MISTIEK

Mistiek is ‘n begrip in die godsdiens en literatuur, maar word ook algemeen gebruik in die onnoukeurige sin van die “geheimsinnige” of “vreemde”.

Tradisioneel is die betekenis egter duidelik godsdienstig. Die woord mistiek vind sy oorsprong in die Griekse misterie-godsdienste en is afgelei van die Griekse muein (om die oë te sluit) en mustérion (geheimenis).

Die begrip het uiteenlopende definisies, maar kan wesenlik omskryf word as die herkenning van en die ontmoeting en vereniging met die goddelike. Die kern van die mistiek is hierdie mistieke ervaring waarin die ervaarder (mistikus) ‘n eenwording met die godheid (in watter gestalte ook al) ondervind, iets wat alleen moontlik is indien die mistikus van sy menswees verlos kan word.

Die mistiek strek oor godsdiensgrense heen en die siening van die godheid kan verskillende vorme aanneem. Mistiek kom voor in al drie die Abrahamitiese gelowe, naamlik die Christelike mistiek, Kabbalisme (Judaïsme), en Soefisme (Islam). In nie-Christelike verskyningsvorme soos die Taoïsme het die mistiek dikwels ‘n panteïstiese karakter, terwyl die Soefistiese tradisie binne die Islam ‘n brug vorm tussen dié karakter en die sterker beperkte siening van die godheid in die Christelike tradisie.

Happold (1970:20) voer aan dat die mistiek ’n manifestasie van iets is wat alle godsdienste ten grondslag lê:

Not only have myths been found in all ages, in all parts of the religious world and in all religious systems, but also mysticism has manifested itself in similar or identical forms wherever the mystical consciousness has been present.

Olivier (1985:21) verwys na ‘n bekende Bybelgedeelte om hierdie punt te staaf:

Nêrens in die wêreld van die teologie vind Christus se versekering dat die huis van Sy vader baie wonings het, konkreter gestalte as juis in die mistiek nie. Op geen ander terrein beweeg die verskillende godsdienste van die wêreld so na aan mekaar nie, en ondersoekers van die uiteenlopende mistieke tradisies wys graag op die groot ooreenkomste wat daar bestaan.

Die Christelike mistiek, die Kabbalisme, asook Soefisme het hulle oorsprong in die leerstellings van Plato en die Neoplatoniste, wat ’n belangrike bydrae tot die mistiek gelewer het. Kortliks gaan dit oor die dualistiese gegewe dat die onsterflike siel in ‘n sterflike liggaam vasgekeer is, dat die siel iets van die Oorsprong in hom saamdra, en begeer om weer daarmee verenig te wees.

God, wat in die siel aanwesig is, maak die mens bewus van Sy teenwoordigheid. Hierdie bewuswording, die aanraking deur die Liefde, wek ’n geweldige verlange na God in die siel op en laat die reis, wat as die via mystica bekend staan, begin. Kourie (2016) beskryf dié liefde van God as ’n verterende liefde:

Love has set the soul on fire and transmuted it into love, has annihilated and destroyed it as to all that is not love.

Die via mystica, of die mistieke weg, staan ook bekend as die Sanjuanistiese Weg (die via purgativa, via illuminata en via unitiva) en is gebaseer op die werke van San Juan de la Cruz (1542–1591 n.C.), Spaanse mistikus en monnik van die Karmeliete-orde.

Die via purgativa is die reinigingsfase waartydens die verlange na God en die behoefte om by Hom te wees die mistikus laat besef dat sy eie ego, sy selfgesentreerde begeertes en alles wat skeiding tussen hom en God maak, afgelê moet word. Die paradoksale aspek van hierdie stadium is egter dat dit ’n “dark night of unknowing”, ’n leegheid, dorheid en wanhopigheid tot gevolg het. Die reinigingsproses versterk die psige en die gees en is deel van ‘n integrasieproses waardeur ons innerlike fragmentering te bowe gekom word en alle aspekte van ons menslike bestaan bymekaar kom as ’n self-geskenk aan God. Gedurende dié fase word ’n nuwe kennis ontvang – die noëtiese kenmerk van die mistieke ervaring. (Van der Berg, 2019:73–4).

