PRIAMEL

(Lat. praeambulum = inleiding). Dié term was oorspronklik die benaming van ‘n Duitse populêre en improviserende poëtiese vorm (twaalfde tot sestiende eeu), vergelykbaar met gnomiese vorme soos die epigram en die spreuk. In die priamel word die spanning wat deur ‘n uitgebreide inleiding (bv. drie versreëls) geskep word, in ‘n vierde reël met ’n trefreël of punt afgebreek. Byvoorbeeld:

Berliner Kind
Spandauer Lind
Charlottenburger Pferd
sind alle drei nichts wert.

Die struktuurbeginsel van hierdie poëtiese vorm, ‘n reeks voorbeelde wat uitloop op ‘n veralgemenende trefreël, word ook dikwels buite die genre self gebruik. Die term word dus ook wyer gebruik om ‘n poëtiese stylfiguur met so ‘n struktuur aan te dui, veral in die antieke literatuur, bv. in fragment 16 van Sapfo:

a sê ruiters, b voetsoldate,
c sê ‘n vloot is op die swart aarde
die mooiste wat daar is.  ek sê dit is
wat jy liefhet

Die priamel is ‘n soort vergelyking wat berus op die opnoem van dinge waardeur die vierde ding vooropgestel of beklemtoon word (kyk Sintaksis van die poësie): om D te verstaan, moet jy dit met A, B en C vergelyk.

Bibliografie

Race, W.H. The Classical  Priamel from Homer to Boethius, 1982.

––––––––– Classical Genres and English Poetry, 1988, hfst. 2.

Hornblower, Simon, et al., reds. The Oxford Classical Dictionary. 4de uitg., Oxford University Press, 2012.

(Vertaal en hersien Maart 2026.)