Inleiding: die paradoks van mite in ’n moderne wêreld
Op die oog af lyk dit na ’n teenstrydigheid dat mites so ’n belangrike rol in die moderne roman speel. Die moderne era word immers gewoonlik verbind met rasionaliteit, sekularisering, wetenskaplike denke en ’n groeiende wantroue in tradisie en metafisiese verklarings. ’n Mens sou dus verwag dat mite in die moderne wêreld al hoe minder belangrik sou word. Tog is die teendeel waar: van James Joyce en Thomas Mann tot Kafka, Beckett, Etienne Leroux en García Márquez is die moderne roman opvallend sterk met mites gemoeid.
Hierdie belang van mite beteken egter nie dat moderne romans eenvoudig na ou, mitiese verhale terugkeer nie. Die verhouding tussen mite en die moderne roman is veel meer kompleks. Soms word mites gebruik as ordeningsbeginsel: ’n onderliggende patroon wat samehang gee aan ’n gefragmenteerde moderne werklikheid. Soms word mites ironies aangewend om juis die broosheid van alle sisteme van betekenis bloot te lê. En soms tree die roman self miteskeppend op deur nuwe, kultureel-spesifieke verbeeldings van identiteit, geskiedenis en gemeenskap te ontwikkel.
Die woord “mite” het minstens twee betekenisse. Aan die een kant verwys dit na tradisionele, singewende verhale wat gesaghebbend binne ’n gemeenskap is en wat antwoorde bied op vrae oor oorsprong, orde, lyding en bestemming. Aan die ander kant kan “mite” ook dui op ’n ideologiese konstruk: ’n mensgemaakte verhaal of beeld wat as vanselfsprekend of natuurlik voorgehou word – en wat daarom ook gedemitologiseer kan (en moet) word as die taak van die romankuns en van literêre kritiek. Die moderne roman beweeg dikwels tussen hierdie twee betekenisse van mite. Mites word nie bloot gebruik nie, maar ook ondersoek, herskryf en ontmasker.
In hierdie inskrywing word gefokus op vier maniere waarop mite in die moderne roman funksioneer. Eerstens word gekyk na die rol van mite, veral in die hoogmodernistiese romans, as ‘n struktureringsbeginsel. Tweedens word aangetoon hoe hierdie gebruik van mite saamhang met ’n bepaalde modernistiese opvatting van die roman as ’n betekenisgewende geheel. Derdens word aandag gegee aan ontmitologisering: die ironiese en kritiese gebruik van mites in romans wat alle vaste sisteme van betekenis wantrou. Ten slotte word kortliks gekyk na miteskepping in laat-modernistiese en postmodernistiese romans, waar mites dikwels nie meer universeel nie, maar histories en kultureel gesitueer funksioneer.
Hieruit is reeds duidelik dat mite in die moderne roman nie bloot ’n oorblyfsel uit ’n voor-moderne wêreld is nie. Juis in ’n ontgogelde (disenchanted) wêreld is die gebruik van mites een van die belangrikste maniere waarop romans singewing, betekenis, geskiedenis en identiteit kan ondersoek.
Wat bedoel ons met “mite”?
Die woord “mite” het nie ʼn eenvoudige betekenis nie, deels omdat dit tegelyk twee teenstrydige betekenisse inhou. Aan die een kant dui die woord op ʼn singewende verhaal met ‘n sakrale (heilige) of kulturele gesag wat opvattings en idees begrond, en aan die ander kant dui die woord op valshede, op leuens wat as vanselfsprekend of “natuurlik” voorgehou word (ideologie) wat gedemitologiseer moet word ten einde valshede bloot te lê.
