RENAISSANCE

(Hersien Mei 2023)

Die term “Renaissance”, wat “wedergeboorte” beteken, is die eerste keer in die 19de eeu gebruik as benaming van die veronderstelde herstel van die antieke beskawing na die onderbreking deur die “middeleeue” tussen die val van die Romeinse Ryk in die vyfde eeu Huidige Tydvak en die artistieke opbloei in Florence in die 14de eeu. Alhoewel dit oor die algemeen deur die term “vroegmodern” vervang is om die historiese tydperk van ongeveer 1400 tot 1700 mee aan te dui, word dit steeds in kunsgeskiedenis en literatuurstudie gebruik, saam met subkategorieë soos “maniërisme” en “barok“. Die term word ook gebruik vir analoë vroeëre renaissances, soos die Karolingiese Renaissance aan die hof van Karel die Grote, die 10de-eeuse poging deur die Heilige Romeinse Keiser, Otto III, om die glorie van die antieke Romeinse Ryk te herstel, en die opbloei van geleerdheid by die katedraalskole van Chartres, Orleans en Canterbury in die 12de eeu, toe die eerste Europese universiteite gestig is.

Kultureel is die Europese Renaissance van die 15de en 16de eeu gekenmerk deur ‘n strewe om die beskawings van die oudheid te herwin en na te boots: Grieks, Romeins en in ‘n mindere mate Hebreeus, Egipties en Persies. Die groei van stede en handel het die kweek van vredeskunste soos die openbare teater en die retorika bevoordeel, en ook die patronaat van letterkunde en die visuele kunste aangemoedig. Deur die uitvinding van die boekdrukkuns kon boeke vermenigvuldig en idees vinniger versprei word, wat die neiging versterk het om die gesag van die godsdiens, die politiek, die medisyne en die natuurfilosofie (wetenskap) te bevraagteken. Denkers het geworstel met die verhouding tussen die Christelike en klassieke tradisies, die rol van die monargie, die aard van die kosmos, die waarde van liefde en seksualiteit, werk en ontspanning, en die botsing tussen tradisionele moraliteit en die nuwe handelsondernemings. Uitbreiding na Afrika, Asië en die Amerikas het ook die intellektuele horisonne help verbreed. Godsdienstige kontroversie het tydens die Protestantse hervorming verskerp, en nuwe vorme van spiritualiteit het ontwikkel. Dit was ‘n tydperk van teenstrydighede: die viering van die lewe in die skadu van die dood weens die pes, uitbundigheid en soberheid, vernuwing en tradisie, Latyn en die volkstaal, stad en hof, lof van menslike potensiaal en aandrang op menslike sondigheid — kreatiewe spannings wat artistieke prestasie op ‘n hoë vlak verseker het.

Die woord “humanisme” word gewoonlik gebruik as kensketsing van die intellektuele klimaat van die Europese Renaissance van die 15de en 16de eeu. In ‘n streng sin verwys die woord na die studia humanitas, d.w.s. die kritiese studie van die antieke tale, veral Latyn, Grieks en Hebreeus. In die Middeleeue is antieke tekste in manuskripvorm oorgelewer wat deur monnike in die skriptoria van abdye en kloosters gekopieer is. Die uitvinding van die drukkuns, en daarmee saam die groot getalle manuskripweergawes van tekste wat beskikbaar geraak het na die val van Konstantinopel in 1453 – tekste wat tot dan onbekend of slegs by naam in die Weste bekend was – het gelei tot ‘n uitgebreide program van redigering en publikasie van die werke van die oudheid. Geleerdes het saam die kreet, ad fontes, “terug na die bronne”, onderskryf, vervat in Desiderius Erasmus se nuwe Latynse vertaling van die Griekse Nuwe Testament (1516). Erasmus (1466-1536) het ook die Aldine-pers in Venesië en die Froben-pers in Basel gebruik om die eerste gedrukte uitgawes van Augustinus, Hieronimus, Cicero, Livius en Seneca te publiseer. Dit het nie net die klassieke en die werke van die kerkvaders meer algemeen beskikbaar gestel nie, maar skrywers ook uitgedaag om hulle na te volg. Publikasie van jou werk in folio-formaat was ‘n teken dat jy dieselfde peil as die klassieke werke bereik het.