Tydens die via illuminativa is die mistikus vervul met vrede, simpatie en liefde vir die mensdom, en ontwikkel ’n sensitiwiteit vir God se skepping. Hy ondervind harmonie in die wêreld en meditasie word kontemplasie en stille gebed. Dit is die “verligtings”-fase.

Underhill (1930:350–2) voer aan dat, soos die donker nag van die vorige fase, die versterkte en ekstatiese bewustheid van die Absolute, die hoofkenmerk van die Verligting, sy eie duisternis meebring – die “dark night of the soul”. Die mistikus word bewus van die eintlike wese van God en die self se voortgesette skeiding van en onverenigbaarheid met die Absolute wat hy gewaar het. Dit het ‘n oorweldigende sin van duisternis, ellende en verlies tot gevolg. Happold (1970:86) beskryf dit so: “It is the fathomless abyss, the Desert of the Godhead […] A Dark Silence.”; Johnston (1978a:133) meen dat die toppunt van hierdie donker nag te vinde is in die uitroep aan die kruis: “My God, my God, waarom het U My verlaat?” San Juan de la Cruz herinner ons daaraan dat “this same light, which can be experienced as painful and blinding, is also the light of union” (Kourie, 2016).

Wanneer die derde stadium, die via unitiva, intree, sê Happold (1970:52) “the death of selfhood is complete”. Die mistikus se diep drang na eenwording met God, die hoogste toestand wat in hierdie lewe behaal kan word, is bereik – die permanente sublieme toestand van die geestelike huwelik (Olivier, 1985:74). Die diepste en rykste vlakke van die persoonlikheid kom aan die lig. Waaijman wys daarop dat sulke “transformation in love occurs in this life; transformation in glory belongs to the life after this life” (Kourie, 2016). San Juan de la Cruz het dikwels die metafoor van vuur gebruik om die verspreiding van liefde te beskryf: Die nuwe self gloei nou orals en skiet in vlamme uit. Dit is egter nie die einde van die pad nie, want die mistieke huwelik lei tot geestelike vrugte van die gees en ’n terugkeer na die wêreld. Paulus het in Galasiërs 2:20 gesê “en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe” (Kourie, 2016).

Die mistiek is grotendeels ’n onbevatlike begrip wat rigiede kategorisering ontglip, en het uiteenlopende definisies, waarvan talle die ervaringsaspek beklemtoon. Carmody & Carmody (1996:13) definieer dit as die “direct experience of ultimate reality”, en die laat Middeleeuse teoloog, Jean de Gerson, se klassieke definisie uit sy twee-volume verhandeling, De mystica theologia lui:

Theologia mystica est cognitio experimentalis habita de Deo per amoris unitive complexum (Mistieke teologie is ‘n ervaringskennis van God wat teweeggebring word deur die omhelsing van verenigde liefde – my vertaling) (Aangehaal in Harmless, 2008:5)

Daar is inderdaad van die vroegste Christelike tye af talle opgetekende voorbeelde van mistieke ervarings, soos dié, onder baie ander, van Paulus, Teresa van Ávila, Jacob Boehme, en Thomas Merton.

In sy Rediscovery of Mysticism, wys Norman (2004:452) egter uit dat klassieke Christelike mistici nie esoteriese godsdienstige ervarings beskryf nie, maar dat hulle geskrifte eerder meditasies oor die wesenlike Christelike leerstelling van die misterie van God was. In dieselfde trant beskryf Denys Turner (1995:2) die mistiek as die Christen-siel wat God ontmoet in a ‘cloud of unknowing’ – ‘n goddelike duisternis van onwetendheid. Daar word in hierdie verband verwys na die 14de-eeuse anonieme skrywer se The Cloud of the Unknowing, Moses se bergervaring, asook die beskrywing van die laat-vyfde-eeuse Pseudo-Dionisius wat ‘n geweldig groot invloed op die Westerse Christelike mistiek gehad het, en deur McGinn (1993:49) as die skepper van mistieke teologie beskou word:

[…] the mystic plunges into […] the truly mysterious darkness of unknowing. Here, renouncing all that the mind can conceive, wrapped entirely in the intangible and the invisible […] he knows beyond the mind by knowing nothing (Kourie, 2015).