Volgens die eerste betekenis, kan ʼn mite beskryf word as ʼn verhaal oor wonderbaarlike gebeurtenisse, wat binne ʼn bepaalde gemeenskap oorgelewer word en as singewend binne die tradisie ervaar word (Pavel, 1986:60 e.v.; Armstrong, 2005; Claes, 2000). Die karakters wat in hierdie verhale optree, is meestal helde en gode, drake of ander fabelagtige diere. Al word die verhale binne ʼn bepaalde gemeenskap oorgelewer, speel die gebeure buite tyd en ruimte af, in die newels van ʼn onbereikbare geskiedenis toe die aarde nog anders was. Hierdeur kry die verhale ʼn sakrale aard (Armstrong, 2005:6). Omdat mites ʼn sakrale aard het, kry hulle algemeen-geldende mag – dit word die “ware”, die “eintlike geskiedenis”, agter of bo die kenbare en tasbare werklikheid. As sakrale verhale openbaar mites belangrike kennis oor die sin van die lewe en die plek van die mens in die kosmos; die mens teenoor die breër gemeenskap en die gemeenskap se plek in die wêreld; oor die verhouding tussen kultuur en natuur (Claes, 2000:12).
Hierdie dubbele betekenis van mite is belangrik vir die moderne roman. Aan die een kant bied mite ’n verhaalpatroon of simboliese raamwerk waardeur ’n gefragmenteerde werklikheid georden kan word; aan die ander kant word mites in moderne romans dikwels self as historiese en ideologiese konstruksies bevraagteken. Juis hierdie spanning verklaar waarom mite so ’n sentrale, maar ook ambivalente rol in die moderne romankuns speel.
Die “mitiese metode” van die Modernisme
Die belangrike rol wat mite in die bestudering van die moderne romankuns ingeneem het, kan tot ʼn groot mate teruggevoer word na T.S. Eliot se resensie van James Joyce se invloedryke roman, Ulysses (1922). Ulysses word alom as een van die hoogtepunte van die “hoogmoderne” romankuns beskou en is waarskynlik die mees gebruikte voorbeeld van die noue verbintenis tussen mite en die moderne roman. Eliot se resensie, “Ulysses, Order and Myth”, het in 1923 in The Dial, ʼn tydskrif vir moderne literatuur verskyn en het die fondament gelê vir ʼn sentrale stroom van modernistiese literatuurkritiek (kyk ook Eysteinsson & Liska, 2016).
Ook die belangrike plek wat mites in die bestudering van moderne Afrikaanse romans ingeneem het, het ʼn aantoonbare geboortedatum. Op 6 Mei 1960 het Etienne Leroux ‘n lesing voor die Afrikaanse Studiekring in Stellenbosch gehou met die titel: “Die mens, en veral die skrywer, op soek na die lewende mite” (Leroux, 1980). Leroux sit sy beskouing van die taak van ʼn skrywer in hierdie stuk uiteen. Hy put veral uit die werk van Jung. Volgens Leroux is dit die taak van die skrywer om die “waarheid”, wat in die kollektiewe onbewuste geleë is, in die roman bewustelik waarneembaar te maak. Saam met sy eie roman, Sewe dae by die Silbersteins, het Leroux se lesing aanleiding gegee tot ʼn hele stroom van literêre kritiek in Afrikaans wat aangesluit het by die sentrale plek wat mites reeds vroeër in die moderne Europese romankuns en kritiek ingeneem het.
Benewens Joyce se roman Ulysses (1922), word ook Eliot se The Waste Land (1922), Ezra Pound se The Cantos (1933-1966), Thomas Mann se Josef-trilogie en Dr Faustus sowel as die Franse Nouveau roman as teksboekvoorbeelde van die verbintenis tussen mite en moderne literatuur voorgehou. Vir skrywers soos Thomas Mann het die mite sin in die chaos geopenbaar in hulle soeke na nuwe waardes wat op die ou waardes gebaseer is.
Talle vroeg-20ste-eeuse digters en skrywers is sterk beïnvloed deur James G. Frazer se omvangryke vergelykende studie oor mites en godsdienste, The Golden Bough (1906-1915) (Vickery, 1973; Claes, 2000). In bogenoemde resensie skryf Eliot onder meer oor die belang van mitologie en spesifiek Frazer se werk vir die moderne roman:
Psychology (…) ethnology, and The Golden Bough have concurred to make possible what was impossible even a few years ago. Instead of narrative method, we may now use the mythical method. It is, I seriously believe, a step toward making the modern world possible for art, toward (that) order and form (Eliot, 1923:5).