In ‘n tweede, anachronistiese sin verwys die woord “humanisme” wyer na die bevestiging van die waardigheid van die mens wat geassosieer word met die neo-platonisme van die Florentynse Akademie, gelei deur Marsilio Ficino (1433-1499), Angelo Poliziano (1454-1494) en Pico della Mirandola (1463-1494). Hulle viering van menslike vermoëns kan beskou word as ‘n reaksie teen die oorheersing van die kerk en sy klem op menslike swakheid, ten gunste van die Griekse ideale van skoonheid, intellektuele ondersoek en persoonlike aspirasie. Die Italiaanse digter Petrarca (Francesco Petrarca, 1304-1374) het in Die bestyging van Berg Ventoux (1336) hierdie rigting aangedui, en Seneca aangehaal: “Ek moes lankal geleer het, selfs van heidense filosowe, dat ‘niks bewonderenswaardig is buiten die verstand nie; in vergelyking met sy grootsheid is niks groot nie.’” Die ideaal om jou op baie terreine te onderskei, word vasgevang in die frase “Renaissance-mens”, waarvan Leonardo da Vinci (1452-1519), sir Philip Sidney (1554-1586) en Constantijn Huygens (1596-1687) voorbeelde was. Sidney, ‘n Engelse digter en howeling, is dood aan wonde wat hy in ‘n geveg opgedoen het, en dit het van hom ‘n legendariese held gemaak. Baldassare Castiglione het in Die boek van die howeling (1528) die gedragsreëls van die hofkultuur uiteengesit en die idee van sprezzatura (die gawe om moeilike prestasies maklik en natuurlik te laat lyk) beklemtoon.

In sy uiterste vorm het humanisme God as die bron van betekenis en waarde verplaas. Niccoló Machiavelli is van ateïsme beskuldig, omdat hy in Die Prins (1532) ‘n pragmatiese benadering tot politiek voorgestaan het wat ten doel gehad het om die heerskappy van prinse so doeltreffend moontlik te maak, klaarblyklik sonder om goddelike sanksie of tradisionele moraliteit in ag te neem. Omgekeerd het die Christelike humanisme, wat skrywers en heersers as medewerkers met God beskou het, ‘n wye reeks denkers geïnspireer, insluitend heterodokse Protestante soos John Milton (1608-1674) en Katolieke skeptici soos Michel de Montaigne (1533-1592). Die nuwe Katolieke orde van die Jesuïete (gestig in 1540) het vinnig oor Europa uitgebrei. Die orde het kolleges en universiteite gestig en alle kennis ingespan ad maiorem Dei gloriam (AMDG, “tot die groter eer van God”). ‘n Verdere polariteit het bestaan tussen die strenge en die uitspattige, uitgebeeld as ‘n stryd tussen Karnaval en Lydenstyd (Lent). Die ondermynende karnavaleske modus, beliggaam in die geskrifte van Francois Rabelais (1494-1553), het onder die invloed van Mikhael Bakhtin tot heelwat moderne teoretisering gelei.

Ondanks die enorme aansien van die antieke tale, en die universaliteit van Latyn wat verseker het dat die Christendom ‘n gemeenskaplike intellektuele kultuur behou het, het die literêre gebruik van die volkstaal toegeneem. Dante Alighieri († 1321) het die verskuiwing na die volkstaal begin met sy verhandeling De vulgari eloquentia (Oor welsprekendheid in die volkstaal) en dit verder gevoer deur Die Goddelike Komedie (La Commedia) in die Toskaanse dialek te skryf. Daar kan gesê word dat Dante en sy 14de-eeuse landgenote Petrarca en Giovanni Boccaccio (1313-1375) die Italiaanse literêre renaissance van stapel gestuur het, wat skrywers regoor Europa aangespoor het tot nabootsing en wedywering. Die groei van literatuur in die volkstaal kan ook toegeskryf word aan die ontstaan van nasiestate en hulle behoefte om ‘n nasionale identiteit te skep. Nogtans het boeke wat in Latyn gedruk is, publikasies in die moderne tale verreweg oortref.