Pseudo-Dionisius skryf oor ’n sekere “onwetendheid” of “unknowing” wat beteken dat menslike konseptuele kennis laat vaar moet word en reiniging of suiwering moet plaasvind ten einde goddelike kennis te kan ontvang. Vir Pseudo-Dionisius, sê Johnston (1978b:32–3), kon die goddelike nie met denke en die intellek begryp word nie. Mistieke vereniging met Hom, is nie kennis van God nie, dit is ’n toestand van ervaring (Hansen, 2008:232). Dionisius voer aan “true negations […] offer due homage to the divine things” en “experience of things divine cannot be signified, and therefore one must go beyond the signs themselves to see or know the true thing signified” (Caranfa, 2004:191–2).

Beukes (2021:205) wys uit dat Pseudo-Dionisius se Neoplatoniese vertrekpunt is dat God “anderkant syn” (huperousios) is, en daarom absoluut onkenbaar en onverwoordbaar is.  Indien God wel geken sou word, sou God daarom “anders” en uitdruklik nietalig of ten minste “andertalig” (nie “anderstalig” nie) geken moes word.

Die implikasies van so ’n apofatiese, negatiewe en andertalige teologie hou onafwendbare teendogmatiese gevolge in, omdat die siel in hierdie juis Goddelike definiëring van die siel opgehef word, die Goddelike natuur ononderskeibaar van die siel maak en impliseer dat grammatikaal-dogmatiese begrippe wegdoenbaar is. Die gedeelde, ongeskape aard van God en die siel dwing dus ’n “taal” af wat in konvensionele dogmatiese terme inderdaad as verregaande beskou sou wees. Die prioritisering van byvoorbeeld liefde as ’n daad van die vrye wil bo die intellek bemoontlik vir mistieke denkers op Dionisius se spoor ’n direkte en onbemiddelde verskuiwing van God na die siel – en terug na God, per Neoplatoniese reditus.

Negatiewe of apofatiese teologie word in verskeie wêreldgodsdienste aangetref, en maak ’n kardinale deel van die mistieke uit:

[…] apophaticism is eo ipso mysticism since it posits a divine, wholly transcendent being that is consequently ineffable and unknowable; and second, […] apophaticism is mysticism since it holds out the prospect of an extra-conceptual experience of the divine presence, won through the dialectical self-subversion of discursive reason (Finlayson, 2012:3).

Apofatiese teologie word beskou as een van die oudste vorme wat mistici benut om aan die mistieke ervaring uitdrukking te gee. As gevolg van die persepsie dat die goddelike onuitspreeklik is, nie toereikend talig geformuleer kan word nie, volg mistici die via negativa en beskryf God negatief met uitsprake oor wat God nie is nie, eerder as wat Hy is. Die apofatiese of negatiewe weg beklemtoon God se absolute transendensie en onkenbaarheid op so ’n wyse dat ons niks oor die goddelike essensie kan sê nie omdat God so totaal anderkant syn is (Carabine in ’n onderhoud met McFarlane, 2009).

Kourie (2008:71) beskou die apofatiese mistieke, of “a way of unknowing”, as bevrydend in dié opsig dat dit ʼn vryheid bied van die invloed van idees, konsepte, woorde, filosofieë en godsdienstige tradisies en van formulering. Volgens haar is die gebrek aan woorde self ‘n kragtige linguistiese instrument. In apofatiese diskoers benut die mistieke digter metafore, paradokse, ontkenning van name, en meer, wat, soos Kourie (2008:62) dit stel, tot die leemte van “the blinding brilliance of the divine darkness” lei.

Die mistiek se neerslag in die poësie strek oor baie geslagte en kulture, en die mistiek het ’n breë basis wat godsdiensverskille oorbrug.

Aalders (1928:318) wys daarop dat mistici dikwels digters is, en

dat mystiek en esthetica samengaan, dat de mystiek zo dikwijls beelden gebruikt, hetzij dat aan de sfeer der natuur of der kunst ontleend, om haar stemmingen en voorstellingen uit te drukken.

Volgens Anderson (1993:116) mag die boeiendste faset van mistieke skrywe wees dat die element van ondeursigtigheid en misterie nooit afneem nie, en dat dit, soos wolke, van vorm mag verander, maar dat dit in wese wolke bly – helder, donker, of wasig.

Vir sowel die digter as die mistikus is die uitdaging om ’n ontasbare ervaring deur middel van ontoereikende taal uit te druk.

