HISTORISME

Die historisme (Dts.: Historismus) is die opvatting dat alle kultuurverskynsels die produk is van die geskiedenis; alle verskynsels spruit uit historiese ontwikkeling voort. Die geskiedenis word sodoende verabsoluteer: “… history is thought of as a sequence of periods which are organic unities and which manifest a com­plete parallelism of all human activities” (Wellek, 1966: 37). So bestaan daar ʼn parallel tussen Lydgate se poësie en die kostuums en argitektuur van sy tyd (einde 13e, begin 14e eeu).

Die historisme het in die 19e eeu ontstaan. Die term is deur Feuerbach in 1935 gemunt as aanduiding van ʼn oormatige historiese bewussyn. Dit het aanvanklik gedui op ʼn studie van die geskiede­nis en die waarde en betekenis wat daaraan toegeken is. Teen die einde van die 19e eeu het die historisme ʼn filosofiese konsep geword wat aansluiting gevind het by die filologie en die historiese wetenskappe van die 19e eeu. Die verteenwoordigers was mense soos Dilthey, Croce en Collingwood. Hulle het aan die historiese denke “een albeheersende betekenis” (Kuypers (1969: 422) in Grote Winkler Prins Encyclopedie) toegeken. Dit het aangesluit by die filosofie van Hegel. Volgens Hegel se dialektiek voltrek ʼn proses hom in die geskiedenis in die vorm van teenstellings en stryd. Marx se teorie van die historiese materialisme vind aan­sluiting hierby.

Die historisme is veral gerig op die metafisika en wêreldbeskouing.

Volgens Taine en Hegel is artistieke en historiese grootheid gelyk aan mekaar, want “the very nature and definition of art is precisely the concrete universal, the union of the particular and general” (Wellek, 1966: 38). Die kuns verkondig ʼn waarheid wat histories van aard is. Volgens Taine neem die eeue gedaante aan deur groot kunswerke.

In die literatuur kom die historisme voor in die vorm van ʼn his­toriese perspektief wanneer ʼn literêre werk bestudeer of geëvalueer word. Die siening dat die tyd ʼn oordeel vel oor ʼn literêre werk of dat ʼn werk oud of modern moet wees alvorens dit be­studeer kan word, is ʼn historiese standpunt; so ook die siening dat die aard van die werk geheel en al bepaal word deur die tyd waarin dit ontstaan of ontstaan het.

Die historisme berus op vier konsepte. Die eerste is die metafisiese konsep of die konsep van ideale. Dit is ʼn navolging van Hegel se filosofie. Hiervolgens word die literêre werk gesien as ʼn transendentale kontinuïteit van historiese prosesse. Die tweede konsep is die NATURALISTIESE of POSITIVISTIESE konsep “(which) sees the work as a sociological key to contemporary social meanings and values, as did St. Beuve and Taine”, aldus Holman (1981: 215) in A Handbook to Literature. Die nasionalistiese konsep sien die literêre werk as die uiting van politiese en volkse ideale; dié benadering word gevolg deur die navorsers van die veld van die Amerikaanse studies. Die vierde konsep van die historisme kom die meeste voor. Dit is die estetiese konsep. Hiervolgens word die literêre werk as unieke ESTETIESE OBJEK gevorm deur die tyd, maar omdat dit uniek is, het dit op sy beurt ʼn invloed op die tyd, “having a meaning appropriate to its own world and age and understandable fully only in terms of its own world and age, yet having a significance for our world and time, a significance which is a function of all those elements” (Holman, 1981: 215–216). Die estetiese historisme word beoefen deur bv. Roy Harvey en William Morris.

(Vgl. ARTEFAK EN ESTETIESE OBJEK, HISTORIES-SOSIOLOGIESE BENADERINGLITERATUURGESKIEDSKRYWING en VERANDERING (LITERêRE).)

 

Bibliografie

Wellek, R. 1966. A history of modern criticism: 1750-1950 (vol. 3, The age of transition and vol. 4, The later nineteenth centu­ry). New Haven: Yale University Press.

 

Anna-Marie Bisschoff