Die Renaissance-kultuur is gekenmerk deur die wedersydse beïnvloeding van die Christelike en die klassieke erfenisse. ‘n Teken daarvan is die verreikende invloed van Ovidius se Metamorfoses, ‘n geredelik beskikbare en aantreklike bron van mitografie. Die tema van transformasie kon op baie verskillende vlakke toegepas word. Die gedig het ‘n alternatief vir die Bybelse mite van oorsprong in die tuin van Eden gebied, nl. die opeenvolgende tydperke van goud, silwer, brons en yster. Verskeie nasies het aanspraak gemaak op ‘n “goue era” tydens die Renaissance: die Elizabethaanse tydperk in Engeland, gekenmerk deur ‘n opbloei van poësie en drama; die Nederlandse Goue Eeu van kuns en handel in die 17de eeu; die Spaanse kulturele bloeitydperk ná die dood van koning Philip II in 1598, wat met die ekonomiese en imperiale agteruitgang van Spanje gepaard gegaan het; en die klassieke era van die Franse letterkunde in die era van kardinaal Richelieu (1585–1642) en die “Sonkoning”, Lodewyk die XIVde.

Patronaat deur konings en aristokrate was in dié tyd van kardinale belang: monarge, edeles en handelsvorste het hulle probeer onderskei met die beste hofhoudings, die mooiste paleise en die rykste gevolge. Italiaanse familiedinastieë soos die Medicis, die d’Estes en die Barberini, en die Spaanse Gonzagas, het skilders, beeldhouers, kunstenaars en argitekte in diens geneem. Pouse en prelate was ewe ambisieus. Die hoofse patronaat is uitgebrei na die letterkunde. Min skrywers kon ‘n bestaan maak uit die verkope van hulle boeke. Dus het hulle hulle werke opgedra aan potensiële beskermhere, dikwels in erg vleiende taal waaragter kritiek en bevraagtekening skuilgegaan het. Literêre kringe is gevorm rondom beskermhere soos Mary Sidney Herbert, Gravin van Pembroke (1561-1621) en Marguerite van Navarre (1553-1616), wat hulleself as arbiters van smaak beskou het.

Die verandering in intellektuele kultuur vanaf die hoë Middeleeue na die Renaissance kan beskou word as ‘n verskuiwing van logika na retorika: van skolastiek, met sy streng logiese en sistematiese beredenering van kwessies in die teologie en die reg, na die verkenning van idees en menslike potensiaal d.m.v. die oorredingskunste. Cicero het die model geword vir die Latynse prosa van die Renaissance. Dit het kerk-Latyn vervang, wat as barbaars beskou is. Die uitbreiding van burgerlike en hofkultuur het openbare debat aangemoedig. Die Protestantse Hervorming was afhanklik van prediking en polemiek. Onderwys, voorheen kerklik in oriëntasie, was nou gerig op die openbare lewe: die ontwikkeling van stede en nasiestate het kunstenaars en skrywers die geleentheid gebied om tot optrede aan te spoor eerder as om ‘n abstrakte waarheid na te streef.

