51). Stories, en daarmee saam ook poësie, word dus self ʼn vorm van relasie. Die proses van vertelling en die kreatiewe weergee van taal, verbind mense aan mekaar, aan geskiedenisse en aan gedeelde ervarings. Literatuur kan gevolglik bestudeer word as ʼn relasionele praktyk waarin skrywer, teks en leser deur die gedeelde “vlees” van stories en poëtiese taal aan mekaar verbind word.
Teenoor hierdie verbondenheid staan egter die moderne fokus op individualiteit en verskil wat vroeër reeds genoem is. Silverman (2009:2) wys daarop dat die 18de eeu se rasionalisering en die trauma van die wêreldoorloë die idee versterk het dat die mens uiteindelik alleen staan. Postmodernistiese denke het hierdie tendens verder uitgebou deur sterk kritiek te lewer op begrippe soos totaliteit, samehang en meesternarratiewe. Fragmentasie, pluralisme en verskil het sentraal geword. Hoewel hierdie ontwikkeling belangrike kritiek op totaliserende denke moontlik gemaak het, waarsku Brink (1999:69) dat ʼn uitsluitlike fokus op die self die gevaar van fragmentasie, isolasie en derealisasie inhou.
Brink (1999:74) argumenteer verder dat moderne media en “kits-inligting” mense toenemend afgestomp maak. “Die gruwele van oorloë, hongersnood, aardbewings word verwerk in flikkerende beelde op ʼn skerm” (Brink, 1999:74), en die mens kan hierdie beelde eenvoudig “afskakel”. Relasie word gevolglik onbelangrik of selfs lastig. Burger (2012:5) se argument dat die letterkunde “simboliese kapitaal” verloor het, sluit hierby aan: literatuur word minder waardevol geag in ʼn kultuur wat individuele selfgenoegsaamheid prioritiseer.
ʼn Relasionele benadering tot literatuur bied juis ʼn reaksie teen hierdie derealiserende tendense. Literêre tekste kan ondersoek word as ruimtes waarin etiese betrokkenheid, empatie en verbondenheid weer moontlik gemaak word. ʼn Relasionele lees kan byvoorbeeld vra hoe ʼn teks lesers noop om hulself in verhouding tot ander te verstaan, hoe dit emosionele of historiese verbondenheid skep, of hoe dit weerstand bied teen isolasie en ontmensliking.
Michel Foucault se denke oor verhoudinge sluit hierby aan. In Halperin se Saint Foucault word Foucault aangehaal waar hy opmerk:
We live in a relational world that institutions have considerably impoverished. Society and the institutions which frame it have limited the possibility of relationships because a rich relational world would be very complex to manage …. In effect, we live in a legal, social, and institutional world where the only relations possible are extremely few, extremely simplified, and extremely poor (Halperin, 1995:81).
Vanuit ʼn literêre perspektief maak hierdie idee dit moontlik om te ondersoek hoe tekste alternatiewe vorme van relasie voorstel wat buite dominante sosiale of institusionele raamwerke funksioneer. ʼn Relasionele lees kan fokus op gemarginaliseerde verhoudings, queer-verhoudings, ongewone gemeenskappe of vorme van verbondenheid wat deur magsisteme onderdruk word.
Silverman beklemtoon verder dat relasionaliteit nou saamhang met sterflikheid en eindigheid, of “finitude”. Volgens haar is sterflikheid die mees universele eienskap wat alles op aarde deel (Silverman, 2009:4). Sy beskryf dit soos volg: “since finitude marks the point where we end and others begin, spatially and temporally, it is also what makes room for them”. Die besef van eindigheid plaas die mens binne ʼn groter netwerk van bestaan en skep ruimte vir lewende en nie-lewende ‘ander’.
Die relevansie van eindigheid vir relasionaliteit word dramaties geïllustreer deur Ovidius se verhaal van Orfeus en Euridike. Eers wanneer Orfeus self deur die dood getransformeer word, erken hy Euridike as ontologies gelyk aan homself (Silverman, 2009:5). ʼn Relasionele lees van literatuur kan in hierdie verband ondersoek hoe verlies, rou, herinnering en sterflikheid mense aan mekaar verbind. Die dood word nie bloot ʼn einde nie, maar ʼn ruimte van gedeelde kwesbaarheid.
Lou Andreas-Salomé brei hierdie idee uit wanneer sy argumenteer dat die besef van sterflikheid ʼn “profound feeling of a deeply shared destiny with all things” kan skep (Silverman, 2009:8). Sy beskou terugkyk as ʼn belangrike relasionele handeling. Volgens haar het terugkyk die vermoë “to make the past happen again, in a new way” (Silverman, 2009:8). Freud se term vir hierdie proses is Nachträglichkeit (Silverman, 2009:42). Terugkyk beskik volgens Salomé oor “the ability to wash away sin, resurrect the dead, and level the divisions that have sprung up between us” (Silverman, 2009:42).