Mistieke taal

Juis omdat die mistieke ervaring so ‘n intense belewenis is, voel die mistikus daartoe gedwing om daarvan te vertel. In sy soeke na die verwoording wat naaste daaraan lê, kies hy dikwels geykte beelde en metafore, werk hy met ‘n reeks spesifieke analogieë.

Die intense en intiem-persoonlike aard van die mistieke ervaring en die analogiese gebruik van taal in die verwoording daarvan, dra waarskynlik daartoe by dat dit binne die literatuur veral uitloop in die poësie en in kort prosastukke met duidelike kenmerke. Daar bestaan dus ’n verwantskap tussen die mistieke en poësie, en poësie maak dit moontlik vir die mistikus om sy transendente ervaring uit te druk. Michaels (2010:665) stel dit so: Poësie en die mistieke is takke van dieselfde boom, en het van die vroegste tye af natuurlik saamgegroei, en bly steeds verbind.

Die sentrale organisasiebeginsel in mistieke werke is die teenstelling tussen twee werklikhede. Die verteller se ervaring van die verskille tussen die werklikhede word die eintlike saak waardeur al die ander komponente van die teks se onderlinge verhouding bepaal word.

Die vertelstandpunt is oorwegend die van die eerste persoon, en hy verwoord sy wisselende emosionele gevoelens wat spruit uit die kontrasterende werklikhede wat hy ervaar. Dit is ‘n selfnegerende en -relativerende verteller wat liefs as “ek” uit die gedig sou wou verdwyn. Passiwiteit, verlange en ‘n onvermoë om te artikuleer is kenmerke van hierdie verteller.

Die mistiek word gekenmerk deur ‘n paradoksale verhouding tussen presisering en veralgemening, deurdat die digters soms gebruik maak van veralgemening om die een werklikheid mee te relativeer. Aangesien hulle oor die ander werklikheid egter juis nie presies kan praat nie, moet hulle hulle dan ten opsigte daarvan ook op veralgemenings verlaat.

Die tematiese materiaal is onbeperk. Die liefdesverhouding, dikwels besonder sensueel, tree sterk na vore. Daar is verder ‘n voorliefde vir die natuur om daarin dinge te vind wat as illustrasiemateriaal kan dien vir die twee werklikhede wat teenoor mekaar staan. Voorts word die mens se intellek as negatiewe illustrasiemateriaal aangewend. Die tradisionele religieuse materiaal word selde benut.

Ruimte speel in die mistieke literatuur ‘n belangrike rol, omdat die twee werklikhede as verwyderd van mekaar voorgestel en ervaar word. Daar is ‘n bewuste poging van die verteller om hom los te maak van die beperkings van die ruimte waarbinne hy as mens beweeg.

Tyd word in hierdie werke gekoppel aan die gewone werklikheid, en daarom vind ons dat die opskorting of die opheffing van die tyd dikwels in ‘n gedig voorop staan. Ook hier vind ons ‘n paradoksale verhouding tussen tydloosheid en oombliklikheid, ewigheid en kortstondigheid.

Daar is geen sprake van maatskaplike betrokkenheid nie, want die verteller wil juis die volle aardse bestaan afwys en ontkom. Uitsprake oor geregtigheid, vryheid en verantwoordelikheid ontbreek feitlik in alle mistieke tekste.

Die taalgebruik in hierdie soort tekste word gekenmerk deur die gebruik van teenstellings en paradokse om die gedigte mee op te bou. Die hiperboliese skryfwyse is onmiskenbaar, terwyl die herhaling van woorde, frases en konstruksies opval. Daar is ‘n bepaalde leksikon wat gegroepeer is rondom sekere dinge: lig, duisternis, water, vuur en wind.

Hierdie woorde dui op ‘n toestand van onbepaaldheid en onvatbaarheid en word van ‘n spesifieke betekenis voorsien, deurdat hulle in ‘n sekere reëlmaat voorkom en daardeur ‘n duidelike metaforiese waarde kry. Die sintaksis in mistieke tekste is redelik gewoon, die versvorm konserwatief, terwyl die uitroep heel dikwels aangetref word om die ekstase van die eenwording te probeer suggereer.