Die interaksie tussen kosmopolitiese, nasionale en streekskulture, Latyn en die volkstaal, het meegebring dat literêre strominge grense oorgesteek het. Skrywers regoor die vasteland wou bewys hoe goed hulle die belangrikste literêre genres beheers – “soorte” wat gebaseer is op modelle uit die oudheid. Daar is algemeen aanvaar dat die epos die edelste genre is, en dit is ten nouste geassosieer met die herkoms van nasies of ryke. Alhoewel Dante se Commedia nie ‘n epos in die klassieke sin is nie, is dit, as verhaal van ‘n reis, met Vergilius as aanvanklike gids, deur die hel en die vagevuur na die paradys, van epiese omvang. Latere skrywers het Homeros en Vergilius meer sistematies nagevolg, byvoorbeeld deur Marco Girolamo Vida in sy Christiad (1535). Guillaume de Salluste du Bartas het die skeppingsverhaal tot ‘n epos uitgebrei in La Première Semaine ou Création du monde (Die eerste week in die skepping van die wêreld, 1578), losweg gebaseer op Hesiodos se Werke en Dae. In Paradise Lost (1664) het John Milton die verhaal van die val van die mens gebruik om die Engelse Burgeroorlog (1642–1649) uit te beeld as ‘n stryd tussen die magte van goed en kwaad. Luis de Camoes het die Odusseia eerder as die Ilias nageboots in sy viering van die Portugese ontdekkingsreise in die Lusiade (Os Lusiadas, 1572). Die mitiese figuur van Adamastor (beeld van Tafelberg) wat Comoes in hierdie boek geskep het, was baie invloedryk in veral die Suid-Afrikaanse Engelse letterkunde.

’n Hibriede vorm van die epos, die romantiese epos, het ontwikkel met die Orlando Innamorato (Orlando verlief) deur Matteo Maria Boiardo (1444-1494) en Orlando Furioso (Die woedende Orlando) deur Ludovico Ariosto (1474-1533), wat die ridderroman met die legende van Roland, seun van Karel die Grote, gekombineer het. Torquato Tasso (1544-1595) het daarna die verhaal van die eerste kruistog in Gerusalemme Liberata (Jerusalem bevry) oorvertel, in Nederlands vertaal deur Maria Tesselschade Roemers Visscher van Amsterdam (1595–1649) en in Engels deur Edward Fairfax (1600). (Van Tesselschade se vertaling het egter net ‘n enkele strofe bewaar gebly.) Edmund Spenser (1553-1599) het Ariosto in The Faerie Queene nageboots. Die vorm het digters toegelaat om romantiese liefde met dieselfde erns as oorlog uit te beeld: soos Spenser dit gestel het: “Ferce warres and faithfull loves shall moralize my song.” Maar waar Ariosto die spanning tussen romanse en die epiese tot komiese effek uitgebuit het, het Spenser die vorm gebruik om te besin oor die lot en die moraliteit van die Engelse nasie. Tasso se gedig het die Katolieke Reformasie se ideale van Christelike eenheid en heroïese geloof uitgedra.

Petrarca se versameling Il Canzoniere (Liedboek) was die groot model vir alle liefdespoësie: die scenario van die verliefde vryer en die pragtige maar wrede onbereikbare minnares het byna onuitputlik vrugbaar geblyk en kon selfs ‘n ironiese anti-Petrarcaanse houding insluit. (Kyk Petrarkisme.) Liefdesgedigte het die howeling se mededinging om die guns van die monarg geëggo, wat verklaar waarom dit in Engeland mode was om tydens die bewind van koningin Elizabeth sonnetreekse te skryf. Shakespeare en John Donne (1572-1631) het ‘n nuwe variant ingevoer, gebaseer op Ovidius se Ars Amatoria (Die liefdeskuns), wat die liefde ‘n speelse of dramatiese wending gee. In Frankryk het die digters van die Pléiade, veral Pierre Ronsard (1524-1585) en Joachim du Bellay (1522-1560), die grootse styl van Clément Marot (1496-1544) verwerp en met Petrarca as hulle model hulle probeer verdiep in Griekse en Romeinse liriese poësie.