Walter Benjamin sluit hierby aan wanneer hy argumenteer dat die verlede deur die hede geaktiveer kan word om “its defeats into victories” te transformeer en “to awaken the dead” (Silverman, 2009:46). Vanuit ʼn literêre perspektief bied sulke idees ʼn belangrike raamwerk vir die bestudering van herinnering, trauma, geskiedenis en narratief. ʼn Relasionele lees kan ondersoek hoe tekste historiese figure, vergete stemme of verlore gemeenskappe weer in verhouding plaas met die hede.
Édouard Glissant se Poetics of Relation (1990) bied ʼn verdere belangrike perspektief op relasionaliteit. Volgens Glissant is dit belangrik om gewortel te wees, maar die idee van ʼn enkele “penwortel” is problematies omdat dit alles rondom hom vernietig in sy poging om te oorleef (Glissant, 1990:11). Hy verkies daarom Gilles Deleuze en Félix Guattari se konsep van die risoom – ʼn wortelstelsel wat horisontaal groei en op verskillende plekke nuwe uitlopers vorm.
Vir Glissant impliseer die risoom relasie: “each and every identity is extended through a relationship with the other”. Die mens besef intuïtief dat hy op risomatiese wyse aan ander verbind is. Die mens se obsessie met kennis maak gevolglik plek daarvoor dat relasie geniet kan word, hoe eenvoudig of selfs karikatuuragtig daardie relasie ook al mag wees (Glissant, 1990:19). Hierdie perspektief bied besonder vrugbare moontlikhede vir die bestudering van postkoloniale, migrerende of diasporiese literatuur waarin identiteit deur beweging, vermenging en verweefdheid gevorm word.
Glissant waarsku egter dat relasie nooit volledig bewys of begryp kan word nie omdat dit in totaliteit te veel is om te begryp. “But it can be imagined, conceivable in transport of thought” (Glissant, 1990:174). In hierdie opsig is literatuur besonder belangrik, aangesien die verbeelding ʼn ruimte bied waarin relasionaliteit gedink, voorgestel en ervaar kan word.
Ook Glissant se begrip van “errantry” is relevant vir literêre studies. Die een wat swerf, dwaal of dool probeer nie die wêreld besit of volledig begryp nie, maar bly oop vir die totaliteit daarvan: “The thinking of errantry conceives of totality but willingly renounces any claims to sum it up or to possess it” (Glissant, 1990:21). ʼn Relasionele lees van literatuur kan gevolglik fokus op bewegende identiteite, oop vorme van gemeenskap en onafgehandelde prosesse van verbondenheid.
Samevattend bied relasionaliteit ʼn geïntegreerde teoretiese raamwerk waarbinne literêre tekste bestudeer kan word as ruimtes van verweefdheid, gedeelde bestaan en ontologiese verbondenheid. Vanuit hierdie perspektief word die mens nie verstaan as ʼn afgeslote, outonome individu nie, maar as ʼn wese wat voortdurend deur ander mense, ruimtes, stories, geskiedenisse en nie-menslike entiteite gevorm word.
Vanuit ʼn Suid-Afrikaanse en Afrika-gebaseerde perspektief bied ubuntu ʼn belangrike uitbreiding van relasionaliteit deurdat dit menswees self as ʼn proses van wederkerige wording verstaan. Ubuntu beklemtoon dat identiteit nie vooraf bestaan en daarna in verhouding tree nie, maar juis deur verhoudings gevorm word. So ’n perspektief bied vrugbare moontlikhede vir die bestudering van literêre tekste waarin gemeenskap, sorg, verlies, historiese verbondenheid en gedeelde menslikheid sentraal staan.
Die volgende kan as moontlike manifestasies van relasionaliteit in literêre tekste ondersoek word:
- ooreenkoms en analogie;
- sterflikheid en gedeelde kwesbaarheid;
- ruimtelike relasionaliteit;
- perspektief en intersubjektiwiteit;
- verbintenis en interafhanklikheid;
- gemeenskaplikheid en wederkerigheid;
- gemarginaliseerde of alternatiewe verhoudings;
- hoe stories gemeenskappe vorm en onderhou;
- gesprek, vertelling en narratief;
- herinnering, terugkyk en historiese verbondenheid;
- transformasie en vloeibare identiteit;
- mens-natuur-verhoudinge;
- risomatiese of netwerkagtige verbondenheid;
- etiese betrokkenheid;
- vervreemding en derealisasie;
- gemeenskaplikheid en solidariteit.