Eliot sien dus die “mitiese metode” as ‘n belangrike stap om kuns in die moderne wêreld moontlik te maak. Frazer het The Golden Bough in die gees van die Verligtingsdenke geskryf. Deur ʼn wetenskaplike ondersoeksproses, die versameling van ʼn enorme hoeveelheid volksvertellings, mites en sages en die vergelyking daarvan, wou Frazer aantoon dat die moderne wêreld deur middel van die rasionele proses kan afreken met godsdienste en mites. Dit is daarom ironies dat dié werk so ʼn groot rol gespeel het in die vestiging van die sterk rol van mite in die moderne literatuur.
Eliot beskryf Joyce se Ulysses as ʼn “wetenskaplike ontdekking” wat die einde van die romankuns (en “narratiewe metode”) inlui. Ulysses is volgens Eliot nie meer ʼn roman nie. Vir hom was die romankuns ʼn vormlose uitdrukkingsvorm van ʼn tydperk wat nog nie genoegsaam vorm verloor het sodat ʼn behoefte aan ʼn strenger vorm kon ontstaan nie. Maar aan die begin van die 20ste eeu, met toenemende industrialisering en die opkoms van ʼn moderne samelewing, val die wêreld vir Eliot as kultuurpessimis uitmekaar en daarom is Ulysses volgens hom ʼn reddende, “strenger” vorm.
Mr. Joyce’s parallel use of the Odyssey has a great importance. It has the importance of a scientific discovery. No one else has built a novel upon such a foundation before: it has never before been necessary. I am not begging the question in calling Ulysses a “novel”; and if you call it an epic it will not matter. If it is not a novel, that is simply because the novel is a form which will no longer serve; it is because the novel, instead of being a form, was simply the expression of an age which had not sufficiently lost all form to feel the need of something stricter (Eliot, 1923:4-5).
Volgens Eliot is dit juis die gebruik van mite wat hierdie “strengheid” aan die moderne roman verleen:
In using the myth, in manipulating a continuous parallel between contemporaneity and antiquity, Mr. Joyce is pursuing a method which others must pursue after him. (…) It is simply a way of controlling, of ordering, of giving a shape and a significance to the immense panorama of futility and anarchy which is contemporary history (Eliot, 1923:5).
Eliot sien die moderne wêreld aan die begin van die 20ste eeu, ná die verskrikking van die eerste wêreldoorlog, as ‘n oorweldigende panorama van doelloosheid en anargie. Juis in hierdie tyd bied die mite ‘n manier om beheer en orde te bring en om vorm en betekenis te gee. Die mitiese metode van die moderne roman bied vir Eliot redding van die verswelging deur anargie en futiliteit, en word as’t ware ʼn “estetiese heldedaad” (Eysteinsson & Liska, 2016:9). Die moderne roman word vir Eliot byna die enigste betroubare bronvan orde in ‘n chaotiese (gevalle), moderne wêreld en verkry daarom byna ʼn religieuse kwaliteit. Die estetiese vorm van die roman word ʼn nuwe mite, ʼn plaasvervanger vir die verlies aan die religieuse mites van weleer en dit bied ‘n bolwerk teen die “ontgogeling”[1] van die wêreld deur wetenskap en tegniek.
Vir Eliot is die roman veronderstel om alles wat disparaat is, saam te dink in ʼn estetiese geheel – ʼn geheel wat bewerkstellig word deur die gebruik van mites. Hierdie “geheel” van die kunswerk (en hierin weerklink die opvatting wat die New Criticism onderlê, naamlik dat die kunswerk ʼn afgeslote, selfgenoegsame en selfverwysende geheel is) hef voorlopig verwysings na tyd en plek op. Verbande word nie met die historiese werklikheid buite die teks gelê voordat die volledige patroon van interne verwysings duidelik as ʼn geheel raakgesien kan word nie. Die mite is dus aan die een kant ʼn ordeningsprinsipe wat gebruik word om al die disparate dele van die roman tot ʼn eenheid, ʼn geheel, saam te snoer. In hierdie rol is mite ʼn grondkenmerk van die moderne roman. Aan die ander kant word die moderne roman egter sélf ʼn soort mite, juis omdat dit as selfgenoegsame geheel bo die historiese situasie uitstyg. Mites is immers, soos hierbo aangedui, veronderstel om tydloos, bo-histories te wees.