Die geestelike poësie is hoofsaaklik gevorm deur die Katolieke tradisie van intense mistieke ervaring en mistieke skryfwerk, veral deur die Spaanse mistici sint Jan van die Kruis (1542-1591) en sint Teresa van Avila (1515-1582). Die gewyde gedigte van Fray Luis de León († 1591) is eers in die volgende eeu deur die vooraanstaande Spaanse digter Francisco de Quevedo (1580-1645) gepubliseer weens sy geskil met die Inkwisisie. Meditasietegnieke kon omgeskakel word in reflektiewe gedigte met ‘n verbeeldingryke diepte en intensiteit wat die grense van die vorm uitdaag en wat ‘n effek skep wat soms as barok beskryf word. In Engeland is die relatiewe eenvoud van George Herbert (1593-1633) vervang deur die uitspattigheid van Richard Crashaw († 1649). Die maniëristiese uiterstes van Luis de Góngora (1561-1627) het in Spanje berug geword as die Gongorisme.

Renaissance-drama het deels ontwikkel uit Middeleeuse geestelike dramas soos die moraliteitspele, met hulle temas van oordeel en verdoemenis, en die misteriespele, wat Bybelse episodes met sowel ernstige as komiese elemente opgevoer het. Uit die Griekse tragedieskrywers Aeschylus, Sophocles en Euripides, en die Stoïsynse filosoof en Latynse dramaturg Seneca het die dramaturge nuwe temas en strukture vir die tragedie geput; uit Aristophanes, Terentius en Plautus vir die komedie. Die groei van teater in die Renaissance het afgehang van die patronaat van prinse en magnate, die instemming van die kerk, gunstige omstandighede vir toneelgeselskappe en die tradisies van populêre vermaak.

In Engeland was die omstandighede gunstig vir ‘n prolifieke uitset van versdramas van hoë gehalte deur vindingryke dramaturge soos Christopher Marlowe (1564-1593), William Shakespeare (1564-1616) en Ben Jonson (1572-1637). Die Londense teaters het gefloreer as vroeg-moderne kapitalistiese ondernemings, en die toneelstukke – waarna gehore kom luister eerder as kom kyk het – het die buitengewone openheid van die Engelse taal vir verandering en innovasie uitgebuit. Die tradisie van Bybelvertaling, wat begin het met John Wycliffe († 1384) en William Tyndale († 1536) en wat in die Koning James-Bybel van 1611 ‘n hoogtepunt bereik het, het die reikwydte van die taal vergroot. Die amptelike Book of Common Prayer, hoofsaaklik saamgestel deur aartsbiskop Thomas Cranmer (1489-1556) het ook baie daartoe bygedra. Hierdie twee boeke word dikwels saam met die eerste folio van Shakespeare se dramas (1623) beskou as die werke wat die sterkste vormende invloed op Engels uitgeoefen het.

In Nederland het die Statebybel (1637), wat in opdrag van die State-Generaal vertaal is, ook ‘n sterk vormende en verenigende invloed op die Nederlandse taal en kultuur gehad. Afrikaans is ewe ingrypend deur die Statebybel beïnvloed.

Shakespeare se volwasse tragedies – Hamlet, Macbeth, Othello en King Lear (almal tussen 1600 en 1606) – word beskou as die toppunt van literêre prestasie in die Renaissance, maar ‘n wye verskeidenheid soorte dramas is op die Elizabethaanse verhoog opgevoer. Dit sluit ook romantiese en stadskomedies, historiese dramas, tragikomedies en romanses in. Baie van Shakespeare se bekendste komedies, soos A Midsummer Night’s Dream en Twelfth Night (albei tussen 1595 en 1600), is feestelik en transformerend, terwyl Ben Jonson vir Aristophanes nageboots het in sy satiriese meesterstukke Volpone (1605) en The Alchemist (1610).

In Nederland het Joost van den Vondel (1587-1679) bekend gestaan as die prins  van die digters (‘n woordspeling op Latyn princeps, die belangrikste). Hy het prolifiek in al die genres van die Renaissance geskryf. Ook sy talle treurspele (tragedies), met name Lucifer (1653) en Jeptha (1659), was streng op die Griekse modelle gebaseer.

