NUWE SAAKLIKHEID

Die term Nuwe Saaklikheid (Dts.: Neue Sachlichkeit) is in 1923 vir die eerste keer deur Gustav Hartlamb gebruik. Die Nuwe Saaklikheid is ‘n kunsrigting wat in die jare net na die Eerste Wêreldoorlog op verskillende lewensterreine voorgekom het. Duitsland is die belangrikste lokaliteit waar die Nuwe Saaklikheid hom gemanifesteer het, hoewel dit ook in ander lande voorgekom het.

Die Nuwe Saaklikheid het veral in die argitektuur voorgekom. Klem is gelê op saaklikheid, objektiwiteit en funksionaliteit. Vanweë hierdie funksionaliteit en objektiwiteit was glas, metaal en beton gewild as boumateriaal. Geboue is verder gekenmerk deur groot oop ruimtes; versierings is tot ‘n minimum beperk. As boustyl het die Nuwe Saaklikheid in Duitsland ‘n invloed uitgeoefen op die Bauhaus en in Frankryk op die argitektuur van Le Corbusier.

Die Nuwe Saaklikheid het ook in die literatuur van verskillende lande voorgekom, ook in die Afrikaanse literatuur. Kenmerkend van die Nuwe Saaklikheid as literêre styl is die kort, saaklike, byna telegramagtige en objektiewe skryfstyl. Emosies neem ‘n ondergeskikte plek in, daarom vorm die Nuwe Saaklikheid ‘n teenstelling met die EKSPRESSIONISME waar emosies juis ‘n belangrike rol speel. Die inhoud van die literêre werk neem in die Nuwe Saaklikheid ‘n belangrike plek in, terwyl die bou daarvan ondergeskik is. GENRES wat in die EPIEK die meeste beoefen is, is die ROMAN en die BIOGRAFIE. As gevolg van die bondige en saaklike benadering het die LIRIEK later verval in “schlichte, unauffallig rhythmisierte Prosa”, volgens Von Wilpert in die Sachwörterbuch der Literatur. In die drama is geskiedkundige en aktuele onderwerpe behandel; die epiese drama (vgl. EPIESE TEATER) is ‘n uitvloeisel van die drama van die Nuwe Saaklikheid. Skepsis en ontnugterende IRONIE kenmerk die literêre styl van die Nuwe Saaklikheid.

Beoefenaars van die Nuwe Saaklikheid op literêre gebied is bv. Upton Sinclair, Zuckmayer met Der fröhliche Weinberg, I. Goll, P. Kornfeld en K. Edschmidt. In die Afrikaanse literatuur kom die Nuwe Saaklikheid voor by Abraham Jonker (Maskers) en Holmer Johannsen (Gety). Willem van den Berg se Tema en variasies, en Reisigers na nêrens en selfs Elsa Joubert se Ons wag op die kaptein toon trekke van die Nuwe Saaklikheid. D.J. Opperman se verwerping van die “mooi” woord en die klem op die funksionele woord hou ook verband met die Nuwe Saaklikheid. Dit bereik ‘n hoogtepunt in sy digbundel Dolosse.

 

Bibliografie

Dekker, G. 1972. Afrikaanse literatuurgeskiedenis. Kaapstad: Nasou.

Paucker, H.R. (Hrsg.). 1976. Neue Sachlichkeit. Stuttgart: Reclarn.

 
Anna-Marie Bisschoff