Die verheffing van die romankuns, of enige kunswerk, tot ‘n mitiese status van ‘n singewende konstruk in die afwesigheid van ‘n sakrale wêreld, is egter reeds in die 1930’s bevraagteken. Van die skerpste kritiek teen moderne romans (soos byvoorbeeld deur Lukács, 1982) is reeds in die 1930’s gerig teen moderne romans (en kritiek) wat ʼn eie mitologie skep en wat sigself bo en buite bereik van die geskiedenis stel. Marie Louise Pratt (1977:12) wys daarop dat kunstenaars se wense om hulself en hulle werk op mitiese wyse buite die geskiedenis of die massa te plaas, nie noodwendig deur kritici gevolg hoef te word nie.
Mite as model van vorm en totaliteit
Mites bied nie slegs tematiese samehang aan die ervaring van ’n gefragmenteerde en oorweldigende moderne wêreld nie; op tegniese vlak bied hulle ook ’n manier om die roman te struktureer. Modernistiese romans het onder meer in reaksie teen die realistiese romans van die 19de eeu, opvattings oor die vermoë van taal om die werklikheid te kan afspieël, uitgedaag. Om hierdie rede is die tegnieke van realistiese vertelling dikwels ondermyn. Moderne romans word onder meer geassosieer met tydspronge, met die verskuiwing, oorvleueling en vermenging van ruimtes, met soms verwarrende eksperimente met vertellers (onder meer die bewussynstroom) wat alles bydra tot die fragmentering en ondermyning van realistiese, narratiewe samehang. Deur gebruik te maak van ʼn mite, kan hierdie versplintering en verlies aan narratiewe koherensie saamgebind word tot ʼn geheel.
Wanneer verhaalraamwerke ontwerp word in aansluiting by bepaalde mitologieë of mites, kan die skrywer van bestaande verhaalpatrone gebruik maak. Die leser moet dan by die verhaalrekonstruksie (sjužet) rekening hou met die gebeure in die mite as deel van die oorspronklike storie (die fabula). White (1971: 52-54) onderskei vier soorte mitologiese romans, nl. (1) die volledige oorvertelling van ‘n klassieke mite, waarin mitologiese karakters benoem word; (2) ‘n jukstaposisie van gedeeltes waarin ‘n mite vertel word met ander waarin die eietydse wêreld ter sprake is; (3) ‘n roman wat in die moderne wêreld afspeel en ‘n deurlopende patroon van verwysings na mitologie bevat; en (4) ‘n roman waarin ‘n mitologiese motief ‘n gedeelte van die vertelling (‘n enkele gebeurtenis, ‘n karakter of ‘n groep mense) prefigureer, maar sonder om dit deurlopend in die verhaal vol te hou.
Andre P. Brink (1967: 42) sien die gebruik van die mite ook as ‘n manier waarop die romankompleksiteit verhoog kan word deurdat ‘n ander verhaal betrek word sodat verskille en ooreenkomste ook duidelik word. Hierdie toenemende gebruik van mites as intertekste kan soms daartoe lei dat modernistiese romans moeilik verstaanbaar word – spesifiek wanneer mites op obskure maniere betrek word. Hoewel hierdie mitiese verwysingsvelde dikwels vir kritici opwindende speurtogte moontlik gemaak het, kan dit geredelik ook ‘n uitputtende en pretensieuse leeshindernis word (White, 1977). In die geval van Etienne Leroux se romans is dit presies wat gebeur het met latere romans soos Isis, Isis Isis en Na’va.