Die Italiaanse tradisie van die commedia dell’arte met sy klugtige handeling van misleiding in die liefde tussen komiese bediendes en stokkarakters (tipes), het stadskomedie in Engeland en Frankryk beïnvloed, veral vir Moliére (Jean Baptiste Poquelin, 1622-1673). Die commedia erudita het die Romeinse komedie van Terentius en Plautus nageboots: ‘n noemenswaardige voorbeeld is Machiavelli se La Mandragola (1520). In Spanje het die godsdienstige autos sacramentales die program van die Katolieke hervorming uitgedra, dikwels in allegoriese vorm, terwyl die sekulêre komedie geestigheid en intriges gevier het. Die twee uitstaande Spaanse dramaturge van die 17de eeu, die buitengewoon produktiewe Lope de Vega (1562-1635) en Pedro Calderón de la Barca (1600-1681), het in albei vorme uitgeblink. Die Franse teater het in die 17de eeu gebloei, nadat Richelieu ‘n permanente professionele skouburg in Parys gestig het. Pierre Corneille se tragedie El Cid (1637), gebaseer op Spaanse legendes, en sy komedie Le Menteur (1643) het hom as die voorste dramaturg gevestig. Hy is vervang deur Molière, veral bekend vir sy komiese uitbeelding van skynheiligheid in Tartuffe (1667), en Jean Racine (1639-1699), skrywer van Phèdre (1677), wat as die grootste Franse tragedie beskou word. Uitspattige hofvermaak is deur Louis XIV geborg, wat sommige van die kenmerke van die maskerspele herhaal het wat in Engeland vir die Stuart-konings opgevoer is. Dit sluit dans en ingewikkelde verhoogeffekte in.

Verskeie ander klassieke genres is wyd in die Renaissance beoefen, insluitend satire en die pastorale, wat as modusse of repertoriums van literêre kenmerke behandel is en nie as streng vorms nie. Die drie invloedrykste satirici van die oudheid, Horatius, Juvenalis en Lucianus, het die stedelike, die ruwe en die uitbundige soort satire verteenwoordig. Epigramme het geestige draagbare wysheid verskaf terwyl spesifieke temas in langer formele verssatires ontwikkel is. Lucianus se oneerbiedige soort vindingryke ironie is gewild gemaak deur Erasmus se Lof der zotheid (1511), waarskynlik die mees gelese boek van die 16de eeu, en sy vriend Thomas More se Utopia (1516). Albei werke het aanvaarde  gedrag as irrasioneel uitgebeeld en die genoegsaamheid van die rede bevraagteken. Selfs meer enigmaties was Miguel de Cervantes se Don Quixote (1605), wat oënskynlik ‘n parodie op die ridderroman is, maar eintlik nie gekategoriseer kan word nie.

Die pastorale modus het gediversifiseer in die pastorale ekoloog, soos dié van Garcilaso de la Vega († 1536), pastorale tragikomedie, soos Giovanni Battista Guarini se Il pastor fido (1590), prosaromanses met vers-tussenspele, liefdespoësie, topografiese gedigte, satire op die kerk en politieke kommentaar. Jacopo Sannazaro (1485-1530) het die idee van die idilliese, verlore land Arcadia in die Vroeg-Moderne persepsie vasgelê. Sidney het dit verder gevoer in The Countess of Pembroke’s Arcadia (1593). Diegene wat die luilekker lewe aan die hof geniet het, maar moeg was vir intriges en korrupsie, het hulle in ‘n denkbeeldige lewe van landelike onskuld en eenvoud ingeleef. Die kontras tussen stad, hof en land het skerp politieke angels gekry in pastorale dialoë en toneelstukke. Kritiek op biskoppe en prelate as nalatige herders is nouliks vermom as pastorale vertellings, soos in Milton se Lycidas (1637), ‘n pastorale elegie wat die ontydige dood van ‘n mededigter gebruik om teen die korrupte geestelikes van die dag uit te vaar. Topografiese gedigte het opgeroep tot sosiale kohesie, soos in die beskrywing van die Amstelrivier deur Anna Roemers Visscher (1583–1651), en Aemilia Lanyer se landhuisgedig, “A Description of Cookham” (1611).