Die mistieke tradisie in Afrikaans

Voorbeelde van die liefdesmistiek binne Christelik-Westerse verband vind ‘n mens in die geskrifte van Bernardus van Clairvaux (12de eeu), die poësie van Hadewijch (13de eeu) en die groot Spaanse mistikus Juan de la Cruz (16de eeu). Jan van Ruusbroec (14de eeu) se prosa kan weer as voorbeeld van die natuurmistiek binne die Dietse literatuur genoem word. Jacob Boehme (17de eeu) is een van die min skrywers binne die Protestantisme, ‘n godsdiensrigting waarin die mistiek betreklik arm vertoon.

Die mistiek is ook ‘n mindere stroom binne die Afrikaanse literatuur, waarskynlik as gevolg van die streng Calvinistiese inslag wat nie baie ruimte laat vir die gewaagde ontginning van die verhouding tussen mens en God en die intieme kennismaking met God nie. Nogtans is daar ʼn beduidende korpus mistieke tekste. Die mistieke tradisie het in die vroeë 1800’s sy eerste sterk manifestasie in die dagboek en oordenkings van Catharina van Lier (1768–1801).

Mistieke gedigte is die uitsondering by ‘n godsdienstige digter soos Totius, maar die Oosterse belangstelling van C. Louis Leipoldt gee aanleiding tot een van die boeiendste mistieke gedigte: “Om Mane Padne Hum”. C.M. van den Heever is ‘n voorbeeld van ‘n natuurmistikus. Heelparty gedigte van N.P. van Wyk Louw het ‘n mistieke inslag, maar dit is veral die bydrae van D.J. Opperman wat met sy belangstelling in die Middelnederlandse wêreld en die geesteshervorming in ons stamlande gedurende die Renaissance die ryk mistieke tradisie van daardie eeue in ons literatuur invoer.

Breyten Breytenbach skryf mistieke poësie waarin die Oosterse tradisie van die Zen-Boeddhisme deel word van die Afrikaanse literatuur. Elemente van die mistiek is aanwesig in Lobola vir die lewe en veral Kennis van die aand deur Andre P. Brink. Margaret Bakkes se Susanna die geliefde betrek dieselfde gegewe as Antjie Krog se “Die Leeu en die Roos”. Ander digters van mistieke werk sluit in T.T. Cloete, M.M. Walters, Cas Vos, Marlene van Niekerk, Antjie Krog, C.A. Anthonissen, I.L. de Villiers, Joan Hambidge, Johann de Lange, Jacobus van der Riet en Tom Gouws. (Van der Berg, 2019:280–373).

Daar is ook heelwat prosawerke met ’n mistieke inslag, soos Die kremetartekspedisie deur Wilma Stockenström, Die reise van Isobelle deur Elsa Joubert, Olifantjagters deur Piet van Rooyen, Sondag op ’n voëlplaas deur Johann Nell. Ingrid Winterbach se werk vertoon heelwat mistieke trekke, veral in haar Durban-drieluik (Barthel 2016). Mistiek speel ook ’n belangrike rol in van haar romans, soos Buller se plan, Vlakwater en Onrus op Steynshoop.

Sheila Cussons is egter tot op hede steeds ons mees erkende mistieke digter (Van der Berg, 2019:283). In haar huldeblyk oor Cussons stel Hambidge (2004) dit so: “dié digter skryf oor die ónmoontlike, te wete die metafisiese en dit wat ‘n mens in wese nie onder woorde kan bring nie”. In haar aangrypende gedig “Christ of the burnt men” gebruik Cussons op meesterlike wyse literêre strategieë soos metaforiek, paradokse, en die via mystica ten einde haar mistieke ervaring uit te druk.

Hoogtepunte daarin is verse soos die volgende:

        En ek begryp, jy het my geteken vir die avontuur
 	van jóú, ek wat vuur bemin en altyd waaghalsig was –
 	– O wat is die brand in brein en hart wat brandender brand
 	as die vlam aan die lyf en wat gaan gloei in klip en sand
 	onder my eenvoetig-springende begrip agter jou
 	ságsinnigheid aan?: Nee, iets heerlikers: as jy eindelik
 	omdraai met oë wit en stip en ver en skouers gemantel
 	met ʼn verwoede en stormende son: o my kosmiese Christus:

     Uit: Die swart kombuis (1978)

In haar klassieke werk oor die mistiek, Mysticism: a Study in Nature and Development of Spiritual Consciousness, wys Underhill (1930:84) op die heel belangrikste element van die mistiek, die liefde:

The jewels of mystical literature glow with this intimate and impassioned love of the Absolute; which transcends the dogmatic language in which it is clothed and becomes applicable to mystics of every race and creed. There is little difference in this between the extremes of Eastern and Western thought: between A Kempis the Christian and Jalal al-Dīn Rūmi the Moslem saint.