ʼn Relasionele leespraktyk fokus nie bloot op wat ʼn teks beteken nie, maar op hoe ʼn teks relasies voorstel, bemiddel, moontlik maak of ontwrig. Literatuur word ʼn ruimte waarin die mens se verweefdheid met ander mense, ander spesies, ruimtes, geskiedenisse en stories sigbaar gemaak en herbedink kan word.
As voorbeeld van ʼn relasionele benadering kan vriendskap in S.J. Naudé se Van vaders en vlugtelinge (2023) as ʼn besondere vorm van relasie bestudeer word. Dan blyk dit dat Naudé vriendskap uitbeeld as meer as bloot ʼn interpersoonlike verhouding of tema. Die ongedefinieerde verhouding tussen die hoofkarakter Daniël en sy neef Theon dien in die roman as ʼn produktiewe en kreatiewe relasionele praktyk wat ʼn vormende en hervormende invloed op albei karakters het. Alhoewel daar ʼn sterk toegeneentheid en lojaliteit tussen die twee bestaan, word hulle verbintenis nooit as ʼn spesifieke tipe verhouding geklassifiseer nie. Deur relasionaliteit as invalshoek te gebruik, gekombineer met die gebruiklike queer-lesings van Naudé se werk, kan ʼn mens sien dat die roman ander perspektiewe op die verhouding tussen die neefs bied: hulle vriendskap oorskry enige kategorie van gender en begeerte; dit breek die grense van die self af; dit lei tot ʼn proses van selfvorming deur ontmoeting met die ander; dit word gekenmerk deur emosionele ambivalensie en onsekerheid; en dit skep uiteindelik ruimte vir kreatiewe alternatiewe toekomstige maniere van leef. ʼn Relasionele lees van Naudé se uitbeelding van vriendskap verskuif sodoende die fokus vanaf die onafhanklikheid van die outonome individu na hoe die vorming van identiteit en selfbegrip afhanklik is van menslike interaksie en verbintenis. Veral belangrik is dat vriendskap in Van vaders en vlugtelinge nie noodwendig harmonieus of onproblematies is nie: juis die spanning, kwesbaarheid en onbeslisbaarheid wat die verhouding tussen Daniël en Theon kenmerk, toon hoe die individu deur sy verhouding met die ander gevorm word. In hierdie opsig demonstreer die roman hoe relasionaliteit as literêre raamwerk gebruik kan word om vriendskap te bestudeer as ʼn dinamiese proses van wording waarin ʼn meer verbonde en toekomsgerigte begrip van bestaan moontlik raak.
Janien Linde
Bibliografie
Brink, A.P. 1999. Die duisend-en-tweede dag. T.T. Cloete-erelesing: Potchefstroom, September 1999. Stilet, XII(2): 63-75, September.
Degenaar, J. 1992. The Unbearable Lightness of Being – a philosophical exploration. Literator, 13(3): 51-63, November.
Eze, M.O. (2010). Ubuntu: Toward a New Public Discourse. In: Intellectual History in Contemporary South Africa. Palgrave Macmillan, New York. https://doi.org/10.1057/9780230109698_9
Fuchs, A. & M. Cosgrove. 2024 Introduction: Manifesto for a Relational Turn. Oxford German Studies, 53(1):1-12. DOI: 10.1080/00787191.2024.2315909
Glissant, É. 1990. Poetics of Relation. Michigan: The University of Michigan Press. 252p.
Halperin, D.M. 1995. Saint Foucault: Towards a Gay Hagiography. Oxford: Oxford University Press. 256 p.
Heinrich, T. & A. Michaelis-König. 2025. The Productive Force of Friendship in Literary History, Oxford German Studies, 54(3):295–308, DOI: 10.1080/00787191.2025.2549618
Naudé, S.J. 2023. Van vaders en vlugtelinge. Kaapstad: Human & Rousseau.
Nel, A. & Van Schalkwyk, P. 2013. The early Cape Colony: Karel Schoeman and/on relationality. (Uit Dewulf, J., Praamstra, O. & Van Kempen, M., reds. Shifting the Compass: Pluricontinental Connections in Dutch Colonial and Postcolonial Literature. Cambridge: Cambridge Scholars Publishing. p. 128-145.)
Roberts, J. A., P.D. Young en M.E. David. 2024. The epidemic of loneliness: A 9-year longitudinal study of the impact of passive and active social media use on loneliness. Personality and Social Psychology Bulletin, 52(2):1111-1125.
Silverman, K. 2009. Flesh of my Flesh. Stanford, California: Stanford University Press. 243 p.
Gepubliseer Augustus 2026