Renaissance-prosa is nie so hoog aangeslaan soos poësie of drama nie. Tog is baie van die meesterlikste en invloedrykste werke van die tydperk in prosa geskryf. Die Protestantse Hervorming en die Katolieke reaksie het die drukperse in die 16de eeu oorheers. Die Hervormers wou hulle saak voorstel as redelik, skriftuurlik en in ooreenstemming met die beste tradisies van die kerk: Martin Luther se De Servo Arbitrio (Die slaafse wil) en Johannes Calvyn se Die institusie van die Christelike geloof (1536) het ‘n beroep op ‘n baie wye opgevoede leserspubliek gedoen. Die Godsdienstige kontroversies was heftig en produktief, maar min van hierdie boeke is van blywende belang of stilisties uitsonderlik. Met die Protestantse klem op die Bybel, het prediking ‘n skouspelagtige kenmerk van die burgerlike lewe geword, beide in Katolieke en Protestantse gebiede. Afgesien van die voorste hervormers, Luther, Calvyn en Ulrich Zwingli (1484-1531), het die Engelse hofpredikers Lancelot Andrewes (1555-1626) en John Donne die preek byna in ‘n kunsvorm verander. Die Katolieke of Teenreformasie is bevorder deur predikers soos sint Charles Borromeo (1538-1584) en die Jesuïet sint Robert Bellarmine (1542-1621), wie se kragtige argumentasiestyl later plek gemaak het vir die sagter styl van sint Francis de Sales (1567-1622). Geskiedskrywing was van groot belang in godsdienstige kontroversie, aangesien beide Protestante en Katolieke aangedring het op hulle reg om die gesag van die apostels te erf en hulle die lyding van die martelare toegeëien het, veral in John Foxe se Actes and Monuments (1563). Aangespoor deur die voorbeeld van Francesco Giucciardini (1483-1540), het historiografie ontwikkel van blote kroniek na die uitwerk van temas en motiewe en veroordeling van tirannie in die trant van Tacitus. P.C. Hooft (1581-1647) se Nederlandse Historien (1642) is ook geskryf na die voorbeeld van Tacitus.

Filosofiese en wetenskaplike skryfwerk was meer retories van styl as wat die norm in die daaropvolgende tydperke geword het; die verandering na ‘n eenvoudiger, meer funksionele wyse word toegeskryf aan die invloed van die Royal Society in Engeland, wat volgens Thomas Sprat se History of the Royal Society (1667) vereis het dat al sy lede bondig, onversierd en natuurlik moet praat. In Engeland word die essayis Francis Bacon (1561-1626) verbind met die ontwikkeling van die moderne wetenskaplike metode, uiteengesit in sy Novum Organum en The Advancement of Learning; daarteenoor het Robert Burton se ensiklopediese Anatomy of Melancholy (1621) en sir Thomas Browne se Religio Medici (1642) sterk gesteun op klassieke en Middeleeuse gesag. In Frankryk het die essays van Michel de Montaigne (1553-1592), René Descartes se Diskoers van die metode (1637) en die Provinsiale briewe (1657) van Blaise Pascal verskeie aspekte van skeptiese denke verteenwoordig, terwyl hulle breedweg binne die Katolieke tradisie gebly het. Erasmus het die tradisie van kritiese denke in Nederland gevestig wat later voortgesit is deur die Belg Justus Lipsius (1547-1645), deur Hugo Grotius (1583-1645) en deur ander geleerdes verbonde aan die Universiteit van Leiden, ‘n belangrike noordelike sentrum van Renaissance-geleerdheid. Nog ‘n groot geleerde in Nederland was die outodidak Dirck Coornhert (1522-1590), vertaler van Homeros, Cicero, Seneca en Boethius.

