GEDIGTEGROEP

Die literêre struktuur is multisistemies, bestaan uit ‘n veelheid van interaktiewe sisteme, en gevolglik is ook die moontlikhede vir die beskrywing van die struktuur van die gedigtegroep meervoudig. Een tipologie, bemoontlik deur die STRUKTURALISTIESE ondersoekraam van wetenskaplikes soos Roman Jakobson en Claude Lévi-Strauss, berus op twee onderskeidende struktuurprinsipes ten grondslag van gedigtegroepe, nl. dié van die SIKLUS, en dié van die reeks (of serie). Die siklus is die ontwikkeling van ‘n tema in kontinue tyd en ruimte, en die reeks of serie is die herhaling van ‘n tema in diskontinue tyd en ruimte. Deur siklusgedigte van plek te verwissel, word ʼn ander totaalbetekenis tot stand gebring; die volgorde van die gedigte is onverwisselbaar. ‘n Dergelike prosedure beïnvloed egter nie die totaalbetekenis van die reeks nie; die volgorde van die gedigte is wel verwisselbaar.

Die tipologie is ‘n heuristiese instrument wat die ondersoeker in staat stel om die strukturele “profiel” van ‘n gedigtegroep geredelik maklik te herken en te beskryf. Sonder om te verval in normatiewe voorskrifte, stel dit ‘n ordeningsbeginsel daar wat die veelheid en verskeidenheid van empiriese materiaal oorsigtelik, hanteerbaar en beskryfbaar maak, en bied dit ‘n basis vir die vergelyking van die mees uiteenlopende gedigtegroepe. Die sik­lus en die serie is ideaaltipes, m.a.w. ahistoriese, teoretiese konstruksies wat basiese struktuurmoontlikhede aandui. Teenoor die vertikale ordening en assosiatiewe integrasie van die reeks staan die horisontale ordening en progressiewe integrasie van die siklus wat beskou kan word as ‘n epies-dramatiese uitbreiding van die LIRIEK. Om dié logiese onderskeiding toe te pas op ‘n empiriese objek, beteken om die karakteristieke struktuur van die ideaaltipe daarin te herken, én die mate waarin die besondere struktuur afwyk van dié van die ideaaltipe, want alhoewel die tipologie openbaar welke tipe-kenmerke daarin dominant is, is ‘n spesifieke gedigtegroep slegs voldoende te beskryf aan die hand van eienskappe van beide tipes. Logies-afleibaar is immers dat die ideaaltipe nie strukturele eenheid waarborg nie, en dat die inherente nadele van die een tipe te kompenseer is deur uitbuiting van die inherente voordele van die ander. Vandaar die formulering van die tipologie as ‘n binêre gegewe, die siklus en die serie wat mekaar komplementeer, en daarom dat ‘n gedigtegroep in die werklikheid ‘n saamgestelde of komplekse struktuur vertoon.

Artistieke TEKSTE word gekenmerk deur die strewe na maksimale ordening, en in die kunswerk is ordening altyd betekeniskonstituerend. Dit is vanselfsprekend dat ‘n gedigtegroep meer ordeningskenmerke kan vertoon, en dus meer informatief kan wees as ‘n afsonderlike gedig. Die kombinasie van die onderskeie gedigte, die ordening van die groep, is betekenisvol; dit het ‘n betekenispotensiaal wat ontbreek by die gebruiklike byvoeging van los gedigte. As sodanig bied die gedigtegroep aan die digter die moontlikheid om ‘n groter verskeidenheid en kompleksiteit tot strukturele eenheid saam te snoer en om die leser sodoende te verseker van ‘n groter, intenser leesavontuur. Die ordening van gedigte in ‘n groep is ‘n kuns van verhul en onthul: die ontstaanspore van die gedig word verhul, en die relasies waarin die gedig as dinamiese entiteit bestaan, word onthul. Dit impliseer dat die gedigte in die groep, vanweë hul tematiese betrokkenheid en hul onderlinge strukturele samehang, elk ‘n meerwaarde kry. Die leser se interpretasie van ‘n gedig, buite groepsverband, word in groepsverband genuanseer, gerelativeer, gekorrigeer. Selfs in die volgorde van die gedigte kan hy ‘n kommentaar herken t.o.v. die afsonderlike gedig. Dit beteken nie noodwendig dat die leser se aanvanklike interpretasie van die gedig as afsonderlike gegewe verkeerd was nie; dit beteken dat die groepsverband nou ‘n ander perspektief open op die gedig, as gevolg waarvan die gedig meer duidingsmoontlikhede openbaar. Die groep gedigte blyk ‘n komplementêre verskeidenheid te wees.

Om ‘n gedigtegroep as struktuur te ondersoek, is om die gedigte te lees in die volgorde waarin dit aangebied word, anders word die teks geskend; dit is om elke gedig te lees – vergelykend, kontrasterend – teen die agtergrond van wat reeds gelees is, en bewus te raak van kruisverwysings wat die oog skerp vir wat slegs latent aanwesig mag wees in die afsonderlike gedig; dit is om elke gediginterpretasie te korreleer met die groeptitel wat as gemene deler en tema van die gedigtegroep veronderstel word, ‘n konfrontasie wat dikwels ‘n hersiening van beide meebring. So­doende word die aandag gevestig op die belangrikste knooppunte in die groepstruktuur, en dit is die leser se taak om die tema vas te stel wat herhaal en ontwikkel word, en om die meerwaarde te kontroleer wat die gedigte kry in hul onderlinge opeenvolging en wisselwerking.

Sowel in die Weste as in die Ooste is die gedigtegroep as literêre verskynsel allermins nuut. Reeds Horatius se Romeinse odes (Odes) (23 v.C.) is duidelik as gedigtegroep gekonstrueer, en so ook die Sulpicia-gedigte, opgeneem in die Corpus tibullianum (+10 n.C). Bekend is ook die gedigtegroep wat as bundel aangebied word. Vergelyk bv. Petrarca, Canzoniere (1360); George Herbert, The Temple (1633); Goethe, West-Östlicher Divan (1819); Barrett-Browning, Sonnets from the Portuguese (1850); Baudelaire, Les Fleurs du mal (1857); C.E Meyer, Gedichte (1892); Rilke, Die Sonette an Orpheus (1923); Jorge Guillén, Cántico (1928); A. Roland Holst, Een winter aan zee (1937); Eliot, Four quartets (1942); N.P van Wyk Louw, Gestaltes en diere (1942); Opperman, Blom en baaierd (1956); Elisabeth Eybers, Onderdak (1968); Breyten Breytenbach, Lotus (1970).

 

Bibliografie

Deudney, E. 1972. Die siklus as literêre soort. Standpunte 104, 26(2).

Going, W.T. 1947. The term “Sonnet sequence”. Modern Language Notes, 62.

Heselhaus, C. 1961. Lyrische Zyklen. In: Heselhaus, C. Deutsche Lyrik der Moderne, von Nietzsche bis Yvan Goll. Düsseldorf: Bagel.

Mustard, H.M. 1946. The Lyric Cycle in German Literature. New York: King’s Crown.

Raidt, E. 1965. Die bundel as eenheid. In: Scholtz, J. du P. Dietse studies. Kaapstad: Academica.

Reitmeyer, E. 1935. Studien zum Problem der Gedichtsammlung. Bern: Drechsel.

Speliers, H. 1963. De dichtbundel als structurele eenheid. Diagram, 1/2.

Strydom, L. 1976. Oor die eenheid van die digbundel. Kaapstad: Academica.

 

L. Strydom