Ontmitologisering en ironie
Moderne romans gebruik mites dikwels selfbewus en ironies om te wys dat alle stelsels van betekenis histories gekonstrueer en dus voorlopig is. Gedurende die 20ste eeu is mites en fascisme dikwels verbind – veral op grond van die wyse waarop nasionalistiese mites in Duitsland en Italië aangewend is. Mites het om hierdie rede in onguns verval en die feit dat Ezra Pound sy ondersteuning aan Mussolini toegesê het, het ook bygedra tot ʼn wantroue teenoor mites in die literatuur.
Sommige kritici het juis die moderne roman se klem op sluitende vorm en samehang, dikwels bewerkstellig deur middel van mite, as ’n weerspieëling van fascisme en totalitêre beheer beskou. Hierdie soort kritiek teen ‘n sekere gebruik van mites berus egter op ‘n oorvereenvoudiging. Eynsteinsson wys daarop dat direkte analogieë tussen Modernisme in die roman en moderniteit (wetenskaplik en sosiaal) problematies kan wees: “Such an analogy can easily miss the sociocultural and ideological positioning of modernism with regard to social modernity, or can reduce it to a unilaterally reproductive or symbolic act.” (1990:21). Vir Eynsteinsson verloor hierdie beskouing uit die oog dat modernistiese fiksie nie bloot ʼn afspieëling van die samelewing is nie maar ook kritiek daarop lewer. Die manier waarop mites juis selfbewus aangewend word, met ironie (byvoorbeeld deur Thomas Mann), is nie ʼn bevestiging van die mite as teken van fascisme nie, maar ʼn blootlê van die rol van mites in ons manier van dink.
Kritici soos Michael Bell (1997) en Gabriel Josipovici (2010) redeneer dat die moderne bewussyn gekenmerk word deur die wete van moderne mense dat hulle diepste oortuigings gegrond is op ʼn bepaalde wêreldbeskouing wat nie transendentaal begrond kan word of bevoorreg kan word bo ander wêreldbeskouings nie. ʼn Moderne bewussyn gaan dus nie bloot om verskuiwings van gegewe “primitiewe” of “Middeleeuse” wêreldbeelde na ʼn “moderne wêreldbeeld” nie, maar die bewuswording, veral sedert die einde van die 19de eeu, dat daar slegs wêreldbeelde — beelde of “prente” van die wêreld is. En dat hierdie wêreldbeelde juis nie ontdek word nie, maar gemáák word; dat hulle historiese konstruksies is wat as sodanig geen vaste grond in ‘n “ewigheid” of sakrale werklikheid het nie. Hierdie bewustheid van die wêreld as ʼn konstruksie, lei in sommige moderne romans tot die ondermynende gebruik van mites, om juis te toon hoedat die mites konstruksies is. Mites word dikwels in die werk van Beckett, Camus, Kafka, Mann, Pynchon, Barth en Barthelme ironies gebruik. Enige betekenis wat die mites gee, word as ongegrond ontmasker. Waar Etienne Leroux se werk in die 1960’s nog deur ’n soeke na die “lewende mite” oorheers word, oorheers in baie latere romans eerder ’n ironiese ondermyning van mites en die beklemtoning dat mites geen durende sekerheid kan bied nie, soos byvoorbeeld in Ingrid Winterbach se romans van die 2000’s.
Die ironiese en kritiese gebruik van mites in baie moderne romans beteken egter nie dat mites eenvoudig uit die moderne romankuns verdwyn nie. Inteendeel, juis die ontmaskering van mites as historiese en ideologiese konstrukte skep nuwe moontlikhede vir die romankuns. Wanneer mites nie meer as onaantasbare waarhede beskou word nie, maar as vorme van betekenisgewing wat self geskep en verander kan word, ontstaan daar ruimte vir ’n ander soort omgang met mite. In plaas daarvan om slegs bestaande mites te herhaal of ironies te ondermyn, begin romans toenemend nuwe mites vorm — dikwels plaaslik, histories en kultureel gesitueer — waardeur ervaring, geheue en identiteit op nuwe maniere verbeeld kan word.