Ten spyte van ‘n opvoedkundige en sosiale agterstand van vroue in hierdie tydperk het verskeie vroueskrywers hulle onderskei. Behalwe dié wat reeds genoem is: die humanistiese skrywer Cassandra Fedele (1465-1558); Vittoria Colonna (1490-1547), soms bekend as Michelangelo se muse, vir haar sonnette, baie van ‘n godsdienstige karakter; die voorste Vlaamse digter Anna Bijns (1493-1575); Louise Labé (1524-1566), wat vroue uitgedaag het om met mans mee te ding op die kulturele terrein; die Venesiese courtisane-digter Veronica Franco (1546-1591); Mary Herbert se niggie lady Mary Wroth (geb. 1587), skrywer van die prosaromanse Urania (1621), en die Engelse dramaturg Aphra Behn (1640-1689).

 
Victor Houliston

Vertaal deur Hein Viljoen

 

Bibliografie

Bakhtin, Mikhael. 1981. The Dialogic Imagination. Vert. Michael Holquist en Caryl Emerson.  Austin: University of Texas Press.

Bouwsma, William J. 1990. A Usable Past: Essays in European Cultural History. Berkeley, CA: University of California Press.

Bowra, C.M. 1967. From Virgil to Milton. London: Macmillan.

Brand, Peter & Lino Pertile, reds. 1996. The Cambridge History of Italian Literature. Cambridge, UK: Cambridge University Press.

Burckhardt, Jacob. 1878. The Civilization of the Period of the Renaissance in Italy. Vert. S.G.C. Middlemore. London: C.K. Paul.

Campbell, Gordon. 2003. The Oxford Dictionary of the Renaissance. Oxford: Oxford University Press.

Cassirer, Ernst, Paul Oskar Kristeller & John Herman Randall, Jr, eds. 1948. The Renaissance Philosophy of Man. Chicago: University of Chicago Press.

Cave, Terence. 1979. The Cornucopian Text: Problems of Writing in the French Renaissance. Oxford: Oxford University Press.

Eisenstein, Elizabeth L. 1983. The Printing Revolution in Early Modern Europe. Cambridge: Cambridge University Press.

Grafton, Anthony & Lisa Jardine. 1986. From Humanism to the Humanities: Education and the Liberal Arts in Fifteenth- and Sixteenth-century Europe. London: Duckworth.

Hardin, James & Max Reinhart, reds. 1997. German Writers of the Renaissance and Reformation 1280–1580. Dictionary of Literary Biography 179. Detroit: Gale Research.

Hartnoll, Phyllis & Peter Found. 1996. The Concise Oxford Companion to the Theatre. Oxford: Oxford University Press.

Howell, Wilbur Samuel. 1956. Logic and Rhetoric in England, 1500–1700. Princeton, NJ: Princeton University Press.

Huizinga, Johan. 1952. Erasmus of Rotterdam, with a Selection from the Letters of Erasmus. Vert. Frederick Hopman en Barbara Flower. London: Phaidon.

Kinney, Arthur F. 1989. Continental Humanistic Poetics: Studies in Erasmus, Castiglione, Marguerite de Navarre, Rabelais and Cervantes. Amherst, MA: University of Massachusetts Press.

Levin, Harry. 1970. The Myth of the Golden Age in the Renaissance. Bloomington, IN: Indiana University Press.

Lewis, C.S. 1954. English Literature in the Sixteenth Century, Excluding Drama. Oxford: Oxford University Press.

Michelet, Jules. 1855. The Civilization of the Renaissance in France.

Ong, Walter J. 1958. Ramus: Method, and the Decay of Dialogue: From the Art of Discourse to the Art of Reason. Cambridge, MA: Harvard University Press.

Price, J.L. 2011. Dutch Culture in the Golden Age. London: Reaktion.

Schama, S. 1987. The Embarrassment of Riches: An Interpretation of Dutch Culture in the Golden Age. 1st ed. New York: Knopf.

Ward, Philip, red. 1978. The Oxford Companion to Spanish Literature. Oxford: Clarendon Press.