Elizabeth van der Berg

Fanie Olivier

Bibliografie

Aalders, W.J. 1928. Mystiek, haar vormen, wezen, waarde. Groningen: J.B. Wolters.

Anderson, J.B. 1993. The Spanish Mystical Aesthetic. Mystics Quarterly, 19(3):115-122.

Barthel, Dewaldt. 2016. Mistiek in Ingrid Winterbach se “Durban-drieluik.” 2016. MA-verhandeling. Potchefstroom: Noordwes-Universiteit. http://hdl.handle.net/10394/24961.

Beukes, J. 2021. Liggaamsfragmentering in sentraal-Middeleeuse vroulike mistiek. LitNet Akademies, 18(2):200–36.

Caranfa, A.  2004. Silence and Spiritual Experience in Augustine, Pseudo-Dionysius, and Claudel. Literature and Theology, 18(2):187-210.

Carmody, D.L. & Carmody, J.T. 1996. Mysticism: Holiness East and West. Oxford: Oxford University Press.

Finlayson, J.G. 2012. On Not Being Silent in the Darkness: Adorno’s Singular Apophaticism. The Harvard Theological Review, 105(1):1–32.

Hambidge, J. 2004. Huldeblyk Sheila Cussons. Datum geraadpleeg: 14 April 2026.

Hansen, L.D. 2008. Aksie én kontemplasie? Op weg na mistiek-profetiese gereformeerde spiritualiteit in dialoog met David Tracy en K.H. Miskotte. D.Teologie-verhandeling, Universiteit van Stellenbosch.

Happold, F.C. 1970. Mysticism – a Study and an Anthology. Harmondsworth, Middlesex: Penguin Books.

Harmless, S.J. 2008. Mystics. Oxford: Oxford University Press.

Johnston, W. 1978a.The Inner Eye of Love: Mysticism and Religion. Landen: Collins.

Johnston, W. 1978b. The Mysticism of the Cloud of Unknowing. Wheathampstead: A. Clarke. 

Kourie, C.E.T. 2008. Mysticism: a Way of Unknowing. Acta Theologica Supplementum, 11:60–75.

Kourie, C.E.T. 2015. Weaving Colourful Threads: a Tapestry of Spirituality and Mysticism. HTS Teologiese Studies / Theological Studies, 71(1).

Kourie, C.E.T. 2016. The way of the mystic: The Sanjuanist stages of the spiritual path. HTS Teologiese Studies / Theological Studies, 72(4).

McFarlane, T. 2009. Living Without a Why. An Interview with Deirdre Carabine. Holos: Forum for a New Wocarabinerldview, 5(1).

McGinn, B. 1993. Mysticism and Sexuality. The way, 77:46-54.

Michaels, A.G. 2010. The Mystic and the Poet: Identity Formation, Deformation, and Reformation in Elizabeth Jennings’ “Teresa of Avila” and Kathleen Jamie’s “Julian of Norwich”. Christianity and Literature, 59(4):665-681.

Norman, R. 2004. Rediscovery of Mysticism. (In Jones, G. red. The Blackwell Companion to Modern Theology. Oxford: John Wiley. bl. 449–65).

Olivier, S.P. 1985. Mistiek in die Afrikaanse poësie. D.Litt.-verhandeling, Pochefstroomse Universiteit vir C.H.O.

Turner, D. 1995. The Darkness of God: Negativity in Christian Mysticism. Cambridge: Cambridge University Press.

Underhill, E. 1930. Mysticism: a Study in Nature and Development of Spiritual Consciousness. Grand Rapids, MI: Christian Classics Ethereal Library.

Van der Berg, E.[J.]. 2019. Performatiwiteit van taalgebruik en verstegniek in die mistieke digkuns van Jalāl al-Dīn Muhammad Rūmī, asook in die werk van geselekteerde Afrikaanse digters: ’n Vergelykende studie. PhD-proefskrif, Noordwes-Universiteit.

Hersien Mei 2026