Nuwe mites en plaaslike mites
Die rol van mite in die moderne roman eindig egter nie by hoogmodernistiese ordening of by ironiese ontmitologisering nie. In baie romans word mite ook op nuwe maniere herskep. Hierdie ontwikkeling hang deels saam met die invloed van die dieptesielkunde, veral C.G. Jung se opvatting dat argetipiese patrone in die menslike psige uitdrukking vind in die mites van verskillende beskawings. Vanuit hierdie perspektief kan die roman by mitiese patrone aansluit sonder om bloot bestaande mites te herhaal: dit kan ook nuwe simboliese konstellasies vorm waarin eietydse ervaring betekenis kry.
Etienne Leroux is in Afrikaans ’n belangrike voorbeeld van hierdie ontwikkeling. Sy benutting van mite kan in sekere opsigte vergelyk word met dié van Joyce, Hermann Hesse en Thomas Mann. Naas Leroux se gebruik van mitologie op ’n meer tradisionele analogiese wyse, onderskei Elize Botha (in Cloete, 1980: 471-486) egter ook ’n moderner soort mitisering by hom, naamlik die uitbeelding van eietydse en spesifiek Suid-Afrikaanse mites, asook die opbou van ’n eie mitologie. By Leroux begin die klem dus verskuif van die gebruik van oorbekende mites as universele raamwerke na die skepping van nuwe mites waardeur ’n spesifieke samelewing en tydvak verstaan kan word.
Juis hier word ’n verdere ontwikkeling sigbaar wat later in postmodernistiese romans sterker na vore tree. Mites verloor toenemend hulle verband met religie, misterie en ’n bo-wetenskaplike “waarheid”, en begin eerder funksioneer as historiese tekensisteme. Roland Barthes (1972: 115) beskryf mite vanuit ’n semiotiese hoek as ’n metataal: ’n tweede-orde-betekenissisteem waarin historiese en kulturele konstrukte as natuurlik voorgehou word. Daarom kan hy skryf: “What is characteristic of myth? To transform a meaning into form. In other words, myth is always a language-robbery” (1972: 131). Vanuit hierdie perspektief is mites nie meer sakrale waarhede nie, maar maniere waarop betekenis georganiseer, genaturaliseer en versprei word.
Hierdie insig maak dit moontlik om ook die “mitologie” van die moderne verbruikersamelewing raak te sien. Barthes wys immers op verskynsels soos stoei, rolprente, skrywersvakansies, seksgodinne, ontkleedans en luukse motors as draers van moderne mites. Sulke Ersatz-mites word sedert die tweede helfte van die 20ste eeu toenemend in romans geparodieer en ontmasker. Leroux doen dit reeds wanneer hy aandui hoedat sogenaamde lewende simbole tot blote tekens verval het, al bly daar by hom nog ’n verlange na ’n “lewende mite” oor. In baie latere romans verdwyn selfs hierdie hoop grotendeels. By skrywers soos Alexander Strachan word mites van manlikheid, geskiedenis en oorlog ondermyn, terwyl Ingrid Winterbach se romans dikwels by populêre kultuur, die kunswêreld, kultusse en subkulture aansluit om bloot te lê hoedat mites geskep en onderhou word, maar uiteindelik geen vaste grond het nie.
Dit beteken egter nie dat mites eenvoudig uit die roman verdwyn nie. Inteendeel: baie moderne en postmodernistiese romans word gekenmerk deur ’n aktiewe miteskeppende proses wat nie daarop gemik is om ’n enkele, oorheersende ordegewende mite te vestig nie, maar eerder om nuwe kulturele of historiese verbeeldingsmoontlikhede te open. Hierdie proses is opvallend in die werk van verskeie Latyns-Amerikaanse skrywers soos García Márquez, Allende, Fuentes en Carpentier. In hierdie romans is mite nie bloot ’n ordeningsbeginsel of ’n ironiese teiken nie, maar ’n manier om historiese geheue, streekservaring en kulturele identiteit te verbeeld. Die mites wat hier na vore tree, pretendeer nie om universeel of tydloos te wees nie; hulle bly ingebed in spesifieke gemeenskappe, tale en geskiedenisse.
Ook in die Afrikaanse roman is hierdie ontwikkeling sigbaar. Die manier waarop Etienne van Heerden in Die swye van Mario Salviati met mites omgaan, of Alexander Strachan in Dwaalpoort, wys hoe mite benut kan word om plaaslike geskiedenisse en identiteitsvraagstukke oop te skryf sonder om terug te val op ’n enkel, universele verklaringsraamwerk. Die moderne romankuns toon dus deur die loop van die 20ste eeu ’n toenemende bewustheid van verskillende kulture en verskillende sisteme van singewing, sodat daar nie meer ’n enkele gedeelde kulturele konsensus is wat ’n bepaalde opvatting van die werklikheid kan onderskryf nie. Die geloof in universele sisteme word blootgelê as historiese konstrukte — as mites. Maar juis daarom bly mites belangrik: nie meer as onaantasbare waarhede nie, maar as instrumente waarmee romans geskiedenis, identiteit en gemeenskap op nuwe maniere kan verbeeld.
Slot
Dit is duidelik dat mite steeds ’n sentrale plek in die moderne roman inneem, maar nie op ’n eenvoudige manier nie. In die hoogmodernisme word mites dikwels benut as struktureringsbeginsel en as draers van vorm en samehang in ’n gefragmenteerde wêreld. Later in die 20ste eeu word mites egter toenemend ironies en krities gebruik om juis hulle ideologiese werking bloot te lê. Mites van nasie, identiteit, manlikheid, patriotisme en selfs kuns self word ontmasker as historiese konstrukte. Tog verdwyn mites nie eenvoudig uit die moderne roman nie: in laat-modernistiese en postmodernistiese tekste ontstaan nuwe, dikwels plaaslike en histories gesitueerde mites wat nuwe moontlikhede van betekenis, geheue en gemeenskap oopmaak.
Willie Burger
Bibliografie
Armstrong, Karen. 2005. A Short History of Myth. Edinburgh: Canongate.
Barthes, Roland. 1972 (1957). Mythologies. (vert. Annette Lavers.) New York: Hill & Wang.
Beebe, Maurice. 1974. “What modernism was.” Journal of Modern Literature. 3(5) Junie. Pp1065-1084.
Bell, Michael. 1997. Literature, Modernism and Myth: Belief and Responsibility in the Twentieth Century. Cambridge: Cambridge University Press.
Claes, Paul. 2000. De Gulden Tak. Antieke mythe en moderne literatuur. Amsterdam: De Bezige Bij.
Coupe, Laurence. 2009. Myth. 2nd ed. The New Critical Idiom. London; New York: Routledge.
Éliade, Mircea. 1961. The Sacred and The Profane. (vert. Willard R. Trask). New York: Harper Torchbooks.
Eliot, T.S. 1922. “Ulysses, Order and Myth”. (Geraadpleeg: 23 April 20269)
Eysteinsson, Astradur. 1990. The Concept of Modernism. Ithaca: Cornell University Press.
Eysteinsson, Astradur & Liska, Vivian. (reds.) 2016. Modernism. Amsterdam: John Benjamins
Frye, Northrop. 1957. Anatomy of Criticism. Princeton: Princeton University Press.
Josipovici, Gabriel. 2010. Whatever happened to Modernism? New Haven: Yale University Press.
Leroux, Etienne. 1980. Tussenspel. Pretoria: Academia.
Lukács, Georg. 1982. Essays on Realism. Cambridge, MA: MIT Press Classic.
Pavel, Thomas. 1986. Fictional Worlds. Cambridge, Mass: Harvard University Press.
Pavel, Thomas. 2013. The Lives of the Novel. A History. Princeton: Princeton University Press.
Pratt, Marie Louise. 1977. Toward a Speech Act Theory of Literary Discourse. Bloomington: Indianana University Press.
Vickery, J.B. 1973. The Literary Impact of The Golden Bough. Princeton: Princeton University Press.
Hersien en bygewerk April 2026
[1] Ontgogeling of “disenchantment” is ‘n begrip wat Max Weber in 1904 in verband met die moderne wêreld gebruik het in The Protestant Ethic and the Spirit of Capitalism (Josipovici, 2010:11).